Rooidag is die tyd dat hy na Memorie hunker, hom oor Gerrie bekommer. Die weerlose uur, die doodmaker.
Die nag is koeler, maar dis veel gevra om die lang dae om te slaap en te treusel.
“Wat is dit wat jou hart laat afkoel het vir die land van jou vadere? Vertel my, ek moet weet.”
Maar Modjaa skud net sy kop, terwyl hy sy snuif op ’n plat klip fynstamp. Versigtig vul hy sy snuifkalbassie. “Solank ek hierdie by my dra …” mompel hy.
Die snuifkalbassie … ’n beskutting? Modjaa gesels af en toe met velddwalers wat, arms oor kierie agter die rug gehaak, die wa behoedsaam nader. Hoewel hy beweer dat hy nie Sindebele praat nie, is hulle almal Nguni, met Tsjaka as vader. ’n Keer of twee verdwyn hy selfs na ’n kraal om geselskap en bier te soek.
Keer vroeg terug, sit by die vuur, glurend. Elke keer voor hulle die gebied van ’n nuwe hoofman binnetrek, rek hy die ritueel van die roetswart bolletjie mieliepap langer uit, sprekend van verdiepende onrus. Tot die mieliemeel opraak. Hy tob daaroor, sy knieë tot teen sy ore opgetrek.
“Gebruik ’n stukkie wildsvet,” raai Frans aan.
’n Priemende blik gee te kenne dat die witmanwysheid oppervlakkig is teen die stamkunde van eeue.
“Laat ek dan probeer mieliemeel ruil by ’n stat. Ons het nog ’n paar velle.” Die kanse is skraal. Die misha lê ver uit mekaar, skuif boonop agter wild, water en weiding aan. Soms nader jy hoopvol ’n skynbaar bewoonde oopte, net om verlate hutte, ’n vervalle graankuil en die as van óú vuurmaakplekke aan te tref.
Die plaaslike bevolking is nie ongeneë nie, maar sy armoedtrek belowe nie presente en ruilware nie. Hy word onpeilbaar aangestaar deur vroue met kleipotte vol water op die kop, hul lywe gesmeer met galsterige vet, gestreep met wit en rooi poeiers van gemaalde klip.
Die mans is hier in die suidwestelike dele groot gebou en kom gedug voor met knopkierie en assegaai. Party dra net ’n koker van vel. Om die besnydenismerk te bedek, sê Modjaa. Kinders wat soos swart balletjies in die stof rondkruip, staar wydoog, terwyl oues uit halfblinde oogskrewe tuur.
Wanneer hy wel ’n porsie wildsvleis aanbied vir meel, tamaties, op ’n keer ’n pampoen, ’n bietjie melk waarin ’n vlieg en misstof drywe, ’n paar deurgelegde eiers, kom daar effense lewe agter die paaltjiesheinings.
Hy ruil ook flentertjies nuus oor olifante. Hy begin leer dat “naby” nie naby is nie, maar “hier” is naby. “Ver” word in dagreise gemeet. “Reguit” bestaan nie; hoe kan dit, as die hutte rond is en die bome verwronge, die landskap óf dig óf deinend?
“Ek kry nie mieliemeel in die hande nie,” moet Frans ná dae erken. “Ons sal beter met die ruil regkom as jy jou bekend maak. Vertel dat jou vader ’n impie van Mzilikazi was.”
Toe praat Modjaa, met teistering wat vir hom te magtig word: “Ek is ’n ware njanga. Dit weet jy, Furana. Isimbi weet dit ook. Maar die tromme vertel ek is tagati, ’n towenaar, van die duiwel besete. Ek sal vir elke ramp die skuld kry. As die reën wegbly. As die mielies nie kopmaak nie. As ’n mens of ’n dier siek word of doodgaan. As die weerlig iemand doodslaan. As ek my hand oplig, het ek vinger gewys.”
Noudat Modjaa begin, kan hy nie ophou nie. Sy stem word ’n trae gemompel in die loom middaguur. “Hulle sal medisyne wil hê wat hulle dig maak teen die witman se koeëls. En medisyne vir jag.”
Frans luister. Het Modjaa dit dan nie vooraf vermoed nie? Kan hunkering mens so verblind?
“Weet jy wat die straf vir juju in hierdie land is? Hulle druk jou van onder af in ’n skerp paal. Of hulle begrawe jou tot by jou nek en pak jou kop met kole toe.”
“Ubaba, ek moet eerlik wees. Ek het nie gedink ’n man met ’n swart vel kan in Afrika bang wees nie.”
“My binnegoed is ook saf, ’n spies kan dit deurboor.” Soos klein blasies sit die sweet op Modjaa se kaal bolyf.
“Ek kan jou net beskerm sover my koeëls kan gaan.”
“Dis nie ver genoeg nie.”
“Jy is dan my loopkierie,” sê Frans bedruk. Hy het ’n denkbeeld geskep wat op Grootverlangen gepas het, van ’n veldgees of natuurmag of waarsêer of gelukbringer.
Nou vind hy ’n mens, en beangs. Hy begryp sonder om te verstaan. Daarvoor is die gelowe en tradisies wat hom omring te ontsagwekkend oud.
Hulle sit met hul rûe teen een boom, weg van mekaar gedraai, starend oor die grasveld vol miershope, die verspreide koppies en doringboomruigtes.
Meteens leef Modjaa op. “Kyk daar.” Hy beduie na ’n volstruis naby ’n koppie in ’n ruigte van koorsboom en mopanie. “Hy is die wagter, sy maat sit op die nes.” Hy begin ’n tak afskeur om hom te vermom. “Vanaand eet ons groot eier. Ek maak ’n gaatjie in die dop en roer met ’n stokkie, dan bak ek hom in ’n holte in die kole.”
“Vind eers die eier voor jy dit bak,” lag Frans.
Hy bied nie hulp aan nie. Die uitdaging kan Modjaa uit sy put van somberheid optrek.
Maar dringende fluite en gebare laat hom tog nader haas. Op die rand van die ruigte ontmoet Modjaa hom en voer hom met ’n kruipgangetjie onder doringtakke deur tot waar die massiewe geraamte van ’n olifant half toegewaai lê.
Of die dier weens siekte, ongeluk of ouderdom dood is, maak nie saak nie. Wel dat hy nog sy twee tande aan hom het. Vreugde stoei teen verydeling. Hy wou sy eerste tande anders verkry, met sweet en spoorsny, krag teen krag en vernuf teen eervolle vernuf.
Maar hy gaan die meevaller nie versmaai nie. Die ivoor wat bestendig deur die aanpaksels van jare glim, is harde kapitaal wat die nood kan verlig en die reis bespoedig. Draf-draf gaan Modjaa die handbyltjie en saag haal en twee donkies om te dra.
“Versigtig nou. Eén skraap kan die tand bederf.” Dis massiewe goed. Frans voel ’n stadige koors in hom ontwaak.
’n Tweede meevaller kom net na sononder, terwyl Frans die roete vir die nagskof verken.
Meerkatte, ’n steenbokkie of twee, korhane wat opvlieg. Die laaste son verf die lug met pers en pienk strepe wat allengs rooi word. Hy voel opgekikker. As hy die tande net goed verkoop kan kry. Hy het geen idee van hoe of waar nie.
Verbeel hy hom, of hoor hy sweepklappe? Hy ry tussen miershope deur op ’n darem-pad tot hy die wit seil van ’n watrek sien. Hy pluk Sultan op ’n vinnige drafstap, dink skaars aan hoe hy lyk. Moeg, verbrand van die son, stofvaal in verbleikte ferweel, arms vol rofies en skrape, hare wat ongetem onder die rand van sy sweetdonker velhoed uitpeul, ’n week oue baard wat hom mal maak vanweë die gejeuk.
Nooit voorheen sou hy so voor vreemdes verskyn nie. Is hy besig om sy maatstawwe kwyt te raak, of kom sy gees vir die eerste keer los?
Die nuwe kennis wat hy maak, is ook maar goed verwaarloos, soos ’n riem gelooi deur die son en winde van die diepland, sy broek se sitvlak vuil van saalsit en vuursit. Sy ken en wange het stoppelbaard.
Hy het die wit hare wat nie verklap of dit asblond of vroeë grys is nie. Hy staan swikbeen terwyl hy gesels, maak af en toe sy oë heeltemal toe asof hy binne sy ooglede moet soek na wat om verder te sê. Hy is Goodman, ’n handelaar van Panda-ma-Tenga naby die Victoria-waterval. Vergesel van sy swart vrou Rutha in ’n nuwe bont laprok en ’n klompie kleibruin kinders wat soos meerkatte om die waens baljaar, is hy op pad terug vanaf die Diamantvelde.
Selfs sy troppie slagvee en ’n melkkoei vergesel hom. Sy waens is swaar belaai en vir elk het hy ’n touleier, ’n drywer en ’n briekman.