Engela van Rooyen
VUUR OP DIE HORISON
TAFELBERG
Och ik kan de droefhyd van Africaa niet uytspreke
– Anon (brief), 26 Nov. 1836
PROLOOG
KAAPSTAD, APRIL 1846
Toe die driemaster uit Madras in Tafelbaai anker uitgooi, staan majoor Henry Dalmain met sy gesonde hand om die dekreling geklem. Sy kneukels slaan wit deur; deels uit spanning, deels vanweë die pyn in sy linkerskouer. Hy het van die slingerverband ontslae geraak om ten minste sy arm in die baadjiemou te kry.
Vanmôre toe ’n kaalvoetmatroos met eerste lig oor die nat dek slof om die bakboord- en stuurboordlanterns uit te doof, was Henry onder die eerstes op dek. Die ligpers massa van Tafelberg, ’n landmerk vir see-moeë oë, het pas op die dynserige horison sigbaar geword.
Destyds op die Hollands-Oos-Indiese skepe is daar tien gulden en ses bottel wyn gegee aan die eerste matroos wat die berg kan sien. En brandewyn vir almal aan boord. Is dit Cockburn wat dit vertel het? Dit sal wel wees. Hy is die ewig vorsende joernalis.
Hy móét vandag vir Cockburn sien. Hy wou hom tydens die seereis onlogies verbeel dat hier ’n boodskap op hom sal wag, een of ander verborge teken. Iets wat Robert Cockburn kwytraak, asof hy met sy middelklas-mentaliteit profetiese vermoëns sou kon hê. Hy lewe op voetsoolvlak; weet, afgesien van skeepsrampe, ook van die gewone lewe se katastrofes, van skandes en herstel.
Cockburn kan doodgewoon sê: “Why not, if you’re in love with her?” Of: “Are you quite out of your mind? Casting your title and fortune to the winds?”
Die laer hellings van Tafelberg is gestippel met glanswit en bottergeel huise. Leeukop se silwerbome vlam wit. Tafelberg self sit soos ’n reuseprop hier aan die suidpunt van Afrika om Kaapstad van die binneland te skei. “The Grand Old Man” is nie altyd so idillies nie. Menigmaal is die plat top met ’n wolkkleed bedek; dis dan dat onervare klimmers en skuilende misdadigers hul dood binne sig van die stad ontmoet, om later as geraamtes gevind te word.
Hy ken Kaapstad. Wel, bolangs. Vóór Indië was hy hier gestasioneer. ’n Lewe van parades en afleiding. Government Balls. Green Point Races. Vossejag op die Kaapse Vlakte, wilde-eende by Zeekoevlei, kwartels in die westeliker koringlande. Op ’n Cape Dutch plaas het hy eendag hemelse kwartelborsies geëet, gehul en gebak in repe spekvleis en jong druiweblare.
Die Kaapse lewe is ’n floue afskynsel van dié in Engeland, maar dis beter as niks. Die landskap is sekere tye van die jaar mooi, die berge altyd. Die plase het pragtige gewelhuise waar welgestelde wynboere, afstammelinge van Hollanders en Franse Hugenote, vergenoeg in die ryk valleie boer.
Oor die afgeleë wêreld agter die berg het hy nooit veel gewonder nie. ’n Donker kontinent met vele geheimenisse en edele barbare, oftewel wilde volkstamme, wat weerstand bied teen geharde wit indringers – vroue met fladderende rokke en wye kappies, mans te perd met geweer soos ’n groeisel oor die skouer. Ou-Testamentiese karakters op pad na die beloofde land. Kruit uitgesmokkel, alles agtergelaat in ruil vir ’n ongetemde binneland. Die druk van swart grensoorloë en slawe-emansipasie het vir hulle te groot geraak. En dat die slawe in die middel van die oestyd vrygestel is …
Cockburn-taal, waarna Henry afsydig geluister het.
Die groot emigrasie en die massamoorde in die Noorde was die laaste groot nuus wat ’n koerant op hierdie afgeleë buitepos regverdig. Die deure van die Cape Town Observer kan net sowel sluit, kon Cockburn altoos lamenteer.
Wat bly oor? Vloot- en militêre nuus. Geboortes, huwelike, sterftes, reise, triviale skandale. “The Hatched, Matched and Dispatched.”
Cockburn het aldus aan die Laaste Groot Nuus bly knaag, soseer behep met dié vryheidsideaal dat dit hom in onguns gebring het by die Goewerment en sy koerant, ook by lesers. En hy wou so graag redakteur word …
Die aspirasie van die Kaapse koloniale samelewing het ook aan Cockburn geroer soos ’n warm bergwind. Waarom is daar ooit vir persvryheid geveg, as daar steeds ’n bekrompe vrees vir rewolusionêre idees is? En wat soek hy hoegenaamd nog hier? Wat hét hierdie Tavern of the Seas wat mens so vashou?
Henry oorpeins dié desperate vraag terwyl hy na die toneel voor hom kyk. Altyd as hy dit nie meer aan die Kaap kon uithou nie, het hy die ryk Hollanders vervloek wat in hul Goue Eeu om handelsredes dié halfwegstasie gestig het, naby die suidelikste punt waar twee groot en onstuimige oseane ontmoet.
Vandag seën hy hulle, asook die Empire wat dit twee keer van hulle verower het. Hy kan ’n paar dae lank hier vertoef, balsem vind vir ’n seer gemoed.
En dit terwyl hy altyd geglo het dat liefdesleed by die burgerstand hoort.
Die baai is windstil, ’n vleklose blou glasplaat waarop die son vonke uitslaan. In Roggebaai lê die vissersbote met seile soos gevoude vlindervlerke.
Die oop ankerplek is minder aanskoulik; dis oorlaai met talle skepe, hoofsaaklik vloot- en handelsvaartuie van Haar bloedjong Majesteit. Leë takelwerk staan teen die lug geteken, terwyl matrose rats soos ape in die nokke van die ra’s rondklouter.
Die Oriental sal pos en handelsware ontskeep, brandhout inlaai. Dalk is daar herstelwerk aan die ketel of seile. As dit klaar is, moet ook sy besluit geneem wees. Vir die eerste keer is dit nie bloed en herkoms wat vir hom besluit nie, nóg opvoeders of militêre owerhede.
Moet hy aan die Kaap agterbly en Rosemary uit Indië laat kom? Haar man, hoë offisier in die Bengaalse artillerie, luisterryk in tiervel en skarlaken helm, kan niks aan die mindere majoor Dalmain doen wat hy nie reeds gedoen het nie. Om die man se vrou werklik af te vat, sal so maklik wees soos om crumpets by kaggelvuur te eet, en ewe behaaglik.
Hy sal ook nie die eerste adellike erfgenaam wees wat in ’n kolonie van die Empire eindig nie. Kaapstad was altyd nog ’n oord nie net vir sendelinge, miljoenêrs en avonturiers nie, maar ook vir swartskape.
In Indië sou hy en Rosemary uitgeworpenes wees. Maar die Kaap is ’n ordelose hawestad en afgeleë buitepos wat met sy lui koloniale tempo en laissez-faire die fyner klasse-onderskeid deur die vingers sien.
Dan dink hy weer: moet hy werklik alles oorboord werp vir ’n geskeide vrou benede sy stand? Dit druis in teen sy opvoeding, opvattinge, teen sy diepste bloed. ’n Offisier het boonop veel te verklaar wanneer hy benede sy stand trou. Haar pa is wel ryk, maar nuwe geld kan nie ou bloed koop nie. Rosemary het hom self vertel van die kruisverhoor waaraan haar man voor hul troue onderwerp was. Dat haar ouma aan die hof gepresenteer was, het die deurslag gegee.
Is hy besig om vir homself ’n lang berou te beplan? Moet hy van Rosemary en sy versotting vergeet? Die tweede keuse uitoefen en Engeland toe vaar om beheer oor Banthorp Estate te neem? Met Claire Devenish trou, ’n erfgenaam verwek? Society is wel onsimpatiek teenoor ’n indiskrete minnaar, maar veel word vergeef wanneer twee buurlandgoedere deur ’n paslike huwelik verenig word.
Hy en Claire hoort saam. Van hul voorouers het tien eeue gelede saam uit Normandië gekom. Hulle leef eenders, dink eenders. Is versot op jag en perde, vertroud met gevestigde hiërargieë en die onversierde tradisies van landedelskap. Hy sal by Claire ’n erfgenaam hê en dié volgens die reëls grootmaak. Die kind sal sy eerste jare in die nursery slyt, waar ’n gedugte Nanny hom goeie maniere en die vroeë beginsels van sang-froid Anglais sal leer.
Hy sal op ’n wit ponie leer ry, opgejaagde fisante jag op uitgetrapte paaie met afgerigte honde, forelle vang in versorgde waters. Hy sal ná die voorbereidende skooljare Eton toe gestuur word, sy opvoeding afrond met ’n Grand Tour in Europa. Oplaas ’n militêre loopbaan volg, bekroon met ’n oorlog in een van die kolonies.
“What are you going to do … about us?” wou Rosemary met dik gehuilde stem tydens hul geheime afskeid weet.
Hul ontmoetings het al hoe moeiliker geword. Hy was nooit sonder onrus nie. Die heilige koeie wat so herkouend in die niet staar, is hulle dalk as spioene aangestel?