Modjaa het in sy taal iets gemompel wat net ’n swetswoord kon wees.
“Ons sal nie heeltemal bly staan nie.”
“Ek weet. Jy staan nie, Furana. Jy loop die loop.”
“Ons sal ons tyd vat solank ons haastig maak.”
“As die maan breek, moet ons vuur baie ver van hier af brand. Waantoe gaan ons?”
“Na die land van jou vaders.” Die oomblik bring die antwoord voort.
“Na Go-Bulawayo. Daar by die groot rivier waar die waters diep inval en dreun en rook.” ’n Instemmende kreun.
“Dis soos jy sê. Ons vat die Krokodil se loop tot waar hy Limpopo word. Gaan kry my gewere en skietgoed by my slaapplek. As oom Soois jou voorstaan, maak of jy hom nie sien of hoor nie.”
Modjaa maak nooit of hy Soois Sinjan hoor of sien nie. Dis so maklik soos braai-’n-haas.
“En saal vir Sultan op, asseblief.” Slegte tyd vir tsetse in Afrika, dis goed die dier is gesout. Verder vat hy net die klere aan sy lyf. Al wat hy verder het om ’n nuwe toekoms mee te bou, is sy wil.
Dis hard om te loop as die koring in die aar kom, as met die geringste wind ’n silwer glinstering oor die lande gly, sag en weelderig soos fluweel.
Gelukkig was hierdie dag genoeg om sy gevoel weg te slaan. Rede bly oor, nogal skerp.
Langs Kootjie Bos se vuur ontvou sy instinktiewe plan volledig.
Olifante.
In Matabeleland agter die Limpopo. Die Agterland waaroor oom Jan Meisenheimer, die grootwildjagter wat soms hier oorstaan, so baie kan spog. Ou Jan Muisnemer wat gereeld vir water en weiveld probeer betaal met ’n verslete £20-noot, welwetende dat geen boer dit sommer sal kan kleinmaak nie.
Verder beroep hy hom op die tamaai adamsvy wat “oom Jan se boom” heet, omdat hy op een van sy vroeë oorstane die agterste punt van sy vyetaksweep in die klam grond gedruk het en dit begin groei het.
Die ou kon veel vertel van die land van die groot vors “Priester Jan”. Later het hy bygelas dat hy Priester Jan ontmoet het, nog later dat hy Priester Jan ís.
Almal spot met sy grootpratery, maar hy weet wat hy weet aangaande jag. “Op die jagveld kan jy maklik gedood word,” sê hy altyd. “Maar ’n jagter se dood dra nie ’n skandvlek nie.”
Ivoor is maklik om te vervoer, goed op prys, geen verwerking nie. Eintlik jammer dat uitroeiers die ambag se naam laat stink het. ’n Jagter kan wel met oorleg te werk gaan.
Word hy dus ook maar een van die rustelose Boerejagters wat swig voor die trekkrag van die Noorde? Ou Jan sê dis maklik genoeg, Afrika se grense lê oop. Wat maak dat ’n man nie altyd sy lewe seker is nie, maar wat ook maak dat jy as jagter by enige land se agterdeur kan in- en weer uitgaan.
Noudat Frans en Modjaa weg is en die werf in die maanskyn tot ruste gekom het, hurk Kootjie weer langs die vuur in die kookskerm. Hy dink aan die goeie slag wat hy geslaan het. Hy sien al die spoggerige rooiwielwa wat hy sal kry, want hierdie splint van hom gaat wragtag nie die Limpopo haal nie.
En ’n span gesoute donkies, spekvet en blink verhaar. Hierdies van hom is vreksleg, hoewel hy aan hulle meer geheg is as aan sy kinders.
Hy onthou nou wat hy nog alles kón gevra het. So jammer dat Frans glad nie rook nie, want twaksake is altyd beroerd. Op die oomblik het hy nog ’n paar kriesels, maar niks om dit in toe te rol nie. Sy pyp is dwarsdeur gebrand. Kan by die werksvolk een kwansel, maar hy rook mos nie saam met hulle nie.
Aldus kan Kootjie sy oë nie glo toe hy Steffina met ’n stukkie papier sien werskaf nie. Sy probeer in die vuurlig lees wat daarop geskrywe staan.
“Gee!” sê Kootjie, en gryp dit onverwags uit haar hand. Fienie skrou soos ’n maer vark en probeer dit teruggryp, maar sy kry net flenters afgeskeur. Tóé moet jy haar bek hoor.
Kootjie is lus en maak haar met ’n oorveeg stil. “Magtag, sal sy nou oor ’n stukkie pampier so staat en huil!”
“Maar dis nig Gerrie se brief, ek het neef Frans belówe!”
“Brief? Watse brief? Ek kom my lewe lank sonder briewe klaar,” sê Kootjie vies, en gooi die orige snippers in die vuur. Dis te klein om twak te kan hou.
“Dis oor Pa nie kán lees of skryf nie,” waag Fienie.
“Jou bek moet toegeklap word.” Kootjie mik, maar dan gewaar hy vir Antjie. Sy staan in die gapende deuropening met die kleinste soos ’n bleek vlermuisie aan haar bors vasgesuig.
Sy sê niks, maar dis genoeg ook.
“Dis reg, praat haar voor,” brom hy. “Maak haar vir die verderf groot.”
“Dis ’n vernaam brief,” kerm Fienie. “Van Marokkie.”
“Jou-ma-se-rokkie-se-maai.”
“Wat sal ek vir nig Gerrie sê?”
“Jy sê haar niks,” is Kootjie se advies. Hy wil nou stilte kry, want hy voel planne in hom woel.
Met Frans uit die pad, kan hy ou Soois dalk uitgewerk kry, hy is ’n hopelose boer. Hy, Kootjie, kan eers aandring op die helfte van die oes, dan die hele oes, dan die helfte van die plaas, dan die hele plaas.
Kootjie neem weer sy bekfluit op. Maar hy het, snaaks genoeg, glad nie meer lus vir speel nie.
Daar het ’n onverduurlike leegheid oor Grootverlangen neergesak.
3
ENGELAND,OKTOBER 1889
Op sewentien, goed ontwikkel en gesond, is Michael Dalmain nietemin te jonk om te weet dat die slegte Oktoberweer nie teen hom gemik is nie, dat almal daaronder ly. Hy weet net dat hy vir twee kosbare dae vanaf Eton tuis is, op Banthorp by sy perde en honde. Dat hy en Granpa vandag sou gaan jag, maar dat die weer oornag guur geword het. Lord Henry is bejaard en sy brose, gekoesterde gestel kan maklik ’n knou kry. Mama en Granma waak nougeset.
Teen sonop het ’n paar flou strale nog aarde toe gesyfer, maar in ’n verbete resies is dit ingehaal en verplaas deur drywende wolke en ’n klam, koue wind.
“Dear me, is it raining, Simpson? I had no idea.” Granma teenoor die Butler wat toekyk hoe ’n Footman die damasgordyne voor die dubbele glasdeur van die brekfiskamer ooptrek.
“Indeed, Madam,” antwoord Simpson op waardige, afgemete toon. Kop effens na vore, ’n standbeeld wat asemhaal.
“We can even look for a storm.” Dis Granpa wat die gesprek met ’n onderhorige subtiel kortsny. Natuurlik gesels hy ook met die personeel; maar hy het die korrekte slag, nie neerbuigend óf familiêr nie.
Hy gesels veral graag met Amod, sy lyfkneg, ’n relikwie uit sy Brits-Oos-Indiese dae. Amod, in karmosyn geklee met gestreepte tulband en serp, so vertroud met Granpa se gevoelens en behoeftes dat hy so te sê deel van hom is. Soms gebruik hulle ’n paar woorde onbegryplike Hindustani, Amod se tong soos weerlig. Sy Engels is vlot hoewel nasaal.
“Thank you, Amod.”
“Very good, Sir.”
Dalk die mees gehoorde frases in Banthorp Hall. En die strelendste, omdat dit van goeie orde en gevestigde hiërargie getuig, ook van knus versorging deur ’n vertroude bediendekorps.
“The cat is turning its back to the fire,” motiveer Granpa sy voorspelling. “St. Luke’s Summer has finally passed.” So noem hy die gebruiklik goeie weer van middel Oktober. Afgesaag, net soos sy: Red sky at night, shepherd’s delight; Red sky in the morning, shepherd’s warning. Granpa is ’n onvermoeide weerprofeet. Kon hy dan nie betyds die ommeswaai voorsien het nie? Hoekom het hy vandag se jag belowe? Of sien hy nie meer kans vir ry en jag nie? Sal hy darem nog ’n paar jaar die Estate kan bestuur?
Hy,