Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
wat tweede natuur by haar is) verdwyn heeltemal.

      “Maria!” sê sy. “Wat van haar, juffrou Du Toit? Ek dink u moet openhartig met my praat.”

      Juffrou Du Toit kriewel onrustig in die stoel rond. Sy voel dat, hoe sy dit ook al wou stel, sy nou alles sal moet vertel … en terwyl sy vertel, dat sy Colet om elke draai sal moet beskerm. Toe begin sy praat, en terwyl sy praat, hou sy haar oë, sonder om terug te deins, vol op Suzanne gerig. En nadat sy ’n rukkie vertel het, en by die besondere gedeelte kom, merk sy met heldere insig skielik in Suzanne dieselfde emosies op as by haarself, dieselfde reaksies; in so ’n mate dat sy die gevoel kry dat sy in ’n spieël kyk.

      Die aand toe Colet gaan slaap het, het hy dadelik die gemaakte opgewektheid gemerk. Suzanne het hom, soos in die Kaap, in haar arms geneem en liefkosend goeienag gesoen. Juffrou Du Toit het ’n neiging getoon om telkens te lag en dan ’n bietjie té lank aan te hou. Maar Theuns was stroef en het met kil oë na hom gekyk. Maria was nêrens te vinde nie. Hy het tot laat in die kamer gelê en wag dat sy moes kom slaap. Oudergewoonte kon hy nie aan die slaap raak voordat sy eers daar was nie. Toe sy nie kom nie, het hy opgestaan en sukkelend deur die donker gang gegaan. Hy het alreeds die deur oopgemaak toe dit hom byval dat sy ouers nog in die eetkamer sit. Die helder lig het hom heeltemal verblind.

      Suzanne het meteens van haar stoel opgespring.

      “Wat makeer, Colet?” vra sy. “Kan jy nie slaap nie?”

      Die lig in sy oë, hulle onverwagte gesigte en sy uitgeputte gees het vir ’n oomblik alle rede verban, en voordat hy presies kon dink wat hy moes sê, en in sy vrees dat hy die verkeerde ding sóú sê, doen hy dit en fluister met ’n hees stem, wat hard en kras in die ore van almal klink wat luister: “Waar is Maria? Ek wag vir Maria. Ek kan nie aan die slaap raak voordat sy kom slaap nie.”

      Colet het eers die volgende dag na skool gehoor dat Maria weggaan. Hy het nét uit die klaskamer gekom toe hy haar twee verweerde kartonkoffers op die voorstoep sien. Terwyl hy nog daarna staan en kyk, het Suzanne en Maria by die voordeur uitgekom. Maria was aangetrek in ’n crêpe-de-chine-rok, ’n groot wit breërandhoed wat haar smal gesiggie nog kleiner laat lyk het as gewoonlik, en ’n vaal jassie wat tot teen haar nek vasgeknoop was. Hy kon haar gesig amper nie herken nie: haar oë was dof en dik geswel en wit kolle het in lelike vlekke op haar wange uitgeslaan.

      Toe sy vir Colet sien, staan sy vir ’n oomblik besluiteloos en kyk na Suzanne.

      “Groet vir Maria!” sê Suzanne met ’n ferm stem, haar fier houding geaksentueer deur Maria se opgebondelde voorkoms.

      Hy steek sy hand na haar uit sonder om ’n woord te sê. Haar hand is klam en leweloos en koud. Toe hy aan haar raak, word hy meteens vervul met ’n gevoel van weersin, asof hy mislik is. Haar koue hand, half klam soos dié van iemand wat siek is, het die walglike aanraking van iets soos ’n padda of ’n modderdier. Haar beteuterde voorkoms werk só irriterend op hom dat hy voel asof hy kan skree. Selfs haar reuk is anders, bedompig soos ’n geslote kamer, soos iets wat vergaan, soos Suzanne se klere daardie middag toe hulle weg was.

      Hy kon skaars wag om weg te loop.

      Selfs toe die motor wegtrek, het hy nie eens omgekyk nie.

      HOOFSTUK III

      ’n Verandering was geleidelik besig om in Colet plaas te vind, maar dit het vir homself eers duidelik waarneembaar geword nadat Maria weg was. Miskien was die rede daarvoor dat hy, deur hulle gedurige saamwees in die dag en geselsery in die aand, nie baie tyd alleen gehad het nie. Destyds was daar net vae aanduidings daarvan – soos byvoorbeeld die middag in die slaapkamer toe sy ouers weg was, en somtyds wanneer hy alleen gaan stap het, of gewag het vir Maria om te kom slaap.

      Nou het hy dit veral goed gemerk in sy houding teenoor Suzanne.

      Sy het meteens meer aandag aan hom begin bestee deur hom byvoorbeeld na haar kamer toe te roep en met hom te gesels oor wat hy gedurende die dag gedoen het. Alhoewel haar pogings om sy vertroue te herwin, baie oordrewe was, was dit tog opreg en welmenend. Maar juis om daardie rede het hy so ’n hekel daaraan gehad dat hy soms dinge gesê het nét om haar seer te maak. Hy het geen plesier daarin gevind nie, maar hy kon eenvoudig nie anders nie. As sy hom byvoorbeeld op ’n mooi manier vra om sy das reg te trek, het hy dit nie gedoen nie, maar nog skewer gepluk as tevore. Juis omdat sy so gesteld was op netheid en sindelikheid, het hy hom half gewas en het dit baie gesoebat gekos om hom skoon klere te laat aantrek. Soms het sy sokkies só sleg geruik dat die hele kamer bedompig geword het. Hy het gehou van die reuk daarvan. Hy het selfs dit tot teenaan sy gesig gebring om die soet-suur walms te ruik. ’n Ou baadjie het besondere betekenis gekry. Hy het dag na dag ’n blou tweedstuk gedra. Die moue het naderhand afgerafel, sodat sy elmboë begin uitsteek het. Die sakke daarvan was gedurig volgeprop met stukke halfgeskrewe papier waarop hy allerhande betekenislose simbole gekrap het. As die sakke naderhand té vol geraak het, kon hy dit eenvoudig nie oor sy hart kry om sekere stukke weg te gooi nie, alhoewel dit heeltemal vergaan en verkrummel was.

      Hy het ’n sekere manier van sit aangekweek: sy agterlyf diep in die stoel in, sy hande op sy knieë en sy kop vooroor. Hoe hulle ook al met hom gepraat het om regop te sit, kon hy nie van posisie verander nie. Hy het ongemaklik gevoel om op enige ander manier te sit. Hy het verdere irriterende gewoontes – irriterend ook vir homself – aangeleer. So het hy byvoorbeeld dieselfde boek oor en oor deurgelees, totdat hy naderhand omtrent elke bladsy van buite geken het. Dit was Coral Island, een van die boeke wat hy nog in die Kaap gehad het. Die boek het hy elke aand op dieselfde plek weggesit, en niemand is toegelaat om daaraan te raak nie. Die plekkie was ’n hoek eenkant in die hangkas tussen sy klere. Toe dit eendag daaruit verwyder en netjies op die tafel neergesit is, het hy in ’n onkeerbare woede uitgebars en hardop in magtelose toorn geskree.

      Sekere sleutelwoorde het ’n magiese betekenis gekry. Dit was die woordjies “en”, “by”, “ek”, “voor” en alle voorsetsels. As sy oog op ’n selfstandige naamwoord val, het dit hom só gehinder dat hy vinnig na die voorsetsel gekyk het, voordat hy die boek dan skielik toemaak sodat die nabeeld van die woord nog in sy gees kan bly. In sy gedagtes het hy heeltemal in die verlede gelewe. Hy het aan sy heel jong jare in die Kaap ’n wyer en ruimer betekenis geheg as wat dit ooit gehad het. Die herinnerings aan die geluid van die vishorings en die geblaas van die mishorings het beelde meegebring wat ooreengestem het met sy vroeë indrukke van Sara en die verbode sy van die Kaapse lewe. Gekleur deur die verloop van tyd, het dit oneindig geheimsinnig, onwêrelds en melancholies geword. Die teenswoordige was neerdrukkend en die aanvaarding daarvan ’n toegewing aan magte wat teen hom is. Om sy verband met die verlede te behou, het hy ’n eienaardige obsessie ontwikkel. Nadat hy hom ingedink het in die verlede en heeltemal besiel was met die gevoel wat dit meegebring het, het hy elke keer as hy aan iets dink wat die teenswoordige inhou, dit geneutraliseer deur twee keer daaraan te dink. Die “verledegevoel” en die “teenswoordigegevoel” was twee magte wat gedurig teen mekaar gewerk het. Die teenswoordige kan alleen uit die weg geruim word deur dit skadeloos te maak, en dit het hy gedoen deur dit twee keer, onmiddellik na mekaar, te ervaar en só deur herhaling dit heeltemal tot niet en magteloos te maak.

      Hy het hierdie dinge veral gedoen wanneer hy in sy teenswoordige lewe iets onaangenaams ervaar het. Die innerlike ervaring was natuurlik onbekend vir die ander huismense, maar die uiterlike simptome wat dit aangeneem het, soos sy halsstarrige voorliefde om al sy oudste klere te dra, en die gewoonte om twee keer aan ’n ding te raak en selfs in ’n sekere stadium ’n woord twee keer op ’n aparte papiertjie oor te skryf, het hulle in groot mate ontstem. Suzanne het eendag met juffrou Du Toit daaroor gepraat en sy het die klaarblyklike verklaring gegee dat hy deur ’n “stadium” gaan.

      Kort nadat Maria weg is, het ook juffrou Du Toit probeer om sy vertroue te wen. Sy was heel versigtig in die begin omdat sy bevrees was dat hy haar kwalik sou neem aangesien sy die oorsaak was van Maria se vertrek. Tot haar verbasing het sy ontdek dat hy skynbaar geen merkbare gevoel teenoor die diensmeisie oorgehou het nie. Haar eie houding in verband met die hele affêre het haar nog steeds gehinder, juis omdat sy geen verklaring daarvoor kon vind nie. Sy het haar voorgeneem om natuurlik in haar verhouding teenoor hom te wees, en in die skool het dit nie moeilik