Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
die handeling self naderhand vergelykenderwys maklik voorgekom het. Hy het toe sy vuiste gebal en drie harde houe teen die muur geslaan. In die rasende stilte wat daarop gevolg het, het hy tevergeefs gelê en luister en toe aan die slaap geraak. Net voordat hy heeltemal weggesink het, het die beklemmende gevoel weer na bo gekom en het hy allerhande ondenkbare strawwe vir homself in die duister opgetower. Dit was ’n egte skuldgevoel, waarteenoor sy verbode gevoel van die verlede klein en nietig voorgekom het. Dít is die bose in die Bybel, dít is die uiteindelike verdoemenis …

      Toe sy die geklop teen die muur hoor, het juffrou Du Toit onwillekeurig haar hand opgelig om dit te beantwoord en toe geweifel. Sou hy iets agtergekom het vanaand? Per slot van rekening is daar tog niks mee verkeerd dat die jong seun in haar arms was en haar hand styf vasgehou het nie; en sy het niks verkeerd gedoen nie … nou wel, maar net sy hand gestreel – maar dit is ’n doodgewone ding; hom effentjies teen haar gedruk; ’n heel natuurlike gebaar. En kyk, dink sy by haarself, ek het die hele tyd met hom gepraat oor hoe hy moet leef: oor die goeie dinge en oor die verkeerde dinge. Om terug te klop teen die muur, sou ’n natuurlike gebaar wees … Maar toe sy weer haar hand lig om dit te doen, besef sy dat dit té laat sou wees, dat dit na ’n uitnodiging van haar kant sal lyk tot ’n heel onskuldige speletjie (natuurlik), maar ook heeltemal laf en ongehoord vir ’n onderwyseres. Die gevoel in haarself is maklik verklaarbaar: sy voel natuurlik alleen en afgesonderd op die plaas, en miskien in ’n mate verveeld. Dit sal ’n goeie ding wees as sy meer uitgaan, meer mense sien …

      Toe sy die lig doodmaak, en Colet se beeld saam met die duister op haar toesak, veg sy met al haar mag om al haar gedagtes teen te gaan, en gaan heeltemal verlore in die stryd. Dit word so onuithoudbaar dat sy naderhand haar kop in die kussings steek en bid: “O Jesus, help my …” En, vir die res van die nag, met Colet ’n dringende teenwoordigheid op die agtergrond, soek sy een verskoning na die ander en roep na haar Heer soos iemand wat in die donker stap en sy hand verdedigend op ’n gelukbringer hou. En, in haar verdraaide gemoed, wissel die beeld van Christus en Colet mekaar af soos goed en kwaad, soos twee note wat eindeloos herhaal word.

      Die volgende dag was juffrou Du Toit baie nors en kortaf teenoor Colet. Sy het gewag vir tekens van intimiteit van sy kant, maar het hom steeds meer teruggetrokke en onpeilbaar as tevore gevind, waardeur sy aantrekkingskrag juis toegeneem het, sodat sy besluit het om voortaan alle effek wat sy moontlik op hom en hy op haar gehad het, uit te wis deur met hom te praat, sodra daar geleentheid is, oor die goeie en verkeerde dinge in die lewe.

      Maar Suzanne het haar voorgespring. Soos alle verbeeldinglose mense was Suzanne se lewe beperk tot algemene ervarings. Die godsdienstige agtergrond in haar ouerhuis, tesame met die sedereëls wat vroeg al by haar ingeprent was en wortelgeskiet het soos plante in vrugbare grond, het haar aanvaarding van die lewe ’n outomatiese ervaring gemaak soos wakker word en slaap, werk en rus. Al die verkeerde en goeie dinge wat sy haar hele lewe gedoen het, het buite die sfeer van beginsels geval. Alhoewel sy al op baie jeugdige leeftyd sekere ervarings gehad het, het sy met die jare dit voordelig vergeet en nooit bewustelik enige gevolge daarvan oorgehou nie. Of sy goeie of verkeerde dinge gedoen het, het bloot afgehang van omstandighede. Selfs die feit dat sy en Theuns een aand voor hulle troue gemeenskap gehad het, na ’n dans, is só uit haar bewussyn uitgevee dat iemand wat dit ooit sou noem, heftige ontkennings van haar kant sou uitlok, sonder dat sy vir een oomblik sou voel dat sy vals is. Kort nadat sy en Theuns na die dansparty was, dié aand toe Colet en juffrou Du Toit alleen by die huis moes bly, het sy een middag vir Colet sien stap. Sy het met ’n gevoel van verbasing agtergekom, toe sy sy lang, maer figuur sien, dat hy al groot begin word en vaagweg besef dat van haar, as moeder, darem iets verwag word. Sy het haar daarmee getroos dat sy daardie verderflike affêre met Maria in die kiem gesmoor het.

      Hy was natuurlik te jonk om van sulke goed te weet, maar as sy dit nie agtergekom het nie, kon dit nog baie slegte gevolge gehad het. As sy aan Maria dink, voel sy heeltemal woedend. Dat so ’n meisie, van so ’n stand, dit kon waag om met haar seun so intiem te verkeer! Natuurlik sou sy dit nie waag om iets verkeerds met hom te doen nie, maar dink net aan al die slegte gewoontes wat sy hom kon aangeleer het!

      Toe sy Colet een middag alleen in haar kamer aantref, besluit sy om met hom te praat oor die lewe.

      Colet het dadelik die spanning agtergekom en, oudergewoonte, sy natuurlike gevoel afgedraai en sy kenmerkende afsydige houding ingeneem.

      “Colet,” sê sy, “sit daar.”

      Hy gaan op die stoel sit.

      “Kyk, Colet, ek wil met jou praat.”

      ’n Oomblik van stilte terwyl sy soek na woorde en put uit eie lesse in die vérre verlede.

      “Colet, jy weet mos ons het vir Maria weggestuur. Weet jy hoekom?”

      “Nee.”

      Sy is pateties in haar erns. ’n Mooi vrou van veertig jaar, skaars ouer in haar geestelike samestelling as die kind voor haar, maar in haar deftige houding álwys en met ’n waardigheid wat haar gebrek aan diepte verdoesel.

      “Maria is weggestuur, Colet, omdat sy sonde doen. ’n Vrou en ’n man se liggame is die tempel van God. Mens moet skoon en rein wees. As jy die liggaam bevlek, doen jy sonde teenoor jou Here en sal Hy jou straf.”

      Haar hele houding weerspieël die toorn van God. Sy is die beliggaming van alle gesag.

      “Mens sondig nie alleen deur lelike en vuil dinge te doen nie, maar mens sondig ook in jou gedagtes. As jy lelike, vieslike gedagtes het, sal die Here jou straf net asof jy al daardie dinge gedoen het.”

      Ten spyte van sy neutrale houding, sink die woorde diep by Colet in. Alhoewel hy hom altyd doof hou vir Suzanne se teregwysings, kan hy nooit haar woorde heeltemal vergeet nie. Selfs in die verlede, toe sy met hom geraas het oor Sara se stappies na die see. Dit hoef geen rede of betekenis te hê nie, maar solank dit van haar kom, word dit deel van al daardie kettings wat kruis en dwars in hom knoop.

      “Daar is dinge soos …” Sy wag ’n rukkie, en verstyf tot Olimpiese hoogtes. “… Soos … selfbevlekking.”

      Sy wag om die effek te sien, en merk met genoeë die skielike spanning in hom op. Alhoewel hy nie die woord verstaan nie, is die samestelling van simbole en die toon waarin dit gesê is, genoeg om dit te plaas as ’n samevatting van al daardie dinge wat hy so pas begin agterkom het.

      “Deur sulke dinge soos selfbevlekking, vuil gedagtes, vieslike speletjies met meisietjies, beklad jy die tempel van God en sal jy gestraf word tot in lengte van dae.”

      Die reaksie by die kind, sy vertrekte gesig en die skame ontvlugting van sy oë, verseker haar dat sy in haar doel geslaag het. Sy voel dis onnodig om meer te sê, en sy soek nou na iets om die gesprek op ’n hoogtepunt te eindig. Dan val haar oog op die Bybel langs die bed.

      “Gee ’n bietjie die Bybel aan, Colet,” sê sy.

      Sy lees: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken … So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi …” Terwyl sy lees, kyk sy tersluiks na Colet. “En dan sal Ek aan julle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! …”

      Toe Colet stadig die kamer uitgaan, voel sy diep verlig, soos iemand wat ’n onaangename plig vervul het. Sy voel lus om hom in haar arms te neem en te soen, maar voel dat dit die uitwerking van haar woorde sal bederf. Dan dink sy meteens weer aan Maria en voel hoe die woede só van haar besit neem dat sy amper kan stik daarvan.

      Juffrou Du Toit het haar praatjie met hom uitgestel vir ’n geskikte geleentheid – totdat hulle weer alleen kon wees. Maar toe die geleentheid nie spoedig daarna aangebreek het nie, het sy daarvan afgesien. Haar houding teenoor hom het vir ’n lang tyd baie gekunsteld gebly, totdat die gevaartydperk verbygegaan het, en toe het sy geleidelik haar vroeëre verhouding hervat en met vrugtelose, onbeholpe poginkies probeer om agter sy stuursheid te kom en sy vriendskap en vertroue te wen.

      Colet se obsessies het allerhande subtiele variasies aangeneem en in die nagte het sy sensuele drome, en nuwe besef van goed en kwaad, in ’n aanhoudende tweestryd