Die eerste siklus
Etienne LeRoux
Human & Rousseau
DIE EERSTE LEWE VAN COLET
Opgedra aan Jan Greshoff
Alle karakters wat in hierdie boek voorkom, is denkbeeldig.
Sy naam is Colet van Velden.
Hy is gebore op 18 Februarie 1921 in die dorp Van Velden, wat deur sy oupa aangelê is.
Die doopplegtigheid is waargeneem deur eerwaarde Olivier, en die dogtertjie wat hom ingedra het, se naam was Mariet Jooste.
Die doopouers voor die kansel was Theuns en Suzanne van Velden.
Die grootoupa het nog gelewe, maar was te swak om die diens by te woon.
Die teks was Psalm 119 vers 9.
Die dooppartytjie, na die diens, het op die grasperk in die tuin van die familiewoning plaasgevind.
Die funksie is bygewoon deur al die familiebetrekkinge.
Dit was ’n stil, wolkelose dag.
HOOFSTUK I
’n Paar jaar na Colet se geboorte het Theuns en Suzanne van Velden Kaap toe getrek en in ’n huis in Tamboerskloof gaan woon. Daar was twee slaapkamers, ’n eetkamer, ’n sitkamer, ’n badkamer en ’n kombuis, met ’n bediendekamer in die agterplaas. As die Van Veldens die dag weg was, het die bediende, Sara, hom na haar kamer geneem en op die bed gaan lê terwyl hy op die vloer met blokkies rondspeel. Telkens het van die Kaapse bruinmense daar aangekom en met haar gepraat. Uit hulle gesprekke het hy beelde en woorde ingeneem wat, tesame met die indrukke van sy ouers se geselskap, hom ingelei het in ’n verwikkelde en wye wêreld. Die onbekendheid van die lewe het hom in staat gestel om, sonder rede of plasing van tyd en plek, alles met mekaar in versoening te bring. Alhoewel dit gelyk het asof hy met sy speelgoed besig was, het hy gedurig geluister na die gesprekke van die mense om hom en sodoende ’n insig gekry in dinge wat, soos uit ’n vreemde, onontdekte wêreld, net in grepies aan hom geopenbaar is, om dan onvoltooid en in ’n waas te verdwyn. Dit was nie alleen beperk tot wat hy gehoor het nie, maar het ook losstaande situasies ingesluit wat opgedoem het soos voorwerpe in ’n donker kamer waarin ’n lig telkemale flits.
So het hy byvoorbeeld fragmentariese indrukke oorgehou van ’n klomp mense in die eetkamer, die geklink van eetgerei, water in ’n ronde bak waar duisende kleure in een kolletjie saamgevat is, ’n oomblik van stilte, sy ma wat skielik hard lag en die effens geboë kop van sy vader, asof hy op die vloer na iets soek. Dan weer die bediende in die kamer met haar bruin bene op die stoel terwyl sy agteroor op die bed lê; en die man in die deur met sy pet skuins oor sy oë – die skaduwee van sy figuur en die smal strepie lig deur die deur. En die skril draailag van die bediende, voordat sy uitroep: “Aai, my ghiets …!” En die see by die dokke waarnatoe sy hom geneem het as hulle in die park moes gaan stap; die vuil kaaiwater en die skulpe vasgesuig teen die groen houtpilare, die verroeste skepe en die reuk van vis en riool; die uitroepe van die matrose en woorde soos “bitch”, “bloody”, “bastard”. Maar veral die geruis van die see en haar antwoord op sy vraag: “Hoekom dreun die see so?” – “Dis die gehuil van verlore siele, en luister …” as sy die skulp teen sy oor druk: “dit is die gekerm van stout kinders in die hel” – en daardie fyn gesuis, soos die see, uit die mooi skulp met die skurwe rande en die soutreuk.
Daar was ontelbare flitsherinnerings aan snaakse blomme en motors, wolke oor die berg, gladde politoer op vloere, geverfde tuinhekkies en geroeste sink, smal gangetjies tussen geboue, bruin lapwerk teen die mure, groen mos in die voue, seuntjies en dogtertjies deur die skrefies in die heining, die breë blare van bome en geluide in die nag. Verbandloos en losstaande – maar beelde wat later, dwarsdeur sy lewe, weer sou opdoem om daarmee ’n verlange by hom op te wek na onbepaalde dinge en onplaasbare tydperke.
En soms, in die nag, as sy ouers weg is en die rumoer van die stad van vér kom, op die mat in die lamplig van die kamer – stories van die stad: die Slamaaiers wat mense betoor en goël sodat jy geeste sien, naalde deur hulle lippe en velle, tamboere en swaaiende slange. “En, luister na die mishoring …” ’n Newelagtige, dralende geluid van die see, wat die kamer vul en leef in swart oë en opgehewe hande … En bedags, deur die mis: “Sien jy daa-aa-aar …!” (Hy word opgelig, bo-oor die seemuur.) “Dis Robbeneiland. Melaatses woon daar. Hulle bene en arms val af … As jy loop in die nag en die dienders kry jou, dan boei hulle jou en vat jou soontoe. Dan kom jy nooit weer terug nie. Jou familie weet nie waar jy is nie – jy’s weg as hulle opstaan. Stil nou! As jy huil, kom die dienders en hulle boei jou …”
En, in die oggend as Sara kom om hom aan te trek, is hy al lank reeds wakker en lê en luister na die vishorings. Deur die vensters ’n grepie van die straat, opgehelder deur die son. Die kloppeteklop van perdepote op teer en daardie opgewekte en tog treurige, blikkerige geblaas deur die vishorings. Eers op die hoek van die straat, dan voor die huis. Stemme, glinsterende vis – en weg is die karretjie. En vér om die draai, deur die strate, verlore in die doolhowe – die uitgelate en tog weemoedige bliktrompet.
Alle reëls was beperk tot fisieke dinge: jy moet nou gaan slaap; dis etenstyd; hoekom is jy so vuil? en hou op met die gekerm.
Eendag het Suzanne met hom geraas oor iets onnets en daardeur onherroeplik sy saamgestelde wêreld geskei. Hy het een van die woorde gebruik wat hy by die dokke gehoor het. Sy het hom eenkant toe geroep en gevra: “Waar het jy daardie woord gehoor, Colet?”
“By Sara, Mammie. By die see.” Opgewekte, trippelende beweginkies. “Doee-ee-eer, by die see. Skulpe. As mens dit by jou oor bring, hoor jy kinders huil …”
“Het Sara jou see toe geneem?”
“Ja.”
“En daardie … lelike woord?”
Hy sê dit weer.
“Kyk, Colet.” Haar arm om hom. Haar gesig digby syne. “Dis sonde. Kyk, soet, gehoorsame kinders sê nie sulke goed nie. Dis lelik. Sonde.”
Betekenisloos en tog onverbiddellik soos “gaan slaap nou, etenstyd, opstaan …” Reddeloos, onverstaanbaar en tog ’n bevel wat gehoorsaam moet word. Al die lekker, mooi dinge – verkeerd, sonde. Ferme oë, dreigende hande.
Eendag het hy die woord weer gebruik en ’n pak gekry. As hulle weer see toe gaan, moet hy haar vertel. Ook Theuns het met hom gepraat, hom op sy skoot getel en hom sy “grootman” genoem. “Daardie dinge …” (met ’n stem vol veragting) “… daardie dinge is sleg en baie, baie verkeerd. Lelik: soos spoeg op die vloer of vuilmaak in jou broek.”
Terwyl sy ouers eendag weg was, het Sara hom voorgekry en gedreig met ’n bruin hand wat taai kan klap en rooi strepe kan laat lê, as hy weer vertel, sulke woorde voor sy ouers gebruik en die see en die dokke en die smal gangetjies tussen die huise noem.
Toe kom die besef van die twee lewens: die blink sitkamerlewe met die albasters en blokkies en soentjies en mooi maniere en eet en slaap – skoon en vol inspanning; versigtige woorde en geborselde hare, sersjebroekies en syhemde en vier mure en afgemete grasperke; mooi, soet, pappa se kind, en sagte, wit hande. En daarnaas: sonde, donker, hel … en ’n ruisende see; en die groen seegras en die gefluit van die mishoring tot agter in jou hart; die wye, geheimsinnige wêreld daarbuite en die skepe wat kolossaal en wiegend dobber op die grafkelder van verlore siele, en die wydheid en onpeilbaarheid en onverklaarbaarheid van heerlike dinge wat verborge en verbode moet bly; en daardie weevolle eggo hier in jou binneste wat jou oë laat dof word van trane en jou bors laat brand in golwende aanslae soos branders …
Kort hierna het die Bybelonderrig begin: ’n Kinderbybel vol prentjies van Christus en sy dissipels en die wondere van die Nuwe Testament. Elke aand is vir hom ’n stukkie voorgelees, verklaar en vergelykings getref met die praktiese lewe. Goed en reg is nie wat hy tot dusver aangeneem het as húlle bevele en húlle lewe nie, maar die voorskrifte van Iemand wat veel sterker as hulle is. Iemand met hulle oë en hulle lewe, wat orals kan sien: selfs tot by die kaaiwaters en in Sara se kamer as hulle weg is; Iemand wat nooit daardie