Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
sy dat sy nou finaal alles bederf het.

      Terwyl hulle terugstap, dink sy aan die seun langs haar. ’n Mens moet net agter daardie astrantheid van hom kom. ’n Kind het leiding nodig op daardie ouderdom. Sy besluit ook om met sy ouers oor Maria te praat. Dis nie goed dat ’n jong meisie so intiem met ’n seun van sy ouderdom verkeer nie.

      En vir Colet is die sonsondergang voor hulle, met al die kleursamestellings, ’n knellende gesig. Daar is iets in die droë opeenstapeling van malse kleure wat hom heeltemal magteloos laat voel. Alles is vreemd en onverstaanbaar. Hy voel baie alleen. Asof alles, alle intieme dingetjies, wat ander tye sy aandag afgetrek het as hy so alleen voel, in die laaste tyd verdwyn het. Hy voel sleg omdat hy Maria so in ’n strik gelei het; hy weet nie hoekom hy dit gedoen het nie. En juffrou Du Toit: hy het vir ’n paar oomblikke gevoel, toe hulle op die gras gesit het, dat hy iets vir haar wou sê wat die verdeeldheid en alleenheid in hom sou breek … toe sy agteroor op die gras gesit het, met haar lyf teen die boom, soos Mariet die aand op die bed … Maar sy lyk nou weer heeltemal anders – so alledaags en preutserig …

      Die aand toe Maria kom slaap het, wou hy weer by haar inkruip, maar sy het hom teruggejaag na sy bed toe. Alhoewel hy oor en oor gevra het wat makeer, wou sy hom nie antwoord nie. Net voordat sy aan die slaap geraak het, het sy eenkeer gesê: “Ek sal jou onthou.” ’n Rukkie later in die aand het juffrou Du Toit die kamer ingekom en die lamp omhoog gehou. Teen daardie tyd was Colet al terug in sy bed en hulle al twee aan die slaap, en nie een het geweet dat sy die kamer binnegekom het nie.

      In die week toe Suzanne-hulle weg was, was daar ’n uitgelate atmosfeer in die huis. Selfs in die skool was juffrou Du Toit toegeefliker as ooit tevore. Sy was aanmerklik vriendeliker teenoor Colet buite skoolure en het uit haar pad gegaan om met hom te gesels, maar hy het ’n behae daarin geskep om haar op alle moontlike maniere te ontwyk. Maria het hom die volgende dag alreeds vergewe dat hy haar so in ’n val gelei het. Drie aande daarna het sy hom genooi om by haar te kom lê en gesels.

      Die eerste tekens van die winter was al aan die kom, en dit het in die aande taamlik koud geword. Toe die lamp doodgeblaas is, het hy by die wastafeltjie verbygeklouter en in die lekker warm bed by haar ingeklim. Hulle het vir ’n rukkie styf teen mekaar gelê en rondgekriewel totdat hulle lyfhitte die koue heeltemal verdryf het. Toe begin hulle gesels.

      “Het jy kêrels in die Inrigting, Maria?” vra hy.

      Hy voel hoe sy skielik stil lê in die donker.

      “Wel …” sê sy. “Eendag was ek op diens gewees by die deur. Ons kinders het almal deurdienste, een keer elke veertien dae. Dan luister ons as die klokkie lui en maak dan die deur oop en neem hulle die sitkamer in …” Sy bly weer stil en vroetel rond soos iemand wat dink en iets probeer oplos. Geen wonder nie, sy is besig om, na aanleiding van ’n onskuldige gebeurtenis, iets te skep met behulp van Fanny Eden.

      “En toe,” sê Colet, “watter soort mense? Ek bedoel, was hulle oumense? Die ma’s en pa’s van die kinders?”

      “Nee. Hulle het nie ma’s en pa’s nie. Hulle ma’s en pa’s besoek hulle nie … Die gaste van die juffrouens – familie en vriende … en van hulle … kêrels.”

      Colet strek hom behaaglik uit en lê ’n bietjie stywer teen haar aan. Die heerlike sekuriteit van haar arms en die effens klamme, persoonlike hitte laat hom veilig en gerus voel. Daar is geen ander gedagtes nie. Dis net haar stem en beelde van daardie lewe, en stories totdat hy netnou vaak word en na sy bed toe sal moet teruggaan.

      “En toe, Maria,” sê hy, “wat gebeur toe?”

      “Eendag,” sê sy, “toe ek op deurdiens was, toe lui die klokkie en ek maak die deur oop. Toe staan daar ’n man …”

      “Hoe oud was hy?”

      “Omtrent dertig … jy weet, mooi en donker … met effentjiese grys hare … heeltemal ouerig al, nie té oud nie … net interessant, weet jy …”

      “En lank? Was hy lank? ’n Lang, skraal man wat ’n lang skaduwee gooi …?”

      “Ja, hy was ’n lang man, en mooi en donker en ryk. Toe neem ek hom na die sitkamer. Ek sê toe vir hom: ‘Sit asseblief.’ Nee … ‘Neem plaas asseblief. Wie wil u graag … asseblief spreek?’” (Haar stem word fyn en hoog in ’n poging tot deftige modulasie.) “Toe glimlag hy – ’n mooi glimlag. Mooi wit tande. Ek hou van ’n mooi glimlag en mooi tande … en kuiltjies. Hy het kuiltjies gehad …”

      Colet skuur sy gesig teen haar arm. ’n Lomerigheid het alreeds oor hom begin kom. “Het ek mooi tande, Maria?”

      Hy voel hoe haar hand in die donker na sy gesig soek. As dit oor sy wang streel, glimlag hy in die donker. Die punte van haar vingers krap om die hoeke van sy mond.

      “En kuiltjies ook. Jy het ook kuiltjies, Colet.”

      Hy lê ’n rukkie in stilte terwyl sy aanhou om sy gesig te streel. Dit het intussen verander van ’n speelse streling tot ’n senuweeagtige soektog van lomp vingers in die duister, ál met sy gesig langs asof sy die buitelyne wil natrek. Dit wek, saam met die lome gevoel, ’n herinnering aan iets bekends in hom. Terwyl hy daarna soek in sy gedagtes, sê hy: “En toe, Maria, wat van die lang man? Was hy jou kêrel?”

      “O!” sê sy. “Ja, die man. Nee, hy sê toe vir my met ’n mooi, sagte stem: ‘Ek wil graag met juffrou Van Wyk praat. Sal jy haar asseblief roep?’ Ek sê toe: ‘Seker, meneer’ – maar net toe ek stap, toe roep hy my terug en hy sê: ‘Wat is jou naam?’ Ek wou eers nie my naam vir hom sê nie. Sien, hy is ’n vreemdeling, Colet. Maar toe sê ek ‘Maria’. ‘O!’ sê hy toe. ‘Dis regtig ’n mooi naam.’ En toe … toe gesels ons.” Haar sinne kom stadiger. “Toe sê hy na ’n rukkie: ‘Jy hoef nie meer juffrou Van Wyk te roep nie. Ons gesels liewer met mekaar.’ Maar, o Colet! Ek was bang dat juffrou Nieman daar sou aankom. Sy was op diens en sy kom altyd kyk of ons die klokkies beantwoord het. En is sy kwaai! Maar die man wil my nie laat gaan nie. Hy sê vir my: ‘Geliefde, al is jy nou wel ook so … nederig van stand … liefde ken nie rykdom of armoede nie …’ En hy gaan toe op sy knieë en hy sê … Colet!” Hy mompel onduidelik langs haar. Sy skud aan hom. “Colet, Colet! Slaap jy al?” Toe hy nie antwoord nie, voel sy versigtig met haar hand oor sy oë. Onder die lede kan sy die flikkering gewaar, maar dit gaan nie oop nie. Sy luister na sy gereelde asemhaling en lig hom effentjies van die bed af op om hom wakker te kry, maar verander haar plan en laat hom weer terug in haar arms lê.

      “Jy moet op jou bed gaan lê,” sê sy. “Sê nou maar hulle kry jou môreoggend hier?” Maar sy sê dit meer vir haarself. Dan trek sy die seun stywer teen haar vas en woel haarself tot dig teen sy lyf. Na ’n rukkie lig sy haar kop op en bring haar lippe teen sy wang en dan stadig en voel-voel tot teenaan sy mond – en soen hom dan meteens hard, en draai dan net so skielik om met haar rug na hom toe. ’n Rukkie later raak sy aan die slaap.

      Die volgende môre baie vroeg, voordat die son op was, het juffrou Du Toit die deur van die kamer oopgemaak en in die lig van die lamp in haar hand Colet se leë bed by die deur gesien, en toe haastig nader gestap en gekyk na die bed langsaan die wastafeltjie. Sy het vir ’n rukkie besluiteloos gestaan en toe saggies uitgegaan – terug na haar kamer toe.

      Terwyl sy in die kamer rondstap, net voordat die son opkom, sê sy oor en oor vir haarself: “Ek het dit geweet. Ek het dit geweet.” Sy is heeltemal driftig. Dis nie ’n gewone woede nie. Sy voel asof sy ’n klap in haar gesig gekry het. Soms is sy nie seker nie, soms wil sy terug na die kamer toe gaan om die twee slapende figure op die bed te sien, maar dan weerhou sy haar. In haar gedagtes herhaal sy die prentjie in die lamplig oor en oor en probeer allerhande moontlike dinge bydink. Eers dink sy daaraan om vir Suzanne te telegrafeer om terug te kom, dan besluit sy om maar te wag totdat hulle terug is, en dan dink sy weer aan ’n ander manier om dit onder Suzanne se aandag te bring. Maar by dit alles is daar tog ’n huiwering, ’n eienaardige gevoel, asof dit haar eie, persoonlike ontdekking is; asof, as sy vir Suzanne daarvan vertel, sy iets van haarself sal openbaar. Dis ’n vreemde gevoel. Sy probeer dit tuisbring. Dis asof iemand haar in die steek gelaat het, asof iemand agter haar rug haar bespot