Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
voel jy nie soms alleen op die plaas nie? Het jy nie lus om met maats te speel nie? Soos op ’n groot skool waar die seuns saam …” (sy soek met haar hande in die lug) “… boks en rugby speel en gesels en sports maak nie?”

      Hy oorweeg dit. Nie spontaan nie, maar soos iemand in geselskap wat sy gedagtes wegsteek agter versigtige woorde en diep verveeld is.

      “Dit sal seker lekker wees …” Hy sukkel om woorde te kry en skuif rond op die rusbank. “Ek sal seker eendag na so ’n plek toe gaan.” In sy bewegings op die bank, terwyl hy op die kussings druk om hom reg te skuif, raak sy hand teen hare. Hy is eers nie bewus daarvan nie en kom dit eers agter as sy besig is om te praat. Hy oorweeg dit om sy hand weg te neem, en besluit dan om dit daar te laat bly en te maak asof hy nie daarvan weet nie.

      Juffrou Du Toit gesels vinniger. “Jy weet, daar is baie dinge wat mens by sulke plekke leer. Jy was natuurlik in die Kaapse skool nog té jonk. Maar nou is jy ouer. Jy weet, mens ontmoet mense van orals en jy leer baie van hulle … wat hulle dink. Sien, dit is nie goed om heeltemal alleen te wees en altyd met jouself speel nie. Voel jy nie soms asof jy in ’n hok is nie, Colet, asof jy altyd dieselfde dinge oor en oor dink nie?”

      Hy is só gesteld op sy hand wat nog bewegingloos op hare lê dat hy nie goed hoor wat sy sê nie. Net die laaste woorde: “… asof jy in ’n hok is … asof jy altyd dieselfde dinge oor en oor dink …” Dit wek meteens iets by hom op; daar is ’n aanduiding dat sy iets probeer uitvind omtrent homself, soos hy is … En met dié gedagte druk hy impulsief, sonder dat hy daaraan dink, aan haar hand. En, net toe hy dit doen, raak hy daarvan bewus, en ’n oomblikkie later, met die gevoel van iemand wat skielik in koue water afduik, dat haar hand vol lewe is en met klein beweginkies reageer op sy aanraking – soos ’n sensitiewe plek ril as daaraan geraak word.

      Sy praat nog vinniger. “ ’n Mens moet normaal grootword. Mens moet gebalanseerd wees. Jy weet, die lewe is vol slegte dinge en vol goeie dinge, en elkeen van ons moet kies … elke dag.” Sy voel die aanraking van die seun en ook die bewegings van haar eie hand met ’n eienaardige afsydigheid asof die ledemaat nie aan haar behoort nie. Sy voel hoe haar hand met ’n herhalende teenritme die polsing in syne beantwoord, en die polsing in swewende aanslae deur haar gaan en op haar wange, en in haar bors meevoelend saambeweeg. Haar stem en haar gedagtes is ’n ander entiteit, losstaande van hierdie kwellende en onkeerbare simptome van haar lyf.

      Sy kyk direk na Colet en praat wanhopig, asof sy met haar woorde sy stil oë en haar eie bewegings wil besweer.

      “As mens so alleen is soos jy, Colet, en heeldag niemand sien van jou eie ouderdom nie – nie deelneem aan normale plesier nie … raak jy verwronge. Jy verloor jou balans, jou besef van reg en verkeerd; jy word in besit geneem deur bose magte …” Dit maak nie saak of hy haar verstaan nie, die stem kom onkeerbaar en word, saam met die maling in haar gedagtes, ook wanhopiger … “Dis nie lekker om net die goeie te doen nie, jy moet jou staal en leer om jouself te beheer en eerlik met jouself te wees …”

      En al haar woorde, juffrou-leerling-woorde, ’n ou samevatting van Suzanne en Theuns se wêreld, is besig om skadeloos oor hom te gaan, hier waar die verbode en toelaatbare in sy gedagtes saamvloei soos daardie aand by Mariet in die kamer. Haar stem, slegs ’n verre skemering van die alledaagse wêreld, ’n vae agtergrond – maar, langs hom, in haar hande, daardie polsende aanduiding van die verbode – die heerlike verbode wat so langs die goeie, regte dinge bestaan. Dis asof die hele kamer en alles daarin verdwyn het, en alles in die lewe toegespits is op daardie klein wêreldjie hier langs hom in die donker skaduwees, in die nou voue van die kombers soos die sygangetjies in die Kaap. Hy is so gesteld op die lewe langs hom dat hy meteens bewus word van die geringste dingetjies: van die kombers wat hulle bene skei, van haar elmboog wat teen sy lyf druk. Terwyl hy met groot, leë oë na haar kyk, beweeg hy versigtig en gly geruisloos met minimale, klein beweginkies, wat in sy gedagtes ontsettend groot en alomvattend voorkom, in haar arms in sodat hy die sagtheid van haar bors teen sy wang voel en die vou van haar arm agter sy nek.

      “En, Colet,” sê sy, “ek wil met jou praat … en moenie kwaad word nie … oor Maria. Daar was niks verkeerd nie. Maria is weggestuur omdat sy nie dissipline geken het nie, omdat sy nie gebalanseerd was nie. Julle het in die aande saam … in die bed gelê, saam geslaap. Daar is niks verkeerd mee nie, ek bedoel om saam te slaap nie …” Haar stem word driftiger, soos haar bewegings, soos die angs van haar arm wat ongemerk, sonder haar toedoen, hom nader aan haar trek. “Daar is niks verkeerd mee nie. Maar, as mens groter word, word sulke dinge nie meer gedoen nie. Maria het geweet, maar sy ken nie dissipline nie … sy het geen beheer nie. Sy het geweet mens doen nie meer sulke dinge as jy groot is nie, en tog het sy dit gedoen … En sy het ’n verkeerde ding gedoen … sleg! … uit die bose, Colet, verkeerd … verkeerd …!” En haar stem jaag van verontwaardiging terwyl haar vingers krampagtig aan syne klou, en haar ander hand om sy nek, oor sy bors streel en met lang hale hom stywer teen haar druk.

      Haar stem kom van vér, maar haar bewegende mond is reg bo hom. Die geheelindruk is weg, só naby aan haar is daar net losstaande dingetjies wat elkeen bydra tot daardie warm gevoel wat deur sy lyf gaan, die gespannenheid in sy lende, die wonderlike oorgawe sonder vrees vir gevolge … dis die plooi in haar nek digby sy oë, die reuk van haar asem as sy oor hom praat, vol, onplaasbaar en wasig teen sy voorkop … die heerlike klammigheid van haar hand in syne … Sy leef nou, soos Mariet, half in sy gedagtes en half in werklikheid.

      “Colet! Colet!” hoor hy haar stem, en terselfdertyd voel hy dat sy roerloos geword het. Die besef dat iets verby is, kom saam met die bewuswording van die ongemaklikheid van sy posisie, en die stilte in die kamer. Langs hulle op die vloer lê ’n glas water wat sy met haar arm van die tafeltjie langs die rusbank afgestamp het. Hulle kyk nie na mekaar nie, maar na die vloeistof op die vloer wat met ’n silwer stroom onder die mat invloei en verder aan opduik in ’n klam kol tussen die patrone daarvan. Terwyl hulle opstaan, draai hulle hulle gesigte weg van mekaar en maak ’n grappie oor die onbeholpenheid van hulle bewegings. As Colet hom heeltemal losgewikkel het uit die kombers, maak hy asof hy eenkant toe val, asof sy voete in die voue vasgehaak het.

      “Soe, Colet,” sê sy. “Ek het so baie gepraat dat ek nooit die glas gesien het nie.”

      “My voet het vasgehaak,” verduidelik hy. “Ek het amper geval.”

      Niks het gebeur nie. Die gloed is nog op juffrou Du Toit se wange, maar haar oë is ferm en haar stem onpersoonlik as sy hom beveel om te gaan slaap.

      Die lig was skaars dood toe hy alles begin herlewe. Dit is nou anders as die ontliggaamde gedagtes aan Mariet – dis nou ’n fisieke gewaarwording, ’n oorervaring van wat in die eetkamer gebeur het, ’n direkte, sensuele toespitsing op haar liggaam tesame met ’n herhaling van die sensasies in sy eie liggaam – en ’n steeds groeiende gelokaliseerde hartstog, terselfdertyd aangenaam en pynlik en onlesbaar. Ten spyte van die koue word sy hele lyf klam van ’n onnatuurlike hitte en gloei hy soos iemand wat in ’n bad warm water geklim het en die warmte deur al sy ledemate voel trek. Tesame met alles ontdek hy ook, soos hy in die eetkamer in een stadium gevoel het, ’n verandering in ’n gedeelte van sy lyf: ’n nuwe gewaarwording, die geboorte van ’n fantastiese, allesmeesleurende sy van sy fisieke bestaan. Die muur agter sy kop is die muur wat haar kamer van syne skei. Haar bed is teenaan die muur, in werklikheid nege duim van syne af. As hy baie stil lê, kan hy haar miskien in die kamer hoor beweeg. Maar, as hy dit doen, hoor hy net die gekraak van die dak in die donker huis, en slegs nou en dan ’n geskuifel wat enigiets kan wees. Hy stel hom voor hoe sy nou besig is om haar uit te trek, al daardie sagte, vroulike kledingstukke wat hy by Suzanne en Mariet gesien het; die ruising daarvan as hulle van haar liggaam afgly, haar ledemate in die lig (die flikkerende lig), haar lui, loom bewegings in die kamer, die geritsel van sy as haar nagklere oor haar kop val na benede soos ’n waterval, die sagte, smal intieme bed waarin sy gaan lê … Hy dink hoe hy sal opstaan en na haar kamer sal gaan in die donker, hoe sy hom sal ontvang. Sy gedagtes brei al hoe meer uit en gaan oor dinge wat nóóit sal kan gebeur nie. Hoe meer hy dit besef, hoe heerliker word die verlange, deur die onmoontlikheid daarvan duisend maal vergroot tot ’n ondraaglike, onversadigde punt waar hy heeltemal uitgeput en afgemat voel. Een keer het hy dit oorweeg om aan die muur te klop en