HOOFSTUK IV
Daardie winter het dit baie gereën, daardie tipiese winterreëns wat gedurig dreig vanuit ’n seegrys hemel en dan meteens hard val, om weer net so skielik af te breek en oor te gaan in ’n trae gedrup. Op die hoogste punte van die pieke het al vroeg reeds wit vlekke uitgeslaan. Naderhand het dit heeltemal oortrek geraak met sneeu. Vroeg elke middag is in al die huise vure aangesteek wat aan die gang gehou is tot laat in die aand. Al die ou donskomberse en harige wolkomberse is uit die mottegif te voorskyn gehaal en in dik lae oor die beddens gegooi. Colet se spesiale kombers (die een wat hy ook in die Kaap gebruik het) het ook sy verskyning gemaak: ’n outydse rooi ouma-kombers met allerhande fantastiese patrone. Toe hy dit op sy bed sien, het hy ’n skok van heimwee gekry. Hy het alreeds vergeet van die bestaan daarvan. Die eerste paar aande het hy al die patrone daarop met sy vinger gevolg en elke kolletjie nagekyk om die oorsaak daarvan in sy herinnering te probeer terugroep. Dit was dieselfde kombers wat hy in sy kinderkamer in Tamboerskloof gehad het; dieselfde kombers waarop Mariet daardie aand gesit het toe sy by hulle kom kuier het. Sekere vaal merke aan die kant daarvan was waarskynlik die vlekke wat die gevolg was van sy gewoonte destyds om aan die sy-omboorsel te lê en suig. Hy het ook spoedig die ou gewoonte weer aangeleer in sy poging om die atmosfeer van daardie dae te herroep. Soms, as die kombers mooi glad gestryk oor sy bed lê, het hy die presiese plek probeer vasstel waarop sy moes gesit het. Selfs die donskombers waaronder hy en juffrou Du Toit gesit het, het ook ’n besondere betekenis gekry. Hy het sy bed altyd weer oor opgemaak as hy in die aand gaan slaap, en die twee komberse naaste aan sy lyf geplaas, met die laken bo-op. Dan was dit vir hom asof hy die twee meisies altyd saam met hom bed toe neem.
Daar was geen herhaling van die intimiteit tussen hom en juffrou Du Toit nie. Die wintervakansie, wat sy by haar eie mense deurgebring het, het die gebeurtenis so ver laat lyk soos daardie dae in die Kaap. Sy het ook ’n gewoonte aangekweek om allerhande sedelessies aan hom voor te skryf. Nou en dan het ’n geringe beweging en ’n onderlangse houding aan haar kant weer iets verraai, maar meestal het sy die skoolverhouding laat voortbestaan ná skoolure. Hy het naderhand ’n behae daarin geskep om onsierlikhede in haar op te merk, soos ’n té bleek, blas gesig baie vroeg in die oggend, ’n vae aanstootlikheid gedurende sekere tye van die maand, rooi aartjies in haar oë as sy te veel gelees het, die waterigheid van haar neus en die gevlekte, klam sakdoek as sy verkoue is. Sekere aande weer, as die steeds herhaalde sensuele gedagtes hom beetpak, het selfs hierdie dinge ’n eie aantreklikheid gekry. Maar die tweestryd het, vanaf die ontdekking van onbekende magte in hom, al hoe hewiger geword. Hy kon nie wegkom van die gevoel dat hy verdoem is nie. As hy hom vir ’n lang tyd onthou het van die gedagtes waarteen Suzanne hom gewaarsku het, het hy daarna, ten spyte van ’n eed om nooit weer aan so iets te dink nie, tot ’n oormaat van seksuele gedagtebelewenisse oorgegaan en dan, gepaard daarmee, sy besef dat hy besig is om verlore te gaan vergroot. Dit was nie dat hy onverskillig gestaan het teenoor die verdoemenis wat op hom wag nie, maar die afwykings in die verkeerde drome was so deel van daardie eielewe, daardie romantiese, misterieuse, verbode lewe, dat hy gevoel het dat hy met iets kleurloos besig was as hy sy gedagtes beperk het tot dinge wat reg en goed en skoon was. Dit was dan asof hy gestrem voel in sy ervaring van dinge, asof hy ’n wonderlike, eksotiese lewe in hom doodmaak, asof hy deel word van ’n vaal, vervelige landskap. Maar dit was ’n verbode besef in hom dat daar iets heerliks en onvervangbaars steek in daardie verkeerde dinge; dat daar iets oneindigs vry en gewaag is, soos by die see in die Kaap, in daardie afwykings; dat die gevoel van aandoening wat hy gekry het toe hy na die mis op die berge gekyk het en gelet het op die verdraaide skoorstene met hulle ongewone patrone op die huise, iets gemeenskapliks het met hierdie verkwikkende en tog verterende ervarings. En hy het selfs soms ’n gevoel gekry dat Christus, as Alwetende Mag, as Iemand wat die mens verstaan en oral is, buite jou en binne jou, dit nie heeltemal afkeur nie. Maar, as hy dan die Bybel opneem en in koue letters al die verbode dinge sien en die strawwe wat daarop volg, verdwyn daardie opvatting omtrent Christus en word hy vervul met ’n vrees vir die Ewige Veroordeling weens sy ontrouheid en gebrek aan dissipline.
Die twee lewens van goed en kwaad, wat hy in die verlede in ’n mate met mekaar kon versoen het weens die redeloosheid van alle dinge, het nou al hoe meer geskei geraak van mekaar. Hy het nog steeds al twee bely – maar as lewens wat volkome, onherroeplik apart is. Soms het hy die Bybel gereeld gelees en ’n lys gemaak van al die verkeerde dinge en dit dan oor en oor opgesê soos ’n resitasie. Dan het hy hom weer oorgegee aan die ander lewe as hy té droog en leeg voel, en onmiddellik daarna weer vergiffenis afgesmeek en ou voornemens herhaal.
Suzanne-hulle het net die goeie, regte dinge raakgesien: die Bybellees en die poging tot opregtheid. Hulle het teenoor hulle vriende daarmee gespog en hom, in volle vertroue, meer vryheid gegee as in die verlede. Vir juffrou Du Toit was dit ’n aangename verrassing, maar in haar hart het sy tog effens teleurgesteld gevoel. Dis asof hy verder as ooit van haar verwyderd is: asof die nuwe wending ondeurdringbaarder en afsydiger is as sy vroeëre botheid, asof hy gebruik maak selfs van magte binne haar, haar eie gewete, om hom van haar te skei. Sy het haarself intussen oortuig dat haar belangstelling in hom bloot as opvoeder teenoor kind is, en juis daardeur hom verder weggestoot en tegelykertyd haar verlange groter gemaak.
Die winter het gou verbygegaan en die lente het besonder vroeg gekom. Allerhande somervermaaklikhede, soos pieknieks en swem in die rivier, het weer begin. Die koue wat Theuns en Suzanne by die huis gehou het, het verdwyn en hulle het al hoe meer begin uitgaan soos in die verlede. Die hitte het ook ’n merkbare oorhelling na die verbode sy van Colet se lewe gebring. Daar was iets sinliks in die hitte, wat nie alleen sy hartstogte geprikkel het nie, maar ook sy vermoë om weerstand daarteen te bied, aangetas het.
Hy het ook vir die eerste keer begin belang stel in Agnes van Heerden. Agnes was omtrent twee jaar ouer as hy. Sy was besonder slim en kon met die grootste gemak ’n hele reeks dooie gegewens in verband met plekname en opbrengste gedurende die aardrykskundeles aframmel. Sy kon met ’n opgehewe hoof en ’n paar potloodstrepe omtrent enige rekenkundeprobleem oplos. Haar handskrif was so egalig en vierkantig dat dit soms na drukskrif gelyk het wat met fyn draadjies aanmekaar geheg is tot gewone skrif. Haar netheid en varsheid is weerspieël in haar kleredrag: die blou springjurk hoog opgetrek, effens met ’n punt na agter, wat haar wit, sterk bene in al hulle frisheid en jonkheid ten toon stel; die gordel netjies geknoop om haar middel; die spierwit bloese pofferig en lugtig om haar vroegontwikkelde bolyf; die vierkantige, praktiese hande en die skoon, lewendige gesig waaraan langwerpige oë en ’n breë mond ’n gesonde, aardse aansien gee. Sy en Colet het nooit veel gesels nie, omdat hulle baie min met mekaar gemeen gehad het. Hulle het soms aan gesamentlike speletjies met die ander deelgeneem, sonder dat hulle juis van mekaar as indiwidue bewus was. In die vroegsomer, nadat juffrou Du Toit van haar vakansie af teruggekom het, het hy en Agnes weer aan so ’n speletjie deelgeneem, in die loop waarvan Colet per ongeluk teen haar vasgeloop het. Hy was aangenaam verras deur die sagtheid van haar lyf en die sensasie wat dit by hom opgewek het. Daarna het hy met meer belangstelling na haar gekyk, ’n houding wat net so spontaan van haar kant gekom het, en wat tot gevolg gehad het dat hulle daarna effens lugtig vir mekaar was, en kort-kort moes wegkyk as hulle mekaar betrap het dat hulle onderlangs na mekaar loer.
Een middag na skool het haar ouers by Colet se ouers kom kuier. Toe Agnes en Colet saam met die grootmense in die sitkamer sit, merk Suzanne hulle meteens op terwyl sy besig is om ’n riskante storie te vertel. Sy staak toe onmiddellik die gesprek en sê vir Colet: “Hoekom gaan speel jy en Agnes nie? Hoe lyk dit, het julle nie lus om in die rivier te swem nie?”
Nadat een van Suzanne se ou baaikostuums wat te klein vir haar was, aan Agnes geleen is, is die twee daar weg. Die seekoeigat tussen die riete was vol stil en roerlose water. Vinkneste het laag oor die oppervlakte in die geringe wind gewieg. Die rustige atmosfeer van die plek het die twee laat voel dat hulle heeltemal afgesonderd van die res van die wêreld was. Hulle het eers tot aan die kant van die water gestap en daaraan gevoel.
“Dis lekker koel,” sê Agnes. “Dit sal lekker wees.”
Hulle is nog effens skrikkerig vir mekaar en stel ’n oordrewe belang in allerhande uiterlike dingetjies.
“Dit sal die eerste keer wees dat ek ná die