Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
nog geensins bevredig was nie), het sy heeltemal in die diep waters beland en haarself gedurig verwyt oor haar onverstaanbare onvermoë om die natuurlike juffrou-leerling-verhouding te handhaaf. Die verandering in Colet, wat sy houding en maniere betref, het sy gouer raakgesien as Suzanne-hulle, en op haar eie manier ’n beter insig daarin gekry deur hulle gesprekke. Sy het, op ’n baie kleiner skaal en op ’n heel ander manier, die plek van Maria in sy lewe begin inneem sonder dat sy self daarvan bewus was. As Suzanne-hulle in die aande uit was, het sy en Colet by die eetkamertafel gesit en gesels totdat dit vir hom tyd was om te gaan slaap.

      Die lamp het gewoonlik in die middel van die tafel gestaan en hulle stoele reg teenoor mekaar, terwyl die res van die kamer in skemerdonker gehul was. Die kol van die lig het dan, van waar Colet sit, soos ’n soeklig op haar geval en ’n onwerklike wasigheid aan haar buitelyne verleen, wat ’n droomeienskap aan die hele situasie besorg het. Sy was mooi gebou, met ’n fris, gesonde molligheid wat op middeljarige leeftyd in gesetheid sou moes oorgaan, maar wat in daardie stadium, saam met haar rooi wange en helderblou oë, ’n verbasende jeugdigheid en aangename vroulikheid aan haar voorkoms verleen het. Sy was altyd baie presies en skoon, in teenstelling met Maria se sweterige gehawendheid. Dit het geblyk uit die soort klere wat sy dra: helderkleurige, geblomde rokkies, met ’n welriekende sakdoekie altyd in haar mou gesteek, uit haar goedversorgde swart hare wat sy reguit agteroor gekam dra, styf saamgetrek in ’n gevlegte bolla agter haar kop, en uit haar fyn, mooigevormde, skuinsgedrukte handskrif. Sy het ’n gewoonte gehad om haar boeke netjies oor te trek en dan, terwyl sy les gee, dit deurentyd glad te vryf. Hierdie aanwendsel het sy oral getoon: selfs aan die eettafel met haar servet, of in die veld met die plooie van haar rok of ’n stukkie blaar wat sy ingedagte opgetel het. Van waar hy sit in die lamplig, wek sy by tye weer daardie gevoel by Colet op wat hy by Mariet gekry het; maar soms kan ’n gebaar, of ’n verbuiging in haar stem, of iets wat sy gesê het (sodra sy die onderwysereshouding inneem), weer heeltemal die beeld bederf. Die gedagte aan haar, veral wanneer hy saans lê en dink, wek soms ’n herhalende opgewondenheid by hom op sodat hy allerhande situasie bydink waarin sy en Mariet onafskeidbaar ’n eenheid vorm.

      As hulle egter weer saam gesels het, het sy baie gou dié indruk verdryf, sodat hy dan dieselfde dwarsheid teenoor haar toon as teenoor Suzanne, wie se beeld deesdae telkens verbreek word as hy met haar in aanraking kom.

      Van waar sy sit, laat die lamplig vir Colet ook heeltemal anders lyk as bedags op skool. Dis asof hy baie ouer voorkom, asof die lig die skaduwees in sy oë verdiep, en die holtes in sy wange die prominensie van sy wangbene verhoog. Alhoewel hy geen gebrek aan sy vel het nie, en geen ontsierende puisies toon soos Kosie byvoorbeeld en ander seuns van sy ouderdom nie, lyk dit tog asof dit té styf gespan is oor sy gesigsbene. Sy slank, maer vingers is ook verontrustend. Soms as hulle op die tafel lê, of die blaaie van ’n boek streel, kan sy haar oë nie daarvan afhou nie. Dit lyk asof hulle ’n lewe en ’n persoonlikheid van hul eie het. Dit laat haar dink aan daardie vertaling van ’n Franse storie wat sy gelees het – van ’n lelike prinses wie se vingers haar enigste tekens van koninklike bloed was, en wat ’n bestaan onafhanklik van die res van haar sintuie gevoer het. Sy lippe (dit kon sy goed sien) is ’n bietjie té vol: nie dik of afstootlik nie, maar effens klam en vol lewe, plooibaar en sensueel. Ook sy voorkop het daardie gespannenheid as hy dink, ander tye weer is die vel só los dat hy dit heeltemal kreukel as hy frons. Terwyl sy al hierdie dinge oplet, voel sy asof hy al klaar volwasse is, asof hy dinge dink en van dinge weet wat nie alleen besonder ryp vir iemand van sy ouderdom is nie, maar wat selfs haar eie ervarings oortref: nie in die hoeveelheid en wydheid daarvan nie, maar in kwaliteit en diepte.

      Soms, wanneer hulle niks het om oor te gesels nie, lees hulle: Colet uit ’n ander boek, maar met Coral Island altyd byderhand langs hom, sodat hy nou en dan daaraan kan raak asof hy homself wil gerusstel dat dit nog daar is; juffrou Du Toit met klikkende breinaalde en ’n boek teen ’n servet gestut. Hy het al opgemerk hoe deeglik en stadig sy lees. As hy so onderlangs loer, kan hy haar oë heen en weer oor die bladsy sien beweeg – nie die senuweeagtige flitsbewegings van sy eie nie, maar stadig en deeglik met streelbewegings soos haar hande. Soms, as sy ingedagte is, hou hy self op om te lees en kyk dan onderlangs na haar terwyl sy een hand op Coral Island rus. Dan let hy onverstoord op al daardie klein dingetjies. Hy deel haar in fragmente op: haar voorkop en haar hare: die effentjiese plooie, die fyn, deurskynende haartjies om die slape; en dan die blou skynsel van die glad gekamde hare bo-op waarin daar hier en daar ’n draadjie losgeryg het en warrelend en deurskynend regop staan. Dan weer die kleur van haar wange, wat soms rooi gloei van inspanning en dan weer bleker word sodat die egalige rooi vervaag tot fyn, ligte aartjies wat die vel deurkruis in ’n fyn netwerk. En haar mond: nooit stil nie, polsend en vol lewe asof hy die strome van die hartsbloed kan sien wat daaraan die kleur gee. Eindelik haar bors bo die bewegende hande en die wit tafeldoek, die vormlose prominensies ingekerker deur vouende sy, die ritmiese ruising soos die branders by die see, die wondbaarheid daarvan – so kwesbaar soos klein hasies met hulle wolvelletjies wat bewe as mense aan hulle raak, en sterf as jy hulle té lank vashou … En meteens, die vinniger bewegings, soos verskrikte diertjies; en, as hy opkyk, haar oë op hom sodat hy skielik op sy boek moet afkyk en maak asof hy al die tyd gelees het, en net toevallig opgekyk het.

      Een aand kon hulle albei nie aan die lees kom nie. Die kamer was koud en hulle het styf teenaan die tafel gesit om so na as moontlik aan die lamp te wees en sodoende ’n deel van die hitte daarvan te kry. Suzanne en Theuns was na ’n dansparty op ’n naburige plaas en sou eers baie laat die aand terugkom. Elke keer as Colet hoor dat Theuns-hulle weggaan, het hy bewus geword van ’n soortgelyke atmosfeer in die huis as daardie keer net voordat Maria weggestuur is. Dit was asof die hele persoonlikheid van die huis verander: die kamers leër as gewoonlik en meer kenmerkend wat reuk en assosiasie betref, stemme harder, en dan weer sagter, oral groter skakering van lig en skaduwee. En, in homself daardie selfde gevoel van vryheid en vrees, dat hy op die drempel staan van ’n nuwe wêreld vol verskeidenheid en kleure soos in ’n glasprisma waarin al die kleure van die lig opgebreek word; ’n belofte aan wonderlike ervarings saam met ’n bewussyn van ’n verbode wêreld waarin jy rondsweef en heeltemal uitgelate jou oorgee aan daardie verbode dinge terwyl jy, in jou hart, weet dat jy gestraf gaan word deur Christus. Van binne kan hy dan voel hoe dinge al hoe stywer trek, en al hoe meer gespanne word, totdat die koord skielik breek. Selfs beweging is dan makliker: hy voel asof hy op al die stoele kan spring, bo-op die dak van die huis kan klim en die blou ruimtes kan induik. As hy skryf, gly sy pen oor die bladsye met koorsagtige haas en die ink vloei soos water oor gladde klippers, en sy handskrif verloor alle vorm en swenk deur en tussen die reëls en hy vergeet heeltemal om kommas en punte by te voeg en hy hou net aan en aan, sonder einde. As hy die basnote op die klavier druk, swewe die geblaas van die vragskepe in die kamer rond, en kom die mis deur die vensters en is dit die seewind wat die takke van die bome laat kraak en is die gefluit deur die sleutelgat die stemme wat roep. Selfs in juffrou Du Toit het hy na skoolure dieselfde gejaagdheid opgemerk. Elke keer as sy met hom praat, het haar stem daardie selfde lighartigheid; as sy hom vra om iets vir haar te doen, het sy nie beveel nie, maar gevra asof sy ’n antwoord verwag. En haar bewegings was prettig en opgewek soos Mariet s’n, jonk en vol lewe: ’n skielike swaai van haar lyf wat haar rokke om haar bene laat vou, ’n vrolikheid in elke gebaar.

      Toe hulle styf teenaan die tafel sit, om die hitte van die lamp te kry, sê sy meteens: “Colet, hoekom gaan haal jy nie vir ons ’n kombers nie, dan sit ons lekker warm op die rusbank en gesels totdat dit slaaptyd is.”

      Toe hy met die swaar donskombers terugkom, was sy alreeds op die rusbank. Sy beduie vir hom om langs haar te kom sit en hulle wikkel hulself dan styf toe in die voue daarvan.

      As hulle lekker warm toegewikkel is, sê sy: “En toe, Colet, hou jy van die skool? Ons skool? Is dit lekkerder as die Kaapse skool byvoorbeeld?”

      Onmiddellik verdwyn die opgewektheid in hom en neem sy stem weer daardie toonlose eienskap aan.

      “Dis lekker,” sê hy, “ek dink dit is lekkerder as die skool in die Kaap. Maar ek hou van die Kaap …”

      “Nee, Colet, ek bedoel … hou jy van die manier waarop ek skoolhou? … Sien … ek wil graag hê ons moet goeie vriende wees en ek sal daarvan hou as jy openhartig met my praat, jy weet … soos jy voel.” Sy is magteloos teen daardie stem van Colet wat soos ’n