Maar baiekeer, as hy alleen was, het hy die Bybel geneem en lank na die prentjies gekyk – veral na die beeld van Christus met die lang baard, die doringkroon op die hoof en die omgekeerde oë in eindelose pyn na bó gehef. Dan het Hy meteens anders gelyk: soms soos die gesig van die matroos by die kaai, soms soos die man by Sara se kamer. Daar is dit ’n aangrypende gesig, só anders en vér verwyderd van die wêreld waarin sy ouers leef, en só deel van sy eie wêreld van spookagtige beelde en geheimsinnige gebeure. Omdat Christus orals is, het Hy ook (soos Colet) twee lewens: Hy straf in die sitkamer met die strawwe van sy ouers en by Sara straf Hy met Sara se hand; ’n harde, alsiende tiran wat met geweld in twee wêrelde heers. Nou is Hy deel van die mishorings en daardie basgeluid van die skepe wat blaas; dan is Hy weer skoon en netjies en kleurloos en gesteld op die regte dinge. Hy is iets wat terughou en trek en elke ervaring met huiwering toets en dan skielik, oorstelpend meegee. Hy is die sinnebeeld van al die onverstaanbare dinge, en Hy is onontkombaar – selfs in die donkerste hoekie, selfs as Colet sy kop onder die komberse steek en alles uitsluit en die warmte van sy eie asem ruik, selfs in die paniekerige, koue verlatenheid as hy sy gesig in die badwater steek en sy asem ophou …
Na sy sesde verjaarsdag is hy skool toe: die groot laerskool twee strate onderkant die huis; die klipgebou met die honderde vensters en die swart dak en die klipmure en die groot vierkant in die middel. Theuns en Suzanne het saamgegaan en hom voor hulle uit by die prinsipale se deur ingestoot. Die nuwe boeksakkie met die heerlike leergeur en al die gespetjies sorgvuldig vasgemaak, ligklappend op sy rug as hy stap. Hy het die indruk gekry van ’n wit kamer en oop vensters, vars blomme en gekleurde prente. Die prinsipale het van haar lessenaar opgestaan en met ’n lang, ruisende rok tot by hom gekom, neergebuk op haar knieë en met ’n lang voorvinger op sy ken getik. Sy het nie dieselfde geur as Suzanne nie: daardie geur van poeier, lipverf, naelpolitoer en “Scottish Delight” wat van haar kom en heerlik, oorstelpend in haar kamer hang. Sy ruik soos die badkamer en die seep in die bakkies – sindelik, soos Christus en daardie goeie, geordende lewe wat bestaan uit gereeld bad, afdroog met skoon handdoeke, hare borsel en gaan slaap.
Hy het ’n indruk oorgehou van haar grys oë en punterige, uitstaande tande, en van haar maer vingers wat gedurig sy wange gestreel het terwyl sy met Suzanne gepraat het. Toe sy ouers die gang afstap, voel hy hoe die trane na sy oë kom en bedwing hy sy snikke met moeite totdat hy dit nie meer kan hou nie en opeens in trane uitbars.
“Huil ons! Huil ons tog nie!” roep die prinsipale uit, en haar oë word meteens onvriendelik. “A nee a! Ons is mos ’n grootman nou …!”
En sy knyp hom speel-speel aan die ribbes.
Daardie gevoel van verlatenheid, toe hy Suzanne-hulle sien wegloop het, het hom nooit verlaat nie. Hy hoef maar net die kenmerkende geur van ’n klaskamer teë te kom, of die presiesgemete vensters te sien, dan het die vrees hom weer beetgepak. Daar was iets kouds en vyandigs in die harde bankies met die ysterpote, die groefies waarin die griffels in ’n ry langs mekaar lê, die inkkolle op die vloer, die harde, verbeeldinglose swart van die esels, die ingekleurde kaarte teen die mure en die warboel van kleure. Dit is ’n derde, aparte lewe hierdie. Die ander twee, hoe verskillend ook al van mekaar, het dit met mekaar gemeen gehad dat hy self die uitgangspunt daarvan was; maar hierdie is ’n kollektiewe ervaring. Die ontdekking dat O en S gelyk is aan OS, ’n dier, helder ingekleur in die nuwe skoolboekie, moet dieselfde betekenis hê vir almal. Daar is geen geleentheid vir afwyking nie. Die assosiasie van ruim landskappe, die geur van omgeploegde lande en die lui son op die velde het geen betekenis nie. Slegs die simbole beteken iets. As jy nie weet wat dit is nie, is jy agter, of lui, of (vreeslike gedagte) dom.
Sy reuksin was altyd oorheersend. Dit was meer as ’n fisiese sensasie, dit was ’n sleutel tot die verskillende fases; asof hy gedurig ’n ander kamer ingaan met ander wette vasgelê in die geur daarvan. Die reuk van klei: dan is dit die lekker periode wanneer jy met onbeholpe hande gekleurde klei vorm tot een taai en klewerige misbaksel na die ander; die geur van kryt: melerig en poeierig – en dis die onverstaanbare simbole van kennis waarsonder mens vergaan; die soet geur van brood in papier: en dis speeltyd, sonder beskerming oorgegee aan wreder en onverbiddeliker reëls gestel deur gespierde seuntjies met wit hare en wrede oë, die ammoniakreuk van kleinhuisies: ’n donker, verbode uitvlugting, en tog aantreklik soos die systraatjies. Geur op geur, sleutels en deure na kamers wat die oneindigheid instrek; gedurig nuwe nuanses; ’n herhalende, sinnelike ontdekking van die lewe.
Elke dag was ’n dag van aanpassings in hierdie nuwe wêreld. Die speelterrein, presies in twee verdeel vir die seuns eenkant en die meisies anderkant, was die toetsveld. Hier oordeel hulle jou na jou behendigheid met albasters, jou vermoë om by iemand verby te spring sonder dat hy jou raak as julle hasie speel, jou kennis van vloekwoorde en handigheid met die vuis. Binne die vierkant het die swakkes eenkant op die grenslyne rondgehuiwer terwyl die ingewydes in die middel speel. Colet het begin met ’n trippens-pakkie albasters en het een smokie na die ander verloor deur die lompheid van sy té lang vingers – dit kos sterk, gespierde en beweeglike middelvingers om die albasters met ’n hefbeweging uit die kring te skiet. Dis net ouvrouens wat met die duim skiet of uitrol. Die eerste dag toe hy hasie gespeel het, het hy vier van die ander span laat verbykom sonder om eens aan hulle te raak, sodat hulle ’n ander een in sy plek moes sit. En die seunsbendes – groepe van ses, met wagwoorde en duistere doelstellings – was nooit heeltemal verstaanbaar nie: hy kon nie presies uitvind tot watter groep hy behoort nie en het dikwels belangrike geheime verklap. Deur ’n proses van uitskakeling het hy spoedig op die rand van die speelterrein beland tussen ’n bont versameling verstotelinge: seuns met puisies en lomp lywe, ’n paar gebreklikes en heel kleintjies wat skaars nog kon praat. Een van hulle, Willem Louw, het sy beste maat geword. Sy gevoel teenoor Willem was ’n eienaardige samestelling van betowering en afsku; soms het die ru verbeeldingloosheid, vuilheid en taaierige afstootlikheid van die seun dieselfde reaksie by hom gewek as ’n gebreklike persoon: ’n onbewuste wrewel wat gepaard gaan met ’n kwellende meegevoel. Die lap op sy broek, die hondjieagtige toenadering en die geel-groen spanjoel-oë het hom soms só ontstem dat hy partykeer uit sy pad gegaan het om hom te vermy. Dan weer, as hulle eers aan die gesels geraak het en saam dinge ervaar het, en saam die skyf geword het van die ander seuns, wat nou en dan die ouvrouens langs die kant kom pla het, het hy hom in so ’n mate aangetrokke gevoel tot Willem dat hy heeltemal verlore en verlate was wanneer Willem nie op skool is nie. Daarbenewens was daar ook baie dinge wat hy van Willem geleer het: ’n onbekende waardering vir gewone, klein dingetjies – tuisgemaakte speelgoed soos houtrewolwertjies, tolletjies met rekkies daarom wat vanself loop as mens dit opgewen het, swaarde gesny uit appelkissies, en beeste bestaande uit plakkies met stokkies gesteek deur die sagte punte vir jukke. As daar enige geskil tussen hulle was, het Colet se beslissings getel. Willem se onselfsugtigheid was ’n perfekte instrument om Colet se natuurlike teruggetrokkenheid teen te gaan en hom ’n kans te gee om van sy eie, ingewikkelde wêreld te ontvlug. Terwyl die ander seuns dan speel, het hulle teen die muur van die skool gesit en gesels in stadige sinne en met langsame, oordrewe gebare. Colet se maer, asketiese gesig en groot oë, soms opgewek en soms donker van gedagtes, oorverfynd in sy hele houding en voorkoms – teenoor die blas, ongesonde kleur van die ander een: grof, sterk en lomp gebou, lafhartig en swak, met vuil neusgate en groen vlekke om die mond. Hulle gesprekke het gegaan oor die eenvoudigste, mees onbeduidende dingetjies, alledaags en meisieagtig. Nie onpersoonlike stories van avonture en kattekwaad nie, maar aanmerkings oor die onderwysers wat kwaai is, klagtes oor die ruheid van die ander seuns, oor potlode en watter boek die helderste gekleurd is.
Colet en Willem het drie jaar lank maats gebly, en toe mekaar ontgroei. Willem se lompheid het stadigaan verdwyn namate hy ouer geword het. Hy het eendag ’n geveg met ’n seun gewen, wat heelwat groter as hy was, en in die aansien wat daarop gevolg het, die moontlikhede van sy liggaamskrag besef. Hy het ’n oortuigde bullebak geword en by een van die bendes aangesluit. Een van sy talle slagoffers daarna was Colet self. Hierdie onverwagte frontverandering van sy eertydse vriend het sy natuurlike skuheid vir mense vererger. Hy het gevoel dat hy niemand meer kon vertrou nie, dat die hele wêreld teen hom gekant is. Later, toe hy met verloop van tyd ander seuns leer ken het, het hy nogtans in homself iets in reserwe gehou sodat hy nooit heeltemal deel van enige groep geword het nie. Dit was nogal veelseggend dat in later jare niemand hom juis as ’n