Sy gedagtes het die neiging getoon om vas te kleef aan sekere gebeurtenisse, daar te bly haak en alle ervarings daarnatoe te herlei. Die speletjie in die agterplaas byvoorbeeld. Hy het rewolwertjies gemaak uit die plankies van die kissies in die vuilgoedblikke. Dan het hy dit in sy lyfband gesteek en soos ’n speurder tussen die oorhangende takke by die heining weggekruip, meteens uitgespring en na ’n denkbeeldige vyand geskiet. “Boem-boem!” skreeu hy dan en verplaas homself dadelik in die rol van die skurk en val stadig teen die grond neer. Die gladde takke van die lukwartboom in die hoek van die erf was sy geliefkoosde plek. Vanaf die tweede mik kon hy in die teerstraat sien en ook in die erf langsaan. Van daar het hy sy rewolwer gerig op vyande in motors en op fietse, en na ’n rukkie die speletjie heeltemal vergeet en oorgegaan tot wye verbeeldingsvlugte in verband met die mense buitekant. Die manewales van die seuns op hulle fietse is in sy gedagtes herskep, met homself as hooffiguur. Dan doen hy al hulle toertjies na, net oneindig beter, tot die grootste verbasing van almal. Partykeer, as hulle hom in die boom sien, ry hulle nader en roep hom na die straat toe, maar dan kruip hy tussen die takke weg en maak asof hy hulle nie sien nie. Ander kere het hy weer van bo uit die blare neergekyk op die erf langsaan. ’n Meisietjie het elke dag op ’n sekere tyd gespeel op die grasperk onder die skaduwee van ’n akkerboom. Sy het met ’n klomp poppe gespeel terwyl ’n witmeisie ’n entjie daarvandaan gesit en brei het. In sy verbeelding was sy die gevange prinses in ’n kasteel. Hy het alreeds die kamer gesien waar sy opgesluit word – die een in die anderkantste hoek waar die son nooit kom nie. Soms het hy planne gemaak om haar te gaan red, maar hy het nooit die moed gehad om eens haar aandag te trek nie. Eendag, toe hy ’n bietjie vroeër gekom het, het hy gesien dat hulle haar na die plek dra waar sy elke dag sit, haar swaaiende bene gewikkel in ’n ystertoestel. Haar fisieke gebrek het meteens al die romantiek van die speletjie verbreek en hy het nie weer in haar belang gestel nie.
Maar die Kaap, die groot, rokende stad langs die see, was eintlik die bron van alle betowering. Elke gebou en elke hoekie het ’n aantrekkingskrag van sy eie gehad. Dit was nie soseer die alledaagse dinge, die groot geboue en die motors wat hom getref het nie, maar ’n klein venstertjie wat oopgaan in ’n systraatjie, ’n besondere klip in die muur by die punt, die bottelstukke op die hoë bruin mure by die breekwatertronk, ’n mosbevlekte steen teen ’n gebou, die verdraaide skoorstene bokant die dakke, die mis in die aand wat deur ’n straatjie in die agterbuurt kronkel, die toppe van die dennebome teen Leeukop en die ronde klippe langs Kampsbaai. Hy self het dit nooit alleen buite die tuin van hulle huis gewaag nie. Daarvoor het Suzanne ook gesorg in haar vrees vir die motors wat hom mag omry. Maar Sara, gedurende hulle wandelinkies in die park, het gedurig verbode uitstappies gesteel na gevaarliker plekke waar sy haar ghietses ontmoet het. Hy het alle ondervindings en dinge wat hy gesien het soos ’n spons opgevang en in sy binneste verwerk tot iets baie belangriks en onmisbaars. In sy gedurige fluktuasie tussen die twee wêrelde, die toelaatbare en die ontoelaatbare, is die eienskappe van elkeen buite verhouding verhewig: die een was vol beskerming en veeleisende, dodende reëls, die ander een vol onsekerheid en gevaar, maar wyd soos sy gedagtes, en asemberowend in diepte en moontlikhede. Hy het natuurlik vroeg al geleer dat die verbeeldingrykste en interessantste ondervindings (so kenmerkend van die ander, verbode wêreld) afgekeur is deur Theuns-hulle. As hy daaraan toegegee het, selfs in sy gedagtes, het die verbodegevoel hom só oormeester dat hy heeltemal ontrou gevoel het teenoor hulle. Veral as hulle die dag baie goed vir hom was, het hy nie met sy rewolwers gespeel of gekyk na die skoorstene en die tuin langsaan nie. Maar dan het hy so leeg en uitgeput gevoel dat hy met ’n sterker drang weer begin belang stel het en met groter gretigheid geluister het na Sara se stories.
Hierdie tweestryd het toegeneem namate hy ouer geword het. Die maatstawwe wat in elkeen van sy wêrelde gegeld het, was onverbiddelik en hy het elke nuanse daarvan aangevoel. Hy het homself ook met elkeen versoen as hy daarin is, met die gevolg dat hy nooit ’n waardeoordeel daaroor kon uitspreek nie. As Theuns en Suzanne hom wys op die verkeerde sy van die ander lewe, dan verstaan hy dit volkome en begryp hulle veroordeling daarvan; as hy weer saam met Sara is, of alleen tussen die vreemde dinge, dan lyk Theuns en Suzanne, met alles waarvoor húlle staan, vér verwyderd en selfs belaglik.
Maar daar was ook tye dat hy die twee wêrelde nie presies kon onderskei nie, omdat hulle soms so inmekaar gevloei het. Juis daarom het die herinnering aan sekere gebeurtenisse of beelde, alhoewel op sigself nie juis besonders nie, tog ’n sleutel geword wat die weg na elkeen vir sy gedagtes oopgemaak het. Hy hoef byvoorbeeld maar net te dink aan systraatjies, dan is hy in een wêreld; of aan badkamers, dan is hy weer in die ander een. Vandaar die belangrikheid van diegene wat nuwe ervarings ingelei het, soos die beeld van Mariet byvoorbeeld.
Hy was omtrent nege jaar oud toe Mariet Jooste by hulle kom kuier het. Mariet was toe sestien – vol rondings en opgewekte lagbuie. Sy was saam met haar ouers vir ’n vakansie in die Kaap en hulle het ’n pligsbesoekie by die Van Veldens afgelê. Aangesien daar ’n gebrek aan kamers was, het Suzanne besluit dat Mariet en Colet maar in die kinderkamer moes slaap. Colet is, soos gewoonlik, vroeg bed toe gestuur en het gelê en lees uit Coral Island, wat Theuns die week vantevore vir hom gekoop het. Van waar hy gelê het, kon hy die gepraat van die grootmense in die sitkamer hoor. Later is die stemme verdeel in verskillende rigtings en het hier en daar ’n deur in die huis geklap. Toe verskyn Mariet in sy kamer.
“En toe,” sê sy, “slaap jy nog nie? Ek het gedink dat kinders teen hierdie tyd al lankal slaap.”
“Ek het gelê en lees. Ek lees elke aand.”
Hy wys na die boek wat op die bedkassie lê.
“Ek lees graag.”
Sy stap nader en tel die boek op.
“Coral Island.” Sy blaai daarin. “Ek het dit jare gelede gelees. Dis goed, nè?”
“Ja,” sê hy.
As sy digby sy bed staan, kan hy die plooi van haar rok sien, en ’n deel van haar been waar dit teen die ledekant druk. Hy lê na haar en kyk en volg elke beweging as sy op die voetenent gaan sit.
Sy hou die boek in haar hand, dan sê sy: “Ek het jou ingedra, weet jy?”
“Ek hoor so,” sê hy.
“Jy was ’n baie klein babatjie.”
Hy sit regop in die bed.
“Ek is volgende maand tien. Die agtiende Februarie. Ek is al in standerd drie.”
Mariet gaan teen die muur lê met haar hande agter haar kop. Die bloese span styf oor haar lyf en die ronding van haar borste vou syagtig uit onder die sagte materiaal.
’n Onbekende gevoel oormeester Colet. Hy kan dit nie heeltemal tuisbring nie. In sy gedagtes neem dit die plek in van daardie verbodegevoel. Daar is iets gemeenskapliks met Sara en die see en sy gedagtes as hy alleen is – ’n tintelende, gespanne gevoel wat deur sy hele lyf gaan; ’n gewaarwording in sy bors, binnekant waar al sy gedagtes gelokaliseer is, en ook in sy ledemate.
Mariet se lui oë kyk na die meubels in die kamer.
“Is dit jou kamer?” vra sy.
“Ja,” sê hy.
’n Oomblikkie stilte.
“Dis lekker om op skool te wees. Ek bedoel, as mens net begin skoolgaan.”
Sy merk dadelik sy reaksie op.
“Ek bedoel, in die primêre skool. Dis nie lekker in die sekondêre skool nie. Daar is te veel werk. Speel julle met klei?”
Colet se oë rek verontwaardig.
“Ons het al lankal daarmee opgehou. In sub B al. Ons doen verdeelsomme en proporsies. Dis moeilik.”
Hy soek na iets.
“Ons maak grassade bymekaar, dan steek ons dit vas op tekenpapier met al die name daarby.” Hy wag ’n rukkie. “Myne is teen die muur opgehang. Dit was die beste in die klas. Die meeste grassoorte. Met ál die name.”
“Oeeeeee!”