“Daar het niks gebeur nie …” probeer hy met ’n fyn stemmetjie. Die gevoel van onlangs het heeltemal verdwyn. Hy voel monsteragtig en skuldig.
“Ek weet nie of ek vir Suzanne-hulle moet vertel nie,” herhaal sy. “Ek voel magteloos. Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek voel hulpeloos …”
Hy kan die aandoening in haar stem hoor, en ’n oomblik later onbeheerste snikke.
“Juffrou,” sê hy, “daar was niks verkeerd nie. Ek sweer daar was niks verkeerd nie …”
“En dan vertel jy nog ’n leuen,” sê sy met ’n dik stem. “Ek het nie verwag dat jy nog boonop vir my sou lieg nie.”
Sy begin weer praat. Haar stem slaan soos ’n sweep teen hom aan. Asof dit nooit wil ophou nie, totdat hy nie meer kan hou nie en self begin huil.
Sy laat hom ’n rukkie uithuil, dan sê sy met volkome selfbeheersing: “Kyk, Colet, ek mag dit nie doen nie, maar ek sal jou nog ’n kans gee. Ek sal vir niemand vertel nie, maar dan moet jy my in jou vertroue neem. Sien, ek verstaan jou beter as wat jy self besef. Daar is verkeerde dinge in jou. Slegte dinge, wat ons twee saam moet verwyder.” Sy raak meteens aan hom met haar hand. “Ek wil graag jou vriendin wees. Ek stel belang in jou. Kyk, vertel my alles wat gebeur het …”
Hy antwoord haar nog nie en sukkel om sy snikke te beteuel.
“Toe nou,” sê sy. “Alles, Colet. Vertel my alles. Ek dink ek kan jou help.”
Hy weifel nog ’n rukkie en begin dan vir haar vertel van hom en Agnes. Sodra hy by sekere dinge kom, en dit wil wegpraat, dwing sy hom weer daarnatoe met ’n skokwekkende insig – asof sy alreeds alles weet. As hy dan daardie dinge beskryf, vra sy hom tot in die fynste besonderhede uit. Toe hy eindelik alles vertel het, voel hy heeltemal leeg.
Toe sy na ’n rukkie weer praat, is haar stem sag en teer. “Toe maar, Colet. Dis nie net jou skuld nie. Agnes is heeltemal te oud vir haar ouderdom. Ek dink as jy heeltemal van haar vergeet, en nie meer aandag aan haar gee nie, sal alles verbygaan. Nie dat jy onbeskof teenoor haar moet wees nie, maar hou jou op ’n afstand. Ek sal jou help.”
Hy hoor hoe sy opstaan en na sy bed toe kom.
“Slaap nou maar, en vergeet alles. Ek sal jou help … en vir jou bid.”
Toe buk sy vooroor en soen hom met brandende lippe op sy voorkop. Toe sy die deur toemaak, sê sy: “Moenie daaraan dink nie, en slaap nou …”
En sy laat hom met liefde in die hel wat sy vir hom geskep het.
HOOFSTUK V
Daar was nog ’n maand oor voor die lang somervakansie. Suzanne het berig ontvang dat ’n kleinneef van haar, van die Kaap, ’n jong argitek, by hulle sou kom kuier. Sy het hom lank gelede gesien en was baie in haar skik met sy voorgenome koms. Soos sy herhaaldelik vertel het, behoort hy aan die kunssinnige sy van haar familie; al die Marais’s van daardie besondere sylinie het al op een of ander gebied van die kunste sekere belowende neigings getoon. Johan, die jongste spruit, ’n gesogte jongkêrel van omtrent dertig, het die meeste belofte getoon en het alreeds heelwat sukses in sy besondere rigting behaal. ’n Sekere mate van “eienaardigheid” (soos sy self met ’n begrypende glimlag meegedeel het) was natuurlik te wyte aan sy artistieke samestelling en Theuns het plegtig belowe om nie gek te skeer met sy effens verwyfde houding en belangstelling in fynere dinge, waaraan hy, Theuns, natuurlik nie gewoond is nie. “Hy sal ’n goeie maat vir Colet wees,” het sy gesê. “Hy is natuurlik heelwat ouer, maar Colet sal nog baie van hom kan leer. Colet is ook sensitief – hy neig definitief na die Marais’s; ek dink dit sal ’n goeie ding wees, veral noudat hy na ’n groot skool toe moet gaan.”
Colet het intussen heeltemal teruggeval in sy vroeëre teruggetrokke en stuurse houding. Dit was ’n bietjie vreemd vir Suzanne, wat in die laaste tyd ’n verandering in hom opgemerk het na aanleiding van sy belangstelling in die Bybel en sy poging tot opregtheid. Sy het sy poging tot verbetering toegeskryf aan die praatjie wat sy met hom gehad het, en het gevoel dat dit miskien goed sou wees om weer so ’n geselsie met hom te hê; hierdie keer ook in verband met sy persoon, maniere en algemene voorkoms.
Sy het met juffrou Du Toit daaroor gesels.
“Ek kan Colet nie verstaan nie. Dit het vir ’n rukkie gelyk asof hy begin regkom, maar in die laaste tyd is hy weer heeltemal onmoontlik. Ek kry hom byvoorbeeld nou die dag in die slaapkamer op die bed. Hy het op sy knieë gesit en was besig om reg voor hom op die kombers te kyk sonder om ’n woord te sê. Hy het weer daardie ou baadjie met die stukkende moue aangehad, en daardie ou paar skoene wat al heeltemal uitgetrap is en waaroor ek al herhaalde kere met hom gepraat het. Toe ek vir hom vra wat hy doen, was hy net stuurs. En jy weet, juffrou, hy was darem nog nooit in die verlede onbeskof nie. Ek het hom darem goed afgeransel,” voeg sy by.
Hulle het in die sitkamer gesit nadat Colet gaan slaap het.
“Dit is natuurlik ’n moeilike stadium hierdie vir ’n kind.”
Juffrou Du Toit ontwyk Suzanne se oë en brei ’n bietjie vinniger, soos haar gewoonte is as sy iets interessants lees of aan iets belangriks dink.
“Ja, maar … ek dink nie dit is natuurlik nie. Ek het nie sulke stadiums deurgegaan nie. In my tyd het kinders natuurlik grootgeword. Jy weet, mens kan ’n kind ook bederf. Veral as jy toelaat dat hy te veel aandag aan homself gee.”
Juffrou Du Toit kyk meteens na haar waar sy teen die tafel sit, op die plek waar Colet gewoonlik sit; haar gebruiklike stywe houding, haar mooi maar doellose blou oë en haar hulpelose mond. Colet is nie jou kind nie, dink sy. Nie joune of Theuns s’n nie. Maar sy sê: “Mens moet geduldig wees, mevrou. Met kinders van sy sensitiwiteit …”
“Hy is sensitief, is hy nie?” Dis asof Suzanne ’n spesiale betekenis aan die woord heg, asof dit ’n aanbeveling is – ’n troos in die moeilike omstandighede.
“Dit is hy definitief.” Juffrou Du Toit sit haar breiwerk neer. “Kyk, ek kom elke dag met hom in aanraking op ’n besondere manier. Hy openbaar dinge, u weet, in die skool, in die omgang, wat u miskien nie raaksien nie.” Sy besef onmiddellik haar fout. “… wat u nie die geleentheid het om te sien nie,” probeer sy die situasie red.
Suzanne sit meteens regop. “Ek dink,” sê sy, “ek dink ’n moeder is nader aan haar kind as … enigiemand anders. Sien, ek ken hom van kleins af. Ek het hom grootgemaak. Ek weet net wanneer hy seer voel, en wanneer hy gelukkig is.” Dan verslap sy amper onmerkbaar. “Colet is nie gelukkig nie.”
Juffrou Du Toit aarsel effens, en sê: “Miskien is hy ’n bietjie verward. U weet … op hierdie ouderdom is hulle vatbaar vir indrukke. Maria, byvoorbeeld, was ’n slegte invloed. En ag, daar is nog baie ander dinge … selfs meisies van sy eie ouderdom sal hom ook baie omkrap. Nie dat daar ooit iets verkeerd is nie, maar hy soek seunsgeselskap. Daarom is dit reg dat hy na ’n groot skool gestuur word, na ’n seunskool.” Sy wag ’n oomblik, en sê dan met ’n stem waarin die skemering van hoop nie verberg word nie: “Tensy u dink dat dit beter sal wees as ek net vir hom skoolhou. U weet, selfs dogters soos Joan … en Agnes werk soms steurend.” Haastig: “As hy eers ouer is, is alles reg …”
“Nee. Hy sal moet gaan. Ek dink nie Theuns kan dit bekostig om ’n onderwyseres net vir een aan te hou nie …”
“Dit was glad nie my bedoeling nie, mevrou – ek het maar net gedink … as julle hom nog graag naby julle wil hê. U weet, as ’n kind eers op kosskool is, is hy finaal uit die huis uit.”
“Dis waar, ja,” sê Suzanne. “Maar dit kan nou nie anders nie.” By haarself dink sy: Ek wonder hoekom sy so graag vir hom alleen wil skoolhou? Miskien hou sy baie daarvan om hier op die plaas te bly. As mens daaraan dink dat sy inwoning en alles verniet kry, is dit geen wonder nie. Die lewe in ’n stad is baie duur. Sy kan ook ’n goeie huwelik hier op die platteland doen. Hier is baie ryk