Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
Hulle lê vir ’n rukkie so. Die vae modderreuk is nog in haar hare saam met die gesonde liggaamsreuk. Dis asof haar jonkheid en varsheid alle ander dinge verdryf, en hy daarin op ’n eienaardige wyse iets soortgelyks in homself vind. Daar is iets van homself in haar, en, in homself ook iets van haar: iets, hier in haar, wat hy nog nooit tevore gevind het nie. Hy kan die gevoel nie tuisbring nie – hierdie gevoel van selfontdekking, suiwerheid en varsheid, sonder ’n vrees vir gevolge en selfveroordeling …

      Dan hoor hy haar weer praat: “Rol nou om,” sê sy, “dan rol ek saam.”

      Hy gooi sy lyf oor haar en anderkant af sodat sy weer bo-op hom kom en dan weer onder en dan weer bo is. So rol hulle saam met mekaar die hele lengte van die vloer tot teenaan die bed. Hulle lê vir ’n oomblik polsend stil in ’n man-en-vrou-posisie, en hoor dan meteens die geklop en geskuifel van voetstappe in die sitkamer. Sonder ’n woord spring hulle op en soek na die kers. Sy kry dit eerste en steek dit gou aan. Haar hande trek haastig deur haar hare. Op die vloer is Colet alreeds besig om met bewende hande deur die boek te blaai toe die deur oopgaan en Suzanne en Agnes se mammie daarin verskyn en sê: “Toe, julle twee! Genoeg gespeel! Agnes se mammie wil nou gaan. Kom dat jy die mense kan groet, Colet. Dis al lankal tyd dat jy moet gaan slaap.”

      Toe juffrou Du Toit die twee kinders na die rivier sien stap het met hulle baaiklere oor hulle skouers, het sy baie lus gevoel om saam te gaan. Sy het haarself daarvan oortuig dat sy dit wou doen uit blote belangstelling, die plesier van hulle jong geselskap, en die belofte aan heerlike koel waters ná die hitte van die middag. Maar Suzanne het haar so klaarblyklik in die geselskap ingesluit dat sy dit nie kon doen sonder dat dit effens vreemd en onbeskof sou voorkom nie. Terwyl sy in die sitkamer gesit het, en die vertrek al hoe bedompiger geword het van die sigaretrook, het sy gedurig haar oë gerig gehou op die paadjie na die rivier wat ál met die populierlaning langs afslinger en dan eensklaps verdwyn agter ’n digte bos. Soms het sy aan die gesprek deelgeneem, en dan skielik alle belang verloor, en weer gekyk na die draai by die bos en telkens met ’n skokkende pyn in haar binneste die leë pad gesien. “Waarom bly hulle so lank weg?” vra sy haar telkens af. “Hulle kon al lankal klaar geswem het. Hulle lê natuurlik nou onder die bome in die skaduwee, alleen waar niemand hulle kan sien nie.” En sy tower allerhande tonele op daar waar hulle alleen en afgesonderd is. Die gevoel het soms só erg geword dat sy nie kon asem kry nie, en het só duidelik geblyk uit haar houding dat Theuns van Velden eenkeer gevra het of sy nie iets makeer nie, waarop sy iets gemompel het van moegheid en afgematheid. Toe sy later in die middag die twee figure skielik om die bos sien kom, was dit met verligting en terselfdertyd irritasie.

      Toe hulle die sitkamer inkom, het sy, van waar sy half in die donker sit, met gespitste aandag gelet op sy voorkoms. Sy het die ongewone blos op sy wange en sy nuwe opgewektheid toegeskryf aan die oefening en die son, maar kon en wou haarself nie heeltemal oortuig nie. Sy het nie probeer om haar houding te ontleed soos sy gewoonlik doen nie, want dit was te dringend. Die selfontleding en selfveragting sou later kom. Intussen was sy net besig om met haar waarnemings elke nuanse in die verhouding van die twee teenoor mekaar op te let. Selfs aan tafel het sy onderlangs op Colet gelet as Agnes iets sê. As hy dan na Agnes kyk, probeer sy haarself oortuig dat dit ’n natuurlike gebaar is om na iemand te kyk wat praat; maar dit was vir haar of hy sy blik te lank op haar gerig hou, selfs nadat sy klaar gepraat het.

      Toe Suzanne ná ete die twee na Colet se kamer stuur, was dit vir haar of iemand ’n skerp instrument deur haar bors steek. Die gevoel was so dringend dat dit oorgegaan het in ’n werklike fisieke pyn. Sy het kort daarna verskonings gemaak aan die res van die geselskap en na haar kamer gegaan. Sy het nie die lig aangesteek nie, maar weer by die venster gaan staan, van waar sy die flou lig by die buitedeur van Colet se kamer kon sien. Toe het sy haarself begin verwyt en haarself so bespotlik moontlik voorgestel om van die gevoel ontslae te raak. “Ek is kinderagtig, sleg-sleg-sleg,” het sy oor en oor gesê. “Verbeel jou, ’n grootmens wat so te kere gaan. Soos ’n meisietjie van sestien. Wat sal ander mense daarvan sê as hulle so iets moet hoor? Dis sonde. Dis verderflik. Dis pervers …” Maar die woorde kon die aandoening in haar nie uitwis nie. Toe probeer sy ’n ander metode. Kyk, dis ’n soort moederlike gevoel wat sy teenoor Colet het. In haar pogings om hom reg te lei, en ’n goeie besef van waardes in die lewe te gee, het hy ’n seun, ’n kind van haar geword. En ’n moeder is jaloers op haar kind. Was Suzanne nie jaloers nie? Sy het behoorlik vuur gespoeg toe sy gehoor het van Maria …

      Haar oë was vir ’n oomblik van die deur af toe die lig in Colet se kamer doodgegaan het. Sy het eers gedink dat hulle terug na die eetkamer gegaan het, maar daar was geen onderbreking in die eentonige gedreun van stemme wat dof van die binnehuis af gekom het nie. Sy kom meteens tot ’n besluit en gaan op haar tone by die kamerdeur uit, ál met die gang af tot op die stoep, van waar sy baie saggies, sodat die balke nie kraak nie, tot digby Colet se kamer beweeg. Binnekant kan sy die stemme van die kinders in die duister hoor: onverstaanbare sinnetjies, oomblikke van stilte tussenin, en dan die geskuifel op die vloer. Dit was asof sy lamgeslaan was. Sy het so uitgeput gevoel dat sy teen die deur moes leun. Toe oorweldig ’n koue, verblindende woede haar. Sy was op die punt om die kamer in te gaan toe die kers skielik weer aangesteek word en die deur oopgaan. Sy het ’n vlugtige indruk gekry van Agnes wat haar hare probeer regstoot en die buitelyne van Colet se gesig oor die vlam. Toe verskyn Suzanne in die kamer, en in die gesprek wat daarop volg, kruip sy terug na haar kamer, half bevrees om alleen te wees met haarself en die begin van ’n uitbarsting in haarself wat dreig om tot ’n keerpunt te kom.

      Toe Colet in die bed lê, en die lig al dood en al die mense weg was, het hy met ’n aangename gevoel van verwagting hom toegespits op sy gedagtes. As hy aan Agnes dink, dan is alles omtrent haar rein en skoon. Selfs toe hy die Bybel gelees het, voordat hy gaan slaap het, was die boodskap wat hy gekry het, een van liefde en troos. Juis op die plek waar hy dit oopgeslaan het, het hy van liefde gelees. Dit was asof eensklaps al daardie verbode dinge, selfs daardie aangename eielewe waarvan die ander nie weet nie, iets van die verlede is en geen betekenis meer het nie. Dis ’n sy van die lewe, Suzanne-hulle se lewe, hierdie – met ’n nuwe spannende, tintelende eienskap. Hy voel heeltemal onselfsugtig en skoon. Hy voel dat hy selfs vir Suzanne daarvan kan vertel en dat sy alles sal verstaan en trots op hom sal wees. Agnes is ’n onaantasbare figuur in sy gedagtes: edel, verheerlik, met die suiwerheid en goedheid van Christus. Daar is niks verkeerd met hulle fisieke aanrakings nie, alhoewel dit hulle twee se geheim is. Alhoewel dit ’n aangename herinnering op die agtergrond van sy verbeelding is, is dit eerder die verhouding tussen hulle wat tel. Hulle kan eendag trou as hy klaar geleer het, as hy terugkom van die universiteit af. Intussen kan hulle verhouding staande bly. Hoe bly sal Suzanne en Theuns-hulle nie wees nie! Hierdie gedagtes laat hom heerlik en fris voel. Daar is vrede in sy hart. Hy besluit om vaarwel te sê aan daardie verbode sy van sy lewe; en net goed en opreg te wees – om haar waardig te wees …

      Hy was op die punt om aan die slaap te raak, toe die deur oopgaan en iemand by sy bed kom staan. Hy voel hoe ’n hand aan hom raak.

      “Dis ek, Colet,” hoor hy juffrou Du Toit sê. “Ek wil met jou praat.”

      Haar stem klink vér en vreemd en so gespanne soos iemand wat op die punt is om te skree en met moeite selfbeheersing toepas.

      “Colet,” sê sy, “ek weet wat vanaand in die kamer aangegaan het.” ’n Oomblik stilte, dan bars sy los met ’n hees uitroep waarin veragting en veroordeling die woorde amper onherkenbaar maak.

      “Skaam jy jou nie! Wat sal Suzanne, jou mammie, daarvan sê as ek haar vertel!”

      Hy is so oorweldig deur die uitbarsting dat hy niks kan sê nie.

      “Ek het jou nog altyd probeer beskerm, weet jy,” gaan sy voort, “daardie affêre toe jy en Maria so verkeerd gedoen het. Ek was die een wat jou kant van die saak gestel het en gesê het dat jy nie weet wat aangaan nie. Maar wat doen jy nou? Jy en Agnes?”

      Selfs in die donker is dit asof hy die verontwaardiging en die verskriklike veroordeling op haar gesig kan sien.

      “Regtig, Colet, ek weet nie wat om te sê nie.”

      Hy hoor hoe sy op die bed langsaan gaan sit.

      “Kyk, ek was by die deur en kon alles hoor en sien wat julle doen.”