Dan kyk hulle skamerig na mekaar.
“Kyk,” sê sy, “ek sal agter die riete aantrek, dan kan jy agter die populierbome gaan.”
Colet was eerste uitgetrek en het sommer dadelik in die water gespring. Hy was ’n bietjie skaam vir sy maer bene en sy wit lyf. ’n Rukkie later het Agnes verskyn. Die baaikostuum was effens te groot vir haar en sy het die gordel van haar springjurk vir veiligheid om haar lyf gebind. Sy het ’n bietjie onbeholpe en vet gelyk in die kostuum, maar vir Colet was dit ’n prikkelende gesig. Sy het met haar hande voor haar bors tot teen die water gekom, eers haar voet ingesteek, skielik haar hande bo haar kop opgehef sodat hy die haartjies onder haar arms kon sien, en toe met ’n skewe valbeweging in die water geduik. Nadat sy ’n rukkie met energieke hale rondgeswem het, het sy tot naby Colet gedryf en halflyf in die water by hom gaan staan.
“Kom,” sê sy. “Hoekom swem jy nie? Kan jy nie swem nie?”
“Ek kan,” sê hy.
“Nou toe,” sê sy, “kom ons jaag resies na die ander wal toe.”
Toe hulle met plassende hale en skoppende voete deur die water worstel, raak Colet spoedig agter en verloor heeltemal sy rigting sodat hy teen haar voete vasswem en die resies onderbreek moet word.
Sy hou meteens op met swem en vee die water uit haar oë uit terwyl sy haar hare agter haar ore druk. Druppeltjies water het haar ooghare in klossies aan mekaar gekoek sodat haar oë meer as ooit amandelvormig lyk.
“Jy het teen my vasgeswem,” sê sy.
“Ek is jammer,” sê hy. “Ek kon jou nie sien nie. My kop was onder die water.”
“Maar mens kan mos onder die water sien.” Sy kyk skielik by hom verby. “Het jy nog nooit daardie speletjie gespeel nie? Mens staan wydsbeen in die water, dan duik die een onder die water in en swem tussen die ander een se bene deur.”
Sy hart klop vinniger.
“Ons kan dit gerus probeer,” sê hy. Hy wag so ’n oomblikkie, dan sê hy: “Kyk, staan jy wydsbeen, dan duik ek onder jou deur.”
Toe hy sy oë onder die water oopmaak, sien hy die bewegende buitelyne en skuur dan taamlik hoog deur terwyl sy hande om haar knieknoppe gryp om hom die nodige beurkrag te gee. Toe hy die oppervlakte bereik, lag al twee hardop.
“Ek kon alles sien,” sê hy. “Ek bedoel, die water is heeltemal helder.”
“Ons het dit altyd gespeel,” sê sy. “Die seuns en die meisies. Daar is ook nog baie ander speletjies. Dis groot sports.”
“Ek sal nou weer staan,” sê hy. “Dan duik jy.”
“O, nee! Sien, ’n meisie duik nie. Dis altyd die seun.”
Sy vat aan sy arm.
“Duik jy nou weer, en kyk hoe lank jy onder die water kan bly. Ek sal tel.”
Hy duik weer, en toe hy by haar kom, draal hy ’n oomblik langer en hou aan haar bobeen vas; dan wag hy tot hy omtrent nie meer sy asem kan ophou nie, en staan skielik op sodat sy op sy nek sit. Toe hy halfpad bo is, gly sy voete onder hom uit en val hulle al twee onderstebo. Toe hulle weer saam bo kom, hou hulle mekaar nog vas. Hulle gesigte is naby mekaar en hulle lywe kabbel in die bewegende water telkemale teen mekaar aan. Met ’n gespook het hulle intussen naby die kant gekom. Meteens buk sy af en gryp ’n handvol modder en smeer dit deur sy hare. Hy buk ook onmiddellik af totdat hy ’n handvol sagte modder het wat met ’n slopperige geluid deur sy vingers pers. Vir ’n oomblik staan hy besluiteloos daarmee terwyl sy op hom wag. Hy het verwag dat sy sou wegkoes, maar sy staan doodstil, met ’n eienaardige glimlag op haar gesig. Skielik tree hy vorentoe en smeer die modder om haar nek en dan, asof sy hand afgegly het, voor by haar baaikostuum in. Toe spartel sy, en met die sparteling hou sy sy hand vas sodat dit in dieselfde posisie gevange bly. Hulle swaai heen en weer totdat hulle voete padgee en hulle weer in ’n deurmekaar hoop onder die water verdwyn.
Die son het intussen al hoe warmer geword. Die geringe windjie het gaan lê en ’n broeiende hitte vervul die holte in die rivier met daardie lomerige, slaperige atmosfeer. Die twee, na ’n tydjie van herhaling en afwisseling van speletjies, raak spoedig bewus daarvan en gaan dan na die kant sonder om ’n woord vir mekaar te sê. Hulle staan eers besluiteloos op die wal rond en dan stap Colet na die skaduwee van ’n oorhangende wilgerboom en gaan net bokant die modder op die droë grond lê. Langs mekaar, terwyl hulle die blare van die buigbare takke afstroop en kroontjies vir mekaar vleg, vind hulle dat hulle maklik en lekker kan gesels oor allerhande alledaagse dingetjies: die skool, juffrou Du Toit (wat vir Colet in Agnes se teenwoordigheid heeltemal ’n vreemde persoon is) en oor watter lekker dag dit is en hoe heerlik die rivier en die swemmery en alles is. ’n Rukkie daarna het sy haar klere aangetrek en het hulle nét betyds vir middagete by die huis gekom.
Agnes se ouers het besluit om die aand vir ete oor te bly. Ná ete, terwyl die grootmense in die sitkamer sit en gesels, stuur Suzanne vir Colet en Agnes na die kinderkamer met ’n hele spul boeke en ’n kers. Hulle het voor die bed op die vloer gaan sit en in die lig van die flikkerende vlam daarin geblaai. Colet, wat al heelwat gelees het en wie se smaak vroeg gevorder het tot ’n heel ryper leesstof, het ’n ongewone behae daarin geskep om saam met Agnes na die prente en advertensies te kyk. Terwyl hulle dig teen mekaar sit, hoor hy maar halfpad wat sy sê en is hy meer bewus van haar lyf teen syne as sy vooroor buk. Hy word heeltemal mislei deur haar stem en die aandag wat sy aan die boek gee en let sodoende nie op hoe deeglik bewus sy van hóm is nie.
Toe Colet eenkeer vorentoe leun om om te blaai, raak hy met sy arm aan die kers en keer dit om sodat die kamer skielik donker word, en hulle die maan en die sterre deur die oop venster kan sien. Terwyl hy rondvroetel na die blaker om die vuurhoutjies in die hande te kry, hoor hy haar sê:
“Colet, het jy al ooit sterre getel?”
“Hoe …?”
“Ken jy nie die speletjie nie? ’n Meisie en ’n seun kyk na die sterre, dan vra hy haar hoeveel sterre daar is, en elke keer as sy ’n ster sien … soen hy haar.”
Colet weet wat van hom verwag word en hy probeer iets sê, maar ’n dik gevoel in sy keel en ’n gejaagdheid in sy asemhaling maak dit vir hom onmoontlik. Intussen het hy opgehou om na die vuurhoutjies te soek.
“Ek tel … een,” sê Agnes.
Toe hy oorbuk in haar rigting, voel hy hoe hulle koppe teen mekaar stamp, en dan bring hy sy mond vorentoe en soen haar met ferm lippe. Dit laat hom dink aan die aanraking van die water in die rivier die middag. Dis so koel en sag …
Hy hoor sy stem asof dit iemand anders is wat praat.
“Kan jy nog sien … tel?” vra hy.
“Twee …” sê sy.
Hierdie keer gaan dit makliker en druk hy sy mond so styf teen hare dat sy tande die binnekant van sy lippe seermaak. Sy hart bons so geweldig dat hy seker is dat sy dit kan hoor. Hy voel heeltemal lighoofdig. Vir die eerste keer ervaar hy iets gewaags en nuuts sonder dat hy voel dat hy verkeerd doen. Nie soos die aand met juffrou Du Toit nie, maar asof hy ’n nuwe speletjie agtergekom het, of ’n nuwe boek gekry het, of op iets heeltemal onverwags afgekom het. Op die oomblik is dit meer die plesier van eerste ontdekking wat hom besig hou.
Eenkeer het hy so hard teen haar gedruk dat sy agteroor geval het, en hy kon in die donker voel dat sy bly lê.
“Van waar ek lê, kan ek ál die sterre sien,” sê sy. “Daar is drie, vier, vyf, ses …”
Toe hy in die donker na haar tas, sê sy meteens: “Het jy al lepel gelê?”
Sonder om te wag, wys sy vir hom. Sy lê op haar sy en trek haar bene teen haar maag op. Dan lê hy langs haar met sy bene, agter hare, in dieselfde posisie. Op dié manier is al hulle ledemate teen mekaar, dat dit is asof hulle aan een liggaam behoort.
“Kan jy my hart hoor klop?”