Die eerste siklus. Etienne Leroux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne Leroux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158848
Скачать книгу
sy reaksie sal wees. Johan se gesig is egter weggedraai, sodat hy niks kan bemerk nie. Toe hy sy kop terugdraai, is hy heeltemal ernstig.

      “Ek weet wat jy bedoel,” sê hy.

      En toe sê hy iets wat Colet nie heeltemal kon verstaan nie, maar waaraan hy baie jare later weer gedink het en, deur die waarheid en insig in sy eie houding, getwyfel het of Johan dit ooit werklik gesê het en of dit nie sy eie latere formulering was nie. “Goed en kwaad is ’n moeilike begrip. Daar is soms so baie wat goed is in kwaad, so baie vryheid en warm lewe, dat mens partykeer wonder hoekom ons so onnatuurlik is om dit te veroordeel. Kyk, daar is nie kwaad in die natuur nie. Selfs Christus het dit moeilik gevind om die tollenaars en die gevalle vrouens te veroordeel.” Hy bly meteens ’n rukkie stil. “Ek is nie goed nie, Colet. Daar steek baie kwaad in my. Groot kwaad. Jy sal dit miskien later agterkom. Maar ek dink nie jy sal eendag sommer veroordeel nie …”

      Hierop kon Colet nie antwoord nie. Hy is so verruk deur die vertroue wat Johan in hom stel en sy volwasse manier van praat met hom, asof hy nie ’n kind is nie, dat hy nie na die woorde soseer luister nie, as na sy stem – die sagte kwaliteit daarvan.

      Hy hoor Johan weer praat. “Kyk daar!” sê hy en wys na ’n voël wat uit die bloutes soos ’n pyl in die kloof afduik. ’n Wonderlike beweging: suiwer, skoon en vlymend. Toe die skaduwees hom insluk en hulle wag dat hy weer te voorskyn moet kom, sê Johan: “Dit was mooi, nè?”

      “Ja.”

      “Het jy ’n eienaardige, brandende gevoel in jou bors gekry?” Hy wys met sy hand.

      “Ja,” sê Colet.

      “Nou kyk,” sê Johan, “as jy eendag ouer is, sal dit verdwyn.”

      Meteens vra Johan weer: “Colet, hoe oud is jy?”

      “Amper vyftien.”

      “Jy weet, ek het ook ’n paar ander vriendjies, amper so oud soos jy, in die Kaap.” Hy wag ’n rukkie. “Peterkin en Julius. Hulle kom baie vir my kuier.”

      “Hoe is hulle?” vra Colet. Hy voel meteens jaloers.

      Johan glimlag. Hy het nie die verandering van toon in Colet se stem gemis nie. Dis asof hy daardeur aangevuur word en met groter intensiteit in Colet se gesig kyk om alle reaksies op te merk.

      “Hulle is baie soos jy. Ons ken mekaar al lankal. Ons gaan baie saam uit in die Kaap – na Kloofnek, Constantia, Melkbaai. Ons gaan soms naweke by die see uitkamp, dan slaap ons sommer op die sand. In die aande lê ons en gesels … in mekaar se arms.”

      Johan merk dadelik die geskokte uitdrukking op Colet se gesig.

      “Hulle is baie gaaf,” sê hy. “Ons gesels oor dieselfde goed as ek en jy. Sal jy hulle graag wil ontmoet?”

      “Ek weet nie,” sê Colet. “Hulle is seker gaaf.” Dis eerder met homself wat hy praat, want die skielike jaloesie bederf alles. Hy kry weer daardie perverse gevoel om seer te maak.

      “Hoekom lê almal – al die seuns – in jou arms?” vra hy.

      Johan lyk meteens verslae. Sy gesig het vir ’n oomblik skielik lelik geword.

      “Ek het gedink jy verstaan sulke dinge. Dis niks om oor skaam te wees nie. Dis wanneer jy jou steur aan ander mense, as jy dink soos gewone mense, dat dit snaaks is. Ek het verwag dat jy heeltemal anders sou wees.”

      Colet voel dat die atmosfeer verander het. Hy voel jammer oor wat hy gesê het, maar hy weet nie hoe om dit ongedaan te maak nie. Eenkeer het hy lus gehad om sy arm om Johan se lyf te sit, maar die doelbewustheid van die gebaar sou alles nog verder bederf het.

      Toe begin Johan skielik oor iets anders praat. Meestal oor die Kaap en sy werk, op ’n baie amusante manier, sodat Colet kort-kort uitbars van die lag. Maar nogtans het hy gevoel dat alles nie reg was nie, ook toe hulle laat die middag na die huis toe terugstap.

      Juffrou Du Toit het hulle ’n ent in die pad af tegemoet geloop. Tot Colet se verbasing was Johan baie uitgelate en veel vriendeliker teenoor haar as vroeër. Hulle het hom in so ’n mate uit hulle gesprekke uitgesluit dat hy weer sy ou stuurse, stroewe houding begin aanneem het. Hy het egter eenkeer Johan se oë op hom gerig gevind, en was verras deur die verleë, amper smekende uitdrukking wat hy daarin gesien het, soos Willem se oë jare gelede in die Kaap.

      Die aand ná ete, net voordat Colet gaan slaap het, het hy gehoor hoedat Suzanne vir Johan sê: “Johan, jy het darem vanaand ’n kamer van jou eie. Juffrou Du Toit was baie bedagsaam. Sy het ’n bed in die klaskamer opgemaak en sal daar gaan slaap. Jy kan haar kamer kry. Sy sê jy sal natuurlik soggens laat wil slaap en dis so hinderlik as Colet vroeg moet opstaan om betyds vir skool te wees. Ek dink dit is baie gaaf van haar.” Sy stamp aan hom. “Dis nie elke dag dat ’n mooi nooi haar kamer vir ’n kêrel afgee nie, weet jy …”

      Alleen in sy kamer het Colet weer tot laat in die aand gelê en dink. Hy het alles in oënskou geneem en daaraan gedink hoedat hy Agnes heeltemal vergeet het. Sy gevoel teenoor haar het totaal verander ná daardie gesprek met juffrou Du Toit, en hy het vir ’n tydjie gevoel dat hy nooit weer sou regkom nie. Elke dingetjie wat hulle twee saamgedoen het, het nou belaglik geword, en sy gedagtes oor haar sentimenteel en bespotlik. In so ’n mate dat hy nie eens met haar gepraat het op skool nie. En sy haat is ook oorgeplaas op juffrou Du Toit, Suzanne en alle ander vroumense. Wanneer hy in die aande weer daardie drang gevoel het, het hy bloot hulle liggame gebruik en hulle dan heeltemal opsy geskuif as iets slegs en besoedeld nadat hy ’n bevrediging op sy eie manier gekry het. Maar Johan se koms het alles verander … So was dit gisteraand, en ’n gedeelte van vandag, maar vanaand voel hy weer heeltemal omgekrap. Daardie twee ander kinders – Julius en Peterkin. Hy kan hom die dingetjies voorstel wat hulle vir Johan sê, en hulle agterbakse maniertjies …

      Toe hy aan die slaap geraak het, het hy baie leeg en uitgeput gevoel en gewens dat hy vér weg was in ’n ander wêreld. Maar hy kon nie besluit of dink waar nie. Net weg van alles. Of (insiggewende gedagte) dood.

      Die volgende môre het hy weer alles vergeet. En die aand het hy en Johan ’n ent gaan stap, toe almal geslaap het.

      Hulle het hierdie keer ’n ander koers ingeslaan: by die ou peperboom verby, onder die swaar takke deur, verby die turksvylaning wat soos ’n ry wagte met breë hande hulle pad versper het, tot teenaan die koppie ’n entjie van die huis af. Hulle het eers nie so lekker gesels as vroeër nie, maar geleidelik het die atmosfeer weer makliker geword en het hulle in die verligte gevoel wat daarop gevolg het, nog meer intiem gesels as ooit tevore. Vir die eerste keer kon Colet presies sê wat hy dink. En daardie dinge, wat hy nog altyd vir homself moes hou en waaroor hy geen regverdiging in die verlede kon vind volgens die standaarde wat ander mense vir hom gestel het nie, kon hy nou vryelik uiter. Die waarde wat Johan daaraan geheg het, was vir hom die grootste verrassing. Hy het ontdek dat dit nie alleen heeltemal toelaatbaar is onder ’n besondere groep “fyner” mense nie, maar dat dit in werklikheid die mees verhewe gedeelte van sy samestelling is. As hy dan by Johan kla dat hy gedurig gedwarsboom voel en vermoed dat hy verkeerd doen, het Johan mooi aan hom verduidelik dat elke mens so ’n stryd voer tussen die algemeen toelaatbare en ontoelaatbare in homself en dat, veral in iemand soos hy, en Johan self, so ’n oorgevoeligheid altyd kenmerkend is. Net wat die geslagslewe betref (Colet het eenkeer probeer om vir Johan daarvan te vertel), moet ’n mens jou inhou. Daar is niks verkeerds met die geslagsgevoel nie, maar die vrou self is dit nie waardig dat soveel krag en geestelike waardes, wat ook daarby betrokke is, op haar verspil word nie. “Het jy al opgemerk,” het hy eenkeer vir Colet gevra, “dat jy nie met hulle kan praat oor daardie dieper dinge nie? Hulle het miskien ’n ander aantrekkingskrag, en verskaf aangename, fisieke prikkelings wat mens laat voel dat jy werklik met iets wonderliks besig is, maar in werklikheid is dit baie vlak.” Hy het toe, een aand toe hulle weer gaan stap het, sy arm om Colet se lyf gesit, hom styf teen hom aangedruk en gesê: “Kyk mooi, Colet, kyk na die lieflike aand, voel die kalm aarde onder jou voete en die wind teen jou hare … Voel jy dit?” En Colet kon alles voel deur sy hele lyf en in sy hart. “En voel jy my langs jou?” – en Colet kon hom voel net soos hy die natuur voel. “Voel jy dat dit saamgaan? Jy en ek en die