Dit is ’n klein kerkhoffie, een wat nie meer gebruik word nie. Links van die pad af lê dit, skuins teen die wal op.
Sy parkeer die motor in die stukkie skaduwee van ’n boom, klim uit. Die grond is sanderig onder haar voete en sy gly terwyl sy teen die skuinste opstap. Tussen die sementstene deur soek sy, kyk op die kliphoofde van die grondgraffies of sy iets kan sien wat bekend lyk.
Daar was baie kindersterftes vroeg in die negentienhonderds. Meer as een keer is kinders sommer twee-twee in een graf begrawe. Johanna Esterhuisen, Jacoba Esterhuisen. Twee sustertjies seker, drie jaar en vier jaar oud, die sterfdatums drie dae uitmekaar. 1934. Depressietyd.
Sy loop tussen die hopies deur. Hy het die goeie stryd gestry, die wedloop voleindig …
Samuel van Huyssteen. 1928-1965. Soos hy geleef het, het hy gesterf. Oom Sam? Die man is jonk dood. Wat was oom Sam se van? Dalk kan sy haar broer later bel; miskien onthou hy iets meer.
Oom Boelie moet al oud gewees het in die tyd toe sy hom as klein dogtertjie gesien het. Maar sy doopnaam het sy ook nooit gehoor nie.
Sy soek na die grafsteen wat volgens Yolanda soos ’n boomstomp lyk – dit waarop ’n man verbitterd sy wrok teen die dorp laat skryf het.
Hy was siek, het sy gesê. Volgens die Duitser wat glo ’n agterkleinseun of iets van hom was. Sonder geld. Sy goodfor by die winkel was uitgeput. Selfs ’n botteltjie Lennon’s Hollandse Medisyne wou hulle hom nie gee nie. Niks om te help om sy koors te breek nie. Geen genade vir ’n man wat die laaste oortjie nog nie betaal het nie.
Sy kry die steen, lees die bitter grafskrif: Siek en lydend, verdruk en vervolg …
Anders as vir Yolanda ontroer dit haar nie. Trouens, dit maak haar kwaad. Te veel herinner dit haar aan die stem uit haar eie kinderjare: Ééndag sal julle jammer wees, eendag sal dit te laat wees.
Sy klim terug in die kar, sit eers om die sand wat by haar skoene ingekom het uit te skud. Die waaierband van die motor skree toe sy wegtrek. Sy hoop nie die ding breek nie; wie dra vandag nog sykouse om dit te vervang?
By die robot, wat steeds onverklaarbaar tegelykertyd bestrawwend rooi en toegewend groen is, draai sy links, ry uit die dorp, oor die brug.
Êrens het haar pa op ’n dag ook ingedraai by ’n klein kerkhof. Hulle het Boland toe gery, verby Cookhouse, waar die rook uit die huisies se skoorstene in die vroeë oggend haar laat dink het dít is waar die plek sy naam vandaan kry.
Hulle was van Queenstown af op pad tannie Ousus toe. Dit moet die einde van haar eerste skooljaar gewees het. Haar ma was ontevrede. Hulle kon ’n korter pad gery het: “Dis ou koeie, Japie, jy moet vergeet.”
Maar die kar het nogtans soontoe geloop. Sand-flats toe. By Paterson was daar lemoenbome.
“Ek móét gaan, Kinnie,” het hy gesê. “Nog altyd was ek te bang, maar ek moet dit sien, daar waar sy lê. Al is dit net een keer.”
Hulle het in die kar bly sit. Die ruite was toegedraai, want die stof het op die baba gewaai.
Haar pa het by die hekkie ingegaan; hy het kleiner geword tussen die regop, donkergroen bome. Sy het hom deur die venster gesit en dophou, bang dat hy weg sou raak en nooit weer terugkom nie. Maar hy hét, al het dit vir haar gevoel of dit minstens ’n hele dag was dat hy daar tussen die grafstene gestaan het.
Die hele lang ent Boland toe het hy in die spieël bly kyk. Terug.
Toe hulle by tannie Ousus-hulle op die plaas aankom, het niemand in die motor nog gepraat nie. Haar ma het vir Lenie, wat die jaar vantevore gebore is, vir tannie Ousus gegee om te bekyk. Oubie het uit die kar gespring, bly om weg te kom uit die stilte, en saam met Jacobus weggehardloop oor die sandgrond van die plaas by Slanghoek waar haar Oupa en Ouma toe ook gebly het.
Dit was baie lank daarna, sy kon al ver in haar laerskooljare gewees het, toe haar pa haar vertel het van die kind. Hy het die groentetuin skoongeskoffel aan die kant van die huis by Kraaifontein waar hulle toe gebly het. Dít was ’n vastigheid. Die baie verskillende plekke waar hulle gebly het, die nuwe mense wat bygekom het, die oues wat weggeraak het en wat sy nooit weer gesien het nie, het haar dikwels kriewelrig en bang gemaak. Maar altyd het haar pa maar weer sy tuintjie gemaak waarin hy boontjies en wortels en beet geplant het. Daar kon sy hom kry wanneer sy klaar was met haar huiswerk en sy nie langer tussen die mure kon bly nie. Daar het hy met haar gepraat of sy ’n grootmens was.
Sy het by hom gaan sit, op die naaf van ’n ou wiel wat teen die kant van die muur gestaan het; gekyk na die boontjies se groen blare en die tamaties wat rooierig begin deurskyn het.
Sy het hom vertel van die juffrou wat met haar geraas het omdat haar hare olierig was; gesê het dit is vuil. En dit wás nie. Haar ma het juis haar hare met klapperolie ingevryf sodat die skilfers kon weggaan, dat sy skóón kon wees. Dit was vir haar baie erg dat die juffrou so sleg van haar kon dink.
“Hoe maak ’n mens as iemand goed dink wat nie reg is nie, hmm, Pappa?”
Haar pa het die tuinslang verskuif, by haar kom staan en sy hand op haar skouer gesit: “’n Mens dink maar jou eie dink, my kind. Reg of verkeerd.
“Ek weet nie of ’n mens ooit weet wat gaan in ’n ander se kop aan nie. Ook nie eens as jy met iemand getroud is nie. Wat jy dink en wat jy wens, dit is dinge wat op ’n plek binne-in jou gebeur waar ander mense nie inkom nie. Goeie dinge, daaroor kan jy nog met ander praat, ja, maar daardie goed wat by jou bly spook, dit bly in ’n plek van sy eie in jou lyf. ’n Mens staan maar jou hele lewe apart.”
Die water het begin deursyfer onder die walletjie wat hy gemaak het; hy het die graaf gevat en meer grond opgehoop sodat die water eers die voortjie goed kon volloop. Toe het hy op sy hurke langs haar kom sit, begin om haar te vertel van die Paaie, hoe hy daar begin werk het nog lank voor sy mens was.
“Dit was in 1953, die elfde Maart – jou ma het die datum nog neergeskryf in ’n boekie wat sy met bruinpapier oorgetrek het. Dit was ’n dag waaroor al twee van ons bly was. Ja, ook jou ma. Dit was ’n lewe wat sy darem geken het, met jou oupa wat sy lewe lank ook op die pad gewerk het voordat hulle daar by tannie Ousus-hulle gaan bly het.
“Sy het die aand op die bed so teen my kom sit en haar arm nog om my nek gesit. Sy het na badseep geruik. Ons het al twee geweet: Hier is nou ’n nuwe begin vir ons saam.
“Toe kom ek net van die Spoorweë af en ek weet van die Paaie niks. Maar ek kon bestuur en ek het ’n lisensie gehad vir die groot lorries. Hulle sit my toe daar op Keurbooms op die waterlorrie. Ons was ’n paar maande daar; het sommer by jou ma se ma en pa geloseer. Maar toe kry hulle my nodig op Sand-flats, en ons kry ’n eie huis daar.
“En hoe kon ek weet van dit wat moes gebeur, Katrien? Iets wat my lewe so omver sou gooi. My gedagtes, hulle kon nooit weer reguit loop nie, nie met die onthou nie …”
Haar pa het stilgebly; die water het aan die onderkant van die voortjie begin uitloop. Hy het oor die doringdraad om die erf weggekyk, asof hy kon sien tot daar waar hy dink. Eers ná ’n lang ruk, toe die deur van die huis langsaan klap, het hy weer onthou dat sy daar was.
“Ek was skaars vier-en-twintig,” het hy gesê. “Ons was nog nie ’n jaar getroud nie; Oubie was net op pad. Dit was einde November, amper Desember – in Januarie sou hy gebore word. ’n Hele kampseksie moes Sand-flats toe skuif en die mans moes vooruit gaan om die blyplekke uit te meet en die paaie tussen die huise te maak.
“Daar was ’n onrustigheid in die nuwe omgewing. Maar die mense was ook bly oor die pad wat sou kom. Daar was dié wat ons padmakers nie eintlik daar wou hê nie, maar hulle het ook geweet, al kry elkeen van ons maar ’n klein salarissie, sáám maak ons almal tog ’n verskil aan die winkels en die skole. Die bietjies geld van elkeen op so ’n seksie kan ’n dorp op ’n manier taamlik laat vooruitgaan.
“Ons