Dit kon tannie Jakkie of tannie Leen of tannie Hartjie gewees het, hoe sal sy weet. Nie dat sy so iemand onthou nie, maar daar wás sulke tannies – ook op die ander plekke waar hulle gebly het. Vroue wat by die huis kaalvoet geloop en nie omgegee het hoe hulle lyk nie. Dié wat Ma-Kinnie sloeries genoem het.
“Sy’t aan my klasdeur kom klop; buitekant bly wag tot ek self gaan oopmaak het. Ek het nie geweet wie dit is nie – die mense het nooit met die skool te doen gehad nie, dié ook dat ’n mens niks van hulle geweet het nie. Maar sy’t gesê sy kom daar van onder af, sy kom die geld bring.
“Sy’t nie ’n handsak gehad nie, sy het haar hand voor by haar rok ingesteek. Die geld was tussen haar onderklere gebêre.”
Sy wens haar ore kan toeslaan, nie verder luister nie. Dat sy nie hoef te sien nie, nie hoef te voel hoe die note – warm, nat en klewerig van die sweet – in die hand van die onderwyseres gedruk word nie. Óns was nie so nie, wil sy sê. Mý ma …
Miskien is dit beter, genadiger om te hoor: “Ons het nie met hulle te doen gehad nie.” Dalk moet sy omdraai, reguit terugry na Sebastiaan, na die veiligheid van ’n plaas, daar waar die meetsnoere ten minste vir hom in mooi plekke geval het.
Toe die twee wil opstaan om saam met haar te loop na die motor, bedank sy. “Nee, asseblief, moenie in die son uitkom nie. Ek loop sommer gou.” Sy steek haar hand uit om hulle te groet. “En dankie.”
Dit kom moeilik. Judaswoorde. Sy wíl nie dankie sê vir wat sy pas gehoor het nie.
Toe sy wegtrek, staan hulle haar en agternakyk; die vroutjie regop en in haar skik dat sy nog soveel kan onthou.
By Bon Appétit gaan eet sy ’n wildspasteitjie en drink ’n glas water. Dis amper twaalfuur, maar daar is nie mense in die eetplek nie. Agter in die restaurantgedeelte is dit donker, maar koeler as voor waar die supermark is. Sy trek haar voete uit die sandale en laat rus hulle op die klipvloer, bly dat sy alleen kan wees agter die afskorting onder die rietdakkie.
Toe sy later die middag aankom by die kliphuis waar die oudskoolhoof se vrou woon, is sy moeg van vra, van niemand wat ’n vinger kan lê op ’n huis, ’n mens, ’n werkswinkel uit daardie tyd nie. Die skoonseun van die familieplaas digby die dorp maak vir haar die deur oop. ’n Boer wat reguit van die lande af dorp toe gekom het. Natgesweet onder die moue van sy kakiehemp.
Dis iemand wat haar broer se ouderdom kan wees, dalk ’n klein bietjie ouer. Sy hare raak min oor sy voorkop, en sy gesig het warm dae in die son verduur. Hy ry saam met haar na waar hy meen die kamp gestaan het, en die jukskeibaan.
“Maar die huise het verspreid gestaan,” sê hy, “klompies-klompies bymekaar, nie as een groot eenheid nie. Daarvan is ek amper seker. En eenkant was ’n plek waar hulle die teer aangemaak het. Die kampseuns se voete was altyd vol swart kolle soos wat hulle in die teer geloop het.”
Iets in haar wil-wil kliek. Die klipkoppie waarlangs hulle geloop het wanneer sy, haar ma en tannie Griet van langsaan soggens ’n entjie gestap het saam met haar broer, die rugsakkie al wippende teen sy lyf. Daar is iets wat sy onthou van ’n dag van ’n konsert. Rooikappie en die wolf. Tóé het hulle die hele ent pad geloop; tussen die mure van die skool gesit en kyk hoe die lelike dier die ouma opvreet.
Hoe is dit om ‘reg te onthou’? Dis ’n vraag wat ál meer in haar kop opkom.
Sy laai die man weer af, dankbaar vir die eerste konkrete herinnering wat sy gekry het. ’n Plek om na terug te keer.
Terwyl sy wegry, sien sy hom in die truspieël by sy vrou en skoonma staan. In haar kop hoor sy die ou vrou: “Sou dit nou een van dié mense wees wat hier gebly het? Maar sy lyk darem nie té …”
Hóé lyk ’n kampmens, Pappa? wil sy vra. Kan jy, as jy eenkeer daar gebly het, weer ’n gewone mens word?
Sy ry terug na die buurt waarheen die man haar geneem het, neem ’n paar foto’s van die stuk grond waar die jukskeibaan was.
Ma … ai, Ma, wat hoop Ma nou eintlik om te kry? Sy voel hoe die oë ongelowig van langsaan na haar kyk, hoor die laggie in haar kind se stem.
Toemaar, Juli, nog net gou ’n kiekie van die plek waar die man sê hy dink die huise gestaan het.
Dínk, ja, Ma. Ma kan nie alles op dínk wil grond nie. Op die ou end het Ma net ’n klomp verbeelding bymekaargemaak!
Waar die huise volgens die man was, is die ags se kerk nou, met bo teen die nok die leuse: Waar Eenheid Is, Is Krag. Amper iets soos die ou Ex Unitate Vires.
Verder agtertoe staan ’n afgeskilferde ou asbeshuis. Of dit deel was van die kamp, weet sy nie, maar dit is in dieselfde verbeeldinglose styl opgerig as die huise waarin sy grootgeword het: sinkdak, enkellaag-mure, vierkantige venstertjies. Kleinhuisie buite, eenkant teenaan die motorhuis. Ook van sink. Rou grond rondom. En hier het iemand met moed baie jare gelede ’n dadelpalm geplant wat teen droogte uitgehou het.
Op die werf hardloop twee bruin dogtertjies met stywe vlegseltjies. Die kleinste enetjie hink, gaan staan, trek ’n duwweltjie uit haar voet en hardloop verder.
Sy roer haar been, die voet by die petrolpedaal. Van die vorige dag af is die dowwe pyn waar die sweersel was, weer kort-kort daar.
Wat is “die verlede” eintlik? wonder sy. ’n Onthou wat alles onder een dak saamvat, kan dit nooit wees nie.
Sy wil vroeg ry die volgende oggend, sê sy vir die vrou met die grys hare nadat sy by die huis gekom het. En sy wil sommer nou-nou gaan inkruip.
Maar Yolanda is lus vir praat. Sy het ’n handdoek om haar kop en sy maak haar gas sit op die bal-en-klou-stoel: “Ek kom nou! Gaan net gou my hare droogblaas. Hier, kyk solank in die fotoalbum. My man se foto’s. Hy was ’n voorste jagter in die kontrei.
“En ek wil jou nog vertel, daar is goed wat jy moet weet. Wat jy in jou boek kan skryf.”
Sy laat haar oorhaal. Ma-Kinnie se werk, die ingedrilde ordentlikheid. Sy kyk na die wildsbokkoppe teen die mure, die foto’s van die man met sy gewere en sy trofeë. Toe die vrou terugkom, is haar hare netjies in ’n bob gekam en daar is lipstiffie aan die mond. Die storie oor haar en haar man se lewe bly uitrol.
Keer op keer probeer sy die gesprek terugdwing na wat sý wil weet, na iets wat haar op ’n spoor sal bring. Na skrapse sinnetjies wat sy deur die dag opgetel het – die brug by die rivier, daar waar die swart man met ’n kruiwa sement afgeval het tydens die werkery, na wat daaragter gesit het, na dit wat daarná gebeur het. Hoe sou dit die padbouers beïnvloed het; hoe sou die Kakamassers daaroor gedink het?
“Nee,” sê Yolanda. “Ek het mos later gekom; het nog nooit eens gehoor daarvan nie. Dit was seker nie van belang nie.”
Sy trek haar asem in, stik in die glas sodawater wat die vrou vir haar geskink het. Hoes, sodat Yolanda haar met ’n plat hand ’n paar klappe tussen die blaaie gee.
Één ding bly haar by toe sy uiteindelik by haar kamer kom en gaan bad: die strekking van die woorde bo die ingang van die ou koringmeule, geskryf vir die boere wat hul koring wou laat maal: Hier sal jy nie uitgaan voor jy die laaste oortjie betaal het nie.
Toe sy die volgende oggend vroeg wil ry, is haar gasvrou ook op, turkoois broekpak aan, ’n plastiekbakkie met ’n toebroodjie in haar hand. Vir die pad.
“’n Mens weet nie wat kan gebeur nie, en na Keimoes toe is dit tog nog ’n entjie. Maar daar is iets wat ek vergeet het. ’n Duitser wat twee jaar gelede by my oorgebly het, het my daarvan vertel.”
Sy neem die broodbakkie en laat haar die omhelsing van die vrou ongemaklik welgeval. Sy is haastig; daar is nog Queenstown in die Oos-Kaap wat wag, Steynsburg … Te veel tyd kan sy nie bestee aan elke plek nie. Daar is haar verantwoordelikheid teenoor Sebastiaan. En Juli.
Maar