Haar pa het sy sakdoek uitgehaal, sy neus gesnuit en die sakdoek stadig opgevou en teruggesit. Meteens het hy gesien hoe die water deur die grond breek en vinnig die tuinslang na die volgende akker versit waar die groenbone reeds klein wit blommetjies aan die ranke begin maak het.
Hy het daar bly staan, versigtig die blare opgelig om onder hulle te kyk of daar nie dalk al jong boontjies was nie.
“En toe, Pappa?”
Sy wou hóór wat hy dink.
Hy het opgekyk. Daar was iets in sy manier wat haar laat dink het aan die kere dat hy Lenie opgetel en gewieg het toe sy nog ’n baba was.
“O ja, die water vir die lorrie … die water moes ek heel aan die ander kant van die dorp gaan haal, deur die dorp ry, en weer terug tot by die plek waar ons werk; daar was nie water naby die plek waar die kamp gebou moes word nie.
“Die dorpskinders was tog so opgetoë toe die groot masjiene die eerste dag in die hoofstraat af gekom het. Kort voor lank het ’n hele swerm van hulle om die grader en bulldozer gedrom.Toe ons eers begin met die werk het hulle smiddae ná skool agter ons aangehardloop. Ook agter die waterlorrie met die spray-bar aan, deur die dorp, tot by die waterpunt, en dan weer terug tot waar die kamp sou staan. Uitasem, rooigesig, sulke kleingoed van sewe, agt jaar en nog ouer. En dan, die seunskinders van so elf en twaalf jaar wat by die kamp staan en wag het om aan die masjiene te vat, om na die groot wiele en die enjins te kyk.
“Ek onthou so goed, my kind, hoe ek bo in daardie waterlorrie gesit het, hoe vol dit in my binnekant was van alles wat vir ons reg loop. Jou ma wat binnekort gaan kom, ons eerste huis waarin ons gaan bly, ons eerste kind wat gebore gaan word. En ek dink: Eendag, dan hardloop dié enetjie ook in hierdie stofstraatjies rond …”
Op daardie oomblik het sy gewens sy was die oudste, die eerste kind. Die een aan wie haar pa so gedink het, gesien het hoe sy ook in die straat sou speel. Maar toe het hy weer langs haar kom staan.
“In my regterspieël kon ek die kinders sien wat agternahardloop. Ek kon hulle nie hoor nie, maar aan die oop monde en hulle gesigte wat lag, het ek geweet hoe hulle jil en raas.
“Die dogtertjies het moeg geraak en uitgesak en onder die bome gaan neerval, maar die seuns wou nie bes gee nie. Al wat hulle wou doen, was rondhardloop en pret maak – wie sal dan ook nie nuuskierig wees oor sulke groot lawaaimaakmasjiene as jy ’n kind is nie?
“Maar háár het ek nie gesien nie …”
Haar pa het weer stil geraak. Die voortjie was nog nie volgeloop nie, maar hy het sommer die pyp verskuif en hom so gedraai dat hy half met sy rug na haar gestaan het. Uit sy broeksak het hy sy pyp gehaal en dit gestop; met sy vinger die tabak vasgedruk. ’n Gebaar wat sy geken het sonder dat sy dit hoef te gesien het.
Eers toe hy ’n paar trekke aan die pyp gevat het, het hy teruggedraai na haar.
“Dit was die ene sand waar ek die pad moes natspuit; ek moes om die draaie, so met die oop venster, my oë knyp teen die wind en die sandwarrels. Dit het so gewaai dat ek net hier voor my kon sien.
“Toe hardloop daardie kind, ’n meisietjie van so ses jaar, mos ook saam met die waterlorrie. Sy spring en gryp vas aan die linkerkantste deur. Ek kon haar nie sien nie – ek was alleen in die voertuig – en daar was nie ’n spieël aan die linkerkant nie. Haar hand moes gegly het. En sy val.”
Haar pa se stem was so sag dat sy hom amper nie meer kon hoor nie. Sy het vorentoe gesit, die naaf laat kantel sodat sy nog nader kon kom.
“Dit was of daar skielik ’n duisternis mense om die waterlorrie gestaan het. Mense wat skree, mense wat waai en beduie. Ek het nie geweet wat aangaan nie, maar ek stop en klim uit.”
Hy het sy keel skoongemaak, ’n paar keer; sy kop heen en weer geskud, vergeet van die pyp wat in sy hand gloei.
“Daar, agter die agterwiel van die waterlorrie, het sy gelê. Dit was Du Toit wat die rekenmeester by die bank was, se kind.
“Ek het geweet sy is dood. Hier binnekant het ek geweet dit sal nie help om haar te probeer asem gee of om die dokter te laat kom nie.
“Die son het op haar geskyn, so ’n geel rokkie met blommetjies het sy aangehad, so sien ek dit nog voor my; haar bene en arms vol stof en modder van die water van die lorrie. En daar was niks wat ek kon doen nie.
“Ek het oor haar gaan buk. Haar gesiggie het nog ’n skriktrek op gehad en uit haar oog en haar neus het daar bloed gekom. Al wat beweeg het, was daardie wit haartjies wat oor haar gesig gewaai het.
“Iemand het haar ma daar aangebring met ’n kar. Sy het uitgeklim en voor my kom staan en met haar hande in vuiste teen my bors geslaan: ‘Dit is wat jý oor ons gebring het in hierdie plek! Mag jy in jou lewe ook voel hoe dit is om ’n kind te verloor!’”
Haar pa het die pyp in sy mond gesit en sy kon aan die knop by sy kakebeen sien hoe hard hy op die steel byt voordat hy weer kon praat.
“Nooit, Katrien, het ek dit vergeet nie. Ék het haar dood veroorsaak. Toe die polisie daar was en als opgeskryf het, het ek by die voorman in sy bakkie geklim en saam met hom na die enkelkwartiere toe gery. Ek het nie kans gesien om daardie dag weer in die lorrie te sit nie.
“Maar die lewe gaan aan; ek moes kos op die tafel kry. Ek het my probeer uitlig bo die donkerte van die kind se dood. ’n Paar keer het ek probeer om met Du Toit te gaan praat, met hom en sy vrou. Maar hulle het met stywe gesigte gesit; hulle het my nie eens gehoor nie. Ag, ek kon hulle ook nie kwalik neem nie.
“Op die ou end het ek maar ’n verplasing gevra. Ek kon dit nie meer uithou om daardie man teë te kom nie en te weet: Dis ek wat die lig uit sy oë weggeneem het.
“En ek was bang dat daar iets met jou ma en met ons kind kon gebeur, iets wat die straf wat my toekom, sou bring. Dit was nie maklik nie, my kind. En nog steeds, steeds kom dit maar altyd weer boontoe, die meisietjie en die skrik op haar wit gesiggie. Die vloek wat die kind se ma oor my uitgespreek het.
“Eers toe Oubie die dag gebore is – en dit was ’n moeilike geboorte, jou ma het swaar gehad – het ek iets gesien van ’n lewe wat voortgaan. Daardie dag het ek geweet: Hierdie lewe ís die moeite werd. Wie, en hoe, en wat jy is. ’n Mens moet aanhou, al is die pad ook lank, al is dit hard. Ek het weer ’n bietjie moed gekry. Maar ook ’n nuwe vrees daarby. Vir die kind wat ek gekry het, vir julle wat ná hom gekom het; vir jou ma.”
Sy onthou haar ma soos sy soms in die stoel onder die flou lig in die kombuis gesit het, haar hande besig met die stopnaald, fronsend by die swak lig. Klein. Versonke in haar eie wêreld waaroor sy nie praat nie; doof vir dit wat haar pa vertel. Maar altyd aan die heelmaak, aan die skoonmaak, asof sy iets van haarself ook wou afwas.
Aan die linkerkant langs die pad is ’n bord wat na Namibië wys, en voor ’n wit-en-blou arbeidershuisie hang ’n bruin vrou haar wasgoed op. Helder spatsels geel en rooi. Alles wat kan toemaak, is drabaar.
Regs lê Soverby. Blokmyself.
Oor rsg klink Valiant Swart se stem: Wie gaan eerste omdraai, wie gaan laaste bly? Dis ’n vreemde landskap vir jou en my …
Toe sy die ruit oopdraai en stadiger ry, ruik sy die soet nágeur van die sultanas en die Kakamasperskes van die somer.
Juli, sê sy, en haar hand vat na die sitplek langs haar, ons moet sorg dat óns herinneringe ’n mooier boek sal wees om uit te lees.
Die sap het langs haar ken afgeloop toe hulle uit die warmte van die noorde weggery het Queenstown toe. Haar ma het nie gepraat nie, ook nie geraas nie, net kort-kort oor haar been gevryf en met toe oë teen die kant van die deur geleun. Die krukke met die swart ore het agter