Voordat sy kon uitgaan, het haar ma die bandjies wat weerskante aan die hoed vasgewerk was, na mekaar toe getrek en dit styf om haar keel vasgeknoop. Die materiaal het haar vel geknyp.
Ál om die houttafel het die driewiel geknierst. Haar ma het nie geraas nie. Die grootmense het gelag terwyl Oubie ry, maar die klanke het haar ore gebrand wanneer hy om die draaie gaan. Sy het verder weg gaan sit op die bont tapyt, in die hoek, waar die gordyn ’n groot ronde punt maak sodat sy daaragter kon wegkruip.
Oubie was al in die skool; hy was haar slimkop, het haar ma gesê. Soggens het tannie Griet en Dina met die rooi-en-wit kolletjiesrok saam met haar en haar ma geloop tot waar die twee seuntjies deur die draad moes klim. Sy het bly kyk na hoe haar boetie wegraak op die ver grondpaadjie tussen die bossies en die sand op pad skool toe. Smiddae het haar ma geluister hoe hy sy les lees en gekyk of sy letters mooi aan die lyntjies raak waar dit moet. Partykeer het sy sy hand gevat om hom te help om die o’s en die a’s toe te maak waar hy hulle begin het.
Toe die skaduwee van die peperboom oorkant die pad by die huis in val, het oom Boelie ’n geluid in sy keel gemaak. Hy het sy koppie neergesit en dié van die tannie versigtig by haar aangevat sodat sy nie hoef te beweeg nie.
Dit was die eerste keer dat sy die tannie van die oom met die grondboontjies gesien het.
Haar pa het ook opgestaan, gehelp om die reisdeken saggies om die tannie se bene te vou sodat die oom haar by die deur kon uitstoot. Aan die onderkant van die kombersie het twee sagte skoentjies uitgesteek; aan die bokant het hulle bont tosseltjies gehad.
“Is dit slippers, Tannie?”
Sy het haar hand vinnig oor haar mond toegeklap; die woorde was uit sonder dat sy kon besluit om hulle te sê. Haar ma het na haar gekyk met haar kinders-moet-gesien-en-nie-gehoor-word-nie-oë. En sy het gehoor hoe sy in haar kop sê: Pantóffels, Katrien!
Haar pa het die stoel aan die voorkant opgetel en die oom het aan die agterkant gelig sodat hulle die tannie eers by die twee trappies kon afdra. Die oom het gelyk of hy nie so ’n swaar ding kon optel nie, al was die tannie maar klein. Sy gesig het rooi geword toe hy by die trappies afloop.
By die voorhekkie het haar pa die oom gehelp om die stoel daardeur te wikkel sodat dit nie skraap nie. Haar ma het op die stoep bly staan toe die rolstoel in die grondpad af ry, tussen die klippe deur, bo-oor die gate, rondom die stukke stokke wat die bure se kinders al weer in die pad laat lê het en waaroor sy so kwaad kon raak. Wanneer haar ma kwaad was, het sy gebewe.
“Maar aan mý dink jy nie!”
Haar ma se gesig was rooi en vol kreukels toe haar pa weer by die stoeptrappie opkom. Sy het haar hande oor haar oë gehou en kamer toe geloop. Agter haar het die deur hard toegegaan.
Visser sit haar nog só en kyk. “Jy raak sommer so onder my oë weg,” sê hy. “Dit lyk my jy dink ver dinge.”
Sy knik, bedoelende om hom af te skrik, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking. Sy moet haar arm uittrek onder die sweterige palm wat hy vertroulik op haar lê.
“Roep maar as jy nog iets warms nodig het – gee ’n luitjie na die binnetelefoon, dan kom ek.”
Sy loop weg, onderdruk dit om óm te kyk na waar sy weet hy haar agterna staan en staar. Aan die een kant wil sy hom selfs jammer kry. Die man met sy oormoedige attensies, sy behoefte om nog aantreklik te wees, tóg nog ’n vrou te kan bekoor.
In die kamer oorweeg sy dit om van die blou slaappille te sluk waarmee sy die afgelope maande al aan die slaap moet raak wanneer die onthou haar snags nie wil laat los nie. Maar sit dit weer terug in die botteltjie. Sy moet probeer om die verlede vierkantig in die gesig te kyk, juis om nié weg te kruip nie.
Op Springbok het die herfs ’n vlies van koue spinnerakke oor die oggend gespin. Die droom en dink van die nag sit stywerig, seer, in haar arms en bolyf. In die skemer oggendlig is haar hande so bewerig dat die kookwater oor haar arm spat toe sy dit op die mengsel van Nescafé en Cremora gooi. Dit ruik nie soos oggendkoffie moet ruik nie, maar sy het die kafeïen nodig. Die soet reuk van die pienk Germolene-salf wat sy uit die buisie druk om oor die brandplek te smeer, meng met die geur wat uit die koppie kom en sy voel hoe haar gesig trek.
Uit die harde plastiek in die boks met Ouma-beskuit haal sy ’n groterige stuk met ’n ronde kop. Met die beker in die een hand en die beskuit in die ander skuif sy terug onder die duvet in; klim dan eers weer uit en maak die gordyn heeltemal oop. Op die muur van die binneplaas sit ’n swart kat wat na haar staar sonder om ’n oog te knip.
Die monde vol koffie wat sy vat, word ál groter, die beskuit wurg in haar keel. Sy voel die warmte teen haar tong en in haar keel brand sonder om te proe. Die droom, haar bene wat weier om ’n tree te gee, die koffertjie met die sak papiere vol woorde – dit jaag haar én trek haar aan sodat sy voel asof sy midde-in ’n orkaan staan, onmagtig om self haar rigting te kies.
… slagoffer, verskeie simptome … grensgeval persoonlikhede … tagtig persent vroue …
Sy gaan draai die stort oop, sluk die laaste koffie in die beker weg en gooi die droesempies met die beskuitkrummels in die wasbak af; was die beker en emaljebak skoon uit.
Niemand sal iets oor my kinders sê nie!
Sy voel Juli se oë op haar: Genade, Ma, dis darem seker nie nodig nie … Ma betaal mos. Sy antwoord haar met die enigste verweer wat sy het: Dis nie dat ek dit wíl doen nie, my kind, dis die mag van die gewoonte. Jy kan nie weet hoe dit was nie. Die smal paadjie is vir my nie met palmtakke nie, maar met witgebleikte doeke uitgelê; ’n voet mag daarop nie ’n stofspoor getrap het nie.
Toe sy klaar ontbyt geëet het, staan Visser by die ontvangstoonbank. Sy blou hemp beklemtoon die kleur van sy oë en die blik daarin.
“Weet jy,” sê hy, “ek het netnou by jou kamer se trappies opgestap. Toe hoor ek die water in die stort loop, toe klop ek maar nie.” Hy kyk haar glimlaggend aan; wag dat sy iets moet sê. Kyk of sy opgewasse is teen hom.
Sy probeer. Maar haar “o so?” klink in haar eie ore lamlendig; nie ironies of koketterig genoeg om so ’n gesprek te hanteer nie.
“Ja, en toe ek weer met die trappies afloop, toe dag ek: Wat sou sy nou gedoen het ás ek geklop het?”
Sy voel uit haar vaarwater. Onderskat sy hom nie? Is die “kom ons speel ’n speletjie” wat hy kamma wil aanvoer nie net ’n aanloop tot die werklike sinistere wat sy aanvoel nie – dit wat onder die spel versteek is nie? Maar sy antwoord hom tog, probeer hom wys sy skrik nie, al hoor sy Ma-Kinnie, Sebastiaan én die Here God se stem in haar ore weerklink.
“Nee, ek weet nie. Hoe kan ’n mens ooit weet hoe jy op iets sou reageer as dit nie regtig tot by daardie punt gekom het nie?”
Asof dit iemand anders se sin is, hoor sy die gemaakte lag in haar stelling, maar ook die onsekerheid.
Visser se oë het die kleur aangeneem van die persblou ametisklippe wat op die uitstalrak lê en glinster. “Sal ons nie gaan kyk nie?” vra hy. “Dan kyk ons wat gebeur?”
Sy stem laat haar dink aan die viesige harigheid van die groen of oranje kleedjies wat mense in die sewentigerjare bo-op die paneelborde van voorstedelike karretjies gegooi het.
Toe sy die dorp uitry, nog ontstem, lê daar ’n groot bottel yswater wat Visser saamgegee het onder op die vloer aan Juli se kant. “Vir die wis en die onwis,” het hy gesê. “Laat weet maar as jy hulp nodig het …”
Soos sy verder wegry, nader kom aan dit waarheen sy gedwing word, raak die vlaktes rantjiesveld en klipkoppies. Wat is dit wat die man met haar wil hê? Het sy met dít wat sy destyds op die stoep in die Boland ervaar het, so ver anderkant nugtere oordeel geskuif dat sy almal, elke man, sal wantrou?
Verby Aggeneys lê Vioolsdrif noorde toe. Sonder dat sy dit besef, skud sy haar kop, maar sy voel weer die effense hoofpyn waarmee sy opgestaan het. Vioolsdrif laat haar die groot en growwe hande sien: Oupa s’n, Ma-Kinnie se pa, wat die Stradivarius-viool kon laat huil. Nie dat sy toe geweet het wie Stradivari