“Sien jy,” het hy gesê, “as ’n mens mooi luister, hoor jy watter taal die wêreld rondom jou praat.”
Toe het Oubie daar aangekom, gehelp om die hout vinnig op die hoop te pak. Hy het sy arms geswaai en ’n nuwe stompie op die blok gesit en met een hou deurgekap. Agter sy pa se rug het hy vir haar tong uitgesteek.
“Pappa!”
Sy wou vir hom sê, maar Oubie het kwaai na haar gekyk en twee appels uit sy broeksakke gehaal. “Vertel weer van die oom en die vleis, ag toe, asseblief, Pappa!”
Sy en Oubie het teen die houthoop opgeklim. Haar pa het begin om die appels wat van tannie Ousus uit die Boland gekom het en tussen pers papiere in ’n kartondoos toegedraai was, te skil. Lang-lang repies het hy met sy mes afgedraai, totdat die skil gelyk het soos die blink stringe wat in die winkel op Queenstown aan die Kersboom gehang het.
Hulle het geluister asof dit die eerste keer is dat hulle dit hoor. Hulle pa se stories was mooier as enige van dié wat in Oubie se skoolboeke was en waaroor hy hom so groot gehou het.
Hy het weer vertel van hoe hulle partymaal, veral saans wanneer hulle weggewerk het, ’n vuurtjie aangeslaan het en wors gebraai het. “Sommer ’n graaf of twee gevat, dit in die vuur gesteek om hom ’n bietjie skoon te brand en dan die wors daarop gesit en so oor die kole laat lê.”
Oubie het gekriewel: “Maar wat van die óóm, Pappa?”
Haar pa het gelag en oor Oubie se borselkop gevryf. En vir die soveelste keer die storie vertel. Van die voorman wat altyd smiddae die werksmense se kos so kom opeet het op die plek waar hulle gewerk het en hoe oom Sam gesê het hulle moet hom ’n les leer.
Hy het die rooi skil van die eerste appel eenkant neergesit en die afgeskilde appel in die helfte deurgesny. Toe weer in kwarte. Met die vier stukkies nog so in die bak van sy hand het hy die pitte van elkeen een vir een in halfmaantjies met die mes uitgesny.
Vir haar en Oubie het hy elkeen ’n stukkie gegee en self ook een geëet. Aspris stadig, tot hulle twee nie meer kon wag om verder te hoor nie. Toe het hy die laaste stukkie deurgesny en vir haar en Oubie gegee voor hy verder vertel het.
Van hoe oom Sam sy brood met vleis net so vir die voorman gegee en toe hy klaar geëet het, die jakkalsvelletjie agterop die een bakkie gaan haal en voor die man se neus geswaai het.
“‘Ja, hulle sê mos jakkals proe so soet,’ sê oom Sam toe so ewe.” Haar pa het gelag en aan sy pyp gekou. “Die voorman het net daar in sy bakkie geklim en weggetrek dat die klippers spat. Maar so ’n ent verder het daai geel bakkie styfgeskop en ons het gesien hoe staan hy daar gebukkend langs die pad! Laaste sien van die aas na ’n ander man se kos – en nooit ooit iets daaroor gesê nie!”
Nou nog kan sy sien hoe Oubie daar by die stompies portjackson begin hik het van die lag. “Ja, dis goed so, hy wou mos!”
Haar pa het ook gesit en skud daar op die houtstomp en sy het amper van die houthoop afgeval, sodat hy vinnig opgespring het om haar te vang. “Versigtig tog, jong! Netnou kom jy iets oor!”
Haar ma het gemaak asof haar pa ’n grapjas was. Die Tickey in die sirkus. Die een wat oor sy voete val om die mense om hom te vermaak. Sy het sy stories afgemaak as ligsinnigheid, tydmors.
Maar dis nou, noudat Katrien al die stukkies bymekaar pro-beer soek en hulle inmekaar wil pas, dat sy meer begin sien agter sy vertellings. Nie dat hy dit seker so bedoel het nie, maar sonder die stories was die lewe vir hom dalk net te hard en ongenadig. Dalk was die stories die een ander ding behalwe die lág, waaraan hy moes probeer klou om nie in die pas af te gly met die grader nie.
As kind het sy nooit daaroor nagedink nie. Haar ma was die ernstige een, die een wat die reëls gemaak het. Haar pa was die storiemaker. En omgekeerd – hy was ook die een wat geluister het na wat sy vertel. Maar partymaal het sy haar stories in haarself moes wegbêre. Diep, waar niemand dit kon raakhoor nie.
’n Paar keer moet sy stop waar hulle besig is om ’n stuk pad duskant Groblershoop heel te maak; die helderoranje oorpakke van die werksmense soos lemoensakkies in klompies bymekaar. Plek-plek het die teer ’n vreemde, donkerpienk kleur.
Aan die hoeveelheid windpompe kan ’n mens sien hoe droog die land hier is.
Gifkloof. Ditsem. Klein Kanniedood.
Vir elke pomp wat blink met ’n vlerkspan staan, is daar vele wat kaal en sonder vere is, geen water wat met hulle nog gepomp kan word nie. Geraamtes in ’n onherbergsame, oneindige stuk land.
Maar by Lambrechtsdrif is daar groot druiwetrosse op die pilare. Kanaän? Hoe is dit dat party mense optimisties bly ten spyte van teenslae en ander trek ’n kombers oor die kop? Vlietend in die verbyry sien sy ’n vrou met ’n ligblou rok wat buk tussen die agapante langs die wit muur.
Tussen die ou kiekies in haar ma se blikkie het sy eenkeer, nadat sy klaar was met universiteit, ’n negatief gekry waarvan sy ’n foto laat maak het. Die jong Hanna-Kinnie as twintig-, een-en-twintigjarige, wat met ’n geblomde romp en ’n wit bloes teen ’n rots by die see staan. ’n Mooi jong vrou. Maar met haar oë ernstig en haar mond stroef, soos ook op die trouportret toe sy en haar man ’n paar jaar later voor die landdroskantoor op die trappies gestaan het.
Uit die doringbome skiet die middagson spieëlblink vonke. Regs uit die grootpad lê Grootdrink. Ezelfontein daarnaas.
Wanneer Ma-Kinnie oor Oupa gepraat het, was haar oë soos die weerligstrale wat die Oos-Kaap se donkerblou middae in stukke gesny het.
“Nog voor my operasie, tóé al het ek hom uit die kroeg moes gaan haal op Keurbooms! Ek het my so geskaam vir sy af-hempsknope, vir hoe hy daar met sy kop op die toonbank gelê het. Gebaklei. Hy wou nie kom nie; hy het aan my geruk en gepluk, maar die drank was hom oor; ek moes hom huis toe sleep.
“Wanneer hy daarna wakker geword het, het hy my met ’n bloudraad geslaan, geraas sodat jou ouma uit die kombuis geloop het.”
Ma-Kinnie se mond het gehuil.
Sy wou nóg vra, nog weet oor hoe dit was, maar sy was bang. Sy het onthou van die kuier by Oupa-hulle in die huis op tannie Ousus-hulle se plaas. Oupa wat sy skoene sleep as hy kamer toe loop; wat na háár blý roep.
Wanneer hulle na ’n vakansie terug was by hulle eie huis en haar ma-hulle die aand al geslaap het, het sy uit haar bed geklim, gaan kyk na die troufoto wat in die gang gehang het. Swart-en-wit.
Haar pa met sy hoë voorkop en sy breë mond. Sy reguit neus. Haar ma wat nog ’n jong meisie was in ’n ligkleurige tweestukpakkie, ’n roos bo teen die kraag van die baadjie vasgespeld. Skoene met oop toontjies.
Sy het haar ma gehoor van agter die glas: Vir mý was daar nie ’n trourok soos vir Ousus nie. Ek het gehelp met die skuur van die swart stoof. My hande was swart en stukkend in die sagte vleis. Maar Ousus en Issie en Ens – hulle was Pappie se darlings. Dis húlle wat partykeer lap gekry het vir nuwe rokke.
Toe sy by Prieska petrol ingooi, is haar kop ’n roesemoes van al die gedagtes. Prieska beteken “plek waar die bok weggeraak het”, het oom Bennie, haar pa se swaer en tannie Berta se eerste man, gesê toe hulle daardie twee dae by hulle gekuier het.
Terwyl haar ma en die tannie in die voorhuis gesit en gesels het, het hulle buite op die werf gesit, sy en haar pa en haar broer. En die oom wat vertel het van asbesmyne en klippe wat blink en gloei. Van tieroë. Sy het bly omkyk na die doringbome, skrikkerig vir die tiere wat in die takke kon sit.
Die selfoon lui. Missed call. Juli. Nóú kan sy nie praat nie. Die kind sal hoor hoe sy klink, haar mond sal dinge praat wat dit nie moet nie. Later, sy sal later terugbel – as daar regtig iets ernstigs is, sal Juli Sebastiaan darem in die hande kan kry.
Sy druk die foon dood. Skuldig. Maar ’n mens kan net soveel op een dag dink en onthou.
Dis of sy twee paaie gelyktydig ry. Nee, drié. Die stuk blouswart teer hier voor haar op pad Queenstown toe, die onthou van wat werklik gebeur het, en ’n nog heel ander pad wat haar brein