Padmaker. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798153768
Скачать книгу
p>

      Padmaker

      Christine Barkhuizen-le Roux

      Human & Rousseau

      Vir Carli

      Die verlede is ’n ander land: Waar is die pad wat soontoe loop? Hierdie lewe, Karel Schoeman

map 1.jpg

      EEN

      ’n Padmaker is nie ’n mens nie, hy trap net ’n spoor soos ’n mens.

      Die woorde wat sy as sewejarige kind van agter ’n winkelrak gehoor het, rol deur haar kop; dit sing saam met die wiele op die teer op pad na die woestyn. Halfwoestyn, langs die Oranjerivier, daar waar haar eerste onthou lê.

      Of sy soek, en of sy weghardloop van dit wat sy by Henry gehoor en in die boeke begin lees het, weet sy nie. Sy ry agter haar neus aan – haar pa se raad wanneer hulle êrens moes kom en die pad nie geweet het nie.

      “Vat dít,” het tannie Ousus gesê toe sy omtrent twee maande gelede, die Saterdag nadat haar ma daar weg is, by haar langs gegaan het. Sy het die koffertjie met die geroeste knip wat soos ’n hoofletter t lyk in haar hande gedruk. “Nie dat daar eintlik iets in is wat ’n mens kan help nie. ’n Paar kiekies van julle en jou pa en ’n man met ’n wit hemp aan. En ’n sakkie met wol en penne en die klere wat sy agtergelos het.”

      Sy het die tannie se snor teen haar mond verdra, en die vasdruk teen haar ronde lyf in die bont swart-en-rooi rok. Wanneer sy haar weer sou sien, het sy nie geweet nie. Dalk nooit. Soos sy haar ma dalk nie weer sou sien nie. Tannie Ousus het aangeneem sy gaan haar soek, en sy het haar dit maar laat glo. Watter kind sou nie ’n ma wat weg is, gaan soek nie?

      Sy het weggery van Worcester af daardie warm, bedompige Bolandse Saterdag, haar brein afgesluit teen die dink wat ál dringender geklop het. As haar ma weg was, was sy weg. Sy wou niks meer daarmee te doen gehad het nie. Sy wou nie hoor hoe tannie Ousus bekommerd was nie, hoe haar ma nooit op haar eie oor die weg sou kom nie, hoe sy nie kon verstaan dat haar suster op haar ouderdom op ’n bus of ’n ding kon klim en weggaan sonder om vir enigiemand te sê waarheen en vir hoe lank nie.

      Háár kon dit nie skeel nie.

      Tot die vorige middag, toe die telefoon haar wakker gelui het. Sy het die oggend drie-uur eers die aantekeninge wat deur die pos gekom het, neergesit. Sat. Sy het gehardloop na Sebastiaan se studeerkamer toe die foon die middag deur haar drome bly skril. Haar arm was tam toe sy die telefoon van die mik af tel. In die spieël met sy kammagoud-beslane raam het sy haarself gesien. Onder haar oë was dit donker, blou, asof iemand haar vir ’n toneelstuk oud wou laat lyk.

      Die stem aan die ander kant was senuweeagtig, ’n bietjie heftig in die poging om haar gerus te stel, te sê sy moet haar nie bekommer nie, haar ma is veilig, maar sy kan nie sê waar sy haar bevind nie: “Ek mag nie, ek is verbind tot ’n beroepskode. Ek is jammer. Maar ek sal u op hoogte hou van enige veranderings.”

      Sy het die telefoon neergesit, op die voorstoep gaan sit en wag dat Sebastiaan se bakkie van die onderplaas af terugkom, gewonder oor die vrou wat gebel het. Sy het hortend gepraat, glad nie professioneel soos ’n mens van so ’n persoon sou verwag het nie.

      Oorkant die ronde rantjie het die Kaap gelê, maar sy kon Tafelberg nie sien nie; net ’n laag gryserige mis. Dit het haar nog somberder gemaak. Sy het nie geweet of dit dalk mis van die see af was nie, maar dit het gevoel of dit eerder rookbesoedeling was.

      Dit het later geraak. In ’n stadium het sy opgestaan en vir haar ’n glas Durbanville Hills chenin blanc ingegooi en dit driftig in een teug uitgedrink. Sy wóú nie oor haar ma se verdwyning dink nie; ook nie oor haar sogenaamde weldoener nie.

      Sy het weer aan die slaap geraak. Teen die tyd dat sy wakker geword het, het die son in skerwe in die portjacksons gesit. Johannes moet die beeste in die kamp langs die huis ingejaag het, want sy het hulle koppe met die bewegende ore tussen die hoë weidings

      sien uitsteek.

      Toe Sebastiaan sy lyf by die Isuzu uitwurm, was die bottel leeg.

      “Ek gaan vir ’n tyd weg,” het sy gesê. “Alleen.”

      Dit was asof sy haarself van ’n afstand gehoor het; met verwondering oor die woorde wat sy nie kon keer nie. Vooraf het so ’n idee nooit na buite gekom nie.

      Hy het gesug en in die stoel langs haar gaan sit. “Nou is jy irrasioneel, Katrien, jy kan nie so op jou eie …” Sy maag het ’n bult gemaak onder sy kakiehemp met die groen lappe op die skouers en bosakke.

      “Ek kan nie anders nie. Buitendien, jý is die een wat my allerhande verwyte toeslinger – en as jy wil hê ek moet klaarkry daarmee, moet jy my nie nou probeer keer nie.”

      Sy het opgestaan; half teen die stoepdeur gestruikel. In die kamer het sy die koffertjie met die strêps wat sy by tannie Ousus gekry het, ook by haar eie goed gesit. Dit, en die pak met papiere, die aantekeninge, die boeke waarin sy soek-soek gelees het.

      Sy trap die petrolpedaal. As sy vanaand op Springbok wil wees, sal sy haar ry moet ken. Te meer omdat die chenin blanc van die vorige aand nog in haar kop sit.

      By die Durbanville Apteek het sy eers stilgehou; haar slukderm en maag was die ene vuur.

      “’n Groot bottel,” het sy vir die bleek vrou agter die toonbank gevra en beduie na die een met die pienk-en-turkoois etiket. Die vrou het die kleiner bottel aangegee en sy het haar kop geskud. “Ek sê mos: die groot een.”

      Sy moes hard gepraat het, of kwaai, want die apteekvrou het haar wenkbroue gelig voor sy omgedraai het om die regte houer af te haal.

      “Jámmer.” Haar stemtoon was sarkasties.

      Sy wou die deur van die apteek agter haar toegooi toe sy uitstap kar toe. Daar was ’n woede in haar. Nee, anger. Woede maak ’n hoogoondvuur en vlam vinnig uit. Maar anger blý brand. Iets wat om en om in jou kolk sonder dat dit uitbrand. Moses se braambos; die hel van die duiwel in die Kinderbybel waarbinne sy sou aanhou brand en waarvan sy nooit weer sou kon wegvlug nie. Hoeveel keer het sy dit nie gehoor nie?

      Maar terugdink en onthou is nie noodwendig dieselfde ding nie. Die dinge wat op haar ingeënt is – dit kan wees dat sy dit skerper en dieper onthou as wat dit werklik was. Die skroei van die swart yster se reuk teen die stryklaken …

      Toe sy die dorp met sy raserige bestuurders, sy yuppies, sy welvaart agterlaat, draai sy die prop van die bottel Gaviscon in die ry oop en vat ’n sluk. Sy proe die anys wanneer die dik, witterige vloeistof in haar keel afgly, en gril soos altyd wanneer sy medisyne van watter aard ook al drink.

      Die blouswart wolke wat van die Kaap se kant links oor die heuwels kom, dra ’n rookreuk wat tot in die kar kom.

      Sy onthou die dogtertjie wat die krummels met haar hand van die tafel afgevee het voordat sy die borde in die wasbak gepak het.

      “Jy mors op die vloer, vat die lap!” het Ma-Kinnie gesê van waar sy agter die stryktafel gestaan en kyk het dat sy reg doen.

      Sy was vies. Dit was die aand van die eerste skooldag van haar tweede skooljaar, en sy wou verder in haar nuwe leesboek gaan lees.

      “Ag, Mamma!”

      Sy het die paar krummels wat op die grond geval het onder die tafel ingeskop en na die wasbak toe geloop. Verby die plek waar die strykyster sisgeluide op die natgespatte wasgoed gemaak het.

      Eers toe die yster ’n halwe liniaal van haar gesig af was, het sy dit gesien. En die warmte gevoel. Haar ma het die vuurwarm ding na haar kant toe gedruk. Sy kon die hitte langs haar wang ruik.

      Ma-Kinnie se oë was swart en dit het gelyk of hulle by haar kop wou uitspring. Sy het by die deur uitgehardloop; agter haar het die sifdeur geklap.

      Deur haar bril met die vlerkies op die rame het sy hom in ’n waas gesien: haar pa, langs die dowwe groen doringboom, waar hy sy groentetuin en die vyebome wat hy geplant het, natlei. Sy het die rooigrond geruik wat klam was van die water uit die pyp, en haar asem het teruggekom in haar bors.

      In