Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
nogtans soos ’n verraaier, ’n opperste hensopper.

      Die motorhuis se lig brand darem, sien sy toe die drieverdie­pinghuis donker voor haar opdoem. Sy druk die afstandbeheer­der en die groot gietysterhekke gly oop.

      Toe sy uit die motor klim, los sy die lêers net so op die passasiersitplek. Met die eerste uitsteek van haar hand skakel sy die kombuislig aan en skop terselfdertyd haar skoene uit.

      “Hallo, Ma.”

      Sy kyk om. “Amara. Ek dog jy slaap al?”

      “Nee, ons het eers so ’n uur terug by die huis gekom en toe het ek nog bietjie geleer. Pa-hulle slaap al. Hoe was die vergadering?”

      Althea neem die lieflikheid van haar dogter in. Die reguit blik wat altyd belangstel in ’n ander se lewe. Die kind wat haar eie belange so dikwels opsy skuif. Hoe is dit moontlik dat hierdie wese ook uit haar gebore is?

      “Dit was goed. Het julle iets van Liam gehoor?”

      Amara se gesig verstrak. “Nee. Moes ons?”

      “Hy was gisteraand laas by die woonstel. En sy foon is af.”

      “Hy’s seker by ’n vriend.”

      Dis duidelik dat nie eens Amara glo wat sy pas gesê het nie. Althea stap na die mikrogolfoond om die kos warm te maak wat sy weet haar moeder vir haar sou gelos het.

      “Ek is as duxleerling aangewys.” Daar is geen vreugde in Amara se stem nie.

      Althea swaai met skaamte om. “Ek is so jammer, ek het heeltemal vergeet van die prysuitdeling.” Sy gee haar dogter ’n drukkie. “Dis wonderlik.”

      Amara maak haar los uit die omhelsing. “Pa en Ouma het my ná die tyd geneem vir ’n wafel.”

      “Ek is bly.”

      Iets in Althea wil huil. Dieselfde iets wat konstant kop uitsteek vandat Liam sy verslawing erken het. En die vrees wat haar van daardie dag af ry: dat sy ’n slegte ma was . . . is. Dis daardie selfde iets wat haar gedurig haar loopbaankeuse laat bevraagteken.

      “Ek gaan nou maar slaap,” sê Amara. “Nag, Ma.”

      Die soen wat haar dogter haar op die wang gee voor sy gang­af verdwyn, brand op Althea se wang. Nou het sy weer eens skeef getrap met Amara.

      Sy haal ’n bottel wyn uit die yskas en gooi vir haar ’n halwe glas. Dan kry sy haar foon uit haar handsak en soek die polisie in Bellville se nommer.

      “Van wanneer af is hy vermis?” vra die manstem aan die ander kant.

      Sy trek ’n stoel by die kombuiseiland uit. “Die laaste keer dat iemand hom gesien het, was gisteraand.”

      “Wat het hy aangehad?”

      Sy kan haarself skop dat sy nie die niksnut gevra het nie. “Ek weet nie.”

      “Wie het hom laaste gesien?”

      “Sy woonstelmaat.”

      “Waar?”

      “By hulle woonstel in Boston.”

      “Het hulle baklei?”

      Die verpeste vrae. “Ek vermoed so.”

      “Dan het hy seker net vir hom ’n ander plek gekry om af te koel.”

      ’n Mens sou reken die man het so pas die saak opgelos.

      “My seun is verslaaf aan heroïen,” sê sy afgemete. “Hy was vyf maande lank skoon, maar ek het rede om te glo hy het weer begin gebruik.”

      “O . . . so hy is ’n druggie.” Die stem is gestroop van alle belangstelling.

      “Hy kan iewers in ’n sloot dood lê!”

      “Mevrou, ons is baie understaffed.”

      “Sê ten minste vir die mense op patrollie om ’n oog oop te hou vir my seun.”

      Stilte.

      “Hy is een komma sewe agt meter lank,” gaan sy voort, “en hy het donker krulhare. Nie teen sy kop kort nie, maar ook nie op sy skouers lank nie. Hy het groen oë. Sy naam is Liam.”

      “Ek sal vir hulle sê om uit te kyk. Totsiens, mevrou.”

      “Wag . . . ”

      Die foon is reeds dood.

      Sy sluk die laaste wyn uit die glas en bel weer die polisiestasie. ’n Ander stem antwoord.

      “Ek het so pas my seun as vermis by julle aangemeld. Die man het nie my kontakbesonderhede geneem nie.”

      “Hou net aan,” sê die stem.

      Sy wag ’n minuut en twintig sekondes.

      “Hallo?” antwoord die vorige stem.

      “Met wie praat ek nou?” vat sy vlam.

      “Konstabel Bruwer.”

      “Konstabel Bruwer, ek is dokter Althea Laubscher. My seun is weg. Ek het nodig dat julle, as ’n diens wat julle aan die publiek lewer, kyk of julle hom kan kry. Ek het nodig dat julle my bél wanneer julle hom kry. Jy het dit nie nodig geag om my telefoonnommer te neem nie. Is daar ’n probleem met jou bereidwilligheid om my te help?”

      Die man maak keel skoon.

      “Is dit nodig dat ek eerder met jou bevelvoerder praat om aan te dring op die diens waarop ek as landsburger geregtig is? Of gaan jy jou werk doen, konstabel Bruwer?”

      “Gee my u nommer, mevrou. Ons sal kyk wat ons kan doen.”

      Sy gee die nommer, groet met soveel dankbaarheid as wat sy in haar stem kan optower en druk die foon dood.

      Haar kos is koud. Sy is in elk geval nie vreeslik honger nie.

      Sy sit die bord en leë glas in die wasbak neer en skakel die ligte af. Loop in die donker die trappe op en verby die twee slaapkamers in die gang voor sy by haar en Roelof se kamer ingaan.

      Hy slaap genadiglik vas. Soveel soos sy iemand nodig het om hierdie las saam met haar te dra, sien sy nie nou kans vir ’n tirade oor tough love nie. Jy kan nie iemand wat weg is tough love nie, jy moet hom eers vind.

      As sy hom kry én hy leef, sal sy die tough love-ding oorweeg.

      Middagete bel Althea die polisiestasie uit haar spreekkamer.

      “Konstabel Bruwer is nie aan diens nie,” lig ’n vrouestem haar in.

      “Who am I speaking to?” leer sy uit gisteraand se fout.

      “Constable Miriam Mahlangu.”

      “Konstabel Mahlangu. Ek is ’n ma op soek na haar kind.”

      “When last did you see him?”

      Althea herhaal feitlik woord vir woord die vorige aand se gesprek.

      “So he left out of free will?”

      “Ja. Nee. Hy is nie toegelaat in sy woonstel nie.”

      “If he left out of free will, you cannot report him as a missing person. You can only ask the police officers in the area to keep an eye out for him.”

      “Dan vra ek nou weer.”

      Weer beskryf sy hoe Liam lyk, weer verskaf sy haar nommer. Dis Vrydag. As sy teen vanaand nog niks van hom gehoor het nie, sal sy vir Roelof moet sê.

      Toe sy die telefoon neersit, piep haar selfoon. Is ons nog aan vir vanmiddag? Dis Ilza.

      Beslis, laat weet sy terug. Sy moet met iemand praat.

      Heelmiddag konsentreer sy op elke pasiënt se behoeftes, vrese en vrae. Tussendeur vat sy haar foon voos om te kyk of daar oproepe of boodskappe was.

      Toe dit oplaas in haar laai vibreer, skrik sy haar yskoud. “Ver­skoon my, asseblief, ek verwag ’n belangrike oproep.”