Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
reël om op ’n vliegtuig te klim!”

      Tipies haar suster met haar histrioniese geaardheid.

      “Nee, dis oukei. Jy het ’n gesin om na om te sien en hier is niks wat jy kan doen nie.”

      “Ek kan nie glo dat dit met jou gebeur nie,” huil Margo. “Hoe­kom? Hoekom? Hoekom? Jy is so jonk! Hoekom was dit nie eer­der ek nie?”

      Sy laat sak haar voorkop in haar handpalm. “Ek dink nie dit sou beter gewees het as dit jy was nie.”

      “Ek weet nie wat om te doen om dinge beter te maak nie,” snik haar suster.

      Ná die derde koppie tee stuur Nadine Ferdi huis toe: “Dis al negeuur en Amé en Mia wag vir jou.”

      “Ek bly by jou.”

      “Dis regtig nie nodig nie. Ek wil in elk geval gaan bad en gaan slaap.” Sy jok, maar dis nodig. Sy wil nie ’n las vir hom wees nie.

      “Is jy seker? Want ek het jare laas op ’n bank geslaap en my liggaam smag daarna.”

      “Ek is seker. En selfs al het jy oorgebly, sou jy in ’n bed moes slaap in die spaarkamer.”

      “Dan slaap ek eerder in my eie bed.” Hy staan op en neem sy motorsleutels. “Is jy seker jy sal oukei wees?”

      “Ek sal fine wees.”

      “Fine staan eintlik vir freaked out, insecure, neurotic and emotional.”

      “Dan is ek beslis fine én oukei. Gaan nou.”

      Die oomblik toe die ontkleedanseres haar bloes op maat van die musiek oopruk en haar borste ten toon stel, draai Pierre sy kop weg en maak sy oë toe. Hy kan waaragtig nie hier bly en na die vrou sit en kyk nie.

      “Ek gaan kamer toe,” fluister hy vir Danie en maak hom uit die voete. Tog vee sy oë oor die naakte borste voor hy teen die trap op loop. Dit kom nie naby Nadine s’n nie.

      Hy maak die kamerdeur met mening agter hom toe. Bly staan met sy hande in sy sye. Wat nou?

      Hy haal sy selfoon uit sy sak en stig ’n whatsapp-groep. Tik: Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker. Vee dit dadelik uit.

      Hallo julle, begin hy oor. Ek het die groep begin, want Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker.

      Hy hou op tik. Haal ’n paar keer diep asem om sy hartklop te laat bedaar.

      Dis beter as julle haar nie nou al bel nie, sy wil nog nie met iemand praat nie. Ek sal julle op hierdie groep op hoogte hou van alles.

      Hy lees die boodskap ’n paar keer deur. Voeg by voor hy stuur: Bid vir haar asseblief.

      Toffie is al om Nadine se voete terwyl sy deur die stil huis kamer toe draal en op haar bed gaan sit. Sy vryf oor die kat se kop toe hy opspring en teen haar op die bed kom lê.

      In die alleenheid van die kamer wel die trane weer op. Sy staan op. Sy moet iets kry om haar mee besig te hou.

      By die gastekamer se deur steek sy vas toe sy soos manna uit die hemel van die lentehoed onthou. Sy moet dit namens die regsafdeling vir ’n kompetisie by die werk maak, deels omdat sy die groentjie is en deels omdat die regsafdeling elke kwartaal teen die ander afdelings verloor. Hopelik sal sy iets beters regkry as wat hulle tot dusver kon.

      Met die plastieksak vol benodighede gaan sit sy by die kombuistafel. Sy haal die pienk en wit karton uit, saam met die verskillende groottes helderkleurige kunsblomme en klimopblare wat sy vir ingeval ook gekoop het, en begin knip.

      Sy meet en plak, voel of die lang pienk silindervorm ste­wig aan die breë wit rand geheg is. Dis nogal ironies, dink sy terwyl sy wit en pienk polkakolle daarop aanbring, hier is sy besig om ’n lentehoed te skep in die middel van haar donkerste winter.

      Net toe sy die voltooide hoed op haar kop pas, begin haar selfoon in die kamer na haar roep. Dit kan net Pierre wees.

      “Ek kan nie slaap nie.” Hy klink miserabel.

      “Ek ook nie.” Sy is bly sy is nie die enigste een nie. “Toe maak ek die lentehoed waarvan ek jou Woensdag vertel het.”

      “Jy is nie ernstig nie.”

      “Ek gaan nou probeer slaap. Wat maak jy?”

      “Ek lê en rol rond.”

      Haar skuld. “Waar is die manne?”

      “Hulle kuier nog. Ek is jammer ek is nie by jou nie. Ek moes nooit gekom het nie.”

      Sy druk haar gesig teen die kussing om die intense verlang wat wil uit te keer. “Nee, dis goed dat jy gegaan het.”

      ’n Effense drukking op haar wang maak haar wakker en sy ruik Pierre se naskeermiddel voor sy hom sien. “Jy is hier.”

      Hy vou haar in sy arms toe. “Hoe voel jy?”

      “Beter noudat jy hier is.” Sy vee die trane af wat weer begin stroom. “Hoe het jy by die huis gekom?”

      “Ferdi het my kom drop.”

      “Ek is bly.” Sy sak terug teen die kussing en trek hom saam met haar af sodat hy langs haar moet lê.

      “Ek ook.” Hy draai na haar en trek met sy wysvinger ’n lyn al langs haar slaap tot by haar ken.

      “Ek weet nie hoe ek hierdeur gaan kom nie.”

      “Ek is by jou. Ek sal saam met jou hierdeur kom.”

      “Kanker maak dood.”

      “Nie altyd nie. En jy is Lucky Lucy. Geluk was nog altyd aan jou kant. As jy inskryf vir ’n kompetisie, dan wen jy. As daar geloot word, is dit altyd jou nommer wat getrek word. Alles sal uitwerk, jy sal sien.”

      “Ek weet nie.” Sy strek vir ’n sneesdoekie. “Ek het ’n gevoel hierdie keer is dit anders.”

      Hy soen haar saggies op die voorkop en staan op. “Ek gaan maak vir ons ontbyt.”

      Alles sal uitwerk. Dit raak ’n refrein terwyl Pierre gangaf vlug. Dit móét net.

      Jy het geen idee waarvan jy praat nie. Hy onderdruk die stem in sy gedagtes, maar dit bly opspring.

      Hy hét geen idee waarvan hy praat nie. Nadine het kanker. Sy het ’n siekte wat elke jaar duisende mense doodmaak. ’n Siekte waarvoor jy chemo kry wat jou hare laat uitval en jou siek maak tot die dood toe.

      En hy het geen idee wat hy kan doen om dit beter te maak nie.

      Hy sou dalk nog geweet het as Nadine Nadine was. Maar die vrou daar in hulle bed is nie sy vrou nie. Die vrou wat hy so pas wakker gesoen het, is broos en huilerig. Nadine is nie broos en huilerig nie. Nadine gryp enige ding sonder aarseling by die horings en ruk dit in die rigting waar sy dit wil hê.

      Die massiewe pienk keil met wit polkakolle op die bed in die gastekamer laat hom in sy spore stop. Vreemde hoed. Mooie­rig ook. Hoop flikker in hom. Dís sy vrou. Die een wat só ’n kuns­werk kan prakseer selfs wanneer dit sleg gaan. Nie die een wie se oë nou net so weerloos na hom gekyk het nie.

      Hy loop kombuis toe, skakel die ketel en ’n stoofplaat aan, haal die pan en kookolie uit. Hoe gaan hy haar ondersteun as dit hom so erg vang? Wat is die volgende stap? ’n Dokter kan mos nie net ’n kankerbom laat ontplof en dan eers twee dae later met die opruimingswerk begin nie? Kanker vat mos nie die naweek af nie?

      Vrees gooi kookwater oor sy kop uit. Wat as die kanker hier­die naweek só ver groei dat dit haar lewe kan neem? Hoekom het die dokter nie dadelik met ’n aksieplan begin nie? Hoekom tot Maandag wag?

      Hy dwing homself om diep asem te haal. Meet koffiepoeier in die bekers af, haal eiers uit en breek dit in die pan, glip twee snye brood in die rooster. Die dokters weet seker wat hulle doen; dinge móét net uitwerk. En dit sal sý werk wees om Nadine daaraan te herinner, maak nie saak wat hy dink of hoe hy daar­oor voel nie.

      Hy mag nie hierdie vrese en verwyte wat hy in hom ronddra