Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
kamer kom, is Roelof al in die bed. Sy klim langs sy rug in en draai haar rug op hom ook. Sy sal om die uur moet gaan seker maak of Liam nog asemhaal. Sy stel haar armhorlosie vir twaalfuur en maak haar oë toe.

      Haar oë sper dadelik weer oop. Sê nou Liam word deur die nag wakker en loop weg? Sy sal die deure se sleutels moet wegsteek.

      Vinnig staan sy op en loop voorportaal toe waar die huis se sleutels hang. Sy haak alles om haar wysvinger en voel of die buitedeure gesluit is voor sy terugstap kamer toe. Bêre die sleutels onder haar kopkussing.

      Weer staan sy op en gaan luister of Liam nog asemhaal. Tevrede dat sy hart sterker klop, gaan klim sy terug in die bed. Stel haar horlosie vir kwart voor een. Dit gaan ’n lang nag wees.

      Hoofstuk 6

      “Liam, luister na my.” Althea is spyt dat sy nie die kantoordeur ordentlik op knip getrek het nadat sy haar laaste pasiënt gaan afsien het nie. Maar sy het haar selfoon hoor lui en gehardloop om dit betyds op te tel. “Wag net tot ek by die huis kom dat ons kan praat.”

      ’n Dierlike geluid kreun in haar oor. “Ek moet gaan. Sê vir Ouma sy moet die hek oopmaak of ek klim oor.”

      “Ek kom. Wag net daar tot ek kom.”

      Sy druk die foon dood, gryp haar handsak en drafstap die gang af.

      Die ontvangspersoneel kyk haar verbaas aan.

      Sy beitel ’n glimlag op. “Sien julle môre.” Haar lyf prik van die adrenalien.

      Terwyl sy huis toe snel, kyk sy op haar horlosie. Sy het net vyf-en-veertig minute voor sy die CPD-seminaar moet aanbied. Dis vir haar ’n eer dat die Raad vir Gesondheidsberoepe haar gebruik om dokters op hoogte te bring van verwikkelinge in die veld. Die verkeer is haar net tot op ’n punt genadig en sy neem die langer maar vinniger roete huis toe. Toe sy deur die gietysterhekke is, die motorhuisdeur laat oopgaan en haar moe­der uitstap, weet sy sy is te laat.

      Sy probeer nie eens haar teleurstelling wegsteek nie. “Hoekom het Moeder nie die hek gesluit gehou nie?”

      “Hy was onmoontlik om mee huis te hou, Althea. Toe hy opgestaan het, was hy oukei. Hy het die plaatkoekies verslind wat ek vir hom gebak het, maar toe begin hy rusteloos raak, en geïrriteerd met alles. Hy het die afstandbeheerder van die televisie teen die muur gegooi toe dit nie werk nie. En toe wil hy loop en ek sê hy moet bly en hy besef al die deure is gesluit. Ek dog hy word mal. Toe bel ek jou en toe word hy maller. Toe sluit ek maar oop.”

      “Ai, my Moeks.”

      “Ek het hom probeer ompraat om te bly, maar hy wou nie luister nie.” ’n Traan druppel by haar moeder se wang af.

      “Ek is so jammer.” Althea klim uit die motor en hou haar vas. “Ek het nie besef wat ek van Moeks vra nie.”

      “Ek dink hy het weer drugs gaan soek.”

      “Ek vermoed ook so . . . Ek moet gaan. Ek sien Moeder bietjie later.”

      “Althea.”

      Sy skrik vir die hand wat skielik op haar arm rus.

      “My selfoon is weg.”

      Skaamte stamp die skok wat haar verlam uit die pad en skiet haar oë vol trane. Vir die eerste keer in haar lewe weet sy nie wat om te sê nie.

      Haar moeder gee haar arm ’n drukkie. “Jy moet gaan. Ons hanteer dit wanneer jy terugkom.”

      Althea skuif die rathefboom in trurat. “Bel vir Roelof. Hy sal weet wat om te doen.”

      So ver soos sy ry, kyk sy of sy Liam sien.

      Roelof sal die polisie bel. Dis die regte ding om te doen. So skaamkwaad soos sy nou is, sien sy nie nog daarvoor ook kans nie, maar iewers moet dit stop.

      Wie is hierdie mens wat sy ouma se selfoon steel? Dis mos nie haar Liam wat “Hansie Slim” met die dierbaarste lispel ge­sing het by die kleuterskoolkonsert nie?

      Waar het dinge so verskriklik verkeerd gegaan? Waar het sý so verskriklik verkeerd gegaan? Het sy hom nie genoeg pakke slae gegee nie? Moes sy hom ooit pakke slae gegee het? Was dit omdat haar moeder hom feitlik alleen grootgemaak het? Waar­om het Amara dan so goed uitgedraai?

      Sy skrik toe ’n toeter agter haar blaas en besef die verkeerslig is lankal groen. Haar hand vlieg op om jammer te sê voor sy met ’n vaart wegtrek.

      Dalk was dit daardie kind wat Liam in graad twee geboelie het. Sy en Roelof het eers maande later uitgevind dat hy nooit meer pouses buite gaan speel het nie. Die volgende jaar het hulle hom by ’n privaatskool ingeskryf.

      Toe sy by die plek aankom waar die seminaar plaasvind, staan die parkeerarea reeds driekwart vol. Sy kyk op haar horlosie. Sy het tien minute om haar skootrekenaar op te stel voor die lesing moet begin.

      Soos sy die vertrek instap, voel sy almal se oë op haar. Sy trek haar skouers terug en lig haar ken. Dis tog wat hulle van dokter Althea Laubscher verwag. Professionaliteit.

      “Goeienaand, dokter,” groet die raad se verteenwoordiger. “Gee sommer u laptop dat ek dit kan instel. Neem gerus ’n koppie koffie daar agter.”

      Sy oorhandig die rekenaar. Koffie is die laaste ding wat haar adrenaliendeurdrenkte liggaam nou nodig het. Sy skink vir haar ’n glas water. Vermy oogkontak en daarmee saam enige vorm van gesprek met enigiemand.

      Die verteenwoordiger kom nader. “U laptop is reg.”

      “Dankie.”

      Sy stap na haar rekenaar, kies die regte skyfievoorlegging vir die aand en gaan wag in die voorste ry stoele.

      Die verteenwoordiger heet almal welkom. “Ons spreker vanaand het geen bekendstelling nodig nie – dokter Althea Laubscher is seker die mees gesogte onkoloog in die land. Sy is internasionaal bekend vir haar navorsing oor borskanker en spreek gereeld internasionale gehore daaroor toe. Dokter Laubscher het haar mediese graad cum laude verwerf aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna het sy gespesialiseer in onkologie, met die fokus op borskanker sowel as radiologie. Sy publiseer gereeld mediese artikels oor borskanker. Dokter Laubscher, dis ’n voorreg om u hier te hê.”

      Die applous dawer in Althea se ore toe sy opstaan.

      Sy bedank die verteenwoordiger met ’n kopknik en draai na die gesigte voor haar. Almal kyk blinkoog van afwagting na haar. Sou hulle nog só na haar kyk as hulle weet sy het ’n kind wat aan heroïen verslaaf is?

      “Goeienaand, dames en here,” groet sy.

      Sy doen haar lesing met geoefende selfvertroue en laat die gehoor lag met ’n paar kwinkslae op die regte tyd. Gedurigdeur voel sy soos ’n bedrieër.

      Ná die tyd ry sy afgemat huis toe.

      Haar drie huismense sit in die sitkamer op hulle skote en eet.

      “Julle eet laat?” probeer sy met ’n ligte stemtoon sê, maar dit misluk.

      Roelof kyk met koue oë op na haar. “Ons was by die polisie­stasie.”

      Van Roelof af kyk sy na haar moeder na Amara. Sy het geweet dit kom. Sy het dit verwag soos ’n mens op die matriekuitslae wag. Daar is ’n dag en datum wanneer dit ge­beur, maar jy weet nie hoe die uitslae lyk nie.

      “En?”

      Af bord toe sak Roelof se oë. “Jou ma het ’n saak van diefstal gemaak en ’n verklaring afgelê. Hulle soek hom nou.”

      Haar moeder staan op sonder om haar in die oë te kyk. “Jy is seker honger. Ek sal jou kos gaan warm maak.”

      “Nee, Moeks, sit. Ek sal self gaan kry.” Sy moet haarself eers bymekaarmaak.

      Sy skink vir haar ’n glas ystee en neem die eerste sluk terwyl sy teen die kombuistoonbank staan en wag vir haar kos om warm te word.

      ’n Dief moet gevang word, dit moet sy toegee. Sy verstaan dit op ’n kognitiewe vlak. Dis net so anders as dit by haar eie bloed kom.