Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
is die kans dat ek ná die operasie ’n een-en-twintig in ’n goed genoeg tyd sal kan hardloop?”

      Hy het geen idee nie. Hoe lank is die hersteltyd ná so ’n operasie? Hoekom het hy nie gevra nie?

      Miskien is daar tog iets wat hy vir haar kan doen. “Moet ek dit vir jou gaan hardloop?”

      Sy lag vir die eerste keer in dae. Dit laat hom goed voel.

      “Jy hardloop dan nie eens om die blok nie.”

      “Ek is van nature fiks.”

      “Dis teen die reëls.”

      “Dis vir ’n goeie doel.”

      “Ek love die Gun Run. En wat van Adri? Sy het kliphard saam met my geoefen.”

      “Ek sal die ouens vra om saam met my te hardloop, dan stap jy en die girls ’n vyf kilometer as jy wil. Adri kan mos saamstap.”

      “Adri sal tien dode sterf voor sy stap op ’n Gun Run. Sy hardloop die Gun Run vir ’n goeie seeding-tyd. En ek kan my nie indink dat Salomé, Tania en Janine vyf kilometer sal stap nie.”

      “Hulle sal as ek sê dis vir ’n goeie doel.”

      Sy staan op en begin haar afdroog. Hy lê nog ’n rukkie in die water en klim dan ook uit.

      Toe hy in die bed agter haar inskuif, wonder hy of sy sal wil liefde maak. Hy streel met sy hand langs die kontoer van haar sy. Oor haar maag.

      “Nie vanaand nie, Pierre.”

      Natuurlik nie. Wat het hy gedink? Simpel idioot.

      Hoofstuk 4

      Dokter Althea Laubscher knip haar oë teen die skerp ligte van die aankomende motor. Sy flikker haar hoofligte vir die selfsugtige bestuurder, maar dié ry onverstoord verby. Sy stel die radio ’n bietjie harder voor sy op die N1 draai en koers kies huis toe.

      Haar weeklikse vergadering op Stellenbosch het laat klaar­gemaak en die hoofweg is stil. Die meeste padgebruikers is waar­skynlik reeds in hulle beddens. Sy kry haarself nie jammer nie; die vergaderings is deel van haar werk. ’n Deel wat sy normaalweg geniet, waar haar opinie hoog geag word deur ander spesialiste.

      Net jammer dit het op vanaand geval – die aand waarop haar instink haar stu na haar seun se woonstel in Boston. Om Roelof soontoe te stuur was buite die kwessie. Sy sien nog nie kans vir sy reaksie op haar vermoede nie. Vyf maande gelede, toe Liam se verslawing op die tafel was, het hy dit duidelik gemaak dat hy die kind één kans op rehabilitasie gee. Net een.

      Sy skakel haar flikkerlig aan om die Bellville-afrit te neem. Roelof se uitspraak was in elk geval weens onkunde. Waar het jy ooit van ’n CA gehoor wat iets verstaan van die mediese kompleksiteit van opioïede? Heroïen, om spesifiek te wees.

      “Too many people take second best,” sing Fairground Attraction. “But I won’t take anything less. It’s got to be-e, yeah, pe-e-e-e-e-erfect.”

      Voor Liam se woonstel skakel sy die musiek saam met die motor af. Van die straat af kan sy lig in die sitkamer sien brand. Dit beteken niks. Dit kan sy niksnut van ’n woonstelmaat ook wees.

      ’n Geniepsige Oktoberwind klap haar hare teen haar gesig toe sy uit die motor klim, ruk dit net weer los toe sy die stringe agter haar oor invou. Sy buk terug in die motor om haar baadjie van die stapel lêers op die passasiersitplek te kry en trek dit aan.

      Haar hakke klak op elke trap soos sy opklim na die tweede vloer. Sy suig lug in voor sy klop. Vanuit die woonstel hoor sy beweging, maar niemand kom maak die deur oop nie.

      Sy druk weer haar hare geïrriteerd agter haar oor in en klop harder. “Maak oop, dis Liam se ma.”

      Die sleutel draai ’n halfminuut later in die slot. Die ketting stuit die deur en die woonstelmaat se gesig verskyn in die gleufie lig. “Hy’s nie hier nie.”

      Sy vererg haar bloedig. “Maak oop die deur.”

      Dit lyk of die kind dit waaragtig oorweeg om haar teë te gaan. “Nou dadelik!” grom die dier in haar.

      Die niksnut gehoorsaam.

      Sy probeer om nie te fokus op die varkhok wat hulle ’n woon­plek noem nie. “Wanneer laas het jy vir Liam gesien?”

      “Gister. Hy’t eergisteraand hier aangekom, high as a kite. Toe ek gisteroggend hier weg is, het hy nog uitgepass gelê. Gistermiddag toe ek terugkom, was my iPod weg.”

      Haar hart ruk. “En gisteraand? Het hy nie gisteraand huis toe gekom nie?”

      “Hy het. Toe sê ek hy sit sy voete nie weer hier tot ek my iPod terughet nie. Toe chuck hy.”

      “Wie dink jy is jy?” Sy voel sy kan die kind aan sy strot gryp. “Jy huur die woonstel by ons. Hoe kan jy my seun uit mý woonstel sluit?”

      “Hy’t my iPod gesteel.”

      Toornig loop sy na Liam se kamer toe. Sy bed staan onopgemaak. Klere lê die vloer vol. Sy kyk rond vir ’n naald of sigaret­aansteker, lepel of strooitjie wat rondlê, maar sien niks.

      Die niksnut staan haar in die deur en dophou.

      Sy tel die klere van die vloer af op en gooi dit in die was­goed­mandjie. “Van wanneer af gebruik hy weer?”

      “Ek weet nie.”

      Sy gaan staan reg voor hom. “Moenie vir my lieg nie.”

      “Ek lieg nie. Ek was die afgelope week nie hier nie. Eergisteraand toe ek terugkom, was die eerste keer wat ek hom weer high gesien het.”

      “Hoekom het jy my nie laat weet nie?”

      “Ek het vergeet waar ek tannie se nommer gesit het.”

      Sy veg om haar frustrasie onder beheer te kry en loop uit die kamer. By die smerige kombuistoonbank haal sy ’n notaboekie uit haar handsak en skryf haar nommer neer. Sy skeur die bladsy uit en gee dit vir hom. “Jy bel my die oomblik as jy vir Liam sien. Dag of nag. En jy sluit hom nie weer uit nie.”

      “Have a heart. Hy steel my goed.”

      “Sluit dan jou kamerdeur. Jy bel my, hoor jy my?”

      Hy knik en druk die nota saam met sy hande in sy broeksakke.

      Sy gee hom ’n laaste deurdringende kyk en loop by die voordeur uit, waar die wind weer aan haar karring. Het die kind ooit iets warms aan vanaand?

      Sonder om eens daaroor te dink stuur sy haar motor af na Voortrekkerstraat, tot in die maag van Bellville. Die sypaadjies is woelig, met die naglewe van jonges, dwelmverslaafdes en pros­titute in volle gang.

      Nêrens merk sy Liam se tingerige lyf nie.

      Sy draai by Bellville-stasie in. Haar Audi RS5 trek aandag en sy sluit die deure terwyl sy stadig ry en Liam probeer eien tussen die swendelaars en Somaliërs. Hy is nêrens te sien nie en sy stoei tussen teleurstelling en dankbaarheid.

      Hoekom het sy nie gister toe sy niks van hom gehoor het gaan kyk wat aangaan nie? Sy moes toe al geweet het daar is fout. Of toe sy vanoggend gebel het en sy foon af was. Toe moes sy besef het hy het die foon waarskynlik verkoop vir dwelm­geld. Dis immers hoe hulle die eerste keer uitgevind het hy is aan heroïen verslaaf.

      Haar donkerkopseuntjie met die ondeunde glimlag. Die een wat in sy skooljare hulle huis gedurig met maats gevul het. Wat ’n onderskeiding in matriek behaal het.

      Dieselfde seuntjie wat verlede jaar in sy sogenaamde gap-jaar met die verkeerde mense maats gemaak het. Wat binne ses maande elke dwelmmiddel op die mark probeer het en hom toe vasgeloop het met heroïen. The white lady het hom in haar arms toegevou en vrede gegee, die soort ervaring waarna hy só smag dat sy lyf pyn as hy haar nie het nie. ’n Smagting wat hom dryf om geen respek te hê vir homself of ander se besittings nie.

      Terug in Voortrekkerstraat toet motors agter haar terwyl sy die mense op die sypaadjie deurkyk. Sy