Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
kan homself skop dat hy hierdie kankervrye sone so vinnig gekontamineer het. “Dis maar hoe dinge is. Nou moet julle my verskoon. Die werk wag.”

      Hy loop vinnig na sy kantoor en trek die deur agter hom toe. Gaan sit op die hoërug-leerstoel. Laat sy hartklop net eers bedaar.

      Toe hy Vrydag sy ma gebel het, was die nuus nog semi-onwerk­­lik. En die whatsapp-groep hou dinge op ’n gemaklike afstand. Dis ten minste iets sinvols wat hy kan bydra tot die situasie. Maar hier by sy werksmense, hier voel hy blootgestel.

      Die man wie se vrou kanker het.

      Shame.

      Hy wil nie daai ou wees nie.

      Hier wil hy wees wat op die bordjie op sy deur staan: PIERRE DUVENHAGE, PROKUREUR.

      En dis wat hy sal sorg hy sal wees. Niks van Nadine se siekte gaan hier ’n rol speel nie. Dit stop nóú.

      Drie uur later staan hy hoed in die hand by Johan. Dankbaar dat Nadine se nuus vanoggend al gebreek het, sodat hy nie nou hoef te verduidelik nie.

      “Kan ek asseblief afkry môremiddag? My vrou het ’n afspraak by die chirurg.”

      “Sure! Vat af enige tyd wanneer sy die dokter moet gaan sien.”

      Hy skud sy kop. “Ek glo darem nie dis nodig nie.” Dit sal net te verskriklik wees.

      Toe hy laatmiddag by die huis kom, is Nadine reeds daar. “Gaan jy nie draf nie?”

      Hy sit sy aktetas op die gewone plek neer en soen haar skrams op die wang waar sy op die bank met ’n tydskrif sit. Toe sy opkyk, kan hy sien sy het gehuil.

      “My bors is nog te gevoelig.”

      Hy maak die das om sy nek los. “Wat lees jy?”

      “Dis borskankermaand, Sarie is vol artikels daaroor.”

      “O.” Hy mik kamer toe, maar sy kom agter hom aan.

      “Die een vrou se ma het borskanker gehad toe sy tien was,” vertel sy. “En toe sy besluit sy wil ’n dubbele mastektomie kry om borskanker te voorkom, diagnoseer hulle dit by haar ook.”

      Hy wil regtig nie dié stories hoor nie.

      “’n Ander vrou is gediagnoseer toe sy nog geborsvoed het. Sy is sewe en ’n half jaar later dood.”

      “Moenie, Dienks.”

      “Sorry.” Sy blaas haar neus.

      “Jy hoef nie jammer te sê nie.” Nou voel hy soos ’n skurk. “Ek dink net nie dis ’n goeie idee om ander mense se sad stories te lees nie. Hulle stories is nie noodwendig op jou van toepassing nie.”

      Dan besef hy wat hom pla vandat hy by die voordeur ingestap het: die geur van kos hang gewoonlik in die lug as hy by die huis kom. “Het jy al gedink aan iets vir aandete?”

      Sy kyk af na die tydskrif in haar hand. “Nee, ek was nog heel­tyd besig.”

      Nadine hou Pierre se hand stywer vas toe hulle in die hospitaal­gang af loop. ’n Paar dae gelede het sy hier geloop met die effense hoop van ’n misverstand; nou is daar net die waarheid van die kankerpad wat sy moet trotseer.

      Dokter Van Zyl groet vriendelik. “Kom sit. Hoe gaan dit nou met jou?”

      “Ek is fine, dokter.” Freaked out, insecure, neurotic and emo­tional, soos Ferdi dit sou stel.

      “Dis goed om te hoor.” Hy maak ’n aantekening op die skryf­blok voor hom. “Ons gaan eers bietjie na jou agtergrond kyk voor ons enige besluite neem rondom behandeling. Is dit reg so?”

      Sy knik, vermy Pierre se oë.

      “Kom ons begin by die begin. Is daar enige kanker in jou familie?”

      “My pa se suster is oorlede aan kolonkanker.”

      Dokter Van Zyl skryf. “Goed. Enigiemand anders?”

      Sy skud haar kop en neem Pierre se hand.

      Die dokter sit sy pen neer. “Eerstens moet jy nie bekommerd wees nie.”

      Die trane kriewel agter haar ooglede met die aanraak van daardie seer punt.

      “Vir nou gaan ons eers die bors verwyder waarin die kanker voorkom.”

      Verbouereerd klou sy aan Pierre se hand. “Kan dokter nie net die knop uithaal nie?”

      “Dis nie so eenvoudig nie. Volgens die histologieverslag het jy ’n infiltrerende buiskarsinoom wat soos ’n fyn spinnerak deur die borsweefsel versprei. Jy was gelukkig dat jy ’n knoppie gevoel het en ons kon ondersoek instel. By ’n buiskarsinoom in situ kom die kankerselle in ’n buisie voor en is dit nie klinies tasbaar nie. In jou geval het dit deur die buisie gebreek en ’n tasbare knoppie gevorm, wat ons ’n infiltrerende buiskarsinoom noem. Dis egter vinnig groeiend.”

      Pierre vryf oor haar handrug terwyl sy magteloos die trane met haar ander hand probeer afvee.

      “Wat van chemo, dokter?” praat Pierre vir die eerste keer.

      “Ons eerste prioriteit is om die kanker te verwyder. Daarna gaan chemo, selfs bestraling, nie noodwendig nodig wees nie. Ons gaan tydens die operasie ’n okseldisseksie doen om vas te stel of die kanker na die limfnodes onder die arm versprei het. Hier het jy ’n keuse: ons kan net die sentinelnode uithaal en laat toets, of ons haal almal op een slag uit. As ons net die sentinel uithaal en dit bevat kanker, sal ons weer moet opereer om die res van die limfnodes uit te haal.”

      Sy skud haar kop. “Nee, haal maar alles uit, dan is dit uit.” Die man gaan haar bors vat, wat maak ekstra limfnodes saak?

      “Jy moet net weet, as ons al die limfnodes verwyder, gee jy die senuwee onder jou kieliebak vir ten minste drie maande prys – as alles goed verloop. Dit beteken jy gaan geen sensasie onder jou arm oorhê nie. Maar dit spaar jou nog ’n operasie en voorkom dat die kanker wel op ’n later stadium daarheen kan versprei.”

      “As dit die beste is, dan doen ons dit,” besluit Pierre namens haar.

      Dokter Van Zyl skryf. “Wil jy dadelik rekonstruksie doen, of wil jy wag? Vroue vind dit oor die algemeen minder traumaties as om met geen bors ná die operasie wakker te word.”

      Sy kan net knik.

      “Daarvoor sal ek jou na dokter Kruger verwys. Hy is ’n uitstekende plastiese chirurg en ons werk in tandem – ek haal af en hy bou op.”

      Sy vee die trane van haar wange af. Dit klink of die man van die omruil van ’n fietswiel praat.

      Die dokter staan op en steek sy hand uit. “Ons sal jou bel met ’n afspraakdatum vir dokter Kruger. Hy is werklik een van die bestes.”

      “Wat het die dokter toe gesê?” wil haar ma die aand weet.

      “Dis ’n buiskarsinoom wat soos ’n spinnerak in my borsweefsel groei. Hy wil ’n mastektomie doen en al die kliere onder my regterarm verwyder.” Dis vreemd hoe kalm haar stem dit oordra.

      “Ma?” vra sy toe die stilte so lank rek dat sy wonder of die sein onderbreek is.

      “Wanneer?”

      “Ek weet nie . . . so gou moontlik. Ek het môre ’n afspraak by die plastiese chirurg, en dan sal ons seker goedkeuring by die mediese fonds moet kry.”

      Weer stilte.

      “Moet ek kom?”

      Ja, natuurlik moet sy kom! Watter kind het nie in hierdie tyd haar ma nodig nie?

      Maar sy sê dit nie, want sy weet dis nie in haar ma se aard om siekes op te pas nie. Sy sal buitendien net later ’n versko­ning kry oor hoe haar ma nie nóú haar kosbare naaldwerkwinkel en toekomstige bruide en matriekafskeidpoppies in die steek kan laat nie. En vir daardie teleurstelling is sy nie lus nie.

      “Ag nee wat. Daar is tog niks wat Ma hier kan kom doen nie.”

      Die