Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
n>

      

      Juanita Aggenbach

      GISTER IS VERBY

      Human & Rousseau

Vir André

      Proloog

      Nadine hou Althea dop. Soekend na emosie, betekenis, erkentenis, énigiets terwyl die onkoloog die lêer voor haar deurblaai.

      Sy vind niks. Nie goedkeuring nie. Nie afkeuring nie. Niks.

      “O.” Althea frons. “Die beenflikkergram se uitslae is nog nie hier nie. Gaan maar gou vir jou bestraling. Dit help nie ons bespreek jou resultate sonder die beenflikkergramverslag nie.”

      Opeens is Nadine terug in dokter Neethling se spreekkamer amper agt maande gelede. Die dag toe hy haar gestuur het vir ’n mammogram. Toe hy geweet het sy het waarskynlik kanker in haar bors, maar hy wou dit eers bevestig.

      Althea tel die telefoon op. “Jy kan maar gaan. Ek sien jou ná die bestraling.”

      Jelliebene dra Nadine die kantoor uit.

      Enigiemand wat skoon resultate op daardie verslae gesien het, sou geglimlag het, maar Althea Laubscher se gesig het geen spoor van ’n glimlag nie.

      Hoofstuk 1

      Die muurhorlosie in die sonarvertrek tik in duidelike slae die sekondes af.

      Nadine sluk. “Kan ek net eers my man bel?”

      Dokter Neethling vang die sonar-tegnikus se oog voor hy sim­patiek na haar kyk. “Natuurlik, neem jou tyd.” Hy krabbel iets in sy notaboek en hou die papier na haar toe uit. “Dokter Van Zyl wag vir jou by hierdie kantoor.”

      Met snel gedagtes en trae hande trek Nadine die bra en bloes wat sy in die aantrekhokkie gelos het aan. Haar hart klop angstig in haar ore. Sy hang haar handsak oor haar skouer en stap niks­siende tot by haar motor in die parkeerarea.

      Die motor is warm van heelmiddag se staan in die son.

      Sy draai die venster af en bel vir Pierre wat bly klink om haar stem te hoor.

      Die groeiende vrees vir die draaikolk wat haar intrek kry die oorhand en sy snik ’n groet uit.

      “Wat gaan aan? Was jy in ’n ongeluk?”

      “Die ginekoloog het my vir ’n mammogram gestuur en . . .” Nog ’n snik smoor verdere woorde.

      “Nadine?”

      Sy vee haar nat hande aan haar broek af. “Hulle wil ’n biopsie doen. By ’n chirurg. Nou.”

      “Ek is op pad.”

      Nadine kyk na die foon wat skielik stil geword het in haar hand. Pierre is op pad, eggo dit terwyl sy die venster weer toedraai en terugstap hospitaalgebou toe, na die onbekende dokter Van Zyl toe wat haar haar bloes en bra laat uittrek.

      “Kom ons begin by die begin,” sê dokter Van Zyl. “Het jy enige trauma, soos ’n harde stamp op jou bors, gehad?”

      Nadine hou die dun jurkie wat hy haar gegee het om haar mee te bedek toe waar sy op die ondersoekbed sit. Dokter Neeth­ling het dieselfde gevra voor hy haar vir die mammogram ge­stuur het. “Nie wat ek kan onthou nie. Kan ’n stamp so iets veroorsaak?”

      “Trauma van die bors veroorsaak nie kanker nie, maar dit kan lei tot vetnekrose in ’n gebied waar die weefsel beseer was. Die vet in die selle word dan vrygestel in die weefsel en veroor­saak ’n inflammatoriese respons wat as ’n knop gevoel word. Jy kan maar plat lê, asseblief.”

      Sy maak haar oë toe toe hy die bietjie bedekking wegneem.

      “Ek gaan eers doodspuit. Dis gevoelig, ek is jammer.”

      Skok stol in haar keel toe sy die eerste brandsteek langs haar tepel voel. Nog ’n steek laat haar die laken in haar linkervuis vasgryp.

      Nog ’n keer. En weer. Dis sigaret-teen-die-vel-dooddruk-seer.

      Sy is uitasem toe die naald ’n vyfde keer haar liggaam bin­ne­dring. “Doen jy al die biopsie?”

      “Nee, ek spuit nog net dood. Ek is jammer, ek weet dis seer.”

      Sy klem haar kake saam en kry eers ordentlik lug in haar longe toe hy ná die sesde keer die inspuitnaald eenkant sit.

      “Ons gaan ’n trucut-biopsie doen.” Hy tel ’n dik naald op. “Hiermee verwyder ons ’n strooitjie weefsel uit die knoppie in jou bors en stuur dit na ’n patoloog om te bepaal of dit kankerselle bevat. Is jy reg?”

      Toe die dikker naald deur haar vel breek, gryp sy die laken met haar linkerhand vas en draai haar kop na die muur toe.

      Pierre blaas gefrustreerd sy asem uit toe die parkeeraanwyser beduie dat al die plekke gevul is. Die hartklop wat in sy keel hamer, het nog nie bedaar vandat hy Nadine se oproep gekry het nie.

      Verwoed maak hy ’n driepuntdraai en stuur die motor na die dakparkering die verste weg van die hospitaal se ingang. Hy parkeer skeef in die eerste oop plek en sluit die motor met die afstandbeheerder toe hy al ’n paar tree daarvan weg is.

      Daar is niemand by die ontvangstoonbank nie. Die klerk by die fotostaatmasjien neem ’n ewigheid om om te draai van waar­mee sy ook al besig was.

      Hy tik met sy vingers op die toonbank. “Ek soek na die gine­koloog by wie my vrou was.”

      “Hier is vier ginekoloë by ons.” Sy kyk oor haar bril na hom. “Het u dalk die dokter se van?”

      “Nee.”

      “Ek skakel hulle sommer gou. Wat is u vrou se van?”

      “Duvenhage.”

      “U vrou was by dokter Neethling,” sê die klerk toe sy die foon neersit. “Sy is nou by dokter Van Zyl, die chirurg. Volg net die gang, draai regs en weer regs, sy spreekkamer is aan die linkerkant.”

      “Dankie.”

      Pierre haas hom die gang af. Hy het geweet daar is fout. Die eerste keer toe hy bloed op Nadine se bra gesien het, het hy vir haar gesê om by ’n dokter uit te kom.

      Maar toe weet sy mos beter, wil vir hom vertel dis weens haar baie oefening. Watse snert.

      Die vrou by die chirurg se ontvangs lyk of sy reeds opgepak het vir huis toe gaan. “Middag, meneer. Kan ek help?”

      Hy laat rus beide sy hande op die toonbank. “Ek hoor my vrou is by dokter Van Zyl. Nadine Duvenhage?”

      Die vrou knik. “Sy behoort nie meer lank te wees nie. U kan gerus sit.”

      Hy kies ’n sitplek in die verlate wagkamer en tel die boonste van die stapel tydskrifte op. Hoe lank neem ’n biopsie? Wat behels ’n biopsie?

      Blindelings blaai hy deur die tydskrif. Maak dit toe en sit dit neer. Wie probeer hy bluf?

      “Ons is klaar.” Dokter Van Zyl lyk verlig toe hy die naald neersit.

      Nadine vou die jurk oor haar borste toe. “Wanneer kry ek die uitslag, dokter?”

      “Ons behoort jou teen môre al te laat weet.” Hy trek die hand­skoene van sy hande af. “Gaan nou huis toe en ontspan. Jy het ’n lang middag agter die rug.”

      Om haar bors wat so seer klop te lawe skuif Nadine dieper onder die water in. “Ek moes ná die mammogram werk toe bel om die middag af te vra. En dít drie weke nadat ek daar begin het.”

      Pierre leun oor om nog warm water in die bad te tap. “Het jy vir hulle gesê hoekom?”

      “Ja. Hannah het net gesê: ‘You gotta do what you gotta do.’”

      “Ek is seker hulle sal nie ’n issue hê nie.”

      Sy vee met haar nat hande oor haar gesig. “Ek kan nie gló wat vandag gebeur het nie. Hier gaan ek vir my gewone jaarlikse ondersoek ginekoloog toe en om met dokter Neethling te praat oor ons wat met ’n gesin wil begin. Toe kry ek nie eens kans om hom te vra oor die Pil wat ek vandag wou los nie.”

      “Hy