Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу
natuurlik aan sy is hier om haar borste te laat vergroot.

      Die dokter bly agter sy lessenaar sit toe sy en Pierre in sy hei­ligdom toegelaat word. “Middag, middag,” groet hy sonder om op te kyk, sy aandag by die verslae wat voor hom oopgesprei lê.

      Hulle nooi hulleself om te sit. Die vertrek vol spieëls herlei haar irritasie.

      “So, jy sê daar’s geen familiegeskiedenis van kanker nie?” Steeds sonder om op te kyk.

      “Nee.” Sy gaan die man beslis nie van haar tannie vertel as die chirurg dit nie belangrik geag het nie.

      Hy skryf iets en sit sy pen neer. “Goed, trek maar uit.”

      Asof hy verbaas is dat sy dit nog nie gedoen het nie. Kan ’n mens ’n dokter by die mediese raad verkla vir swak maniere?

      “Hier?” Sy kyk vinnig na Pierre.

      Dokter Kruger sit verveeld terug. “Waar ook al.”

      Sy kan hom net aanstaar.

      Hy sug. “Jy’s by ’n plastiese chirurg, wat het jy gedink gaan jy hier doen?”

      “Ek sal daar binne gaan uittrek.” Sy wys na die aangrensende vertrek en loop onder sy ongeskiktheid uit.

      Tot haar ontsteltenis is daar geen jurk nie. Noodgedwonge vou sy haar arms oor haar borste en wag vir die man om in haar nagmerrie in te stap.

      “Laat ek sien.”

      Skaam laat sy haar arms sak.

      Hy bekyk haar borste met ’n diep frons tussen sy oë. “Sjoe, maar dis ’n paar treurige borsies wat jy het.”

      Die vertrek duisel om haar. Sy voel soos ’n ongewenste insek.

      Hy kom regop. “So, watter cup size wil jy wees?”

      “Ek weet nie.” Sy byt hard op haar tande om nie aan die huil te gaan nie.

      “Moet ek die afspraak maak vir ’n ander dag?”

      “’n A. Ek is ’n A-cup.”

      “Dit werk nie so nie. Sit stil dat ek kan foto’s neem, dan sal ek verduidelik.”

      Waar is Pierre? Hoekom bly hy in die spreekkamer sit as sy hom hier nodig het?

      “Draai muur se kant toe dat ek jou van die kant af kan afneem.”

      Sy gaan sweerlik sterf van verleentheid met die kamera so naby aan haar dat dit amper aan haar bors raak.

      “So ja. Trek maar aan, dat ek met jou en jou man kan praat.”

      Haar vingers kan nie vinnig genoeg haar bra vaskry en haar bloes oor haar kop trek nie.

      Pierre neem haar hand toe sy weer langs hom gaan sit.

      “Ons kan nie vir jou ’n A-cup gee nie,” begin die dokter. “Want ’n normale bors en ’n prostese lyk verskillend – die een hang en die ander staan op aandag. Die kleinste wat ons kan gaan sodat dit eweredig kan lyk, is om in die gesonde bors ’n A-cup te sit sodat dit ’n B-cup kan vorm en dan maak ons ’n B-cup aan die ander kant. ’n A-cup plus ’n A-cup maak ’n B-cup. Jy verstaan?”

      Sy knik vir die-dokter-wat-sy-nooit-weer-wil-sien-nie.

      “Jy het niks om die lyf nie, so ons gaan ’n dorsaleflap-operasie doen.” Hy teken ’n prent van ’n rug op die bladsy voor hom. “Dit beteken ons gaan vel, weefsel en spier hier uithaal.” Hy wys na die gedeelte net onder die regtervlerk. “Ons plaas dit oor die prostese sodat dit soos ’n natuurlike bors voel.”

      Sy kyk onderlangs na Pierre. Hoe voel hy hieroor?

      Die dokter skuif die tekening eenkant toe. “Dis dan al. As ek jou weer sien, is dit wanneer jy kom vir die prosedure. Totsiens.”

      Sy hou haar in tot hulle buite die hospitaal is. “Ek haat daar­die man! Ek soek ’n ander dokter.”

      “Hy het met my gepraat terwyl jy aangetrek het.” Pierre se oë bly op sy skoenpunte.

      “Het hy jou vertel dat ek treurige borsies het?” Sy voel simpel dat sy al weer trane moet afvee.

      “Hy het gesê hy weet hy kom hard oor, maar hy het self ver­lede jaar kanker gehad en hy het gevind dat simpatie nie werk nie.”

      “Ek gee nie om of hy al sy ledemate verloor het nie, ’n dokter kan nie so optree nie.”

      “Ek weet.”

      “Ek wil nie teruggaan na hom toe nie.”

      “Nadine, dokter Van Zyl het hom aanbeveel. Jy hóéf nie van hom te hou nie. Hy moet net sy werk reg doen.”

      “Hy is ongeskik.” Sy druk haar vingers teen haar oë toe haar voete nie verder wil loop nie.

      Pierre se arms vou om haar. “Toemaar, toemaar. Dit sal ook verbygaan.”

      Hy lei haar motor toe, maak die deur vir haar oop en laat haar inklim voor hy omloop en agter die stuurwiel inskuif.

      Sy kyk na die stompgesnoeide bloekombome langs die pad. Seker dekades oud. Ontneem van hul blare. Ontneem van die groen wat hulle mooi bome maak. Al wat oor is, is stompe. Kaal stompe. En dit laat haar van voor af huil.

      Pierre trek besadig weg nadat hy Nadine by die huis afgelaai het. Hy ry af in die stil straat tot waar hy dink sy nie meer die motor se dreuning kan hoor nie en dan gee hy vet. Blindelings, asof hy sy frustrasie oor die aaklige doktersbesoek op die voertuig kan uithaal.

      ’n Rooi lig stuit hom. Die woede in sy gemoed bou só op dat hy eers besef hy is besig om die enjin se toere op te jaag toe die mense in die motor langs hom vererg na hom kyk.

      Toe die lig groen slaan, trek hy met ’n spoed weg. Hy klim op die snelweg en jaag die spoednaald op . . . 130, 140, 160 vlieg hy verby die verkeer in die rigting van Kaapstad. Hy skree diep uit sy keel toe hy besef hy kan nie wegjaag van die gevoelens wat in hom maal en kolk nie en verminder spoed.

      Hoe kan al hierdie dinge met hulle gebeur? Hoe is dit moont­lik? Hoe moet hy sy vrou beskerm teen hierdie dokters wat haar borste bekyk en bevoel en bevat en hy sit net daar, soos ’n stom pop, tot in sy breinstam verlam van skok?

      Hy neem die naaste afrit en ry met die brug oor die snelweg om die motor terug in die rigting van die huis te stuur. Vanmiddag kon hy daai verdomde man wat homself ’n dokter noem se vingers breek. Die ribbes in sy borskas een vir een stukkend skop, sy nek omdraai van woede toe hy so onsensitief teenoor Nadine was.

      Sy voet trap die petrolpedaal weer dieper in. Wat weet daai kwak? Wat weet hy van hoe mooi Nadine se borste vir hom is? Hoe mooi sý vir hom is? Wat weet die man? Niks!

      Die naald draai weer by 160 en hy moet vinnig rem toe ’n wit Toyota voor hom inswenk. Sy hart klop wild toe die motor skeef trek en hy met moeite weer beheer daaroor kry. Hy moet stadiger.

      Hy trek oor na die linkerbaan en draai af na die naaste kos­plek vir ’n wegneemete. Nadine het hom nodig. Maar hy weet waaragtig nie of hy dit in hom het om haar deur hierdie ding te help nie.

      Ná ete gaan draai hy die badkrane oop. Nadine kom in en was haar gesig met die buisie gesigseep wat sy altyd in die badkamer­kassie bêre.

      Hy hou haar stilweg dop. Sy is ’n mooi vrou. Lang blonde hare, hoë wangbene. Móói.

      “Die water,” ruk sy hom terug na die werklikheid.

      Hy draai die krane toe en klim in. Toe sy haar kamerjas uit­trek en ook inklim, reageer sy lyf instinktief op haar naakte liggaam. Al kan hy nie die bloupers merke op haar regterbors ignoreer nie.

      “Is dit nog seer?”

      Sy knik. “Baie. Ek weet nie wat om te maak omtrent die Gun Run Saterdag nie. Ek kan nie dink dat ek een-en-twintig kilometer met hierdie seer bors kan hardloop nie.”

      “Jy kan later weer races hardloop.”

      “Dis juis die probleem: