Gister is verby. Juanita Aggenbach. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Juanita Aggenbach
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798176330
Скачать книгу

      Heeltyd het sy gedink daar moet ’n ander verklaring wees vir die knoppie in haar bors. Heeltyd was sy oortuig dit kan nie borskanker wees nie. Dit kan nie, want sy is te jonk. Sy is te fiks. Heeltyd soek sy die sondebok tussen digte borsweefsel, melkklierontsteking en te harde oefening. Leen sy haar ore uit aan haar ma en Adri.

      Hoe kon sy so dom gewees het?

      Adri het wel ook gesê sy moet vir die wis en die onwis ’n mammogram laat doen. Maar Adri is ’n suster by ’n hospitaal waar sy daagliks in die verkeerde kant van diagnoses vaskyk, natuurlik sal sy meer paranoïes wees. Die digteweefselteorie het Nadine beter gepas. Dit was minder vreesaanjaend.

      Sy moet Pierre bel.

      Vandat hy die eerste keer die bloederige afskeiding op haar bra gesien het, het hy gekarring dat sy daarna moet laat kyk. Maar sy wou nie. Sy het beter geweet. Die afskeiding het in elk geval gekom en gegaan.

      Sy trek voor die huis in en kyk na die motorhuisdeur voor haar. Met ’n steekpyn in haar binneste onthou sy hoe Pierre met uitgestrekte arms daar gestaan en “Surprise!” geroep het ná haar eerste dag by Fashion Corp. Toe het hy haar uitgeneem vir ’n bord garnale om haar nuwe pos te vier.

      Sy klim uit toe die nostalgie haar wil beetkry. Die sleutel knars in die veiligheidshek, dan in die voordeur. Sy sluit weer agter haar toe.

      Is dit die einde?

      Swaartekrag trek haar vloer toe. Vrees neem van haar besit en loop oor haar wange tot op haar skoot. Gaan sy nie oud word saam met Pierre nie? Gaan sy nooit haar eie kinders sien nie?

      Toffie kom skuur teen haar.

      “Kom hier.” Sy snuif en tel hom op. Die kat se lyf is vertroos­tend teen hare terwyl sy oor sy sagte pels streel.

      Gister was die dag dat die dokter vir haar moes sê sy kan die Pil los. Hy moes sê hulle kan met ’n gesin begin. Hy moes sê alles lyk goed.

      Gister is verby.

      Hoofstuk 2

      Haar lyf voel styf en koud wanneer Nadine van die vloer af opstaan. Sy strompel in die gang af badkamer toe.

      Die afspoel met koue water help niks vir haar opgehewe oë nie, sien sy in die spieël. Sy droog haar gesig af en gaan soek haar foon in haar handsak. Pierre moet weet.

      Manstemme bulder in die agtergrond toe hy antwoord. “Hey, Dienks, het jy iets gehoor?”

      Haar stembande kraak. “Dis kanker.”

      Die geraas in die agtergrond verdwyn. “Hoe ver is dit ge­vor­der?” kom sy stem duideliker deur.

      “Ek weet nie. Ek kon nie myself sover kry om iets te vra nie.”

      “Is jy by die huis?”

      “Ja.”

      “Ek kom so gou ek kan.”

      Pierre druk die foon dood. Meer as ’n maand gelede het hy vir haar gesê om vir ’n ondersoek te gaan, toe wil sy niks daarvan hoor nie.

      KANKER.

      Hy moet by haar uitkom, sy is waarskynlik buite haarself van vrees.

      Hoe ver het dit teen dié tyd al versprei? Sou hulle dit kon keer as sy vroeër gegaan het? As sy net vir ’n verandering na hom wou luister!

      Verwyte gaan hom nêrens bring nie.

      Hy bel die lugdiens by O.R. Tambo.

      “Jammer, meneer, die eerste beskikbare plek op ’n vlug Kaap toe is eers môreoggend.”

      “Is jy seker? Ek moet baie dringend in die Kaap kom. Is daar nie ’n bystandlys nie?”

      Dit sal nie werk nie, tref dit hom, die ouens hier se alkohol­vlakke is beslis almal oor die limiet en selfs met Uber is hy ’n uur en ’n half se ry van die lughawe af, veels te ver om op kort kennisgewing daar uit te kom.

      “Los maar. Hoe vroeg is die eerste vlug môreoggend?”

      Met die bespreking afgehandel gaan hy traag terug na die geselskap. Hy het sy lus vir partytjie hou verloor. Wat het hom besiel om Pretoria toe te kom, terwyl hy moes geweet het dis ’n slegte idee?

      Dan onthou hy: Nadine was so absoluut oortuigend.

      Dis mos wat sy doen. Volg haar eie kop en weier om na sy raad te luister.

      Nadine spartel om kop bo water te hou. Kanker, bórskanker, hamer die woorde aanhoudend in haar brein.

      Haar ouers. Sy moet haar ouers bel. Sy soek haar ma se nommer in haar foonlys.

      “Hoe klink jy só?” vra haar ma. “Is jy siek?”

      “Ek het vanmiddag gehoor ek het borskanker.”

      Dit blerts net uit. Haar ma se snak na asem is hard in haar ore.

      “Dit kan mos nie wees nie?”

      “Dit is.”

      “Is Pierre by jou?”

      “Nee, hy is in Pretoria.”

      “Luister, Nadine . . . Ek bel jou weer later.” Die telefoonlyn gaan dood.

      Sy vee haar gesig met ’n sneesdoekie droog. Wat het sy ge­dink? Haar ma was nog nooit goed met emosie nie. Veral nie met siekte nie. Vir seergevalde knieë was die pleisters in die kombuiskas laag genoeg vir hulle drie kinders om self uit te haal en op te plak indien nodig. En as een van hulle siek was, het dit nie gehelp om by haar ma in die bed te gaan klim nie, want dié het geglo jy gaan nie minder hoes omdat jy in ’n ander bed lê nie.

      Sy haal nog ’n sneesdoekie uit die boks. Sy is heeltemal alleen.

      Tot haar verbasing bel haar ma ’n rukkie later terug. Sy antwoord dankbaar.

      “Ai, my kindjie. Is jy oukei? Wat sê die dokter presies?”

      Dis haar pa. Om sy stem te hoor maak die hartseer oorwel­digend.

      “Ek weet nie, Pappa, ek het niks verder gevra nie. Al wat hy gesê het, is dat ek kanker in my bors het.”

      “Ek is so jammer, Dienkie.”

      “Ek ook, Pappa.” Haar kop ruk op van die onverwagte klop. “Hier is iemand by die deur. Ek moet gaan.”

      Sy is stomgeslaan toe sy haar broer by die voordeur sien. “Ferdi . . .”

      “Ma het my gebel.” Hy vou haar in sy arms toe en streel oor haar hare.

      Dís haar ma, die praktiese Madel van Breda wat alles hanteer soos sy haar naaldwerkbesigheid hanteer. As ’n naat skeef gestik is, huil jy nie daaroor nie, jy trek dit los en stik dit reg.

      Die trane in Ferdi se oë tref haar diep toe sy uit sy arms wegtrek. In die twee-en-dertig jaar van haar leeftyd het sy haar broer nog nooit bewoë gesien nie.

      En sý is die oorsaak.

      Haar foon lui. Sy vee haar trane met die rugkant van haar hand af. “Dis Pierre.”

      “Dienks, die eerste vlug is eers môreoggend sesuur.” Sy stem is gelaai met frustrasie.

      “Dis oukei. Ferdi is hier.”

      “Dis goed.” Vir ’n oomblik is dit stil. “Ek het my ma gebel. Sy is in ’n toestand en ek het vir haar gesê sy moet jou nie bel nie.”

      “Oukei.”

      “Ek sal al die vriende laat weet, moenie daaroor worry nie. Ek sal vra dat hulle jou eers nie pla nie . . . Of wil jy met hulle praat?”

      “Nee, nie vanaand nie.”

      “Is daar enigiets wat ek nou vir jou kan doen?”

      “Niks nie.” Sy voel skuldig oor die desperaatheid in sy stem.

      In die kombuis, terwyl sy vir hulle tee maak, lui haar foon weer.

      “Hallo,