Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
van die kant van die publiek. Kan mense hul eie taal gebruik in winkels en ander sakeondernemings of as hulle met een van die openbare instellings in aanraking moet kom?

      Vrae oor kulturele funksies sal die volgende insluit: Is dit ’n koeranttaal? Word dit oor die radio en televisie gebruik? In rolprente? Is daar ’n lewenskragtige letterkunde? Is die taal ’n skool- en universiteitstaal?

      Hierdie vrae kan ’n mens regstreeks beantwoord deur opnames te maak van wát mense wáár praat. Vrae oor die houding van mense teenoor hul eie en die ander taal word op ’n meer onregstreekse wyse benader.

      In Montreal in Québec, Kanada, het navorsers die houdings van taalgebruikers oor Frans en Engels ondersoek. Volledig tweetalige taalgebruikers het ’n teks in Engels en ’n weergawe van dieselfde teks in Frans voorgelees. Bandopnames is daarvan gemaak en die bandjies dan voorgespeel aan ’n aantal proefpersone. Nadat hulle geluister het, moes hulle sê wat hulle van die mense dink wat die tekste voorgelees het. Omdat dieselfde mense die teks in albei tale gelees het, kon die stem, die manier van praat en die intonasie nie die luisteraars beïnvloed nie. Die luisteraars het nie geweet dis dieselfde persone wat die Frans en Engels voorgelees het nie.

      Die Engelstalige Kanadese het elke keer gesê dat die persone wat die Engels voorgelees het, intelligenter, vriendeliker en ambisieuser was as dié persone wat die Frans gelees het. Die tweede groep proefpersone was Franse Kanadese, en ook hulle het positiewer oor die Engelstalige as die Franstalige voorleser geoordeel. Net oor vriendelikheid en godsdienstigheid het hulle die lesers van hul eie groep hoër gewaardeer.

      Die Franse taalgemeenskap hoort tot ’n laer sosiale laag en wanneer ’n taal gepraat word deur ’n groep met ’n lae sosiale posisie, word die taal en sy sprekers self ook negatief gewaardeer.

      Ons het nou gesien watter prosesse werksaam is waar die posisie van ’n taal verander.[49] Die oorsake van die genoemde demografiese prosesse, taalassimilasie, taalverplasing en die groei van ’n taal tot tweede taal vir anderstaliges is die onderwerp van hoofstuk 2.

      HOOFSTUK 2

      Waarom groei en kwyn tale?

      Tale groei of kwyn as gevolg van demografiese prosesse en taalverskuiwing en taalverskuiwing vind plaas ten gevolge van noue kontak tussen mense van verskillende taalgroepe, winste of verliese in hoë funksies, veranderde houdinge teenoor die eie en die ander taal en groter of kleiner taalgetrouheid. Maar wat lei tot elk van hierdie prosesse of verskynsels? Wat lei tot ’n groot vermindering van die bevolking? Hoe gebeur dit dat een taalgemeenskap nuwe hoë funksies kan wen en daardeur ’n werfkrag verkry wat ander tale miskien nie het nie?

      Die faktore wat die groei- en agteruitgangprosesse veroorsaak, is die onderwerp van hierdie hoofstuk.

      1 NATUURLIKE FAKTORE

      Hongersnood en siekte – wat albei so noodlottig was vir Iers – het ’n hoë tol in baie lande geëis. Wes-Europa het tussen 1000 en 1855 sowat 450 hongersnode gehad; dié van 1315 tot 1317 was so erg dat mense honde, katte, boomwortels, duiwemis en selfs hul eie kinders geëet het. Uitgehongerde gevangenes het nuwelinge aangeval en half lewend verslind. In China was daar 1 828 hongersnode van 108 v.C. tot 1911.

      ’n Ewe groot bedreiging is siektes. Meer as een geleerde meen dat chroniese en epidemiese siektes ’n groter invloed op die geskiedenis gehad het as die optrede van die mens. Tifus, pes, disenterie, skeurbuik, cholera, pokke en masels het tot baie onlangs gemaai onder die mensdom. Soos reeds gesê, het die Swart Dood in 1348 ’n kwart van die bevolking van Europa laat sterf.[1]

      Ook op die lotgevalle van ander tale as Iers het siekte en hongersnood ’n invloed gehad.

      ’n Pesepidemie wat ná 542 n.C. die lewens van moontlik miljoene mense geëis het, het die Bisantynse keiser Justinianus gedwing om sy leërs kleiner te maak. Die Bisantynse verdediging was so verswak dat die magte van die Islam Egipte en Sirië kon verower en Arabies na hierdie gebiede kon laat deurdring.

      In die derde millennium voor Christus het die sprekers van Sumeries in Mesopotamië begin plek maak vir die sprekers van Akkadies. Laasgenoemde het vermoedelik in groot getalle na die Sumeriese stede gestroom sodat hulle naderhand meer was as die Sumeriërs. Sumeries het nog ’n lang tyd die taal van die priesters en ander geleerdes gebly, maar Akkadies het die omgangstaal geword. William McNeill meen dat hierdie vervanging van Sumeries deur Akkadies die gevolg was van ’n ongewoon hoë sterftesyfer weens siekte, hongersnood of oorlog, of miskien al drie saam.[2] McNeill beskryf in sy boek ook ander gevalle waar siektes ’n diepgaande uitwerking op die ondergang van tale en beskawings gehad het.

      Op die Amerikaanse vasteland is talle Indiane dood en het verskeie Indiane-tale uitgesterf as gevolg van Westerse kolonisasie. Naas geweld was siekte die belangrikste oorsaak van die geweldige lewensverlies.

      Die Indiane was eeue afgesonder van Europa, Asië en Afrika, waar die bevolkings mettertyd – nadat epidemies ook onder hulle gemaai het – taamlik immuun teen epidemiese siektes was. Die Indiane het die nuwe siektes egter maklik gekry en nog makliker daaraan gesterf. Dis onseker hoeveel Indiane daar voor die koms van die blankes was. Sommige skattings plaas hulle op tussen 8 en 14 miljoen, maar party latere ramings is veel hoër – tot 130 miljoen, waarvan 25 tot 30 miljoen in Mexiko. Teen 1568, minder as vyftig jaar nadat die Spanjaarde onder Cortez in aanraking met die Asteke gekom het, het die bevolking van Mexiko tot 3 miljoen gedaal en ná nog vyftig jaar was dit 1,6 miljoen.

      Die herstel het maar stadig plaasgevind. McNeill haal ’n taamlik onlangse voorbeeld aan om te wys hoe kwesbaar afgesonderde mense vir kontak met die buitewêreld is. In 1903 het ’n Suid-Amerikaanse stam, die Capayo, toegelaat dat ’n sendeling hulle bearbei. Toe hy daar kom, was die stam tussen 6 000 en 8 000 sterk. Teen 1918 was daar maar 500 oor, teen 1927 slegs 27 en in 1950 nog net twee of drie. Die mense is almal aan siektes dood wat hulle andersins nie sou gekry het nie.

      2 MAGTELOOSHEID/MAGMISBRUIK

      Die honger en siekte wat Ierland in die negentiende eeu getref het, het ’n proses aan die gang gesit, of ’n proses versnel, waardeur die Iere hul taal laat vaar het, is in die eerste hoofstuk aangevoer.

      Waarom kon dit gebeur?

      Die Engelse was toe reeds lank in Ierland en die Ierse parlement was sedert 1494 aan die Engelse parlement onderhorig. Die Iere kon geen wetsontwerp voor die parlement lê voordat die Engelse koning en sy ministers dit nie eers goedgekeur het nie. Alle Engelse wette sou in Ierland van krag wees. In 1800 het Engeland die Iere gedwing om ’n unie tussen die twee lande te sluit. Die Ierse parlement het verdwyn en die Iere het sitting in die Britse parlement gekry. Dáár was hulle altyd ’n minderheid. Die Engelse parlement kon op baie demokratiese wyse wette aanneem waarmee die Iere nie gediend was nie.

      Die Engelse kon die Iere ook onregstreeks benadeel. Laasgenoemde was hoofsaaklik Rooms-Katoliek, maar tot 1829 kon die Katolieke nie staatsbetrekkings beklee, parlementslede word of aan sommige universiteite (soos Oxford en Cambridge) gaan studeer nie. Die oorsaak van baie Iere se armoede was dat aristokratiese Engelse ’n groot deel van die grond besit het. Hulle het die grond nie self bewerk nie, maar verpag, en kon die pag te enige tyd opsê. Wanneer daar misoeste was, kon die grondbesitters die pagters maklik in die pad steek.

      Kon die Iere dan niks daaraan doen nie? Die antwoord is dat Engeland te sterk was. Ten tyde van die Engelse burgeroorlog in die jare veertig van die sewentiende eeu het die Iere teen die Engelse oorheersers gerebelleer. Oliver Cromwell en sy sogenaamde “Ironsides” (sy dapper en gedissiplineerde soldate) het die opstand meedoënloos onderdruk. Die Engelse het baie opstandelinge na hul Wes-Indiese kolonies gestuur, beslag gelê op ’n groot deel van die grond en dit onder Cromwell se veterane verdeel. Die vroeëre Ierse grondbesitters moes na moerasse en berggebiede padgee en daar ’n ellendige bestaan voer. Die bevolking het van 1,5 miljoen tot 600 000 gekrimp.

      Engeland het die militêre mag gehad om te doen wat hy wou. Ierland was magteloos. Só kon die Engelse aan die Iere ’n politieke stelsel opdwing wat hulle belet het om hul eie sake bevredigend