Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
taalkundige nasleep gehad. N.J. van Warmelo skryf dat dit voor 1815 moontlik sou gewees het om die swartmense van Natal in drie taalgroepe te verdeel. Onder die bewind van Shaka het ’n standaardtaal gegroei wat taamlik eenvormig oor die hele gebied is.[8]

      Omstreeks dieselfde tyd het nog ’n taal uitgewis geraak: Tasmanies, die taal van die oorspronklike bevolking van Tasmanië wat deur die Engelse koloniste uitgeroei is. In nog drie lande het die inheemse tale verdwyn of is hulle besig om uit te sterf as gevolg van onder meer die geweld teen die sprekers daarvan. Dié lande is Australië, Nieu-Seeland en die VSA.

      Die antropoloog Robert Havighurst sê dat die vestiging van die koloniste in dié drie lande op basies dieselfde manier verloop het. Eers is baie versigtig kontak gemaak om handel te dryf. Van kolonisering was daar aanvanklik nie sprake nie. Daarna het die koloniste gaan woon op grond wat hulle van die inboorlinge afgeneem het. Teen dié grondroof het laasgenoemde hulle gewoonlik verset, maar altyd die neerlaag gely en so ver moontlik weggetrek.

      Daarna het die Engelse gemeenskappe ’n assimilasiebeleid teenoor die kwynende bevolkings gevolg. ’n Minderheid van die inboorlinge het die beleid aanvaar, maar protesbewegings het ontstaan wat tot ’n beleid van kulturele pluralisme gelei het. [9]

      Havighurst verkondig geen toevallig afwykende mening nie. Die historikus J. Presser skryf oor die Engelse en ander Amerikaanse koloniste se optrede dat dit selfs “met het woord onzer eeuw: ‘genocide’, minder onjuist wordt aangeduid dan ons lief zou zijn”.[10]

      Dit het alles ook met groot skynheiligheid gepaard gegaan. Presser haal skrywers aan wat vertel hoe die eerste koloniste van Connecticut ná lang gebed en raadpleging van die Skrif die Indiane se grond afgeneem het: “1. De aarde is des Heren. 2. De Heer kan de aarde geven aan zijn heiligen. 3. Wij zijn zijn heiligen.”

      Iemand het dit in die volgende wrange versie verwoord:

      First they fell on their knees

      And then on the Aborigines.[11]

      By hierdie uiteensetting moet ’n mens twee aantekeninge maak. Die eerste is dat oorloë net een van die middele was waarmee die Amerikaners die Indiane uitgeroei het. Die ander middel was alkohol.

      Die naam Manhattan vertel ’n hele storie. Dit beteken oorspronklik: “Die plek waar ons almal dronk geword het.” “Ons almal” was die Indiane wat drank gekry het by die eerste Engelsman wat in die sewentiende eeu daar aangekom het. Voor die koms van die koloniste het die Indiane geen drank geken nie, maar toe hulle dit eers geproe het, kon hulle nie genoeg daarvan kry nie.

      Gewoonlik het die Amerikaners die Indiane dronk gemaak en hul velle, pelse en grond vir ’n appel en ’n ei gekoop. Dié soort handel het natuurlik die Indiane se haat aangewakker. Benjamin Franklin, wat geen liefhebber van die Indiane was nie, het erken dat byna al die oorloë teen hulle die gevolg van die onregverdigheid van die koloniste was. “Dis pynlik om te hoor dat ons grensbewoners nog groter barbare is as die Indiane en dat hulle die Indiane onbeskaamd in vredestyd vermoor.”[12]

      ’n Tweede aantekening: Soos reeds gesê is, het die vestiging van die blankes in die Amerikas groot sterftes onder die Indiane tot gevolg gehad deurdat hulle siektes opgedoen het waarteen hulle nie immuun was nie.

      Daar was waarskynlik sowat 2 000 Indianetale: 300 in Noord-Amerika, tussen 250 en 300 in Midde-Amerika en sowat 1 400 in Suid-Amerika. Op die Wes-Indiese eilande het feitlik al die Indianetale uitgesterf en in Amerika noord van Mexiko sowat die helfte. In Midde- en Suid-Amerika het meer tale oorgebly en sommige van die oorblywendes het betreklik baie sprekers. Die tale van drie groot Indianeryke bestaan nog. Hulle is Nahuatl, die taal van die Asteke wat ’n driekwart miljoen sprekers het, die vernaamste Maya-tale (onder meer Quiché Cakchiquel en Quekchi) met byna ’n miljoen sprekers en Quechua, die taal van die Inka-ryk. Veral in Ecuador, Peru, Bolivië en Paraguay neem die aantal sprekers van die vernaamste Indianetale toe. Dié drie tale is Guarani met sowat 1,8 miljoen sprekers in Paraguay (waaroor meer gesê word in hoofstuk 3), Aymará, die taal van ’n miljoen Indiane in Bolivië en ’n halfmiljoen in Peru, en die reeds genoemde Quechua met 5,5 miljoen sprekers in Peru, 1,5 miljoen in Bolivië en meer as ’n miljoen in Ecuador. Laasgenoemde twee tale het baie eentalige sprekers.[13]

      Party van die Indianetale, veral in Noord-Amerika, het weinig sprekers oor. In die VSA praat byna al die Indiane Engels. Van die herkenbare aparte Amerikaanse Indianetale en -dialekte het sowat 40 persent meer as 100 sprekers. Baie van die tale sal verdwyn omdat die laaste sprekers binne ’n kort tyd dood sal wees.

      Al hierdie voorbeelde toon dat dit ’n misvatting is om te meen dat geweld van buite nie ’n volk, en daarmee saam sy taal, kan uitwis nie. Die verwoestende wapens van ons tyd maak volksmoord ’n nog groter moontlikheid as in die verlede.

      2.2 POLITIEKE DWANGMAATREËLS

      Fisieke geweld is een middel waarmee ’n magtige land teen ’n swakker volk kan optree. Gewoonlik gebruik hy meer “vreedsame” metodes.

      Vanuit ’n taaloogpunt was een van die vreedsaamste imperialismes dié van die Romeine. Hulle het die lojaliteit van die oorwonne volkere probeer wen deur hulle goed te behandel, korrupsie en uitbuiting teen te gaan, paaie, besproeiingskanale en ander bouwerke op te rig en die gebiede ekonomies te ontwikkel. Die verowerdes kon egter hul taal en godsdiens behou as hulle wou. Die Romeine was die ander tale van die ryk nie vyandiggesind nie, al het hulle dit nie bevorder nie. In Egipte was alle amptelike kennisgewings net in Grieks en Latyn en selde of nooit in Egipties. In Judea is die keiserlike besluite in Grieks en Latyn op koperplate gegrif. Af en toe het die owerheid van dié beleid afgewyk. Een geval behandel die evangeliste Lukas en Johannes in die Nuwe Testament: toe Jesus Christus gekruisig is, was die opskrif boaan die kruis in drie tale: Grieks, Latyn en Hebreeus.

      ’n Paar gevalle van taaldwang is wel bekend. In Egipte is amptenare afgedank wat nie Latyn geken het nie. ’n Paar vermaarde Grieke kon nie burgerregte verwerf nie omdat hul Latyn te swak was.

      Die druk wat van die Romeine uitgegaan het, was meer subtiel. Hulle het ’n nuwe samelewing met nuwe instellinge gebring. Die oorwonne volkere, soos die Galliërs van die huidige Frankryk, het in aanraking gekom met ’n beskawing wat hulle én die Romeine as beter en as hoër beskou het. Om bepaalde betrekkings te kon kry en as “beskaaf’ te kon deurgaan, moes ’n mens Latyn ken. Galliese aristokrate wat hul voorregte wou behou, het hul kinders dus Latyn geleer en selfs Rome toe gestuur om dit goed te kan praat en skryf.

      So verdraagsaam soos die Romeine was baie min heersers daarna. Byna oral het regerings een taal bevoordeel en die ander benadeel. Soms was daar praktiese redes vir bevoorregting, maar soms was dit ’n gevolg van taalimperialisme.

      Albei tipes bevoorregting kan ’n mens illustreer aan Frans, die opvolger van die Galliese Volkslatyn wat die Galliërs leer praat het.

      Terwyl die bevolking die Franse dialekte gebruik het, het Latyn ook na die Romeinse tyd die taal van die kerk, die landsbestuur en die regspleging gebly. Die dialek wat uiteindelik moes wen (sonder dat daar natuurlik ’n bewuste wedloop was), moes eers Latyn en daarna die ander dialekte en tale kon uitskakel.

      Hierdie dialek was francien, later francaise, d.w.s. Frans, die taal van die Île-de-France, die taal van die hart van Frankryk.

      Eers het francien en die ander dialekte die stryd teen Latyn gewen. Die verskille tussen die amptelike taal en die volkstaal, d.w.s. die verskillende dialekte, het so groot geword dat die Konsilie van Tours in 813 die priesters beveel het om voortaan in die volkstaal te preek sodat die volk kon verstaan.

      Francien het die wen-dialek geword omdat dit die taal van die koning en sy hof in Parys was. Vir koninklike ordonnansies en ander regeringstukke is die Paryse dialek gebruik. Alle handveste vir nuwe stede is daarin opgestel, met die gevolg dat dit die prestige van ’n amptelike taal gekry het. Die mag van die konings het die sukses van Francien verseker. Elcock skryf: “Only by the worldly success of the people who spoke it could the popular tongue be elevated to the dignity of a national literary language. For the authorities of the Church it has never been more than a convenient medium of approach to the illiterate; throughout