Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
’n meertalige situasie sal die volgende kragte dus altyd ’n rol speel in die groei of agteruitgang van tale: getalsterkte, sosiale en geografiese beweeglikheid, woon- en werkplek en die gemengde huwelik (wat in hierdie boek altyd, tensy anders vermeld, die taalgemengde huwelik beteken en nie die ras- of godsdiensgemengde huwelik nie).

      In die Sowjet-Unie bevoordeel die groot binnelandse migrasie veral Russies.[33] Baie gemengde huwelike word gesluit en waar die vrou ’n nie-Slawiessprekende is (d.w.s. nie Russies of Oekrains nie), word die vader se taal die taal van die gesin, hoewel die kinders darem iets van die moeder se taal sal leer. Waar die vrou Russies of Oekrains is, sal sy wel die eggenoot se taal leer, maar met die kinders haar eie taal praat. In die stedelike gemengde huwelike is daar min verskil tussen Russiese en Kaukasiese gemengde huwelike. In albei gevalle word Russies die huistaal. Die vader het die taal op skool geleer, en die moeder kan dalk ’n onderwyseres wees of albei kon dikwels met Russies in aanraking gekom het. In sulke gesinne is daar dikwels ’n soort tweetaligheid: die kleiner tale word vir sommige funksies gebruik en Russies vir ander, maar dis baiekeer nie te lank nie of Russies is die enigste taal.

      Waar die verspreiding van lede van ’n taalgemeenskap dit vir hulle maklik maak om die ou taal te laat staan, kan ’n mens verwag dat die bestaan van kompakte of gekonsentreerde taalgemeenskappe die behoud van tale sal bevorder.

      In die VSA is daar (of wás daar tot baie onlangs) klein godsdienstige gemeenskappies wat “in hierdie wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie” wou wees. Hulle het selfonderhoudende samelewings opgebou wat hulle heeltemal van die omgewing afgesonder het. Party was gekant teen motors, telefone en elektriese toerusting soos radio’s. Deur hulle doelbewus van die buitewêreld af te sonder, kon hulle hul taal behou. Die doel van die isolasie was nie die behoud van die tale nie, maar die godsdiens. Die waarde van die ou taal was dat dit die “verderflike invloed van die wêreld” makliker kon weghou.

      Belangriker is die sogenaamde taaleilande (Sprachinseln), d.w.s. gebiede waar minstens 80 persent van die bevolking die hooftaal daagliks gebruik. Hoe groter die taaleiland, hoe groter is die vermoë om in die VSA assimilasie met Engels teen te staan. In die VSA is daar minstens vier redelik groot taaleilande: die Spaanssprekendes van Noord-Nieu-Mexiko en Suid-Carolina, die Franssprekendes van Suid-Louisiana, en die Duitssprekendes van Oos- en Midde-Pennsilvanië en die suide van Noord-Dakota en die noordweste van Suid-Dakota.[34] In Amerika het party taaleilande reeds half weggesink. Waar 9 miljoen Amerikaners in 1910 nog Duits gepraat het, was daar teen 1966 maar sowat 50 000 sprekers onder agttien.

      Groter blootstelling aan ’n tweede taal as gevolg van taalkontak en veral verstrooiing van ’n taalgroep skep die moontlikheid vir taalverplasing. Of dit wel gaan plaasvind, hang van twee dinge af: winste en verliese in die funksies waarin die ou en nuwe taal gebruik word, en die houding van die taalgebruikers teenoor die ou en nuwe taal.

      2.2.3 WINSTE/VERLIESE IN FUNKSIES

      Ons gebruik taal vir talle soorte situasies. Die baie woorde wat na taalgebruik verwys, toon dit aan: praat, spreek, preek, skryf, lees, luister, gesels, sê, skerts, vloek, sing, skinder, vertel, stry, vra, antwoord, meedeel … Bowendien kan ons praat met gesinslede, vriende, vreemdelinge, parlementslede, predikante, kroegmaats, kinders, grootouers …; jy kan spreek op ’n politieke vergadering, volksfees of in die parlement; jy kan iets vra by ’n polisieman, poskantoorklerk of buskondukteur; ’n mens lees boeke, tydskrifte, strokiesprente, koerante; jy luister radio en kyk-en-luister televisie …

      Op grond hiervan onderskei taalsosioloë soms tussen twee basiese soorte taalfunksies: “hoë” en “lae” funksies. Die “hoë” funksies is die gebruike van taal in staatsinstellings, kerkdienste, universiteitslesings, radio en televisie, en “lae” funksies soos die gebruik van taal in gesprekke met vriende en familielede, vir vloek en grappe vertel. Albanese Griekse kinders praat omtrent oral Grieks, behalwe wanneer hulle skurwe grappe vertel en in die toilette rook. Die seuns praat nie in Griekse Albanees (Arvanitika) met meisies nie, behalwe as hulle wil aandag trek deur in Arvanitika te vloek of wedstryde hou om te kyk wie die meeste woorde ken, en die meisies dan toeskouer-hoorders is.[35]

      Die hoë funksies is so uiteenlopend van aard dat ’n mens moet onderskei tussen (i) ekonomiese funksies in (a) die openbare sektor soos die staatsdiens en munisipaliteite en (b) die private sektor; (ii) kulturele funksies soos in (a) die letterkunde, (b) massamedia, (c) godsdiens, (d) onderwys, en (e) die vermaaklikheidslewe; en (iii) praktiese funksies wat saamhang met die funksies onder (i). ’n Taal wat vir ’n staatsamptenaar ekonomiese funksies het, het vir die publiek praktiese waarde. ’n Mens kan dit gebruik vir telegramme, vir klagtes by die polisiekantoor, briewe aan staatsdepartemente, ens.

      Die onderwys dien as skakel tussen die ekonomiese, praktiese en ander kulturele funksies. ’n Taal kan nie ekonomiese funksies hê as dit nie die onderwysmedium is waarin mense vir betrekkings opgelei word nie. Die publiek kan ook net in hul taal briewe aan die staatsdiens skryf as hulle dit léér skryf het.

      Hieruit kan ’n mens nou aflei watter soorte prosesse funksiewinste aan ’n taal besorg. Dit kan ekonomiese funksies in die openbare sektor verwerf as sy sprekers ryk word en al meer werk aan ander mense kan verskaf. ’n Simpatieke stadsraad of regering kan eis dat munisipale of staatsamptenare ’n sekere taal vir aanstelling of bevordering ken. Sulke eise het dikwels ’n invloed op die sosiale beweeglikheid, waarna in die vorige afdeling verwys is, van lede van ’n taalgroep. Die winste in funksies in die openbare lewe en sosiale mobiliteit hang dus af van die verwerwing van politieke mag in die staat, streek, dorp of stad.

      In meertalige state gebruik die burgers hul tale op verskillende maniere in die verskillende funksies.

      Die eerste moontlikheid is dat die lede van die taalgroepe geografies deurmekaar, maar sosiaal geskei van mekaar woon en hul tale vir sowel die hoë as die lae funksies gebruik. So ’n situasie het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die beginjare van die Republiek Tsjeggo-Slowakye in die Tsjeggiese stede bestaan. Die kultuurlewe van die Duits- en Tsjeggiessprekendes was heeltemal geskei van mekaar.

      Die Praagse skrywer Egon Erwin Kisch vertel in sy outobiografie van sy ervaringe as verslaggewer vir ’n Duitse koerant in Praag voor 1914. Sy base het hom berispe omdat hy sy telefoonoproepe in Tsjeggies by Tsjeggiese telefoonoperateurs gemaak het pleks van in Duits. Tsjegge en Duitsers wou nie saam met mekaar in dieselfde sokkerspan of teen mekaar speel nie. Koerante het kulturele bedrywighede van die ander taalgroep geïgnoreer. Die Duitse koerante sou in besonderhede die aankoms en vertrek van die Oostenrykse keiser beskryf, maar niks sê van die Tsjeggiese uitstalling wat hy kom open het nie. Die antagonisme het bestaan ondanks alle pogings van die regerings om die twee groepe se teenstrydige eise met mekaar te versoen.[36]

      Dis te verstaan dat hierdie soort situasie taamlik seldsaam is. Wanneer mense deurmekaar woon, moet hulle noodwendig soms met mekaar in aanraking kom. Selfs in die Tsjeggiese situasie was die skeiding nie volkome nie, want handelaars en staatsamptenare het in hul werk kontak met lede van albei taalgroepe gehad.

      ’n Tweede moontlikheid is dat die lede van twee taalgroepe in dieselfde staat geografies van mekaar geskei is. Twee voorbeelde is België en die meeste kantons van Switserland. In België is Frans beperk tot die suidelike deel van die land en Nederlands tot die noordelike deel, onderskeidelik Wallonië en Vlaandere. Brussel, die hoofstad, is tweetalig. Vlaminge en Wale woon saam in die stad.

      In ’n situasie soos dié van Brussel, of enige ander streek of land waarin lede van taalgemeenskappe deurmekaar woon, is daar nou drie moontlikhede.

      Die eerste is dat net een groep sy taal gebruik vir hoë én lae funksies. Aangesien die sprekers van die ander taal dieselfde staatsinstellings, winkels en ander dienste as die eerste taalgemeenskap het, moet hulle noodwendig hul eie taal net vir die lae funksies gebruik en die taal van die ander groep vir die hoë funksies. ’n Tweede moontlikheid is dat die sprekers albei hul eie tale vir lae funksies gebruik, en een taal vir sommige, en die ander taal vir die ander hoë funksies.

      Die derde teoretiese moontlikheid is dat albei taalgemeenskappe hul taal vir sowel hoë as lae funksies gebruik. Hierdie moontlikheid, wat eintlik die regverdigste is, bestaan