Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
“vreemd aan die nasie”. Genl. Charles de Gaulle het kort voor sy dood ingestem dat Nederlands in Frans-Vlaandere ’n keusevak kon word. Nederland het hierdie toegewing volgens berigte feitlik afgedwing nadat daar sprake was dat Frans in Nederland bloot ’n keusevak sou word.[21]

      In die Elsas het die Franse Duits in 1808 in die hoërskole en in 1853 in die laerskole deur Frans vervang. Net ’n halfuur Duits per dag was toelaatbaar – en dit in ’n streek waar die mense ’n Duitse dialek, Elsassies, praat. Van 1871 af was die provinsie Duitse gebied, maar die Duitsers het Frans nie onderdruk nie. Ná die Vrede van Versailles het die Franse hul taalverdrukking hervat.

      Nadat die Duitsers die provinsie vier jaar lank in die Tweede Wêreldoorlog beset het, het die Franse ná die oorlog die onderrig in Duits “tydelik” opgeskort “om Frans in staat te stel om verlore terrein te herwin”. ’n Versoek van meer as 80 persent van die ouers om weer onderrig deur medium van Duits in te voer, is in 1952 op so ’n manier toegestaan dat dit byna waardeloos was: twee lesure per week sou in Duits wees, sedert 1960 drie lesure, en wel aan kinders van so twaalf jaar en ouer. Die boeke sou dié wees wat in die Franse gebied gebruik word, die lesse is nie verpligtend nie, tel nie vir die eksamen nie en die onderwyser kan weier om klas daarin te gee. Die gevolg van dit alles is dat Elsassies al hoe meer plek maak vir Frans.

      In die Sowjet-Unie wend die owerheid subtiele pogings aan om die “nasionale tale” (die tale van die afsonderlike republieke) te laat veld verloor teenoor Russies.

      Die taaltoestand in die Sowjet-Unie het al ’n paar keer ter sprake gekom, en aangesien Russies een van die belangrikste internasionale tale is, kan ’n mens nou miskien ingaan op aspekte van die land se taalbeleid.[22]

      Dit was aanvanklik volkome in stryd met die Kommunistiese beleid om Russies te bevoorreg. Lenin het hom positief uitgelaat oor die “ongetwyfeld progressiewe betekenis van sentralisering, groot regeringseenhede en ’n enkele taal”. Hy was egter teen Russies as verpligte amptelike taal. Die gedwonge onderwys van Russies in skole en staatsinstellings in nie-Russiese gebiede was deel van die tsare se gehate russifiseringsbeleid. Lenin se standpunt was dat elke volk sy eie taal moet gebruik en ontwikkel as ’n eerste stap tot die vrywillige aanvaarding van ’n gemeenskaplike taal vir alle nasies. As voorregte vir enige taal afgeskaf is, sal die “objektiewe kragte van ekonomiese ontwikkeling” die res doen. “Die eise van ekonomiese faktore sal self bepaal watter taal van ’n gegewe land die meerderheid met voordeel sal leer in die belang van die handel.”

      Stalin het in 1929 geskryf (in ’n artikel wat eers baie later gepubliseer is) dat hy uitsien na “die opbloei van nasionale kulture (en tale) in die tydperk van proletariese diktatuur in een land, met die doel om die toestand voor te berei vir hul wegkwyning en samesmelting tot een gemeenskaplike sosialistiese kultuur (en een gemeenskaplike taal) in die periode van die oorwinning van die sosialisme in die hele wêreld”. Hierdie uiteindelike wêreldtaal kan nie een van die bestaande nasionale tale wees nie, want “nasionale tale moet onvermydelik versmelt tot een gemeenskaplike taal wat natuurlik nóg Groot Russies nóg Duits sal wees, maar iets nuuts”. Stalin het glo eenkeer Esperanto as hierdie toekomstige nie-nasionale taal oorweeg, maar die gedagte laat vaar ná ’n mislukte poging om dit baas te raak.

      In die twintigerjare het die Sowjet-Unie nog die russifisering van ander taalgroepe veroordeel, maar toe reeds begin om die sondes van die tsare oor te neem. Van 1920 tot 1923 het die regering byvoorbeeld die toepassing van Lebed se sogenaamde “teorie van die stryd van twee kulture” in die Oekraine gesanksioneer. In die Oekraine was Russies die algemene taal in die stede en Oekrains op die platteland. Onder die dekmantel dat daar ’n natuurlike stryd tussen hulle is, is Lebed se teorie gebruik om Russies ten koste van Oekrains te bevorder, “omdat die toekoms behoort aan die Russiessprekende stedelike proletariaat wat ’n kultuur besit wat meerderwaardig is bo die agterlike Oekrainse landelike kultuur”.

      Die owerheid het in die jare dertig die studie van Russies onder die nie-Russiese nasionaliteite verplig. Alle nie-Russiese skole moes Russies as vak doseer. Die dekades twintig en dertig is deur ’n byna permanente alfabetrevolusie geteister. In die twintigerjare het die regering besluit om die Latynse alfabet in te voer. Kommunistiese teoretici het naamlik gemeen Wes-Europa, en nie Rusland nie, sal die hart van ’n groot nuwe Sowjet-staat wees. Twee en sewentig volkere het alfabette gekry en 64 daarvan was Latyns. Binne ’n dekade moes hulle almal vir Cirilliese alfabette plek maak. Uitsonderings is net toegelaat vir tale wat eeue lank reeds ’n kragtige letterkunde gehad het, soos Georgies, Armeens, Fins, Estnies, Lets en Litaus.

      Die Russiese leiers het heeltemal openlik gesê die doel van die nuwe alfabet is om die aanleer van Russies te bespoedig en die invloed van die Russiese kultuur te vergroot. Die Russiese pers was vol dankbetuigings vir die “diens” wat hierdie alfabethervorming aan die volk bewys het.

      Verder het dit beleid geword om nuwe tegniese woorde by voorkeur aan Russies te ontleen. ’n Estniese taalkundige, Alo Raun, het in 1950 geskryf: “Examining any one of the languages of the Soviet Union, e.g. Mordvinian, one is shocked by the discovery that it swarms with Russian words, and that often only the suffixes are Mordvinian. The word order, use of cases, etc., are a poor imitation of Russian.”[23]

      Russies is die onderrigmedium aan universiteite en ander inrigtings vir hoër onderwys. Dit is die enigste taal wat oor die hele land amptelike taal is. Die ander is net binne een van die samestellende republieke nasionale tale. As daar minderhede buite die grense van ’n bepaalde republiek is, word hulle nie in hul eie taal onderwys nie, maar in Russies. Russiese handboeke is beter en altyd beskikbaar, terwyl daar dikwels tekorte is aan dié in ander tale.

      2.2.4 EKONOMIESE EN IMMIGRASIEBELEID

      ’n Owerheid kan ’n taal wat hy onsimpatiek gesind is, ook onregstreeks benadeel deur maatreëls (of gebrek aan maatreëls) wat nie direk met taalsake te make het nie.

      Die Franse is al dikwels daarvan beskuldig dat hulle opsetlik die ekonomie van Bretagne, Oksitanië en ander randgebiede verwaarloos.

      Brékilien sê dat sowat 20 000 Bretons Bretagne elke jaar moet verlaat om werk te soek. Die land was vroeër baie voorspoedig, sy klimaat is buitengewoon gunstig vir landbou en veeteelt, daar is ’n lang kuslyn en verskeie hawens en die gebied is gunstig geleë om ’n groot deel van die Europese seeverkeer te hanteer.

      Maar deur die ekonomiese beleid van die sentrale regering word Bretagne se geld buite die gebied belê “om de hoofdstad uit te bouwen, de fabrieken van het oosten uit te rusten, het tekort van de metro op te vangen, autosnelwegen aan te leggen in de Rhône-vallei. De zware nijverheid wenst in Bretagne goedkope werkkrachten te vinden voor de fabrieken van het Parijse bekken, van Lotharingen en van het Noorden.”[24]

      Dis veral die ekonomiese en immigrasiebeleid van ’n onverskillige owerheid wat ’n taalminderheid kan benadeel. Deur immigrasie kan die gebied se oorspronklike inwoners heeltemal verswelg of ondergeploeg word. Ekonomiese onverskilligheid lei, soos in die geval van Bretagne, tot ’n migrasie van werkloses wat in ’n andertalige gebied die ekonomies voordeligste taal aanneem.

      Die uitwerking van die vier behandelde politieke maatreëls – natuurlik altyd gerugsteun deur militêre mag – is vandag die duidelikste waarneembaar in die Afrika-, Asiatiese en Amerikaanse lande wat ’n tyd lank kolonies van Europese moondhede was. Kolonisering het van Spaans, Frans en Engels wêreldtale help maak. In Suid- en Midde-Amerika het baie Indiane Spaans, en in Noord-Amerika Engels as eerste taal aangeneem. Die inheemse tale het in Afrika nie by die massa gewyk as moedertale nie, maar Frans en Engels het ’n plek verower wat hulle waarskynlik nie gou sal prysgee nie.

      Portugal en Frankryk was onder die koloniseerders van Afrika die afwysendste teenoor die inheemse tale. Die Franse het net hul eie taal vir die onderwys en amptelike doeleindes gebruik. In Angola, Mosambiek en (Portugees-) Guinee kon die Afrikane in die koloniale tyd sogenaamde “assimilados” word. Die begrip assimilado kom voort uit ’n vroeëre Portugese gedagterigting dat alle Christene burgers van die staat mag wees. Die assimilados moes Portugees kon lees en skryf. Omstreeks 1950 was daar in Mosambiek 92 619 assimilados uit ’n bevolking van 5,5 miljoen, maar net 4 353 was Afrikane. Die ander was wit, halfwit