Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
’n tak van ’n negeragtige oerbevolking van Midde- of Noord-Afrika hulle aangesluit. Die aard van die land het albei groepe gedwing om dieselfde leefwyse te volg, naamlik jag en veldkos insamel.

      Later het ander immigrante uit die huidige Oos-Botswana, Xhosas en vlugteling-Wambo’s by die oer-Dama aangesluit. Hierdie groepe het met mekaar ondertrou. Later het ook die San-Boesmans wat Nama gepraat het, die land binnegetrek. Hulle was beter ontwikkel as die Damaras en laasgenoemde het die ondergeskiktes van die San geword. Die Damaras het miskien daarom die taal van die San aangeneem.

      Die immigrasie het moontlik nie sonder stryd verloop nie, skryf Vedder. “Tot in ons dae het die San van die noorde daarin geslaag om die Bergdama as lyfeienes aan hulle diensbaar te maak en om hulle as slawe te behandel. As die vraag gestel word hoe ’n jagter en veldkos-insamelaar ’n kneg kan besig hou en hom laat werk, dan verwys ek na die gebruik van die San en Boesmans dat ’n skoonseun ná die huwelik nog ’n volle jaar by hulle moet bly voordat hy met sy jong vrou na sy eie familiegroep mag terugkeer. Wat hy gedurende dié jaar met sy pyl en boog skiet, moet hy aan die skoonouers aflewer. Ook verwys ek na ’n Bergdama wat my eenmaal in die hoogland van Otavi ’n olifantskuil gewys het. Hy het gesê: In hierdie val het ek ’n olifant met my asgaai doodgesteek. Van die vlees het ek niks geproe nie, want ek was toe in diens van ’n San-Boesman.”[19]

      Ná die San het ook die Nama gekom en daarna het die vlugtelinglewe van die Bergdama begin “wat nooit tot ’n volksverband ontwikkel het nie … Hul swerf- en vlugpaaie kan nie nagespoor word nie, want dan sou die geskiedenis van elke afsonderlike familiegroep beskryf moet word, wat maar net ’n aaneenskakeling van veediefstalle, vervolging, vermoording en vlug in ontoeganklike bergklowe was.”[20]

      In ’n taalverplasingsproses kan die lede van die “ou” taalgemeenskap op een van twee maniere na die “nuwe” taalgemeenskap oorbeweeg: (a) óf die nuwe taal goed of minder goed as tweede taal aanleer ná puberteit, (b) óf die nuwe taal van kleins af leer as “eerste taal”, miskien saam met die “ou taal” wat hulle moontlik mettertyd verleer.

      Ons kan om twee redes onderskei tussen die taalverplasingsproses soos dit by kinders en volwassenes geskied. Die eerste is dat die kind nie kan kies watter taal of tale hy gaan verwerf as eerste taal/tale nie. Die kind se ouers maak die keuse. Ten tweede is daar ’n wesenlike verskil tussen die manier van verwerwing van ’n eerste taal of tale voor en ná puberteit. Ná puberteit verloor feitlik elke mens die vermoë om ’n taal “sonder aksent” aan te leer.[21]

      2.2.1 TAALVERPLASING BY KINDERS

      Die taalverwisseling by die kind moet ons noodwendig sien as ’n deel van die sosialiseringsproses, soos sosioloë dit noem. C.D. Roode beskryf die sosialiseringsproses soos volg. “Gesien vanuit die oogpunt van die gemeenskap, is sosialisering die proses waardeur die gemeenskap sy kultuur as besondere lewenswyse van een geslag tot ’n volgende oordra en individue laat inpas by die aanvaarde en wesenlike wyses van geordende sosiale lewe. Gesien vanuit die oogpunt van die individu, is dit die proses van persoonlikheidsontwikkeling, die ontwikkeling en bewuswording van die self.”[22]

      Ons kan nou kyk na die rol van die normale sosialiserende instansies in die proses van taalverwisseling.

      “Taalverplasing” of “taalverwisseling” vind onder meer en miskien veral deur middel van die gesin plaas. Dit kan op een van twee maniere gebeur.

      Die ouers kan uit dieselfde taalgemeenskap kom, maar om die een of ander rede besluit om van kleins af ’n ander taal met hul kinders te praat.

      Byna alle Friese ouers op die platteland maak hul kinders in Fries groot, maar in die stede praat net 70 persent Fries met hul kinders. In die twintigerjare van dié eeu het baie ouers in Süderlûgum in Sleeswyk met mekaar Deens gepraat en met hul kinders Duits. Sowat 60 persent van die ouers het nie hul moedertaal met hul kinders gebruik nie en daarom het die persentasie van Deenssprekende kinders in die gebied tussen 1924 en 1931 van 60,1 tot 33,9 afgeneem.[23]

      Die tweede manier waarop ’n taalverskuiwing via die gesin plaasvind, is deur ’n huwelik waarin die ouers tot verskillende taalgemeenskappe behoort.

      Ten minste een van die twee ouers moes natuurlik tweetalig gewees het, en die kinders uit so ’n huwelik kan (a) óf tweetalig grootword, (b) óf in die taal van nie een van die twee ouers nie, óf (c) in die taal van een van die twee, en dan natuurlik in die taal van die eentalige ouer (as daar ’n eentalige ouer was).

      Voorbeelde van (a) is oral te kry waar taalgemengde huwelike voorkom. In die provinsie Posen in Duitsland was daar in 1910 altesame 4 595 gemengde huwelike tussen Duits- en Poolssprekendes. Van die 11 721 kinders uit hierdie huwelike was 5,8 persent tweetalig (terwyl 52 persent Duits- en 42,2 persent Poolssprekend was). Gevalle van die tweede moontlikheid, (b) hierbo, kom volgens Ali Mazrui deesdae dikwels in Afrika voor. Kinders uit gemengde huwelike tussen ouers wat albei ’n hoë opvoeding gehad het, is dikwels Engels; die tale van albei ouers word dus laat vaar.[24] Wat oor die algemeen gebeur, is dat die kinders grootword in die taal van een van die twee ouers. Die vreemdste van al die genoemde moontlikhede is dat ouers wat een taal praat, hul kinders in ’n ander taal grootmaak. In Frans-Vlaandere (’n deel in Frankryk waarin die bevolking ’n Nederlandse dialek praat wat verwant is met Wes-Vlaams) leer baie ouers hul kinders eers Frans en later, soms nadat hulle ’n ruk skoolgegaan het, die Nederlandse dialek. Iets soortgelyks doen sommige Ierssprekendes in die Gaeltacht, die mees Ierstalige gebied in Ierland: eers Engels, later Iers.

      Die ouers doen dit in albei gevalle “vir die beswil van die kinders”. In Frans-Vlaandere was die onderwysmedium baie lank net Frans, en om te sorg dat die kinders nie van die begin af ’n agterstand op skool het nie, het die ouers hul kinders die onderwystaal geleer.

      “Sukses” in ’n taalverskuiwing (“sukses” van die kant van die ontvangtaal gesien) deur middel van die gesin vereis dat ten minste een of albei ouers die nuwe taal goed beheers. Daar is ook ander vereistes. Dirk Wilmars vertel hoe Vlaamse ambagsmanne en winkeliers in die negentiende eeu soms ’n bietjie geld gemaak en dit dan as hul plig beskou het om hul kinders in Frans op te voed. Die opvoeding verloop nog taamlik goed solank die woordeskat van die kind beperk is. Maar sodra hy ouer word, begin die kind die taal praat van Vlaamse familielede, bure en ander kinders met wie hy speel. Die verfransingspogings het net geslaag as die ouers genoeg geld gehad het om hul kinders af te sonder van die familie en na duur Franse skole te stuur.[25]

      Daarmee is nog ’n faktor genoem wat die taalverskuiwingsproses by die jong kind bepaal, naamlik die omgewing waarin hy grootword.

      Die Nederlandse skrywer Godfried Bomans het, terwyl hy ’n televisiereeks oor Vlaandere en die stand van Nederlands in Brussel gemaak het, op ’n paar spelende kinders in die Belgiese hoofstad afgekom. Die volgende gesprek het tussen Bomans en ’n Vlaamse dogtertjie plaasgevind:

      BOMANS:Ben je op een Vlaamse school?

      KIND:Op een Vlaamse school.

      BOMANS:Heb je daar een meneer of een juffrouw in de klas?

      KIND:Een juffrouw.

      BOMANS: Een juffrouw. Spreekt die Vlaams?

      KIND:Ja.

      BOMANS:Nooit Frans?

      KIND:Nee.

      BOMANS:En jullie spreken onder mekaar ook Vlaams?

      KIND:Ja.

      BOMANS:Maar ik heb je toch al die tijd met je vriendinnetje Frans horen spreken?

      KIND:Ja, zij kent geen Vlaams.

      BOMANS:Ze kan het toch leren?

      KIND:Jawel, maar dat doet ze niet.

      BOMANS:Maar jullie spreken toch ook haar taal? Dan zou ze net zo goed die van jullie kunnen leren.

      KIND:Maar dat doet ze niet.

      BOMANS:Jullie zijn met z’n vieren. En zij is alleen.

      KIND:Jawel, maar ze doet ’t niet.

      BOMANS:Dit is