Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
became complementary means to the end.”[42]

      Die Amerikaanse nuustydskrif Time het op 13 Februarie 1978 in ’n oorsigartikel geskryf: “For more than a century, the great melting-pot theory decreed that foreign-speaking children be taught solely in English to speed their assimilation into the mainstream. The children of 50 million immigrants were forced to master English that way. Some 22 states even outlawed teaching in foreign languages.”

      Aan dié beleid het in die jare sestig ’n einde gekom en onderwys in tweetalige skole bevorder die immigrantetale, maar nadat die verengelsingproses al ver gevorder het. Spaans het wel sterk gebly.

      ’n Belangrike faktor is vir Nathan Glazer die Amerikaanse massakultuur. Dit het in die demokratiese stelsel langsamerhand gegroei om ter wille van die grootste moontlike wins van die produsente soveel mense moontlik aan te spoor om te koop. Die Amerikaanse massakultuur is geskep om mense van die mees uiteenlopende agtergronde aan te spreek oor die televisie, en voor dit die rolprente, in strokiesprente en populêre koerante. Die televisie het met onderrigprogramme in Engels die kennis daarvan verder verbrei.[43]

      ’n Derde faktor was politieke oorweginge. Verskeie state het bepalings gehad dat mense Engels moes ken om te kan stem. Die doel daarvan was diskriminasie (in Massachusetts teen Iere, in Kalifornië teen Oosterlinge, in Alaska teen Indiane, in Wyoming teen Finse steenkoolwerkers),[44] maar dit het die vaardigheid in Engels aangemoedig. Van 1906 af was kennis van Engels nodig vir naturalisasie, van 1950 af ook skryfvaardigheid. Die bedoeling, skryf Leibwitz, is om te beklemtoon dat die VSA ’n Engelse kulturele tradisie het en dat die burgers Engels moet leer om ten volle daaraan te kan deelneem. “It establishes the ‘official’ character of the language.”[45]

      Glazer wys daarop dat die openheid van die Amerikaanse politiek dit maklik vir immigrante gemaak het om daaraan deel te neem. Deur die politieke ampte as belonings aan te bied, is van die natuurlike immigranteleiers die doeltreffendste propagandiste vir amerikanisasie gemaak. Pleks daarvan om die groep se kultuur en taal te verdedig – soos minderheidsleiers in ander lande doen – het die immigranteleiers eerder by hul mense aangedring om vreemde maniere te laat vaar, Engels aan te leer en Amerikaanse burgers te word. Net op dié manier kan hulle hul leiers in politieke ampte verkies en die meeste voordeel trek uit die Amerikaanse sosiale en politieke stelsel. Aspirerende politieke leiers spreek wel die etniese groepe as groepe aan en probeer Poolse, Joodse of Duitse stemme trek deur te beklemtoon dat hulle hulle met die betreffende groepe identifiseer, maar hulle het eintlik ’n simboliese Duitsheid, Poolsheid en Joodsheid aangemoedig. Dit was ’n lojaliteit aan ’n vae en inhoudlose simbool en nie ’n konkrete kulturele werklikheid nie. Eers nadat die spesifieke kulturele inhoud van die groep feitlik tot niks gereduseer is, het die kandidaat verskeie simboliese salfies vir die groep-ego voorgestel, soos die onderrig van die “ou” taal in die “etniese skole”.

      Oor die algemeen was daar nie veel amptelike teenstand teen taalhandhawingspogings nie. Net omstreeks 1917 en daarna, toe Amerika aan die Eerste Wêreldoorlog teen Duitsland deelgeneem het, was daar ’n sterk anti-Duitse gevoel wat help lei het tot die ondergang van Duits. Duits was tot in daardie stadium een van die immigrantetale wat hom die sterkste kon handhaaf. Baie state het die gebruik van Duits in skole, op straat, oor die telefoon en op vergaderings verbied. Mense wat bekend was vir pro-Duitse bedrywighede (wat voor 1917 heeltemal wettig was) is vervolg deur skares of selfaangestelde “howe”. In party state het teer en veer ’n gewilde sport geword. Baie mense is geslaan, verneder en uit hul werk verdryf. Predikante wat in Duits gepreek het, se huise is snags geel geverf en die daders is nie gestraf nie.[46]

      Hierdie half-anargistiese fase is gevolg deur een waarin die anti-Duitse gevoel ’n algemene anti-buitelandse gevoel geword het. Daarom was die onderwys van alle ander tale as Engels ’n tyd lank in die meeste skole verbode.

      ’n Vierde faktor wat die assimilasie van andertaliges aangehelp het, is die ekonomie. Min immigrante of hul kinders wou gewone arbeiders bly in ’n land met soveel geleenthede, en om in die ekonomie te kon vorder, moes ’n mens noodwendig Engels ken.

      Joshua Fishman het ’n vyfde belangrike faktor gesuggereer: iets meer ideologies van aard. Die immigrante het nie geassimileer aan ’n ander volk nie, maar eerder aan ’n nogal abstrakte begrip van vryheid vir almal en trou aan demokratiese ideale. Die Amerikaanse nasionalisme het op ’n paar uitsonderingsgevalle na – soos die gemelde anti-Duitse veldtog – selde regstreeks teen vreemde kulture te velde getrek. Die Amerikaanse nasionalisme het “idees” en “toestande” bestry: outoritarisme, armoede, onkunde en ondoeltreffendheid. Aangesien die immigrante se spesifieke kulture en tale nie regstreeks aangeval is nie, het daar min getrouheid gegroei om hulle te verdedig. Kultuur en taal het ’n verleentheid en struikelblok geword in die weg van “ware Amerikaansheid” en nie ’n kosbare kleinood nie. In Amerika het mense nie geassimileer aan ’n volk nie – wat verraad van die eie volk beteken – maar aan ’n ideologie.

      Die prosesse waarvolgens tale groei of agteruitgaan, is demografiese prosesse (soos natuurlike aanwas en migrasie) en taalverplasing. Die faktore wat groei of agteruitgang veroorsaak, is (i) natuurlike faktore soos siekte en honger, (ii) militêre en politieke magsmisbruik en magteloosheid, (iii) ekonomiese mag of magteloosheid, (iv) die gehalte van die kultuurlewe, (v) die struktuur van die taal, (vi) taalpropaganda en taalstigmatisering en (vii) die tydgees.

      Wat is die verband tussen die prosesse en faktore?

      (i) Hongersnood, siekte en oorlog kan lei tot groot sterftes en migrasie. Die getalsverlies kan die slagoffergemeenskap weerloos maak teen verdere geweld, militêre onderwerping en politieke druk en daarby makliker vatbaar vir taalverplasing indien die land deur sprekers van ’n ander gemeenskap oorstroom word.

      (ii) Militêre en politieke mag kan sowel demografiese prosesse as taalverplasing aan die gang sit. Kolonisering gaan byvoorbeeld altyd met migrasie gepaard en bowendien kan die koloniserende moondheid die inheemse bevolking verdryf of laat onderploeg met immigrante. ’n Magtige gemeenskap kan sy mag misbruik deur die taal van die swakste gemeenskap af te skeep in die staatsdiens en onderwys. Dit beteken verlies van hoë funksies vir laasgenoemde gemeenskap en winste vir die heersers.

      (iii) Rykdom stel ’n taal in staat om ’n aantreklike werkgewerstaal te wees – waardeur dit belangrike hoë funksies wen. Ekonomiese mag lei tot vrywillige migrasies van armes na ryk streke – en in ’n twee- of meertalige staat stel dit die armes bloot aan taalverplasing.

      (iv) Die aard van die beskawing maak die opbou van ekonomiese, militêre en politieke mag moontlik, terwyl ’n hoogstaande kultuurlewe aan die taal ’n geweldige intellektuele aantrekkingskrag kan gee.

      (v) Die aard van die taalstruktuur kan mense óf afskrik van die aanleer daarvan óf die verwerwing daarvan aanmoedig.

      (vi) Taalpropaganda en -stigmatisering kan onderskeidelik positiewe en negatiewe houdings by taalgemeenskappe versterk en miskien die taalgetrouheid van die gestigmatiseerde groep ondermyn.

      (vii) Die tydgees kan ’n klimaat skep waarin taaluitbreiding of -oorlewing moontlik gemaak of aangemoedig word. Die misbruik van mag is moontlik in tye waarin imperialisme aanvaarbaar is. Nasionalisme wat ’n klein gemeenskap kan help om taalgetrouheid aan te moedig, floreer soms en kan soms ’n bietjie indommel.

      Die groei, agteruitgang en oorlewing van ’n taal hang af van baie reële faktore. Dit stel ’n mens tot taalbeplanning in staat. Wat kan die sprekers van ’n klein taal doen om te verhoed dat hul taal heeltemal oorweldig word? As al hoe meer mense die taal van ’n magtelose groep verruil vir ’n voordeliger en waardevoller een, wat kan die leiers doen om die proses te stuit? Taalbeplanning en die bevordering van taalgetrouheid deur middel van taalbewegings en taalhandhawingsveldtogte is die onderwerp van die volgende hoofstuk.

      HOOFSTUK 3

      Die stryd van klein tale om te kan oorleef

      “Up, ye Slovaks, still is living our true Slovak language while our loyal hearts are beating for our nation. Living, living, yes and deathless is the Slovak spirit. Hell and lightning, hell and lightning rage in vain against us.”

      “To