Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
het die Belgiese regering wraak geneem toe die oorlog eindig. Die Franse pers het sy haatveldtog voortgesit. Die Universiteit van Gent is weer verfrans. Talle aktiviste het na Duitsland en Holland gevlug, en ander is gevang en verhoor. Talle doodstrawwe en strawwe van lewenslange gevangeskap is opgelê. Niemand is tereggestel nie, maar talle aktiviste is vir jare die gevangenis ingestuur.

      Tog het iets van die stemming van die aktiviste bly voortleef in die na-oorlogse België. In 1919 het ’n aantal oud-soldate die Vlaamsche Front (Frontpartij) gestig. Dat oud-soldate die party gestig het, was nie verbasend nie. Soos reeds gesê, was baie soldate aan die IJzerfront bitter oor die taalverwaarlosing. Bowendien was daar ook, soos in Duitsland en Rusland, heelwat sosialisties geïnspireerde verset teen die bevelvoerders. Die leërleiding het in 1917 studiekringe en die sogenaamde “Frontblaadjies”, onskuldige klein koerantjies met oorlogsnuus, verbied. As reaksie op die verbiedinge en alle agterstellings (soos eentalige Franse offisiële kennisgewings) het daar in 1917 ’n frontbeweging ontstaan. Dié het onder meer protesbriewe aan vooraanstaande Belge gestuur, ook aan die koning: “Wij zijn nog bereid ons bloed te storten, maar wij willen de uitdrukkelijke, geschreven, plechtige belofte dat ons volle gelijkheid, volle recht wordt gegeven onmiddellijk na de oorlog … wij zijn vrije Vlamingen die een vrij Vlaanderen willen in een vrij België.” Ander lede het Vlaamse eise op plakkate geskilder en in die geheim in die nag opgehang. Soldate wat gesneuwel het, het heldegrafstene gekry met ’n Keltiese kruis en die woorde: “Alles voor Vlaanderen – Vlaanderen voor Kristus.” Op ’n ruïne het iemand met bloed geskryf: “Hier is ons bloed. Wanneer ons recht?” Een van die vlugskrifte het die kern van die frontbeweging se program gegee: “De Vlaamsche strijders der voorlinie willen voor Vlaanderen hetzelfde recht als President Wilson aan elk volk erkent: ‘Vrije beschikking over zichzelf’. Dus: Vlaamsch bestuur. Vlaamsch leger. Vervlaamsching der Hoogeschool te Gent.”

      Die leërleiding het sommiges na strafkampe gestuur en in die laaste gevegte het baie gesneuwel. Maar die gedagtes van die frontbeweging sou na die oorlog voortleef. Toe prof. Frans Daels, wat vier jaar lank in die veldhospitale diens gedoen het, kort ná die wapenstilstand op sy perd die feesvierende Gent binnery en deur sy gesin verwelkom word by ’n huis wat met die Belgiese vlag getooi is, was sy eerste woorde: “Doe die vlag weg! Ik zal het u later allemaal wel uitleggen, maar weg met dat ding! En de eerste die in ons huis nog Frans durft te spreken, gooi ik eruit!”

      Die Vlaamsche Front het by die eerste verkiesing na die oorlog (in 1919) vier setels gekry. Almal was verbaas, en in Brussel was daar selfs ’n bietjie skrik. Die vier lede het natuurlik nie veel uitgerig gekry nie, maar hulle het die volksverbeelding aangegryp.

      Daarby was die martelaarskap van die aktiviste van groot hulp, veral dié van dr. August Borms, wat lid van die Raad van Vlaanderen was. Hy is ter dood veroordeel, maar sy straf is versag tot lewenslange gevangenisstraf. Ná vyf jaar het die owerheid hom vryheid aangebied, mits hy beloof om hom nie met die politiek besig te hou nie. Hy het geweier en het van 1923 af dus vrywillig in die tronk gesit. Borms het die sentrum geword van ’n beweging van amnestie vir gevonniste aktiviste. In 1928 het in Antwerpen tussentydse verkiesings plaasgevind en die Vlaamse nasionaliste het dr. Borms, toe nog in die tronk, as kandidaat gestel. Borms is met ’n oorweldigende meerderheid gekies. Vir die Franssprekendes was die uitslag ’n donderslag. “Antwerpen lê nie in België nie, maar in Duitsland,” het een koerant geskryf.

      Nog erger was die woede en skrik toe die Vlaamse nasionaliste in 1929 twaalf setels in die algemene verkiesing verower.

      ’n Nuwe fase het begin. Die leidende Belgiese politici het ingesien dat ingrypende hervorminge nodig is. In die jare dertig is ’n groot aantal taalwette aangeneem. In 1930 is die Universiteit van Gent uiteindelik vervlaams. In 1932 het die laer- en hoërskoolonderwys vir Vlaminge in Vlaandere eentalig Nederlands geword en in 1935 is ’n taalwet aangeneem wat bepaal het dat die howe die Vlaminge in hul eie taal moet verhoor en vonnis, anders kan die vonnis nietig verklaar word. Anders as vorige wette, soos dié van 1873, was die 1935-wet effektief.

      Ná die Tweede Wêreldoorlog het daar ’n meer militante toon in die Vlaamse beweging gekom en baie meen dat die Belgiese staat op federale grondslag verdeel moet word. Verder het die Vlaminge geëis dat die taalgrens nie telkens verskuif mag word nie, dat die tweetaligheid van die verfranste Brussel wetlik vasgelê word en dat Vlaandere absoluut eentalig moet wees sonder toegewings aan die Wale wat daar is. (Die absolute eentaligheid bestaan wel in Wallonië.) In November 1962 is die taalgrens wetlik vasgelê sodat dit nie meer ’n vae lyn is wat maklik na die noorde verskuif kan word ten gunste van Frans nie. In 1963 is besluit dat die streektaal die onderwystaal moes wees en dat Franssprekendes hul taalfasiliteite in laer- en hoërskole in Vlaandere verloor. In Brussel is moedertaalonderrig verpligtend gemaak.

      Die sukses van die Vlaamse Beweging is ten slotte ook nog aan ’n ander faktor toe te skrywe – die groter intellektuele aantrekkingskrag van die Nederlandse kultuur.

      Die tyd van die Vlaamse afsydigheid en gebrekkige taalgetrouheid in die agttiende en begin negentiende eeu was ook die tyd toe Frans ’n geweldige geestelike aantrekkingskrag gehad het. Max Lamberty skrywe oor die onvergelyklike Franse kultuur van die agttiende eeu, die Revolusie en Napoleon se militêre en organisatoriese genie wat “aan de gansche wêreld leert wat het is groot te zijn, groot te doen en als held te leven en te sterven.

      “Wat kon het lot, het geestesleven zijn van onsche menzen, tegenover zulke geweldige uitbarsting van Fransche grootheid?

      “Anders niet dan het besef van de overbodigheid en de onmogelijkheid van eigen prestatie.

      “De Franschen voelen dat zij Europese leermeesters zijn: oorzaak van nog wildere scheppingskracht.

      “De overige volken – vooral het onze – voelen dat zij leerlingen zijn: oorzaak van nog ergere werkeloosheid.”[11]

      In die negentiende eeu het daar egter ’n Vlaamse intellektuele aantrekkingskrag ontstaan, al kon die werk van ’n paar Vlaamse skrywers nooit opweeg teen die skitterende Franse kultuur nie. Maar Vlaamsgesindes het van 1849 af op kongresse al meer in aanraking gekom met Noord-Nederlandse geleerdes wat niks vir die Franse sou onderdoen nie.

      Die groei van die Vlaamse beweging van 1890 tot 1910 val ook saam met ’n Vlaamse literêre oplewing. In dié tyd skryf Guido Gezelle sy beste verse. Die oplewing, skryf Lamberty, “is een bron van nieuwe belangstelling, van nieuwe fierheid. Zij wijst merkwaardige figuren aan: Gezelle, Van de Woestijne, Van Langendonck, Cyriel Buysse, Streuvels, Vermeylen, Teirlinck, Maurits Sabbe, Toussaint van Boelaere en anderen nog die een glansrijke plaats veroveren in de geschiedenis der Vlaamse letteren. Zij blijft duren en verrijkt onophoudelijk den bestaanden schat, tijdens en na de oorlog, met vertellers als Timmermans en Claes en een heele schaar veelbelovende jongeren. De muziek en de beeldende kunsten blijven niet achterwege.

      “Nieuwe waarden op het gebied van het Ware. Nieuwe waarden op het gebied van het Schoone.”[12]

      Van die literêre oplewing is twee aspekte van belang: die gehalte natuurlik, maar ook die aard daarvan. Die werke was óf nasionaal óf ten minste nie-denasionaliserend. Dit blyk reeds uit die paar aanhalings uit Van Duyse en Conscience vroeër in die hoofstuk.

      Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die sogenaamde Fronttoneel aan die oorlogsfront ontstaan. Die opvoerings, skryf W.F. Jonckheere “was sowel satiries van aard as volks-nasionalisties, met die bedoeling om ’n inspuiting in die Vlaamse bewussyn van die gewone mense te gee.”[13]

      2 DIE BEHOUD VAN GUARANI [14]

      Die beweging vir die behoud van Vlaams kan ’n mens tereg ’n taalstryd noem: daar was immers agitasies, petisies, betogings.

      Guarani, ’n Indianetaal van Paraguay, het op ’n ander manier behoue gebly. In een opsig is Paraguay eintlik uniek in die Latyns-Amerikaanse lande. In die ander lande het die Indianetale ’n ondergeskikte posisie. Die stedelinge beskou hierdie tale as onbelangrik en weet soms nie eens van hul bestaan nie. In Paraguay kan 92 persent van die bevolking egter Guarani praat, onder meer elke president wat die land nog gehad het. In die ander Latyns-Amerikaanse lande is daar maar min presidente wat ook die Indianetaal ken.