Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
state seems more natural and most desirable.”

      Hierdie twee aanhalings – die eerste uit ’n vertaling van die Slowaakse volkslied en die tweede uit ’n werk van Ziya Gökalp wat heelwat werke oor die Turkse nasionalisme geskrywe het – sê vir ’n mens iets oor die gesindheid en idees van taalnasionaliste. ’n Taalbewuste nasionalisme en die bereidheid om ’n taal deur middel van staatkundige, ekonomiese en kultuurbeplanning te laat voortbestaan, lê ten grondslag aan byna alle taalbewegings. “Het ’n volk iets kosbaarders as die taal van sy vadere?” vra J.G. Herder.

      Eintlik kan die geskiedenis van elke klein taal vir die taalbewuste lede van ander klein tale iets waardevols leer, maar ek moet my noodgedwonge beperk tot ’n paar tale wat deur taalbeplanning en die bewustelike bevordering van taalgetrouheid aan die lewe gebly het. Die eerste deel van die hoofstuk handel dan oor drie tale wat op drie heeltemal uiteenlopende maniere kon voortbestaan, nl. Nederlands in Vlaandere, Guarani in Paraguay en Hebreeus in Israel. Die tweede deel handel oor algemene kenmerke van taalbewegings en daarin kom voorbeelde uit ander tale – Tsjeggies, Wallies, Indonesies en Magjaars – ter sprake. In die laaste deel word modernisering behandel en gelet op die rol van etnisiteit.

      1 DIE VLAAMSE BEWEGING[1]

      Op 25 Augustus 1830 raak die publiek in die Brusselse Muntskouburg besonder opgewonde oor die revolusionêre taal in ’n aria van “La Muette de Portici”. Ná die opvoering gaan steek jong betogers die ampswoning van Cornelis Felix van Maanen, Minister van Justisie, aan die brand. Van Maanen was van 1815 af minister in die nuwe Vereenigde Koninkryk wat die kongres van Wenen in dié jaar in die lewe geroep het. Die Vereenigde Koninkryk was die noordelike en suidelike Nederlande (lg. heet van 1815 af België) wat sedert 1648 (toe die Tagtigjarige Oorlog teen Spanje geëindig het) geskei was van mekaar. In dié nuwe koninkryk was Van Maanen en die koning, Willem I, die vernaamste uitvoerders van ’n taalbeleid wat die bedoeling gehad het om Nederlands in Vlaandere tot sy reg te laat kom. Maar Van Maanen en die koning was om verskeie redes (onder meer die taalbeleid, maar ook oor geskille met die Rooms-Katolieke geestelikheid en drukpersvervolginge) ongewild.

      Die relletjie van 25 Augustus 1830 het plaasgevind in ’n tyd toe die sosiale klimaat sleg was. Die brood- en vleispryse het pas gestyg. Bowendien het die 1830-revolusie kort tevore in Parys plaasgevind, en Brussel was nog altyd die eggo van die Franse hoofstad. Ná ’n tyd van wanorde, verwarring, besluiteloosheid van die regering en botsings erken Den Haag die bestaan van ’n onafhanklike Belgiese nasie. Artikel 23 van die grondwet bepaal dat die gebruik van die tale vry is, maar dit was ’n vryheid vir “de heren”, die owerheidspersone soos amptenare, regters, professore, rykes en magtiges – en hierdie here was feitlik almal verfrans. Die here was dit daaroor eens dat Frans nie net in Wallonië nie, maar ook in Vlaandere die amptelike staatstaal sal wees.

      “De heren,” skryf Max Lamberty, “heersten niet alleen in het bestuur, in het gerecht, in het onderwijs, in de kazerne. Zij heersten ook in de bischoppelijke paleisen, in de kastelen, in de fabrieken, in die handelshuizen, in de banken. Zij heersten op den openbaren weg. Het uitzicht van de Vlaamse steden was bijna even Frans als dat van de Waalse steden. Alle openbare levensuitingen waren Frans, zowel wanneer zij van particulieren als wanneer zij van den Staat uitgingen. Om wille van de heren lieten de winkeliers Franse uithangsborden schilderen. Alwie beschaafd wil zijn, trachtte uit te pakken, zo goed als het ging, met Frans. Al wie bij de élite wilde gerekend worden en met de élite in aanraking wilde komen, wist dat hij hiertoe Frans nodig had en maakte gebruik van het Frans dat hij kende.”[2]

      Wat het veroorsaak dat Nederlands so ’n agterstand gehad het in Vlaandere en dat Frans die vernaamste taal was? Daarvoor was daar verskeie redes.

      Ten eerste was Frans al lank die taal van die hof en die amptenare – ten tyde van die regering deur die Franse dinastie in die vyftiende eeu, daarna onder die Spanjaarde en die Oostenrykers (wat in 1715 die suidelike Nederlande by Spanje oorgeneem het). In plaaslike organisasies is Nederlands wel gebruik, maar die amptenare het al meer die gevoel gekry dat dit belangrik is om Frans goed genoeg te ken om dit aan die koninklike hof of met die sentrale regering te gebruik. In 1794 het die suidelike Nederlande ’n integrerende deel van die nuwe Frankryk geword. In die twintig jaar ná 1794 is die hele openbare lewe in Vlaandere verfrans. Franse amptenare, onderwysers, regters, advokate het die land oorstroom en orals net Frans gepraat. Oor die hele land is Nederlands verbied.

      Van 1815 tot 1830 het Willem I en Van Maanen die posisie probeer regstel, maar die tydjie was te kort en daar was te veel teenstand om iets tot stand te bring. En ná 1830 was dit, soos reeds gesê, eens so erg. Lamberty skryf dat ’n Waal minister van België kon word sonder om maar een woord Vlaams te ken, maar dat ’n Vlaming in sy eie land nie tolbeampte kon word sonder om Frans te ken nie.[3]

      Dit was die Vlaminge wat tweetalig moes word – en kennis van Frans was nie eens ’n veilige waarborg teen die skande om Frans met ’n Vlaamse aksent te praat nie. Met die Vlaamse aksent kry jy wel toegang tot die hoëre wêreld, maar terselfdertyd daarmee die minagtende glimlagge van die here. Die Vlaminge wat geen Frans geken het nie, was, soos iemand geskryf het, ’n balling in eie land, verneder tot barbaar.

      In 1831 was daar van 380 amptenare in die sentrale bestuur slegs 22 uit Vlaandere; uit 2 700 offisiere van die Belgiese leër was minder as 150 Belge en van die generale staf was daar vier Belge teenoor 24 Franse. En dit terwyl meer as 2,4 miljoen van die Belgiese bevolking Vlaminge was teenoor sowat 1,8 miljoen Wale.[4]

      Kon die Vlaminge dan nie die saak wetlik regstel nie? Nee, selfs as hulle wou, kon hulle nie. Dit was nog nie die tyd van algemene kiesreg nie. Die parlement is verkies deur sowat 46 000 kiesers en in die parlement was die invloed van die hoëlui uit die Waalse provinsies besonder groot. Die grootste deel van die bevolking was Vlaminge, maar die politieke swaartepunt het by die Wale gelê.

      Dit was dus die tweede rede vir die agterstand van Vlaams: daar was nog nie ’n demokratiese stelsel nie, en die Vlaminge het nie die mag gehad om sake reg te stel nie.

      Maar onmiddellik moet hierby iets anders gesê word. Die Vlaminge het destyds, teen 1830, ook nie die wil gehad om die onreg teenoor hul taal reg te stel nie. Hulle het min belang gestel in die politiek en weinig daarvan verstaan. Die mense was gewoond daaraan om alles aan “de heren” oor te laat en dié was vyandiggesind teenoor die taalhervorminge van Willem I.

      Die here het die taal van die veroweraar gretig aanvaar as die taal van die openbare lewe en die geestelike verkeer. ’n Skeiding het ontstaan tussen die leidende stande en die volk, en die volk is oorgelaat aan onwetendheid en agterlikheid. Pieter Geyl skryf daaroor: “Wanneer een leidend stand zich door een zogenaamd hogere taal van het volk laat scheiden, dan duwt hij niet alleen het volk dieper in onkunde en onbeschaafdheid terug, maar veroordeelt zichzelf tot onvruchtbaarheid.”[5] Daar was nog geen nasionale bewustheid nie – nie in die agttiende en ook nie aan die begin van die negentiende eeu nie.

      Die skeiding tussen die leidende stande en die volk en die gebrek aan ’n nasionale bewussyn by albei was ’n derde faktor wat tot die verslegtering van die posisie van Vlaams gelei het.

      ’n Mens kan jou afvra: Waarom was die leidende stand dan verfrans? Hoekom het dié groep mense so min omgegee vir die taal wat eenmaal hul moedertaal was?

      Die rede daarvoor was (en dit is ’n vierde faktor wat tot die verswakte posisie van Nederlands in België bygedra het): Frans was die taal van ’n skitterende beskawing, terwyl Nederlands die taal was van ’n kultuur wat in dié tyd ’n periode van geestelike onvrugbaarheid deurgemaak het. Max Lamberty skryf dat die Franse kultuur ’n “intellektuele aantrekkingskrag” gehad het. Die heersende waardes van die agttiende eeu was universele waardes wat op volmaakte wyse deur die Franse intellektuele geformuleer is. Frans was ’n taal wat alle ontwikkelde mense destyds kon lees en nie-Franssprekendes het dit nie nodig geag om die denkbeelde in ander tale te verwerk nie. Oor die hele Europa het Frans in die agttiende eeu ’n hoë aansien geniet: Berlyn, Amsterdam, Moskou, Wenen, Brussel. Frederik die Grote van Pruise het onder leiding van Voltaire Franse verse geskryf en sy minagting uitgespreek oor Goethe se Götz von Berlichingen. J.B.C. Verlooy het in 1788 in ’n brosjure geskryf: “Wat hebben wy te stellen tegen de ontalbaere