Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
baie onnoukeurige term “tydgees” benoem. Dis ’n swak benaming, maar dit verwys na iets baie reëels. ’n Wetenskaplike kan voel dat hy op ’n sekere manier te werk moet gaan om inligting in te win, dat hy bepaalde metodes mag gebruik, dat “waarneming en klassifisering van gegewens” heeltemal uit die mode is en die “hipoteties-deduktiewe model” die korrekte. Net so sal skrywers en joernaliste ’n aanvoeling hê vir wat “in” is in die politiek en wat jy behoort te skryf as jy van jou tyd wil wees. Die intellektuele mode van die tyd in ’n land of ’n groep lande kan so dwingend wees soos Emile Durkheim se “sosiale feit”.

      Die tydgees het ook ’n invloed gehad op die vordering en agteruitgang van tale.

      Soos dit uit die volgende hoofstuk sal blyk, het daar in die negentiende eeu bewegings in Europa ontstaan om agtergestelde tale te bevorder. Die bewegings het voortgekom uit die Romantiek, die Aufklärung, en die demokratiese en nasionalistiese denkbeelde van die Franse Revolusie. Eintlik gaan die belangstelling in tale, ook die kleintjies, verder terug. Die Renaissance en die Hervorming (met sy klem op die Bybel in die volkstaal) het ook die volkstale laat opleef.

      Een kenmerk van die Romantiek wat die taalbewegings ten goede gekom het, was die nadruk wat dit op die eie gebring het. Die Franse skrywer Chateaubriand was bang vir die verskrikkinge van ’n universele maatskappy waarin die verskille tussen die volkere sou verdwyn. Walter Scott het gesê: “Laat ons bly soos die natuur ons geskep het – Engelse, Iere, Skotte, met iets as die verskillende stempel van ons verskillende lande op elkeen. Ons sou geen beter onderdane word as iedereen op iedereen lyk soos soveel gladgeslypte muntstukke nie.”

      Volgens die Romantici kom die besondere karakter van ’n bepaalde nasie tot uitdrukking in sy Volksgeist. Herder het in 1767 geskryf dat elke volk ’n eie karakter het wat blyk uit al sy gewoontes en instellinge, kuns, literatuur en ’n unieke volkskarakter. Herder se bekommernis oor verdwene en verdrukte volke het selfrespek by die verdruktes help wek. Hy het ’n versameling Slawiese volksliedere en ’n hoofstuk oor die Slawe opgeneem in ’n belangrike boek van hom en hul vredeliewende en nywere karakter geprys. Sy voorspelling dat die Slawe uit hul eeue oue slaap sou ontwaak, het gehelp dat die ontwaking werklik gekom het.

      In Wes-Europa het ou literêre tale soos Galicies, Katalaans, Baskies en Provençaals nuwe lewe gekry; die Yslanders het bewus geraak dat hulle ’n nasie vorm wat verskil van die Dene.

      So kon die tydgees ’n hele aantal tale ten goede kom.

      Maar ongelukkig kan ’n tydgees ook ten kwade werk. Tussen die groei van Engels in Australië, Nieu-Seeland en die VSA en die verdwyning of agteruitgang van talle inheemse tale in hierdie lande bestaan daar ’n verband, is reeds gesê. Maar die proses word ten dele verklaar uit die tydgees van die laat negentiende eeu. Dit was die tyd van die pseudo-antropologie wat voortgekom het uit Charles Darwin se werk oor evolusie.

      Die leerstelling van die “survival of the fittest” is toegepas op gemeenskappe en maatskaplike instellings. Swakker vorme van sosiale organisasie kan verdwyn, is gevoel, die Europese gemeenskapsvorme verdien dit om te oorleef. Hoe gouer die “swakker vorme” verdwyn, hoe beter.

      Havighurst haal ’n tipiese brief aan wat in 1876 in Melbourne in Australië verskyn het: “We invoke and remorsely fulfill the inexorable law of natural selection when exterminating the inferior Australian and Maori races … The world is better for it: and could be incalculably better still, were we loyally to accept the lesson thus taught by nature – by preserving the varieties most perfect in every way; instead of actually promoting the non-survival of the fittest by protecting the propagation of the improvident, the diseased, the defective, and the criminal. Thus we surely lower the average of, and tend to destroy, the human race almost as surely as if we were openly to resort to communism!”[38]

      In die VSA het baie vooraanstaande mense tussen 1865 en 1890 geglo dat niks uit die Indiane se kultuur die moeite werd is om bewaar te word nie en dat hulle in elk geval niks van waarde kan bydra solank hulle as Indiane voortbestaan nie.

      ’n Amerikaner met die naam Thomas J. Mays het in 1888 in die Popular Science Monthly geskryf: “Nature was doing more to solve the Indian problem than statesmen had ever accomplished.” Hy het bedoel dat die Indiane deur bloedvermenging sal verdwyn, asook deur siektes wat die dood van volbloed-Indiane sal kos. Veertig jaar tevore het pres. Andrew Jackson erkenning gesoek vir die verdwyning van Indiane uit die oostelike en sentrale state en gesê: “The states which had so long been retarded in their development by the Indian tribes residing in the midst of them are at length relieved from evil, and this unhappy race – the original dwellers of the land – are now placed in a situation where we may well hope that they will share in the blessings of civilization.”[39]

      Die imperialisme van die negentiende eeu het dit vir die Britse regering heeltemal aanvaarbaar gemaak om Engels te bevorder, en tale soos Wallies, Iers, Gaelies en Afrikaans te benadeel.

      8 SAMEVATTING

      Tot dusver is die verskillende faktore wat die groei en agteruitgang van tale beïnvloed, afsonderlik van mekaar behandel. Oorsigtelikheidshalwe kan ’n mens nou let op hoe hierdie faktore saam gewerk het, en wel in die groei van Engels in die VSA. (Die rol van oorlog en ander vorme van geweld waarop eerder in die hoofstuk gewys is, bly buite beskouing.) Die eerste Europeane wat hulle in die huidige VSA kom vestig het, was Engelse, Spanjaarde en Franse Hugenote. Die eerste Engelse kolonies is in die sewentiende eeu gestig. Groepe Engelse, maar ook Hollanders, Swede, Duitsers en ander het daarna in die Nuwe Wêreld gaan woon. Engels het betreklik gou die dominerende taal geword. In 1664 het Engeland die Hollandse kolonie Nieu-Nederland (wat op sy beurt voorheen Nieu-Swede ingesluk het) verower en daarna het die Engelse gebied gestrek van Florida in die suide tot by Kanada in die noorde.

      Die kolonies was onder Engelse beheer en Engels was die hooftaal. Engelse gewoontes het die oorhand gekry en Engelse wette is toegepas. Die White Anglo-Saxon Protestant (WASP) het toonaangewend geword en groot groepe immigrante het sy taal aangeneem. Die immigrasie van Europeërs na Amerika het geweldige omvang bereik in die laaste kwart van die negentiende en eerste dekades van die twintigste eeu. ’n Demograaf, Warren Thompson, skryf: “This is the largest movement of immigrants into any country known to history, and considering the conditions now prevailing in the world, it appears not likely to be surpassed in the near future.”[40]

      Van 1881 tot 1890 het 5 miljoen mense uit Europa na Amerika verhuis, van 1891 tot 1900 byna 4 miljoen, van 1901 tot 1910 ruim 8 miljoen en van 1911 tot 1915 byna 4 miljoen. Alleen tussen 1900 en 1910 het die aantal inwoners van die VSA van 76 tot 92 miljoen gestyg (natuurlik nie net deur immigrasie nie, maar ook deur geboortes) – ’n styging van 21 persent. In ’n halfeeu het Skandinawië sowat ’n kwart van sy bevolking aan emigrasie verloor, Ysland sowat ’n derde.[41] Hierdie immigrante en hul nageslag het in ’n verbluffend kort tydjie hul ou tale laat staan en Engels aangeneem. Immigrantekinders het soms nog hul moedertaal by hul ouers geleer, maar dit verleer terwyl hulle grootword. Selfs party immigrante het hul ou taal verleer. Die groot getalle en die snelle tempo maak die veramerikaansingproses een van die skouspelagtigste taalverplasings in die geskiedenis.

      Die belangrikste faktor wat die taalverplasing van soveel immigrante veroorsaak het, is waarskynlik die onderwys. Onderwys was ’n lang tyd nie verbode in ander tale nie en daar was veral baie Duitse skole. Maar algaande het die verskillende state op aandrang van die federale regering begin vereis dat net Engels die onderrigtaal in private en openbare skole moet wees.

      Hoewel 5 persent van die bevolking van New Mexico in 1874 eentalig Engels was, 69 persent eentalig-Spaans en 26 persent tweetalig, is ’n wet in 1891 aangeneem wat alle skole verplig het om in Engels skool te hou. In 1903 het 14 state die vereiste van “English only” gehad, in 1913 sewentien en in 1923 vier en dertig. (Ander vereistes was die verpligte onderrig van Amerikaanse geskiedenis en bestuursinstellinge en ’n beperking op die onderrig in vreemde tale.)

      Die onderrig aan Indiane het volgens Arnold Leibwitz die volgende patroon gevolg met die bou van kosskole, waarheen die kinders weggevat is … “to separate the Indian child from his reservation and family, strip him of his tribal lore and mores, emphasize industrial arts, and prepare him in such a way that