Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
persent van die kinders eentalig-Wallies en 44 persent tweetalig. In 1891 het net meer as 54 persent Wallies gebruik. Die skielike afname in die kennis van Wallies het gevolg op snelle industrialisering.

      Mense uit die plattelandse noorde het na die geïndustrialiseerde suide gestroom. Die nyweraars en ander toonaangewende mense was Engels. Vir vooruitgang was kennis van Engels noodsaaklik. Taalimperialiste het die Walliesers se gebrekkige kennis van Engels die oorsaak van die ellende van die arbeiders genoem. ’n Bloudruk oor die onderwys het in 1848 beweer: “The Welsh language is a vast drawback to Wales and a manifold barrier to the moral progress and commercial prosperity of the people. It is not easy to underestimate its evil effects.”

      Migrasie en verstedeliking het gelei tot talle gemengde huwelike tussen Walliessprekendes en Engelssprekendes wat óf eentalig was, óf min Wallies geken het. Die verskuiwing van Wallies na Engels as ’n eerste taal is drie keer groter in gemengde huwelike as dié waarin albei ouers Wallies is.

      Een van die grootste binnelandse migrasies is dié van die Sowjet-Unie. Dit raak uiteraard ook die bevolkingsamestelling van die verskillende republieke en outonome streke, en daarmee ook die posisie van die tale. Die volksverhuisings het groot tale soos Wit-Russies en Armeens nie baie nadelig geraak nie. Die sprekers wat in hul tuisgebiede agtergebly het, was getalgewys sterk genoeg om nie deur nuwe aankomelinge oorweldig te word nie. Ander klein taalgemeenskappe het in hul tuisgebiede verswelg geraak.

      Die stede bevorder die gebruik van Russies as lingua franca. Sprekers van talle tale word daar saamgetrek, en die amptelike taal wat in skole oor die hele land onderrig word, is min of meer aan almal bekend. Onder die klein taalgroepe is daar soms in die stede tot sestien maal meer sprekers wat Russies aangeneem het as in landelike streke. In die Basjkier-republiek het vier keer meer migrant-Tartare in stedelike as in landelike gebiede gerussifiseer geraak.[29]

      4 KULTURELE PEIL

      Militêre en politieke mag alleen is nie altyd genoeg om ’n onderworpe volk van taal te laat verander nie. Die nageslag van die Germaanse “barbare” wat die Romeinse Ryk binnegeval het, het hul Germaanse tale laat vaar en die Romaanse tale (afstammelinge van Latyn in die verskillende provinsies van Rome) van hul omgewing aangeneem. Een rede was die geringe getalsterkte van die Germane. ’n Ander was die feit dat die Germane ’n laer beskawingspeil gehad het. Hulle het hul eie heidense godsdiens laat vaar en hulle aan die kerk onderwerp. Dié se voertaal was Latyn. Hulle het ook die bestaande politieke instellings oorgeneem omdat hul eie nie meer in ’n moderner staat gepas het nie. Die taal van die hoër beskawing het, ondanks ’n militêre neerlaag, geseëvier oor die taal van die laer beskawing.

      Selfs in die tyd van die hoogbloei van die Romeinse Ryk kon Latyn weer nie Grieks verdring in dié dele waar dit ingeburger was nie. Die Grieke en die Romeine het die Griekse beskawing as superieur beskou. ’n Romein wat as “beskaaf’ wou deurgaan, het Grieks geleer, gepraat en geskryf. Justinianus het Latyn wel “die moedertaal” van die Ryk genoem, maar sy wette in Grieks laat skryf. Quintillianus het gesê klein kinders moet op skool liewer Grieks begin leer as Latyn “soos in die meeste skole trouens al gebeur, want Latyn word hulle in ieder geval magtig, selfs al wil die ouers dit nie so hê nie”.

      ’n Mens hoef seker nie te bewys dat beskawings van mekaar verskil nie – die Egiptiese, die Grieks-Romeinse, die Christelike beskawing, “‘ons’ Westerse beskawing”. Hoe verskil hulle van mekaar? Die Egiptenaars, Grieke, Romeine, Westerlinge, voor en ná die Middeleeue en in die moderne tyd, het geglo aan verskillende gode of God, of nie een van die twee nie (of miskien “die mens” as god); hulle het die samelewing op verskillende maniere georganiseer; hulle het soms verskillend gedink (byvoorbeeld oor wat reg of verkeerd is – en hoe ’n verkeerde daad gestraf moet word); hulle het die wêreld verskillend gesien (’n ou koei is ’n slagding of iets heiligs; ’n hoogte kan die woonplek van die gode wees; ’n taal moet ongeskonde bewaar bly omdat geestelike liedere daarin geskrywe is) en elke beskawing lewer voorwerpe en maaksels met ’n eie aard wat die beskawing kan kenmerk: piramides, vase met ’n bepaalde soort beskildering, verhale in spykerskrif op kleitablette, ploegskare, waterleidinge met ’n sekere vorm …

      Mense was ook nog altyd geneig om ’n oordeel te vel oor die waarde van hul eie en ander beskawings, of om stilswyend of feitlik onbewus te aanvaar dat ’n beskawing waarmee hulle in aanraking kom, beter of swakker as hul eie is. Daarom kan dit gebeur dat ’n taal wat ’n noue verband met ’n sekere beskawingstipe gehad het, uitbrei of kwyn as gevolg van die lotgevalle van daardie beskawing.

      Latyn was die draer van ’n beskawing wat die Galliërs, Iberiërs en ander volkere as meerderwaardig gewaardeer en daarom aangeneem het. Gallië was seker nie onbeskaaf nie – die Galliërs het met ysterploegskare geploeg en met karre en waens gery waarvan die wiele op ’n taamlik ingewikkelde manier vervaardig is, maar hulle het oor die algemeen nie geskryf nie (hul poësie of regsgebruike is eers sedert ongeveer die sesde eeu op skrif gestel) en in hul soort samelewing was die skrif nie onontbeerlik nie. Die leiers het mondeling geregeer. Die Romeine het ’n nuwe ingewikkelde staatsorganisasie gebring wat skrif noodsaaklik gemaak het. Verder het die Romeine ’n hoogs ontwikkelde regstelsel gehad. Die Galliërs het besef dat die Romeinse beskawing beter (en sterker) was as hul eie. Die ontwikkeldes en naderhand die hele bevolking het die taal aanvaar wat draer was van ’n nuwe beskawing.

      Egipties is die taal waarvan ons die oudste oorgelewerde skriftelike kultuur het. Meer as 4 000 jaar was dit die draer van ’n bloeiende kultuur. Daarna het die ou beskawing tot niet gegaan en langsamerhand het Egipties plek gemaak vir Grieks en Arabies. Die koms van Arabies, die medium van ’n nuwe lewenskragtige godsdiens en beskawing wat daarmee saamhang, was die nekslag vir Egipties. Dit kon net voortleef onder die mense vir wie dit die taal van die Christelike godsdiens was, naamlik die Kopte.

      Die ondergang van ’n beskawing hoef egter nie te lei tot die dood van die tale wat daarin gebruik is nie. Die Inka-, Maya- en Asteke-ryke het tot niet gegaan, maar die tale het oorleef.

      Die moderne Europese tale het uitgebrei nadat hulle deur militêre mag en kolonisering die tale geword het van ryke in Afrika, Asië en Amerika. Die beskawings wat die Westerlinge gebring het, was in verskillende opsigte superieur, of het vir almal superieur gelyk: die Westerlinge het beter wapens gehad, hulle het die vernuf gehad om paaie en spoorweë te bou, om medisynes teen gevaarlike siektes uit te vind. Die doeltreffende administrasie het die aansien verhoog van die taal waarin dit gevoer is. Sendelinge het nie net die Evangelie verkondig nie, maar skole opgerig en boekgeleerdheid gebring na gemeenskappe wat nie eens kon skrywe nie, wat staan nog beskik het oor die drukpers.

      ’n Hoë beskawingstipe met ’n waardevolle kultuur kan ’n taal help: onder gunstige omstandighede (“gunstig” vir die imperiale taal) kan die kultuur help om kennis van die taal te verbrei. Onder ongunstige omstandighede kan die kultuur help om ’n taal te bewaar.

      Ons kan kortliks let op die belang van drie van die belangrikste kultuurvorme in die behoud van ’n taal.

      Wat Grieks sy hoë aansien gegee en hom so lank laat uithou het teen ander tale, is sy letterkunde, wysbegeerte en alles wat daar in Grieks geskryf was.

      Net so belangrik was die letterkunde vir Armeens.

      Die Armeniërs het die Bybel voor die sewende eeu in hul taal oorgesit en baie digterlike en geleerde werke geskryf. In die negentiende eeu was daar ’n skitterende literêre oplewing. Werke van wêreldgehalte het in Armeens verskyn.

      Soos vroeër in die hoofstuk uiteengesit, is talle sprekers dood vanweë massamoorde en deportasies. Tog het Armeens lewenskragtig gebly. Meillet noem Armeens ’n “welsprekende voorbeeld” vir sy stelling: “Zelfs onder de moeilijkste omstandigheden houdt een eenmaal gevestigde kultuurtaal, die een eigen letterkunde en alle noodige uitdrukkingsmiddelen bezit, zich hardnekkig staande … Zoodra eenige Armeniërs samen zijn in een stad, waar zij zich gevestigd hebben, richten zij een drukkerij op en stichten een koerant, die in hun taal gedrukt wordt. Zóó groot is de levenskracht van een kultuurtaal.”[30]

      Volgens latere gegewens as dié van Meillet is die vooruitsigte vir Armeens in die Armeense Sosialistiese Republiek (deel van Sowjet-Unie)