Tuiste in eie taal. J.C. Steyn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: J.C. Steyn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624078265
Скачать книгу
wil verwerf om menswaardig te leef.

      Die hoër onderwys sal die kloof oorbrug tussen die hoër stande wat Frans en die laer stande wat Nederlands praat, het De Raet geskryf. Die hoër stande het ook ’n sosiale rol teenoor die laeres. Dié rol sal hulle slegs kan vervul as hulle die taal praat wat die massa begryp.

      Die hoër stande moet ook ’n tegniese skoling verskaf aan die werkers. Daarsonder is hulle daartoe gedoem om ’n klomp “koelies” te bly wat oral die weersinwekkendste en slegste betaalde werk moet verrig.

      “’n Vlaamse universiteit – nooit!”, het ’n kardinaal-aartsbiskop in 1908 uitgeroep. Nederlands is nie geskik as voertaal vir universitêre onderwys nie, het hy gesê. Hierdie houding van die kerklike owerheid het groot verontwaardiging by die Vlaamse intellektuele veroorsaak en dié sou tot in ons tyd bly bestaan.

      ’n Groot deel van die bevolking het egter De Raet se opvattinge aanvaar. Vlaamsgesindes het met ’n veldtog begin wat alles oortref het wat hulle tot dié tyd onderneem het. In elke Vlaamse stad het hulle ’n kerngroep opgerig wat in die stad self en op omliggende dorpe vergaderings georganiseer het. Mense uit alle lae van die bevolking het gepraat: professore, studente, vergrysde taalstryders, sosialiste, liberale, katolieke. Duisende mense, sommige nog analfabete, het ingesien dat dit om die toekoms van hul kinders gaan en die veldtog gesteun.

      België het destyds twee staatsuniversiteite gehad: dié van Luik in Wallonië en dié van Gent in Vlaandere. Albei het net Frans gebruik. Die Franssprekendes en gedenasionaliseerde Vlaminge wat Nederlands as sosiaal en intellektueel minderwaardig beskou het, het hulle egter met hand en tand verset teen die blote gedagte dat Nederlands die voertaal sou moes wees in Gent.

      Maar hoewel niks voorlopig bereik is nie, het die agitasie getoon dat die Vlaamse beweging ’n volksbeweging geword het. Sommige sosialiste het hulle vroeër afsydig gehou en selfs soos Anseele, organiseerder van Gent, gesê: Vir die Vlaamse arbeider is ’n biefstuk belangriker as ’n Vlaamse universiteit. Maar ten tyde van die universiteitsveldtog het hy gesê: Ons sal nou ten volle ons plek in die beweging inneem.

      ’n Tweede element wat krag aan die Vlaamse beweging verleen het, is die feit dat dit ook ’n politieke dimensie bygekry het.

      In die beginjare van die staat België kon die regering maklik die Vlaamse griewe ignoreer, want die kiesgeregtigdes was oorwegend Franssprekend en die Vlaamse massa het geen politieke regte gehad nie.

      In 1856 het die Antwerpsch Kunstverbond ten tyde van die 25-jarige bestaan van die staat ’n manifes uitgegee met ’n toon wat die bewindhebbers in Brussel nogal laat skrik het:

      Sinds vijfentwintig jaar, ziit gij, Vlamingen, miskend, verdrukt en vernederd.

      Sinds vijfentwintig jaar wordt gij in een vreemde taal aangesproken, gehoord, gevonnist en gerecht.

      Sinds vijfentwintig jaar hebt gij Frans geld, een Frans hof, een Franse wetgewing, een Frans bestuur, een Frans leger, een Frans gerecht, alles wat tot de uitroeiing van uw geslacht helpen kan …

      Sinds vijfentwintig jaar zijt gij vreemdelingen op uw eigen grond …

      Die regering het daarop ’n Vlaamse “Grievencommissie” aangestel. Dié het in 1859 Nederlands as voertaal in die hoërskoolonderwys, die regswese en die leër geëis. Vir die leër het die kommissie Vlaamse en Waalse regimente aanbeveel.

      Maar die owerheid het geen aandag aan die eise geskenk nie en die reeds aangehaalde argument aangevoer dat taalagitasie die eenheid van België in gevaar stel. Verder het hulle gekom met die ou storie wat taalimperialiste graag gebruik: Vlaams is ’n taaltjie wat nie geskik is vir administratiewe of wetenskaplike sake nie; dis maar ’n klompie dialekte wat onderling onverstaanbaar is. Dis die soort argument wat die Spanjaarde teen Baskies en Katalaans gebruik het, die Duitse grondbesitters in Boheme teen Tsjeggies, en die Engelse grondbesitters in Ierland teen Iers.

      Ná 1860 sou daar verandering kom. Vlaamsgesindes het in 1861 die Vlaemsch Verbond gestig. Dit was ’n organisasie wat Vlaamsgesinde kandidate in die bestaande politieke partye gesteun het. Verder kon die Vlaminge ook gebruik maak van ’n paar skandale wat die haglike posisie van die Vlaamssprekende burgers aangetoon het.

      Veral een hofgeding in 1860 het beroering veroorsaak. Twee Vlaamse werkers, Coucke en Goethals, is ter dood veroordeel en onthoof op aanklag van roofmoord. Hulle het niks van die hofverrigtinge begryp nie, want hulle het nie Frans geken nie. Die tolk het nóg Frans nóg Nederlands behoorlik gepraat. Die advokaat kon nie regstreeks met die beskuldigdes praat nie. Die twee is as medepligtiges gevonnis, en toe die hoofskuldiges ’n jaar daarna gepak word, het sommige Vlaamsgesindes veronderstel dat die straf vir die twee ’n geregtelike dwaling was.

      Die agitasie wat hierop gevolg het, het help lei tot die eerste taalwet van 1873. Dit het bepaal dat Nederlands in hofsake gebruik moes word as die beskuldigde geen Frans ken nie. Die tweede taalwet (in 1878) het bepaal dat Nederlands in die landsbestuur gebruik word en die derde (in 1883) het staatshoërskole verplig om ’n paar vakke in Nederlands pleks van Frans te doseer. Dié hervormings het nie vir die magtige Katolieke skole gegeld nie. Omdat die hele regering, leërleiding, nywerheid en leidende stande Franstalig was, het die wette min uitwerking gehad – hulle is “niet ten onrechte als miserabel lapwerk” bestempel, skryf Geyl.[10]

      Maar, hoe miserabel ook al, met die politieke aksies is darem iets bereik. Die regering kon egter alle politieke aksies ignoreer as hy wou. Die meeste Vlaminge het nog nie kiesreg gehad nie en hulle kon dus nie die regering op ’n demokratiese manier dwing om sy beleid te verander nie.

      In 1893 is die Vlaamse beweging as politieke beweging versterk toe België algemene kiesreg gekry het.

      Aanvanklik het dit nie veel verskil gemaak nie, want die nuwe kiesers was lede van die bestaande politieke partye en dié was deur tradisie Frans. Bowendien het die Eerste Wêreldoorlog die Vlaamse Beweging geknou. Duitsland het byna die hele België van 1914 tot 1918 beset. Die Belgiese regering was in Le Havre in Frankryk en die Belgiese leër was aan die IJzer, in die uiterste suidweshoek van België.

      Belangrike Vlaamse leiers het hul solidariteit met die Belgiese regering verklaar en gesê dat die taalstryd moes wag totdat die oorlog verby is. Ná die oorlog sou die Belge wel edelmoedig teenoor die Vlaminge optree. Teenoor hierdie passiwiteit het verskeie Vlaminge hulle egter verset. Die Belgiese leidende stand was Fransgesind, en terwyl Vlaamsgesindes nog oor Belgiese edelmoedigheid gepraat het, het die Waals-franskiljonse kringe hul haat en minagting vir Nederlands hartgrondiger uitgespreek as ooit tevore. Meermale is gesê: “Ná die oorlog sal daar geen Vlaams meer gepraat word nie.” Wanneer ’n Vlaming van taalhandhawing gepraat het, is hy dadelik beskou as ’n slegte Belg, ’n verraaier en ’n vriend van die Duitsers. Die Franse pers het ’n lasterkampanje teen die Vlaminge gevoer en die regering in Le Havre het dit nooit teengegaan nie.

      Dit alles het gebeur terwyl die leër aan die IJzer vir tussen 80 en 90 persent uit Vlaminge bestaan het. Die Vlaamse soldate was in die loopgrawe, maar in die hoofkwartier het die offisiere gesit – almal Franssprekend. Selfs die kompanjie-offisiere wat gereeld met die manskappe in aanraking gekom het, was óf Wale óf Vlaminge wat ontrou was aan hul taal. Die manier waarop die offisiere Nederlands verwaarloos het, het toenemende verbittering veroorsaak en gerugte daarvan het tot verwante en vriende in die besette België deurgedring.

      Dit alles – die lasterveldtog teen die Vlaminge, Franse vyandigheid en taalafskeping in die enigste stukkie België wat nog Belgies was – het daartoe gelei dat ’n aantal Vlaminge besluit het om van die Duitse besetters se mag te gebruik om hul politieke oogmerke te bereik. Hierdie “aktiviste”, wanhopig en verbitterd, het Duitse steun gekry en die Duitsers het in 1916 die Universiteit van Gent Nederlands gemaak. Die meeste sittende professore het medewerking geweier en ’n aantal Vlaminge en Hollanders is aangestel. Daar was in die eerste jaar net veertig, en in die daaropvolgende jaar ongeveer vierhonderd studente. Verder het die aktiviste in 1917 die Raad van Vlaanderen opgerig wat ’n afsonderlike Nederlandse administrasie aan Vlaandere moes besorg. Die Raad het gou verdeeld geraak omdat die oorgrote meerderheid van die raadslede die Duitsers gewantrou het en begryp het dat hulle die Vlaamsgesindes net tot eie voordeel