Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу
my probeer verhinder of op enige manier in my pad kom, sal ek jou doodmaak.”

      Haar toon is sag, maar John weet met ’n absolute sekerheid dat sy bedoel wat sy gesê het; dat sy hom sonder enige huiwering sal doodmaak, miskien slag soos sy haar skape geslag het, dink hy, skielik ongemaklik bewus van sy eie vrees. Hy is alleen. Die arbeiders is kop in een mus met haar en die slagplek is afgeleë. Sy palms begin sweet. Hy wend ’n laaste poging aan om sy verpletterde waardigheid te red.

      “Die manne op die dorp is reg. Jy is van die duiwel besete, jou klein heks!” Dan swaai hy om na waar die kind sy perd vashou en lig homself haastig in die saal. Hy pluk die perd om en dawer weg sonder om weer om te kyk.

      Deborah kyk af na die mes in haar hand, draai dan om en loop stadig terug na waar die werkers steeds versteen op haar wag.

      Toe gee April sy droë gie-gie-laggie. “Jy’t hom lekker gebek, missie Deborah. Ek sweer sy totman het gekrimp soos ’n ou muis s’n!” April se aanmerking laat die manne skater van die lag – ’n noodsaaklike ontlonting van die spanning wat geheers het.

      “Genoeg nou,” sê Hans-Kaap ná ’n rukkie streng. “Hy is nog missie Alisha se man … Komaan, die velle moet gespan word voor donker!” Hy bekyk die hemelruim. Daar is wel ’n paar wolke, maar die wind uit die berg is genadiglik te koud vir reën. Want as dit reën, sit hulle met vierhonderd vrot velle.

      Hoofstuk 8

      Die balkon van die Mermaid Hotel bied Kit Malloy ’n uitstekende uitsig oor die hawe en die Donkin-toring. Met genoegdoening asem hy die seelug in. Dis één voordeel wat hy uit sy sending kry, om weer die see te kan sien en ruik. As ’n Ier wat die see van meet af aan in sy bloed gehad het, word hy nou opnuut bewus van hoeveel hy dit in die binneland mis.

      Sodra sy sending voltooi is, sal hy die res van die week ten volle benut. Hopelik sal die weer ook saamspeel.

      Hy bepaal sy gedagtes by die taak wat hy namens die ZAR onderneem het om verdere guns by Kruger te wen. Kruger skuld hom reeds heelwat teengunste. Hy werk nou al meer as vier jaar aan hierdie klandestiene projek en het dit selfs vir Mac geheim gehou. Maar indien alles volgens sy plan verloop, sal Kit hopelik teen die einde van die jaar op Kruger kan toeslaan en opeis wat hom toekom. Nie dat Kruger en die ZAR nie ook grootliks daarby gaan baat nie!

      Kit voel die opwinding in sy are bruis. Hy het alles reeds haarfyn beplan; hy kan dit bekostig om nou die suksesvolle uitkoms te visualiseer. Die dag wanneer dié internasionale transaksie suksesvol beklink word, sal hy ongetwyfeld ’n baie welaf man wees.

      Hy glimlag sardonies. Maar intussen, vandag, bly hy nog die onbetaalde snuffelaar van Kruger en Leyds.

      Hy is beveel om Port Elizabeth onder een of ander voorwendsel te besoek. Informante het die ZAR ingelig dat Cecil John Rhodes, die Brit wat reeds aansienlike aansien geniet in die Kaapse politieke kringe, blykbaar nou ’n oog op Johannesburg het. Die Witwatersrand met sy ongekende rykdomme interesseer dié ambisieuse man glo al hoe meer.

      Kit weet dat die berigte waarskynlik waar is. Rhodes het één groot ideaal, en dit is om Afrika van die Kaap tot by Kaïro te oorspan met die Union Jack vir Haar Majesteit, koningin Victoria van Brittanje. Kit het Rhodes een maal tevore vlugtig ontmoet, eintlik té vlugtig om ’n blywende indruk te kry. Tog het hy en Rhodes daardie aand ’n interessante gesprek gehad oor Matabeleland, die ryk land van Lobengula, waar Kit kort tevore op ’n jagtog was. Matabeleland is Rhodes se groot passie. Hy het die land en sy mense op sy eie vreemde manier lief.

      Dit sal nou Kit se taak wees om weer met die man kontak op te bou en uit te vind hoe ernstig sy belangstelling in die ZAR werklik is, en of daar enige waarheid steek in die gerugte dat blokhuise beplan word op die Kaap-Vrystaatgrens.

      Dis vir Kit verstaanbaar dat die ZAR as gevolg van Brittanje se gierige anneksasie van Kimberley pas ná diamante ontdek is, ongemaklik voel, veral nou nadat die nuus omtrent die ongehoorde ryk goudriwwe van die Witwatersrand wêreldwyd opslae maak. Die Boereleiers én Kit weet maar te goed dat die Transvaal gevaar loop om net soos Kimberley geannekseer te word. Hulle besef dat min die Britse inpalmers sal kan stuit as daar eers ’n besluit geneem word in die woning van die Britse eerste minister in Londen.

      Kit is oortuig dat daar wel ’n ander uitweg is as direkte konfrontasie. Die republiek se enigste werklike kans is om te onderhandel. Maar Kruger is so verduiwels koppig! As hy selfs net ten dele bereid sou wees om ’n paar toegewings te maak ten opsigte van die daagliks toenemende aantal immigrante wat hul op die goudvelde kom vestig het. Baie van hierdie mense – net soos hy ook destyds – is op soek na ’n nuwe lewe in ’n nuwe vaderland. Hulle wil burgerskap hê, en dis verstaanbaar. Dit is ’n soort sekuriteit vir wat hulle opbou; dis tog geen onredelike versoek nie.

      Maar Kruger en sy volksraad vrees die groot getalle uitlanders. Hierdie vrees – dat die Johannesburgers hulle uit die saal kan lig – is verantwoordelik vir die onredelike haat en afsku waarmee Kruger die uitlanders bejeën. Hy het dit al so aan Kit uitgespel. Hoewel die belasting wat van die myne ingevorder word die staatskoffers vul, bly die president agterdogtig oor Johannesburg en sy goud.

      Die Johannesburgers, aan die ander kant, raak al hoe meer ontevrede, want die belasting op drank en plofstof, waarop die staat ’n monopolie het, is buitensporig hoog.

      Maar dis die kwessie van stemreg vir die buitelandse burgers wat die grootste probleem skep. Daar word aan die Rand gevoel dat ’n man die reg het om te stem as hy geld in ’n dorp gesteek het en die dorp deur sy beleggings ontwikkel word.

      Kruger bly egter onversetlik. Hy weier om selfs die geringste toegewings te maak. Hy word in sy koppigheid gesteun deur die volksraad, wat nog steeds herkou aan hul oorwinning by Majuba ses jaar tevore. In hulle stiksienige bravade glo die Boere dat hulle dit sou kon herhaal as die Engelse hulle land ’n tweede maal sou probeer oorneem. Kit het al hoeveel keer met van die volksraadslede geargumenteer oor hierdie uiters naïewe siening, maar nou het hy moed opgegee.

      Cecil John Rhodes gaan vanaand ’n toespraak lewer, juis oor sy reise in Matabeleland. Kit besluit dat dit ’n uitstekende geleentheid sal wees om hul vroeëre kennismaking te hernu. Hy moet net ’n plan maak om ’n uitnodiging na die operahuis te bewerkstellig …

      ’n Perdewa kom om die hoek van Prinses Alicestraat gery. Dit is swaar gelaai met velle. Kit se aandag word getrek deur die drywer van die wa – ’n witkopmeisie, meer kind nog as vrou, wat die leisels vashou. Langs haar sit ’n bruin man in togryersklere. Na regte is hy die een wat die leisels moet hou, dink Kit geamuseer.

      Die meisie in haar swart ry-uitrusting is beslis te keurig geklee om een van die valleiboere se kind te wees, die ander passasier ook. Volgens die klere wat sy dra, is sy waarskynlik die jong wadrywer se kleedster.

      Die wa kom voor die imposante ingang van die Mermaid Hotel tot stilstand. Die jong meisie oorhandig die teuels aan die ou man.

      Van sy balkon af kan Kit die gesprek volg. Die meisie stop die ou man ’n brief in die hand en beveel hom om solank met die velle koers te kry na die vendusiesaal.

      “Vat jy die vrag Veremarksaal toe. Moenie die velle onder jou oë uitlaat nie, April. Die spul in die Baai is maar skelm. Ek kom so gou as wat ek kan. Komaan, Saartjie!” Sy praat met die jong bruin meisie. “Daar is min tyd om my skaflik te kry.”

      Saartjie – die oudste dogter van Hans-Kaap en Toefie – gehoorsaam flink en lig die leerreistas van die wa af. Daar is ’n skaars verbloemde opgewondenheid in haar stem. “Ek het alles, nooientjie Deborah.”

      Deborah – die witkopmeisie het ’n naam. Sy het ’n melodieuse stem en ’n afgeronde aksent wat getuig van ’n goeie agtergrond, dink Kit. Hy voel half vies vir homself oor die buitengewone belangstelling wat sy by hom wek.

      Rats soos ’n jong gasel spring sy sonder seremonie van die wa af. Sy is lank, dink hy, en so slank soos ’n riet, maar sy beweeg met ’n dinamiese veerkragtigheid wat ongewoon is vir dames van haar portuur.

      Argeloos plak sy die strooihoedjie wat sy in haar hand gehou het op haar kop en strik dit onder haar ken vas. Sy kyk spekulerend op na die naambord