Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу

      Digby lyk ergerlik. “Laat jy dit deesdae toe dat jou kind so met jou praat?”

      Deborah swaai met onverbloemde haat om. “Loop! Ek wil alleen wees met my ma!” spoeg sy die woorde na hom toe uit. John gluur haar woedend aan. Dan stap hy vinnig uit die kamer, half verlig om uit die morbiede atmosfeer weg te kom.

      ’n Doodse stilte hang in die vertrek nadat John die deur agter hom toegetrek het. Stadig kyk Alisha met haar rooigehuilde oë op na haar woedende kind. Sy wil verduidelik, maar vind nie die woorde nie.

      “Ek is jammer, my kind,” prewel sy uiteindelik hulpeloos.

      “Ma is jammer! Is dit al wat Ma kan sê? Pa het Sorgenfrei aan óns nagelaat, aan Ma en my, en aan my kinders eendag! En Ma laat waaragtig toe dat daardie man dit gaan verkwansel! En dan het Ma die vermetelheid om vir my te sê Ma is jammer!”

      Alisha, weerloos teen hierdie aanval, probeer nie eens om haar kind se koue, byna minagtende blik te vermy nie. Die verslae hulpeloosheid op haar gesig raak vir Deborah te veel. Sy swaai om en storm die vertrek uit.

      Alisha trek haar stadig orent, onseker of haar bene haar sal kan dra. Haar juwele, dink sy; daar is nog haar juwele, die familie-erfstukke en dié wat Heinrich oor die jare aan haar gegee het. As sy dit aan Deborah kan gee, sal dit dan moontlik wees om die koop ongedaan te maak?

      Sy staar verwese na buite. Die middagson begin lang skadu’s trek oor die werf. Maar as John so sonder haar medewete en toestemming die plaas onder hulle kon uitverkoop, dan het hy seker dieselfde reg wat haar juwele betref …

      Sy draai van die venster af weg en loop doelloos rond in die keurig gemeubileerde vertrek waarop sy so trots is. Hoe kan sy dit wat gebeur het, ongedaan maak? Daniël Willemse, die familieprokureur, het haar gewaarsku. Hy het gepleit dat sy nie moes trou sonder dat haar eiendom wettiglik beskryf is nie, maar dit het John so verskriklik omgekrap – die idee dat sy hom nie vertrou nie. In haar blinde liefde vir hom kon sy dit nie verdra dat hy gekwes word nie.

      En nou? Hoe gaan haar kind haar ooit vergewe?

      Ma-Fytjie het Alisha reeds vroegaand bed toe geboender. Ná sy haar gedwing het om ’n ligte maal te eet, het sy haar ’n glas warm melk met ’n goeie skoot haarlemensis en tiemie-ekstrak laat drink.

      John Digby het sedert die middag nie weer sy gesig gewys nie. Hy is glo weer vort met die nuwe landauer.

      Ook Deborah is weg. Ma-Fytjie vermoed sy’t die vlaktes ingevaar. Dit bekommer haar nie eintlik nie. Die kind ken elke duim grond. Sy is veilig. Wat haar wel kwel, is wat in die kind se gemoed moet omgaan. Haar ou hart brand vir haar versie, want sy weet hoeveel Sorgenfrei vir haar beteken. Later daardie aand, alleen in haar kamer, soek Fytjie pleitend op haar knieë raad by haar Liewe Heretjie, en smeek sy dat daar uitkoms van Bo moet kom.

      Buite strompel Deborah doelloos rond in die nagwind wat skielik teen Patryskop begin opruk het. Sorgenfrei is verkoop, syfer dit geleidelik soos gif deur haar are. Haar erfgrond is verkwansel – verkoop aan ’n swendelaar en ’n boef, ’n man wat glo eenkeer deur haar pa van die plaas af weggejaag is!

      In die bakkrans naby die kruin waar sy soms as kind gespeel het, kom Deborah uiteindelik tot rus. Daar sit sy en kyk na die maan wat van krans tot krans hoër styg oor die Lootsberg. Met dagbreek is sy nog steeds daar. Om Sorgenfrei só in die jong môrelig te sien, laat die pyn opnuut deur haar brand. Hoe kan sy die plaas net so laat vaar? Daar móét ’n uitweg wees!

      Met die eerste rokie wat uit die opstal se kombuisskoorstene opkrul, kom Deborah uiteindelik strammerig orent. Die nag het haar ouer gemaak, maar daarby sterker. Sy gaan die plaas nié net so prysgee nie – nie sonder baklei nie. Met vaste tred begin sy die kop afklim.

      * * *

      Daniël Willemse kyk met deernis na die bleek, gespanne gesig van sy ou vriend se dogter. Hy was al die jare die familieprokureur van Sorgenfrei se mense, en hy en oorlede Heinrich het oor die jare ’n hegte vriendskap opgebou. Heinrich se ontydige dood was vir hom ook ’n groot slag, en dit het hom geskok dat Alisha von Albein haar man so gou kon vergeet en ’n ander man toelaat in Heinrich se plek. Hy het sy bes probeer om haar om te praat om versigtig te wees, om minstens ’n huwelikskontrak te sluit voor haar oorhaastige huwelik met die Digby-vent, maar sy het koppig geweier.

      Ná die huwelik is hulle sake skielik van hom af weggeneem, en hy het aanvaar dat dit deur die toedoen van John Digby was. Hy sou wat wou gee om die jong meisie voor hom te help, maar hy weet dat daar bitter min hoop is wat hy haar kan bied.

      Deborah se tong soek oor haar winddroë lippe. Sy kyk pleitend na die man met die goedige gesig. “Daar is nog die lammers wat Pa my elke lamtyd gegee het. Ek het deur die jare my eie stoet opgebou,” sê sy.

      “Dra hulle ’n ander merk as die res?” vra hy stil.

      Soos hy verwag, skud sy haar kop verwese. “Hoekom sou hulle? Hulle is dan deel van Sorgenfrei.”

      Willemse kyk haar bedruk aan en loop dan om sy lessenaar. Hy plaas ’n hand op haar skouer. “Jy weet dat ek en jou pa baie goeie vriende was. Die hemel weet, ek sou jou so graag vandag wou help, selfs net raad gee, maar ek kan nie. Ek is jammer, Deborah, maar jy het geen eis nie. Jou skape, soos al die ander bates van Sorgenfrei, behoort wettiglik aan jou ma, en volgens die gemeenskaplike huweliksreg kan jou stiefvader met haar besittings maak soos hy goeddink.”

      Hy trek sy skouers ongelukkig op. “Ek het haar destyds gewaarsku, maar sy het haar vererg. Ek reken dis waarom ek nie meer julle sake hanteer nie. Pohl en Rademeyer hanteer nou Sorgenfrei se belange.”

      Deborah staan op. Daar is ’n bitter trek om haar mond. “Wat in godsnaam wil ’n man soos Waleski met so ’n plaas maak? Hy is nie ’n boer nie,” sê sy.

      Willemse bly haar ’n antwoord skuldig.

      “Ek gaan met hom praat. Ek sal die plaas bewerk. Soos ’n slaaf sal ek werk, as hy my net die kans sal gee om Sorgenfrei weer by hom terug te koop!”

      Sy het mooi geword, dink Larry Waleski terwyl hy die meisie voor sy lessenaar betrag. Die vlasblonde hare en donker oë is ’n besonderse kombinasie. Dit laat hom dink aan die Poolse vroue van sy heimat. En hy hou van sy vroue lank, soos dié jong meisie – hoog op die been. Hoeveel ondervinding sou sy hê? Sou nogal opwindend wees om dié wildeperdjie te saal, om haar na sy hand te leer …

      Deborah onderdruk met moeite die gevoel van weersin vir die man met die pankop en bultende oë en die pienk tong wat telkens oor sy rooi lippe lek as hy praat. “Sorgenfrei behoort nou aan my, miss Deborah.”

      “Ek weet …” Sy rig haar skouers vierkantig op en kyk hom vas in die oë. “Maar die plaas kan nie vir u of enigiemand anders soveel beteken as vir my nie. Dis Von Albein-grond, reeds geslagte lank in ons familie. Ek is ’n goeie boer. As u my die kans sal gee, sal ek hard werk en u met elke opbrengs ’n deel gee.”

      “So, jy wil die plaas by my terugkoop?” Hy druk sy sigaar in die oorvol asbak dood en lag saggies. Hy loop na haar toe, tot so naby dat sy die sigaarrook aan sy asem ruik. Onwillekeurig draai sy haar kop weg.

      Nietemin gaan sy voort. “Ek het geld – nie baie nie, maar ek sal meer leen as u dink dat –”

      Hy onderbreek haar met ’n laggie wat haar ontsenu. Hy kom nog nader. Paniekerig voel sy die houtpaneel agter haar. Hy lig haar ken.

      “Ek like jou, miss Deborah. Jy het spirit. Jy kan aanbly as jy wil. Ek het iemand nodig om na my te kyk, ’n maîtresse, a housekeeper, want Larry Waleski gaan baie entertain.” Sy fluisterstem herinner haar aan die gesis van die bergkoggelmander by die poel. Die besoedelde asem so na aan haar gesig laat haar mislik voel. Hy glimlag en ontbloot geel tande terwyl hy met sy vinger oor haar mond streel.

      “Jy sê niks nie, miss Von Albein? Ek sal goed wees vir jou, as jy vir my goed is … Ek sal vir jou mooi goedjies koop wat young ladies van hou … Ek is ’n ryk man … Dink net, ek en jy en Sorgenfrei …”

      Deborah klap die hand van haar gesig af weg. Vernedering laat haar donker oë blits. Sy stoot hom