Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу
belangstel nie …” John mik om op te staan. Hy bid dat sy charade die regte uitwerking sal hê op die geldskieter. Dit hét ook. Waleski keer hom haastig. Verlig leun hy weer in sy stoel terug. Die man met die pankop sál koop, dit weet hy skielik. Gretig aanvaar hy nou ’n sigaar uit die sigaarhouer wat Waleski na hom uithou.

      Dit is eers ná vier die middag toe hy by Larry Waleski se kantoordeur uitloop en die straat oorsteek na die Victoria.

      Flip Lategan, wat vir hom die afspraak gereël het, wag op hom. John voel hoe die opwinding in hom groei. Die transaksie is beklink. Die opstel van die kaart en transport is net nog blote formaliteite. Sy gewete kwel hom toe hy aan Alisha dink, maar hy onderdruk dit gou. Dis vir haar eie beswil.

      In die noorde sal hy vir hulle ’n nuwe lewe opbou. Sy sal alles hê wat haar hart begeer. Met die opstandige meisiekind, Deborah – die enigste doring in sy vlees – sal hulle wel ’n plan maak. Hy weet Alisha kwel haar soms oor Deborah se onvroulikheid. Hy sal aan haar voorstel dat hulle die dogter Switserland toe moet stuur na ’n afrondingskool. Dit behoort Alisha tevrede te stel! So redeneer John toe hy die verandatrappe van die Victoria Hotel oploop.

      Sy grys oë gloei opgewonde terwyl hy aan sy en Alisha se toekoms in die noorde dink. Hy sal vanaand vrygewig wees en ’n rondte vir die manne koop. Ná sy suksesvolle onderhandeling met Waleski kan hy dit bekostig! Môre, net môre sal hy vir Alisha sê! Maar vanaand – vanaand behoort beslis aan hom en die manne van die Victoria-kroeg!

      Hoofstuk 7

      Ma-Fytjie staan skaamteloos en afluister by die voorkamer se portaaldeur. Sy hoor Alisha se buitengewoon ontstelde stemtoon. John se lang tye van afwesigheid krap Alisha om, al praat sy nooit daaroor nie. Ma-Fytjie kan egter aan die donker kringe onder haar mooi oë soggens sien dat sy min slaap. Daar is ook ’n verdere ontsteltenis by Ma-Fytjie: sedert verlede maand weet sy stellig dat Alisha swanger is.

      Die stemme agter die deur word harder.

      “Hoe kon jy so iets doen, John!” roep die huilende Alisha uit. “Dis Deborah se erfgrond! Sy is ’n Von Albein in murg en been. Haar pa het haar grootgemaak om eendag die plaas oor te neem, en jy het dit verkwansel!”

      Ma-Fytjie draai geskok weg. Sy het oorgenoeg gehoor.

      April is besig om John Digby se perd in die perdekamp koud te lei. Hy sien Ma-Fytjie van ver af die paadjie afwaggel. Die ganse gee blasend voor haar pad, maar sy steur haar min aan hulle. Hy merk onraad, haak die perd aan een van die pale vas en hardloop haar tegemoet. Ma-Fytjie sal nie verniet met die sware lyf die lang ent pad van die opstal af na die stalle toe aandurf nie.

      Ma-Fytjie bereik hom uitasem. “Waar is missie Deborah?”

      April krap oudergewoonte sy kop onder sy hoed. “Sy het gesê sy moet dorp toe, en ook dat sy gaan uitry bergkamp toe. So, hoe sal mens nou weet?”

      Ma-Fytjie gryp April aan sy seningrige skouers en skud hom. “Vat ’n perd, April Sêrdyns, loop soek vir haar. Sê sy moet dadelik huis toe!”

      “Hoi! Is daar dan moeilikheid daarso, Ma-Fytjie?”

      Die ou vrou stamp hom weg. “Maak soos ek vir jou sê, of ek kom jou by!”

      Sy wag nie langer nie, maar swaai om. Haar stamperbene dra swaar aan haar gewig terwyl sy weer die voetpaadjie tussen die ganse deur opstrompel.

      April voel ’n benoudheid in hom posvat op pad stalle toe. Ma-Fytjie sal nie verniet so verkeerdom wees nie … iets moes lelik verkeerd geloop het binne die mure van die groot ou gewelhuis.

      Klein-Toefie draai luiweg aan die roomafskeier se slinger. Die dik, byna goudkleurige room lyk darem altevol lekker. Sy steel vinnig ’n klontjie met die vinger en word op heterdaad betrap deur Ma-Fytjie wat uitasem by die deur inbars. Klein-Toefie kyk haar verskrik aan. Ma-Fytjie se streng reëls regverdig beslis ’n taai klap vir so ’n oortreding, maar tot die kind se verbasing het Ma-Fytjie se oë, wat selde of ooit so iets miskyk, dit nie raakgesien nie.

      “Hol, meisiekind!” Ma-Fytjie druk Klein-Toefie aan die skouer. “Gaan kyk voor by die hek. Kom sê my wanneer jy vir missie Deborah sien aankom!”

      Die kind se stokstywe vlegseltjies wip soos sy rats langs die witgepleisterde muur hardloop en soos ’n eekhorinkie op die wit hekpilaar gaan sit, haar koeëlronde bruin ogies stip gerig op die rylaan.

      Daar is ’n gevoel van opwinding in die lug. Sy draai haar kop en kyk na die opstal. Klein-Toefie het haar ma vroeër gehelp koper blinkvryf toe hulle die kwaai stemme uit die voorhuis gehoor het. Haar ma het haar haastig beveel om die botter te gaan karring, maar sy wis haar ma wou haar maar net uit die pad kry. Die kind kyk weer die rylaan af. Algar weet – selfs hulle kinders – dat dinge glad nie lekker is met die mense wat agter die gewel bly nie.

      Die geluid van perdepote laat Klein-Toefie regop sit op die hekpilaar. Sy sien Deborah platlê teen Vlam se nek. Agter haar volg April op Poon. Soos ’n klein boomdiertjie klouter die kind rats van die pilaar af en laat vat huis toe om vir Ma-Fytjie te gaan waarsku.

      Op die agterwerf spring Deborah vinnig uit die saal en gee die teuels aan Hankies om Vlam weg te lei. Sy draai om en sien Ma-Fytjie haastig aangewaggel kom van die kombuisdeur se kant af. Sy loop die ou vrou tegemoet.

      “Wat is dit, Ma-Fytjie? April sê daar is fout.”

      Ma-Fytjie trek haar eenkant toe. “Dis sondes, missie,” sê sy met ’n gedempte stemtoon. “Jou Ma-entjie huil huile met tuite!”

      “Hoekom? Oor hom? Het hy iets oorgekom?”

      Die hoop in die jong stem ontgaan Fytjie nie, maar om die kind daaroor te berispe sou skynheilig wees. Sy wens self op hierdie oomblik dat die aarde mister Digby vir goed moet insluk.

      “Wat is dit, Ma-Fytjie?” dring Deborah aan.

      “Hy … mister Digby die het vir ou Sorgenfrei gestaan verkoop!”

      Die ou vrou se woorde sny deur Deborah, en haar brein verwerp die blote gedagte met weersin. Dit is tog nie moontlik nie! Sorgenfrei is vir meer as ’n eeu al die Von Albeins se erfgrond. Hoe kan ’n man soos Digby hul grond verkoop?

      Ma-Fytjie sien hoe alle kleur uit haar grootmaakkind se gesig verdwyn. Vir een maal in haar lewe is sy stom.

      Deborah wag nie meer nie. Sy druk by Ma-Fytjie verby en hardloop na die buitetrap wat na die kombuis lei. Dit moet ’n fout wees! Haar ma sou so iets tog nooit toegelaat het nie, probeer sy haarself wysmaak. Maar Ma-Fytjie se woorde is in haar brein geskroei asof met ’n brandyster.

      John voel hoe die irritasie in hom opbou. Alisha begin op sy senuwees werk. Waarom gaan sy so te kere? Dis dan net ’n plaas – ’n lap aarde. Buite wag ’n nuwe wêreld, die toekoms blink en opwindend! Sou sy dan nie ook wou hê dat hy op sy eie suksesvol moet wees nie?

      Hy kyk na die vrou op die sofa. Trane stroom steeds onkeerbaar oor haar wange. Deernis oorval hom. Hoe mooi is sy nie! Selfs só is Alisha nog beeldskoon. Hy gaan sit op die sofa en trek haar teen hom aan en probeer haar liefkoos.

      “Alisha, my lief, maar het jy my dan nie self gesê dat jy eintlik diep in jou wese ’n stadsmens is nie?”

      Hy lig haar ken met sy hand en glimlag sag.

      “Moet asseblief nie huil nie, my liefling. Jy sal sien dit gaan goed verloop. Ek dink aan ons almal se welvaart – joune, myne en natuurlik dié van Deborah ook. Watter kans het sy op ’n goeie huwelik soos sy nou is? Helfte van die jong mans in die kontrei is skrikkerig vir haar. Hulle dink sy is onvroulik. Maar wanneer ons eers in Johannesburg is …”

      Sy stoot John se hand weg. “So, jy wil my en my kind soontoe sleep? Na daardie delwersnes! John, asseblief, jy mág nie.”

      Die deur bars oop en Deborah storm die voorkamer binne. Aan die uitdrukking op haar gesig besef Alisha dat sy reeds moes uitgevind het.

      “So, hy het uiteindelik sy sin gekry met Ma!”

      Alisha laat haar kop sak. “Ek het nie geweet nie, glo my …”