Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу
nie waarom my pa jou destyds van die plaas af gejaag het nie, maar hy was reg om dit te doen. Ek wens ek kon ook!”

      Sy maak die deur oop en loop uit sonder om weer na hom te kyk. As sy het, sou sy gesien het dat haar woorde die Pool wel geraak het.

      Ma-Fytjie het Alisha in die bed gehou en na die beste van haar vermoë gedokter met haar kruiemedisyne. Nóg John Digby nóg Deborah het daardie dag teruggekom. Met ’n bleek gelaat het Alisha na die venster gestaar en gesien hoe die skadu’s van vroegdag af krimp en later weer begin rek, namate die middag verbygesleep het. Sy het gewag, gehoop dat Deborah sou huis toe kom, maar haar hoop het hierdie slag beskaamd gebly.

      Eers teen skemeraand hoor Ma-Fytjie perdepote op die agterwerf en Deborah se stem wat Hankies aansê om Vlam af te saal en koud te lei. Sy hang die driepootpot met die waswater oor die vuur, tel die lamp van die tafel af op en loop na die buitedeur van die kombuis. Sy maak die bodeur oop en wag Deborah in.

      Deborah tree die ligkring van die lamp stadig binne. Die trek van moegheid en wanhoop op die kind se gesig roer Fytjie se hart en laat haar die preek wat sy gereed gehad het vir Deborah vir haarself hou. Vanaand is nie die tyd om met die kind te raas nie, dink sy en staan opsy. “Kom in, missie, laat ons die deur toemaak. Die ou nag hy kyk vir ons. Jou waswater sal nou-nou warm wees,” sê sy.

      Deborah skud haar kop en stap binne. “Ek wil net my hande en gesig afspoel, Ma-Fytjie. Asseblief, moenie lol nie. Vanaand is ek selfs te moeg om te eet.”

      Maar ’n halfuur later sit Deborah tóg by die skoongeskropte kombuistafel aan. Ma-Fytjie skep vir haar ’n bord melksnysels op maar vra nie uit nie. Sy ken haar versie en weet dat sy op haar eie tyd sal praat.

      Deborah eet drie snye van die varsgebakte brood saam met Ma-Fytjie se snysels. Sy besef nou eers hoe honger sy is. Sy is vroegoggend in haar drif hier uit sonder om te eet. Die heilsame reuk van kaneel en suiker wat opstyg uit die bord wat haar ou oppasser vir ’n tweede keer opskep, laat haar beter voel omtrent die nederlaag van die dag.

      Deborah kyk op en sien die kommer op die breë gesig. Arme Ma-Fytjie, dink sy. Sy, soos die ander plaashulp, het pionne geword wat van een meester na ’n ander oorgelewer word. Maar Ma-Fytjie is anders as hulle. Sy sal nooit haar nooi verlaat nie, al moet sy haar na die einde van die aarde volg.

      “Dankie, Ma-Fytjie,” sê sy saggies. Sy stoot die bord terug.

      Sy moet die getroue ou mens sê, maar die seerkry wat skielik die krop van haar maag laat saamtrek, maak dit moeilik om die woorde te formuleer. Uiteindelik praat sy, half bot.

      “Ma-Fytjie … Sorgenfrei … dis nie meer ons plaas nie.”

      Ma-Fytjie knik. Haar gesig is onleesbaar. “Hoe lank het ons nog hier, nooientjie?”

      Deborah trek die tjalie stywer om haar lyf. Vrees vir dít wat vir hulle voorlê laat haar selfs hier voor die gloeiende vuurherd ysig voel.

      “Vroeg herfs. Skaars twee maande. Dis al. Dan word alles opgeveil op ’n vendusie,” sê sy saggies. Die skok en afgryse op Ma-Fytjie se gesig weerspieël haar eie gevoelens. Sy glimlag bitter. “Dis hy, John Digby, wat die afslaer opdrag gegee het. Meneer Willemse het my gesê.”

      Te moeg om uit te trek ná die vernederende dag strek Deborah haar ten volle geklee uit op die koperkatel. Beelde dwarrel soos tartende skimme deur haar brein. Sy sien die kaalkopman met sy nat mond: Waleski, die nuwe meester van Sorgenfrei. Sy het verloor, alles verloor wat vir haar waardevol is. Sorgenfrei, die spil waarom haar lewe al van haar geboorte af draai, behoort aan die geldskieter Larry Waleski.

      Sy wens sy kan huil soos toe sy nog klein was. Sy begeer vuriglik om net soos toe na haar pa te kan hardloop, om sy beskermende arms om haar te voel, om te weet dat sy veilig is, te weet dat hy, haar forse pa, haar sal beskerm. Maar dan verdring die afgryslike herinnering aan sy grondbesmeerde gesig al haar ander gedagtes. Haar pa is dood.

      Sy draai haar op haar sy en knyp haar oë styf toe.

      “Ag Here,” bid sy koorsagtig, “laat my slaap. Laat my net ’n kort rukkie slaap om van alles te vergeet!”

      Maar die slaap bly weg. Dis eers teen die vroeëmôre-ure, nadat die ou staanhorlosie in die voorhuis drie slae geslaan het, wat sy uiteindelik wegdommel …

      Sy is op ’n stel trappe. Vér onder staan mense saamgedrom. Hulle staar op na haar. Hulle lag vir haar … hoekom? Dan besef sy met ’n skok dat sy halfnakend is! Geen kardoesbroek om haar skaamte te bedek nie! Sy probeer naarstiglik om die bostuk wat sy aanhet af te rem, maar dit help nie. Daar is ’n sluier oor haar gesig – hoekom, weet sy nie. Sy probeer dit afhaal. As sy net die sluier om haar onderlyf kan draai … Maar die sluier is verstrik in haar hare. Sy moet probeer wegkom! Omdraai! Die trappe opstorm! Sy swaai om, maar kom nie verder nie, want Larry Waleski versper haar weg. Sy goudgestopte tande sit soos haelbeskadigde mieliepitte in sy grynsende mond. Hy hou ’n pen en papier na haar toe uit. Sy stem eggo demonies.

      “Jy kan aanbly, miss Deborah. Ek en jy op Sorgenfrei … Ek sal vir jou mooi goedjies koop … my maîtresse … housekeeper, as jy wil …”

      Sy wil weghardloop, maar dis asof haar voete skielik vasgeanker is. Om haar drom mense nou skielik saam: John Digby en dorpenaars. Anna Malan en haar drie vet dogters is daar. Alet, die oudste, fluister agter haar kantmoffie in die oor van haar suster – die een met die nek vol rolle vet. Hulle lag smalend en wys na haar kaal bene. Sy kyk af en tot haar afgryse sien sy waarom hulle lag. Bloed stroom by haar bene af.

      John Digby skud sy kop minagtend. “Dis soos sy is,” sê hy neerhalend. “’n Onverfynde barbaar. Maar Larry Waleski sal haar regsien!” Hy lag spottend.

      Sy voel ’n hand op haar skouer en kyk om. Dis Waleski. Ook hy het nou geen klere aan nie. Sy buik peul wit oor sy bene … Sy bene! Hy het die bene van ’n bok! ’n Sater, soos sy hulle gesien het in haar Latynse boeke. Hy kom nader aan haar. Die oumansweetreuk in haar neus wil haar laat opgooi. Sy probeer wegkom, maar hy het haar reeds vas aan die arm beet.

      “Kom, kom, miss Deborah. Jou stiefpa het jou vir my gekoop … Kom!”

      “Nee!” Deborah ruk wakker. Sy is natgesweet. Verdwaas vee sy met haar hand oor haar droë lippe. Waarom het dit haar so ontstel? Dit is tog maar net ’n droom. Maar die ongedurigheid wil nie wyk nie. Sy staan op, loop na die venster en skuif die raam op. Die nagwind is koel, byna koud teen haar warm gesig. Dit streel haar ontstemde gemoed.

      Tussen die takke van die akkerboom wat voor haar kamervenster groei, merk sy die eerste lumier van die komende dag. Van nou af sal elke dag hier op Sorgenfrei vir haar ’n afskeidsdag wees. John Digby het haar met die verkoop van die plaas kaal gestroop.

      Skielik skiet ’n gedagte haar te binne, ’n gedagte so duidelik, so vanselfsprekend dat sy wonder waarom sy nie voorheen daaraan gedink het nie. Met absolute sekerheid weet sy wat haar te doen staan.

      Die newelrigheid van die nag hang nog gryserig oor die plaaswerf. In haar pa se werksklere geklee en met sy slagtersvoorskoot onder die arm, kry Deborah koers verby die skure. Sy merk van die plaaswerkers saamgedrom om die werfbakoond, waarin die kole van die askoekvuur verwelkomend gloei. Die geur van koffie hang in die lug. Hans-Kaap sien haar eerste en loop haar tegemoet.

      “So vroeg op en uit, kleinnooi?”

      Deborah knik kortaf. “Daar is baie wat vandag gedoen moet word, Hans-Kaap! Sodra julle klaar is, moet julle die skape bo uit die bergkampe aankeer.”

      “Nooientjie bedoele nou …?” vra hy half uit die veld geslaan.

      “Julle moet die skape, almal wat myne is, aanjaag na die slagplek.”

      Sy merk duidelik die ongemak op sy gesig.

      “Ek neem die verantwoordelikheid op my, Hans-Kaap. Julle gaan my skape op my bevel slag.”

      “Algar?” vra hy, konsternasie in sy stem.

      Deborah knik stroef. “Voor vanaand moet alles wat aan my behoort, geslag wees en die velle ingesout. Ons sal hulle oopspalk in die bergskuur, waar dit koeler is.”

      Van