Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798174558
Скачать книгу
waarskynlik of sy van haar kop af is. Dis weer Hans-Kaap wat die gemeenskaplike onrus verwoord.

      “Met permissie, nooi Deborah, die wind staan half verkeerd om nou te wil slag!”

      “Dit weet ek, maar ek het nie ’n ander uitweg nie, ek moet die kans waag.”

      Sy draai om en loop na die bakoond waaruit die geurige reuk van die askoek opwalm. Sy vat die vurkstok en lig een uit. Dis nog nie heeltemal gaar nie, maar sy is rasend honger. Versigtig, sodat sy nie haar mond verbrand nie, vat sy die eerste hap. Agter haar probeer Hans-Kaap half pleitend wal gooi.

      “Ja, ’skies laat ek nou vra, nooigoed, maar ek reken daar is ampers vierhonderd ooie en hamels wat nooientjie s’n is …”

      Deborah knik. Sy ken elkeen van haar geliefde skape. Haar kudde wat sy oor die jare opgebou het is, naas die perde, haar grootste liefde, en sy het hulle almal naam gegee, van die ou hamels af tot die nuutgeborenes wat met wankelrige beentjies om hulle ma’s se geswolle uiers rondsteier vir melk.

      “Vierhonderd-en-tien, saam met die lammers wat laas maand aangekom het.” Sy slinger die halfgeëte askoek in die kole. Die gedagte aan wat voorlê, het summier die kos in haar keel laat vassteek.

      “En die vleis? Wat van die vleis, nooientjie?” vra April, terwyl sy vereelte hande aan sy hoed pluk.

      Hulle weet nie, besef sy met deernis. Behalwe vir Ma-Fytjie, weet die mense van Sorgenfrei nog nie dat die grond onder hulle uitverkoop is nie. Sy is hulle ’n verduideliking verskuldig. Sy soek na woorde terwyl sy vir haar koffie in een van die stroopblikbekers skink.

      “Ek was gister op die dorp. Ek het met ou meneer Willemse gaan praat om te hoor of daar nie ander uitweg is nie … Hy … my ma se man, John Digby, het Sorgenfrei verkoop aan Larry Waleski,” sê sy uiteindelik saggies.

      “Ag liewe Heretjie, maar dit kan mos nooit wees nie, my mooinooi – dis dan ons plaas!” kerm April verwese.

      “Ek het ook so gedink, April, maar ek was verkeerd.”

      Haar oë soek oor die bevange gesigte in die kring om haar.

      “Ek weet die meeste van julle hoef nie bang te wees nie. Waleski is nie ’n boer nie. Ek glo hy sal maar te bly wees as julle wil aanbly.” Die son breek deur die wolke wat laag oor hulle hang en baai die werf in ’n onheilspellende, onaardse lig. “Met ons is dit anders. Ons sal moet weg. Daarom moet daar vandag geslag word. Ek wil die velle so gou moontlik Baai toe neem om te verkoop,” sê Deborah stil. “Julle moet saam met my bid dat dit nie begin reën nie.”

      “Maar wat maak ons met al die vleis, nooi?” herhaal Hankies April se vraag.

      “Ma-Fytjie en Toefie-hulle sal maar moet bontstaan en soveel verwerk as wat hulle kan, vir julle gebruik ook. Wat oorbly kry die mense van die onderdorp. Julle sal weet waar die nood die hoogste is.”

      Sy beskut haar oë teen die son wat nou in felheid toeneem. Dit moet reeds ná sesuur wees.

      “Ons moet aan die werk spring. Voor sononder moet die velle gespan wees!”

      Die soet reuk van bloed hang verstikkend oor die slagplek onder die groot koeltebome. Deborah voel ’n tamheid in haar rugsenings toe sy die blêrende hamel kniehalter en hom omtrek. Hoeveel het sy al keelaf gesny? Sy het opgehou om te tel. Haar geoefende hand vind die nekslagaar, soos haar pa haar geleer het, om die dier die meeste lyding te spaar.

      Sy knyp die aar ferm tussen duim en voorvinger voordat sy met een vlymskerp haal van die mes die skaap se keel oopsny. Bloed spuit met ’n boog uit die nek uit, maar dis eers toe sy aan die laaste rukbewegings met sekerte weet dat die skaap wel dood is, wat sy Hans-Kaap en sy twee oudste kinders toelaat om oor te neem vir die afslag.

      Sy kom stram orent om haar been- en rugspiere te rek. Nog ’n halfuur voor die drie-uurrustyd. Teen vyfuur behoort hulle klaar te wees, dink sy, en vee haar bebloede hande aan die voorskoot af. Dan tel sy weer ’n nuutgeslypte mes op vir die volgende van haar kudde wat reeds ingekeer word.

      Hoe is dit moontlik dat sy tot nou toe deur die dag gekom het? Dat sy die een ná die ander van haar skape kon slag sonder om self dood te bloei? Want elke keer wat die lem ’n keel oopgeruk het, was dit vir haar asof dieselfde lem in haar siel gedraai word. Miskien is dit die blote gedagte dat sy dié keer vir John Digby gefnuik het, sodat hy nie sy gierige kloue op haar skape ook sal kan lê nie, wat haar die krag gegee het om voort te gaan om skaap ná skaap te slag met ’n meedoënlose doelgerigtheid.

      Teen vyfuur die middag word die laaste hamels ingekeer. ’n Koue wind uit die berg ruk aan Deborah se vlasblonde hare wat, net soos haar gesig en hande, met bloed bespat is. April kyk met ’n benoude gevoel na sy geliefde mooinooi. Haar gesig is darem altevol bleek.

      “Missie Deborah …” probeer hy versigtig, “… die laaste ou skapies die kan óns mos maar doen … seblief, my mooinooi, loop jy nou en gaan maak vir jou skoon. As Ma-Fytjie vir jou so sien, sal sy ’n oorval kry!”

      “Dis mý skape, April,” sê sy saggies. “Daarom moet ek by wees tot die laaste een geslag is.”

      Die perdeman weerspreek haar nie, want op sy manier verstaan hy haar gevoel vir haar diere. Dis seker haar manier om hulle vir oulaas te eer, dink hy.

      “Maak die hek oop!” beveel sy.

      Die skaap steier die kampie binne. Sy bene word gesnoer en hy word opgehys. Goddank dis amper die laaste, dink sy moeg en tel die slagtersmes op.

      Toe nog net een skaap oor is, hoor hulle naderende perdepote. Hulle sien hom eers toe hy agter die bome uit te voorskyn kom. John Digby spring van sy perd af en gee die teuels aan een van die kinders. Hy loop driftig nader terwyl hy met sy Engelse peits, wat hy sedert die troue tydig en ontydig dra, ergerlik teen sy duur stewels piets.

      Deborah wag hom in, die slagtersmes nog steeds in haar hand.

      “Wat de donder gaan hier aan!” bulder hy.

      Die plaasarbeiders versteen. Niemand antwoord hom nie.

      “Wie de hel het julle die reg gegee om my vee te slag?”

      “Jóú vee?” Deborah loop op hom af.

      Hy ruik die reuk van skaap en bloed aan haar soos sy nader kom en sien met walging haar besmeerde hande en voorskoot. Watter onheilige barbaar is die meisiekind nie!

      “Het jy gesê jóú vee, John Digby?” Deborah se gesig is waswit; haar oë gloei onheilig. Die wind pluk aan haar weerbarstige hare. Sy tree weer nader aan hom, die mes steeds dreigend in haar regterhand geklem.

      Sy herinner John plotseling aan ’n wraakgodin, die een of ander Nordiese Walkure. Hy wonder half onrustig of haar verstand nie miskien aangetas is nie, en tree vinnig terug toe sy nog nader kom.

      “Die skape het aan mý behoort, John Digby. My pa het hulle vir mý gegee.”

      “Dis deel van die lewende hawe van Sorgenfrei –”

      “Sorgenfrei was ook myne, my erfgrond, tot jy gekom het en dit deurgetrek het met jou en Ma se brassery!”

      “Hoe durf jy so met my praat! Waar is jou danige opvoeding? Jou moeder sal sterf van skaamte as sy moet weet hoe jy privaat aangeleenthede bespreek voor die plaasarbeiders!”

      Deborah lag. Dis ’n droë, honende lag, veels te oud en te sinies om uit so ’n jeugdige, onskuldige mond te kom.

      “Hulle, die arbeiders, soos jy hulle noem, is ook deel van dít wat jy verkoop het,” sê sy. “Geslagte lank was dit ook hulle geboortegrond. So, waarom mag hulle nie weet wat jy gedoen het nie?”

      “Deborah, wees redelik. Ons gaan ’n nuwe toekoms in. Die opbrengs van die plaas is bestem om vir jou en jou ma –”

      Sy gee nog ’n laaste tree nader aan hom en hy deins haastig terug. Die slagtersmes tik nou ’n ligte maat uit teen die palm van haar linkerhand.

      “John Digby, jy het dit reggekry om my erfgrond van my te steel,” sê sy. “Maar