Dis nou as Dolf nie deur die nag opdaag en haar verlos van al haar môres nie. Dit is waarop dit afstuur, het sy vermoed toe sy inderhaas haar Hartbeespoort-meenthuis opgeruim het. Die woede waarmee Dolf haar goed vernietig het, was onmiskenbaar onbeheers. Sy weet uit ondervinding waartoe hy in onbeteuelde woedebuie in staat is. Daar is ’n reuseverskil tussen treiteroproepe en vandalisme. Nes daar is tussen aanranding en die rig van ’n vuurwapen.
Ná haar huilbui van vanmiddag het daar egter ’n vreemde kalmte oor haar gekom. Dolf moet maar kom doen wat hy wil. Sy gaan nie weer vlug nie. Hierdie ding moet nou endkry, of dit nou haar einde beteken of nié. Sy hoop net hy gun haar genoeg tyd om ’n paar betekenisvolle skilderye te maak. Sodat sy iets kan agterlaat wat sê: Vasti de Leeuw het geleef. Sy het geskilder. Skilderye wat iets beteken, nie net mooi prente wat weinig sê nie.
Vasti gaan sit op ’n klip onder ’n groot populier wat sy arms oor die rivier uitstrek. As kind het sy soms hier kom sit. Klippies in die water gegooi, gekyk hoe die rimpels al groter uitstoot. En later het sy dit probeer teken. As mens maar kind kon bly. Of vinniger wysheid verwerf.
Ja, sy was mondig. Sy kon geweier het om met Dolf te trou. Maar tussen sy gepleit oor die telefoon nadat haar pa hom gebel en uitgedinges het, sy entoesiasme oor sy laaitie wat in aantog is, haar pa se tirades en ’n allesverswelgende moegheid en moedeloosheid, het sy ingegee. Die hoofrede was egter dat sy vermoed het sy sal nie toegelaat word om haar vierde, finale jaar te doen as sy swanger en ongetroud is nie. Nie destyds op die PUK nie. En sy kon dit nie met ’n jaar uitstel nie. Dit was die laaste jaar dat BA Beeldende Kunste op die kampus aangebied is. Met die bevalling wat sy bereken het in die Julievakansie sou plaasvind, het sy gehoop haar swangerskap sal nie te veel inbreuk op haar studies maak nie. Presies hoe sy sou studeer en terselfdertyd ’n baba versorg, was iets wat sy nog moes uitwerk.
Toe al weet sy nie wat sy sonder Runa sou gedoen het nie. Vasti kon net haar vierde jaar oorleef danksy skilderytjies van kosmosse en sonneblomme wat Runa vir haar by die dosyne op die kampus en in die dorp verkoop het. Runa wat gedurende hulle studies daarmee vrede gemaak het dat haar talent nie ver genoeg strek om groot hoogtes in die kunswêreld te bereik nie. Vir wie dit nie gepla het dat die kunsdosente ’n ophef maak van Vasti se werk terwyl hare maar lou ontvang is nie. Vir Runa was dit genoeg dat sy in kunsgeskiedenis uitgeblink en ’n baie goeie oog vir gehalte ontwikkel het. En sy was ’n smous van formaat.
Toe sy vir Runa bel en laat weet sy gaan met Dolf trou, was dié vreemd stil. Vasti het verwag sy sal ’n kabaal opskop. Runa het immers geweet Dolf is nie ideale troumateriaal nie. Tog het sy ingestem om as getuie te kom optree, op voorwaarde dat sy dadelik daarna kan waai.
“Jy kan jou sterre dank die man is bereid om met jou te trou,” het haar pa die aand voor hulle huweliksbevestiging gesê. Sy tong het gesleep. En toe sy en Dolf die volgende oggend, ’n warm dag in Februarie, in die kantoor van Binnelandse Sake ewige trou aan mekaar gesweer het, was Leon de Leeuw alreeds so dronk soos ’n spook.
Hulle wittebrood was die reis terug van Bredellsdorp af na Klerksdorp, waar Dolf ’n piepklein woonstel gehad het en werk by die Sentraalwes-koöperasie. In Februarie het sy begin klasloop.
Dolf se laaitie kon vanjaar in matriek gewees het, maar einde Maart, agtien jaar gelede, het sy haar baba verloor. Daar was geen naspeurbare rede nie. Dit gebeur dikwels met eerstelinge, veral as die moeder baie gespanne is, is al verklaring wat verskaf is. Later het sy gehoor daar is geen bewys dat spanning tot miskrame lei nie. Toe was dit te laat om Dolf te oortuig dit was nie haar skuld nie.
Die miskraam was snaaks genoeg nie vir haar ’n verligting nie. Teen daardie tyd het sy begin uitsien na haar baba, het sy reeds gevoel sy het ’n emosionele verbintenis gevorm met die kind, al wou sy hom of haar aanvanklik nie gehad het nie. Al het dit haar in ’n huwelik ingedwing wat sy nooit andersins sou oorweeg het nie.
Die ergste was egter dat die rede vir die huwelik nou weggeval het en ’n enorme gaping en frustrasie in die sleurstroom agtergelaat het. Sy het nagte omgehuil. Dolf het gedink dis net oor die baba en was redelik geduldig. Het haar getroos. Gesê hulle sal weer probeer, sodra hulle ’n kind beter kan bekostig. Dit het nooit by hom opgekom dat sy eintlik gehuil het omdat sy getroud was met ’n man vir wie sy geen agting of respek gehad het nie. Omdat sy gevoel het die lewe het haar ’n vieslike streep getrek nie.
Al waaraan sy kon vashou, was die kampusberader wat sy uiteindelik gaan sien het se goedbedoelde, maar vernietigende raad. “Jy het belowe om jou man lief te hê en kan nie nou kop uittrek nie. Liefde is ’n wilsbesluit, en kan gekweek word. Jy moet net daaraan werk. Hoe meer liefde jy aan jou man betoon, hoe liewer sal hy jou kry en jy vir hom.”
Sy kan nog verstaan dat sy aanvanklik in haar ontsteltenis ’n greintjie waarde aan daardie woorde kon heg, maar die vet weet, sy sal nooit verstaan hoe Dolf dit reggekry het om haar in daardie kokon van miserabelheid toegespin te kry en daar te hou nie. Selfs nadat sy besef het die berader praat strooi, besef het dat liefde nie gekweek kan word waar daar barre aarde is nie.
Eers ná die egskeiding, veral tydens die twee oasejare in Harties, kon sy insien hoe verblind sy was. Maar tot vandag toe weet sy nie wat haar verblind het nie. Konvensie alleen kon dit nie gewees het nie. Liefde was dit gewis nie. Ook nie die klomp sinnelose twak wat die berader haar wou wysmaak nie. Seks ook nie. Sy het nooit geleer om Dolf se soort seks te geniet nie. ’n Orgasme was haar nooit beskore nie.
Sy het altyd met vae agterdog saamgeleef dat Dolf haar verneuk, een keer bevestiging daarvan gekry. Sy was nooit seker wanneer hy van die waterkar gaan afval nie. Wanneer sy berading weer eenkant toe gegooi sou word nie. Of wanneer sy sogenaamde bekering hom nie meer kon keer om te wees wie hy in die vesel van sy wese was nie.
Jammerte vir hom was dit nie, in elk geval nie teen die einde nie. Dalk ’n swak selfbeeld wat haar onderbewussyn wysgemaak het dis die beste wat sy verdien. Dalk die vermoede dat niemand anders haar en haar vet lyf in elk geval sal wil hê nie. Dalk omdat sy Dolf geglo het dat sy niks werd is nie. Dalk net omdat Dolf ’n manipuleerder van formaat was. En omdat sy uit die staanspoor reeds op intuïtiewe vlak vir hom bang was.
Miskien sal Stiaan Sonnekus vir haar kan sê wat die redes is, maar dan sal sy daardie verdomde lys met persoonlike vrae moet voltooi. En selfs al sien sy kans daarvoor, sal dit moet wag. Môre ruk sy haar huis verder reg en moet sy Spar toe gaan. Haar begin inrig vir die res van haar lewe. Hoe lank of kort dit ook al mag wees.
Vasti skrik toe sy besef die donker het haar byna ingehaal terwyl sy die verlede herleef het. Sy draf haastig huis toe en sluit die deur agter haar. Sy sal sekuriteitshekke moet laat installeer. Gelukkig is daar diefwering voor die vensters. Liederlike goed, maar daar.
’n Doef-geluid in haar slaapkamer laat haar vries. Nie ’n harde klank nie, maar nie ignoreerbaar nie. Sy draai stadig om, te bang vir wat sy dalk in die gang gaan sien.
In die donker tot waar die kombuislig nie strek nie, is ’n roering naby die vloer. Die eerste miaau laat haar bene lam van verligting. Teen die tweede weet sy nie of sy die kat wil omhels of verwurg nie. Haar hele lyf het in sweet uitgebars.
Dis ’n jong kat, sien sy toe dit in die lig inbeweeg. Kaneelkleur met langerige hare en ’n wit voorkop. Van die effens plat gesiggie lei sy af daar moes êrens in die kat se onsuiwer geslagsregister ’n Persiese voorsaat gewees het.
Die kat kom staan reg voor haar, kyk haar stip in die oë en miaau weer. Vasti kan amper die vraag na kos in die klank hoor.
“Sommer net so? En waar dink jy moet ek katkos vandaan kry?”
Die kat knip net haar oë en miaau weer. Of is dit ’n hy? Wyfiekat en baie onlangs reggemaak, sien Vasti toe sy haar optel. Die litteken is nog duidelik. Die kat raak aan die spin.
“Vanwaar, Gehasi? Het jy uit ’n Renoir-skildery ontsnap?” Die kat spin net harder.
Dis eers toe sy die kat neersit dat Vasti die nuwe items op die kombuistafel sien staan. ’n Sak katkorrels, ’n blik katkos en twee plastiekbakkies – ’n bloue en ’n rooie.
’n Siddergeluid laat Vasti van voor af skrik. Dis ’n doodnormale huishoudelike geluid. ’n Yskas wat