Labirint. Chanette Paul. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chanette Paul
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780795800450
Скачать книгу
langs blommende potte en oulike deure nie.

      Runa kan maar sê wat sy wil. Iewers moet sy begin sin maak van die chaos waarin haar lewe ontaard het en dit kan sy net op doek doen. Met skilderye soos die Paas-triptiek wat kunskenners gaande gehad het selfs voor die derde deel voltooi was, en gelei het tot ’n uitnodiging om ’n solo-uitstalling by ’n klein maar gesogte galery in Cullinan te hou. Toe sy op die vooraand van sukses was.

      Die skilderye wat sy vir daardie uitstalling gemaak het, was haar beste werk ooit. Miskien omdat sy toe die naaste aan huweliksgeluk gekom het – al was daar altyddeur haar agterdog en Dolf se bedekte beskuldigings en verwyte. En selfs toe het Dolf nooit ’n geleentheid laat verbygaan om haar subtiel en minder subtiel af te kraak nie. Liefs voor ander mense.

      Dit was die tydperk ná die eerste aanranding. Sy het hom geglo dat sy optrede daardie dag, toe hy ’n jaar nadat sy by haar pa was eers uitgevind het sy het hom probeer verlaat, ’n uitsondering was. Dat hy van skok net beheer verloor het. Dat hy haar net met die vuis geslaan het omdat hy dronk was. Sy het geglo hy sal volhou om na die AA en pastorale berader te gaan. Dat hy dié keer werklik bekeer was. Werklik berou gehad het. Omdat hy heimlik geweet het dit was as gevolg van daardie aanranding dat sy ook die tweede baba, ’n baba wat sy toe nog nie eens geweet het sy verwag nie, ’n paar weke daarna verloor het.

      Nie dat hy dit ooit sou erken nie, maar hy het op allerhande maniere probeer vergoed. Hy het gehou by die streng voorwaardes van haar ultimatum nadat hy haar die eerste keer aangerand het. Ter wille van die laaitie wat hy so begeer het.

      Hy het oortyd gewerk sodat hulle uit die woonstel na ’n huurhuis kon trek. Hy het haar laat begaan wanneer sy soms in die middel van die nag na haar ateljee toe gesluip het om te werk aan iets wat haar te binne geskiet het. Hy het selfs sonder gemor wegneemetes gaan haal wanneer sy vergeet het om kos te maak.

      Natuurlik was sy naïef om hom te glo daardie vuishoue in die sy en op die krop van haar maag was ’n ongelukkige, eenmalige voorval. Dat dit die keerpunt was en hy finaal verander het, sy lewe op koers gekry het.

      Vasti masseer haar slape, waar ’n dowwe hoofpyn aan die opbou is. Sy weet dis die gevolg van die herinneringe en die frustrasie en selfverwyt wat daarmee saamgaan. Dis egter asof die trek hierheen en die vergete bekendheid van die huis en omgewing haar onkeerbaar terugsleur die verlede in.

      Sy moet besig bly. Aan die skilder kom. Maar eers die huis regruk. En voorrade gaan kry. Môre wil sy slaggereed wees om haar nuwe lewe aan te durf.

      Woensdag 28 Maart

      Vasti moet haarself letterlik uit die bed uit sleep toe Suzie se gekerm te indringend raak. Die drome wat haar die laaste gedeelte van die nag geteister het, het haar nog meer uitgeput as die slapelose rondrol van die eerste gedeelte.

      Die vrae wat sy op die vraelyste beantwoord het, het ou gedagtes en herinneringe, vergete angste en pyne nog verder losgemaak. Hoekom sy gisteraand die goed sit en voltooi het, weet sy nie. Sy gaan nie terug na Stiaan Sonnekus toe nie. As sy net vir Dolf uit haar lewe kan kry, sal die neerslagtigheid en hoofpyne vanself opklaar.

      Back to square one. Die afgelope twee jaar kry sy nog net sporadies die hoofpynaanvalle. Die een wat haar gister oorval het, is gebore uit die herinneringe en huilbuie tussendeur, maar dis getoë deur ontsteltenis. Omdat sy al meer besef hoe sy met haar lewe gemors het.

      Sy kom agter sy het net ’n tanga aan, onthou dan dat sy nie die vorige aand die krag gehad het om nagklere te soek en aan te trek nie. Sy gooi haar skoon maar verfbesmeerde smok oor haar kop.

      Dit verg al haar energie om die tandeborsel na haar mond te bring. Toe sy oor die wasbak buk, dawer die hoofpyn harder as ooit. Sy spoel haar mond, vroetel in die kassie op soek na ’n hoofpynpil en sluk dit weg met water uit haar bakhand. Sy wil eers die plat boksie met die antidepressante wat Dawid gegee het ignoreer, maar druk dan gelate een kapsule uit sy foelie-omhulsel en sluk dié ook weg.

      Hoe Dolf ’n paar jaar ná die eerste aanranding uitgevind het sy is steeds op die Pil terwyl hy haar in alle ywer probeer swanger kry het, is een van ’n paar raaisels wat sy nooit kon oplos nie.

      Sy weet dit was agterbaks van haar, maar sy het ook geweet sy kan nie toelaat dat ’n kind in ’n huis soos hare en Dolf s’n grootword nie. In elk geval nie tot sy baie seker was Dolf is dié keer opreg nie. Sy het geweet hy sal in sy spoor trap tot sy hom uiteindelik sy laaitie gee, maar sy was bang vir wat daarna sou kom.

      Dit was ’n herfsaand toe hy in haar ateljee ingestorm gekom en die pakkie Nordettes wat sy so sorgvuldig weggesteek het voor haar neergesmyt het. Met ’n vleismes en terpentyn en ’n woede wat alle perke oorskry, het hy die naaste van drie skilderye wat op esels gestaan het toegetakel en toe sy wou keer, haar weer met die vuis bygedam. Dié keer het hy nie omgegee waar die vuishoue val en of dit sou wys nie. Hy was buite homself.

      Voos geslaan, het sy hom in die middernagtelike ure ontglip en in haar motor gespring. Sy het roekeloos uit die oprit en in die straat in getru, gesukkel om ratte te kry en in die truspieël vir Dolf met sy rewolwer in sy hand sien staan. Die rathefboom het eindelik sy rat gevind. Die skoot wat sy verwag het, het nie gekom nie.

      Net so, bebloed van ’n hou op die neus en in haar geskeurde nagklere, het sy van Klerksdorp af Cullinan toe gery. Na die eienaar van die kunsgalery daar wat haar eerste solo-uitstalling, ’n Paas-tentoonstelling, vir haar gereël het.

      Van die bietjie meer as drie uur lange rit onthou sy niks nie. Net die vrees dat Dolf haar sal volg. Eers toe sy voor Anina se huis stilgehou het, het sy haar begin bekommer oor wat Anina daarvan sal sê dat sy in so ’n toestand daar opdaag. Hulle het dadelik gekliek toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het, maar het mekaar nog maar kort geken. Teen daardie tyd was sy egter te moeg, te seer om werklik om te gee.

      Anina en haar man, Jacques, het haar eers polisiekantoor toe geneem om ’n klag te lê en foto’s te laat neem, daarna na die dokter wat hulle intussen wakker gebel het se spreekkamer.

      Die uitstalling wat oor drie weke sou geopen het, was na die maan. Dit het hulle besef toe Jacques Klerksdorp toe is om die skilderye te gaan haal.

      Dolf was nie by die huis toe Jacques, vergesel van ’n polisiekonstabel, daarheen is nie. Die bure het vertel Dolf het skoonskip gemaak. Hy het elke liewe ding wat aan Vasti behoort het, verbrand. Die konka het nog agter in die werf gestaan. Hulle het gesien hoe Dolf kledingstuk vir kledingstuk in die vlamme gooi. Selfs haar grimering is in die konka in. Van die skilderye was daar geen teken nie en die enigste afleiding wat hulle kon maak, was dat hy dié ook alles verbrand het.

      Anina het Vasti versorg tot sy weer soos ’n mens gelyk het pleks van ’n freak show. Haar gehelp om ’n tuinwoonstel te kry. En ’n prokureur. Hulle kon haar net nie sover kry om weer ’n ordentlike skildery voort te bring nie.

      In die kombuis skakel Vasti die ketel aan en gaan sit by die tafel terwyl sy wag vir die water om te kook. Sy laat rus haar voorkop in haar hand en staar na die krake in die hout. Nog ’n dag om deur te worstel. En waarvoor? Net sodat Dolf haar vir nog vier en twintig uur kan terroriseer?

      Dolf se reaksie op die egskeidingsdagvaarding wat sy op hom laat beteken het, was om vir haar foto’s te stuur van sewe skilderye wat wel oorgebly het. Die halfvoltooide derde een in die Paas-triptiek en ses ander skilderye wat nog net afgerond moes word. Sewe uit die een en twintig.

      Asof die boodskap nie duidelik genoeg was nie, was die foto’s vergesel deur ’n briefie. As jy voortgaan met die egskeiding en die aanrandingsaak, maak ek vuur hiermee ook. Die ander het lekker gebrand.

      Anina het Vasti nooit vergewe dat sy besluit het om eers die skilderye te probeer terugkry voor sy met die egskeiding voortgaan nie. En nog minder toe sy die aanrandingsaak teruggetrek het. Die staatsaanklaer wou desondanks voortgaan, maar toe Vasti weier om te getuig, het hy uiteindelik besluit sy mors sy tyd. Hy het Vasti sonder omhaal van woorde ingelig dat sy nie weer ’n simpatieke oor sal kry as die geskiedenis homself herhaal nie.

      Vir amper twee jaar het sy gesukkel om die skilderye uit Dolf te probeer kry, maar hy het klimtol met haar gespeel. Sy was te bang om hom self te konfronteer en toe Jacques op ’n keer deurgery het om die skilderye