Vasti stap behoedsaam nader, kry dan lag vir haarself. Daar sal sekerlik nie iemand uit die yskas spring nie. En tog is sy steeds skrikkerig toe sy die deur oopmaak. Al wat haar in alle onskuld begroet, is ’n halfliter melk, twee appels, ’n halfdosyn eiers, ’n bottel wyn en ’n foeliebakkie met kleefplastiek oor. Van die romerige kapokaartappels wat die dis bedek, lei sy af dit bevat herderspastei. Net reg om in die oond opgewarm te word.
Vasti druk die yskas toe en buk by die stokou elektriese stoof wat in die somer diens gedoen het wanneer die koolstoof nie heeldag brand nie. Sy trek die deur oop. Aan gaan die liggie wat laas nie meer gewerk het nie en die oond blink so skoon as wat ’n ou misbruikte oond kan blink.
Die rivierman? Wanneer? ’n Yskas en stoof wat twee jaar nie in gebruik is nie, word nie in ’n ommesientjie skoongemaak nie. Moes gebeur het voor sy hier aangekom het. Maar die kat en die kos was nie vanmiddag hier nie. Tensy sy heeltemal van haar verstand af geraak het of met blindheid geslaan was sonder dat sy dit agtergekom het.
Nog ’n miaau herinner haar dat die kat klaarblyklik honger is. Sy sny die sak met korrels oop, gooi ’n hopie in die rooi bakkie. Die kat wip op die tafel en begin entoe-siasties kou terwyl Vasti die blou bakkie met water vul.
“Jy sal ’n naam moet kry,” dink Vasti hardop toe sy die sakkie met die ingeboude zip-lock verseël. “Nie Renoir nie. Jy’s ’n wyfie. Sal ons jou vernoem na Renoir se berugte model, Suzanne Valadon, wat toe ook begin skilder het? Onder meer ’n skildery van twee katte.”
Die kat kyk vlugtig op, maar lê dan weer weg aan die korrels.
“Suzie sal dit wees.” Asof die kat se naam dinge hier meer verstaanbaar gaan maak.
Net een ding maak sin. Die yskas en oond is saam met die res van die huis skoongemaak. Dis nou behalwe vir die eetkamer wat agterweë gebly het, vermoedelik omdat sy die weldoener onderbreek het.
Maar die kat en die kos moes afgelewer gewees het terwyl sy by die rivier was. Dit beteken die persoon moes baie sag beweeg het, want sy het niks gehoor nie. Die ontstellendste is egter dat die persoon haar moes dopgehou het om te sien wanneer die kat en haar parafernalia ongesiens gedeponeer kon word.
Weer eens: Die rivierman? Hoekom? ’n Mán wat oond en yskas skoonmaak? Herderspastei aan haar besorg? Nee, dan eerder ’n vriendelike buurvrou. Maar hoekom die geheimsinnigheid?
Sy probeer onthou wie langs haar pa gebly het in die naaste huis van hier af, so vyfhonderd meter verder. Sou dit nog die kwaai tannie gewees het wat sy baie vaagweg uit haar jong jare onthou? Sy verbeel haar Leon het iets van ’n weduvrou gesê. En iets van ’n kleinseun wat by haar woon? En dat die vrou lastig was tot hy haar ’n paar jaar gelede verjaag het. Wat natuurlik ’n uitstekende rede is waarom die vrou niks met Leon de Leeuw se dogter te doen sou wou hê nie, al het sy êrens gehoor Vasti trek hierheen. Nee, dit bly onverklaarbaar.
Haar lyf word swaar toe die foon weer begin lui. Sy tel die luie af met ’n hart wat in haar keel klop. Asseblief, laat dit die buurvrou wees, laat sy verduidelik hoekom en wanneer sy hier skoongemaak het, waarom sy besluit het Vasti het ’n kat nodig.
’n Sagte geruis. En dan volg een woord wat sy duidelik tot hier in die kombuis kan hoor. “Slet!”
As dit nie Dolf se stem is nie, is haar naam nie Vasti de Leeuw nie.
Hoe lank sy net so gevries in haar spore bly staan het, weet sy nie. Sy word eers tot die werklikheid teruggeskok toe ’n harde kraakgeluid buite opgevolg word deur die krysende protes van watervoëls. Daarna volg die klank van water wat teen iets klots. Waarskynlik ’n bootjie.
Vasti vlieg na die venster wat rivier se kant toe kyk, maar dis net haar eie weerkaatsing en dié van die kombuis wat sy teen die donker agtergrond kan sien. ’n Stofwolkie slaan op toe sy die voos gordyne toepluk. Sy sak op een van die kombuisstoele neer en het skaars haar sit gekry voor die kat op haar skoot spring.
“Suzie, wat gaan aan?” prewel sy terwyl die kat haar soos ’n draairoomys opkrul en dan haar oë toemaak.
Die skrik maak oomblikke later plek vir woede. Die kat kyk haar gebelg aan toe Vasti haar op die stoel langsaan neersit, koers kry sitkamer toe en elke denkbare lig op pad daarheen aanskakel. Sy pluk die gehoorbuis van sy mik af en plak dit langsaan neer. As nagedagte draai sy die bandjie terug en vee die boodskappe uit.
Sy marsjeer terug kombuis toe, ruk die kleefplastiek van die foeliebakkie af, druk die herderspastei in die oond en skakel dit aan. Sy gryp die bottel wyn uit die yskas, draai die skroefdop af en neem ’n diep teug voor sy ’n glas vol skink. Propvol.
In die vrieskompartement kry sy ys. Wat beteken haar weldoener het inderdaad die yskas aangeskakel lank voor Vasti hier aangekom het. Water vries nie in ’n japtrap nie.
Nou toe, Dolf. Kom. Kom skiet my of kom slaan my weer voos. Kom breek en verniel wat van my en my goed oorgebly het. Maar eet gaan ek verdomp eet en wyn gaan ek bliksems drink voor jy hier aankom. Wie ook al so gaaf was om te sorg dat ek iets te ete en drinke en ’n skoon huis het en vir welke redes ook al, dank uw wel. Soos haar oupa sou sê.
“Of hoe, Suzie?” vra sy hardop.
Die kat roer net haar ore effentjies.
Teen die tyd dat sy die eenvoudige, maar heerlike pastei geëet en die glas wyn gedrink het, het haar bravade gekwyn. Sy is egter so moeg dat sy met moeite gebad kry voor sy haar kamerdeur agter haar sluit en in die skoon bed inkruip.
Sy skrik nie eens toe die kat op die bed spring nie, skakel net die lig af en trek die verekombers tot teen haar nek.
Die water was warm, besef sy. En sy het vergeet om die geiser aan te skakel.
“Dankie, buurvrou,” prewel sy net voor die slaap oorneem.
Iewers gedurende die nagtelike ure word sy half en half wakker, verbeel haar sy hoor gruis knars, maar die slaap trek sterker aan die tou as die vrees. Sy het seker gedroom, dink sy voor sy weer wegval in ’n diep slaap.
5
Dinsdag 27 Maart
Die een of ander tyd moes sy op haar rug gedraai het, want die kat lê op haar bors toe Vasti deur voëls wakker gekwetter word. Dit neem haar ’n paar sekondes om haar te oriënteer. Besef dan waar sy is.
Sy tel Suzie eenkant toe en swaai haar bene onder die verekombers uit. Die kat strek haar lui uit en rol dan weer op. Haar ledemate is styf van die afdra en uitpak gister, maar Vasti voel vir die eerste keer in weke min of meer uitgerus. Dis nog vroeërig, sien sy aan die oggendlig toe sy die gordyne oopskuif. Seweuur, bevestig haar selfoon. En ook dat die battery feitlik pap is.
Sy grawe deur haar skoensak, kry die laaier en prop die foon in. Met ’n beker koffie in die hand durf sy die koel buitelug aan, stap om die huis. Nêrens sien sy voetspore nie, maar toe sy omdraai en haar eie bestudeer, besef sy die grinterige grond wys nie veel van ’n spoor nie.
Sy kry haarself oortuig dat sy seker gedroom het tot sy die wielspore in ’n sanderige gedeelte langs haar bakkie sien lê. Een oneweredige streep. ’n Motorfiets. En ja, Dolf het destyds ’n scrambler gehad. Hy moes die enjin afgeskakel het en waarskynlik die koplig ook, want as sy voetstappe kon hoor, sou sy van die enjin se geraas wakker geword het.
Maar sou iemand so vindingryk soos Dolf waarlik nêrens ’n plek gekry het om in te kom as hy regtig wou nie? Hy wat selfs ongesiens in haar meenthuis kon inkom? En sou Dolf al die pad van die noorde af met ’n scrambler gery het? Of het hy die moeite gedoen om die motorfiets agter op ’n bakkie of sleepwa hierheen te vervoer? Treiter hy haar eers net?
Die donker karos van vrees en moedeloosheid vou weer oor haar toe. Nog is het einde niet. Soos Oupa sou gesê het. Dolf is ’n meester-treiteraar. Sy vermoed hy geniet treitering selfs meer as om haar fisieke geweld aan te doen. En dis soveel effektiewer. Hoewel hy nie vir geweld stuit nie.
Sy smyt die res van die koffie uit, staar na die blerts wat nog effens stoom. Sy is moeg hiervoor. So verskriklik