Sy hoor Runa al preek oor realisties wees. Minder met haar kop in die wolke rondloop. Voete op die aarde hou. Sy sal nooit aan Runa kan verduidelik dat sy nie haar herwonne skeppingsdrang kan ignoreer nie. Hoe sy dit gemis het. Hoe sy oortuig was sy het dit vir ewig verloor. Miskien was dit daardie klap van haar kop teen die koffietafel wat die muse laat wakker skrik het.
Sy sal nog minder aan Runa kan verduidelik hoekom sy nou, ná die verliese wat sy as gevolg van Dolf gelei het, juis noudat sy finansieel noustrop trek, haar kanse wil waag met ’n ernstige aanslag. Maar dis asof haar kwas deesdae weier om saam te werk aan skilderye met engele, vrolike stillewes, bont huisies, oulike bruggies en fietse as tema. Die ander prente in haar kop, dit wat sy op doek wil weergee, spook by haar. Tart haar. Daag haar uit. Al weet sy dit sal nie maklik skilder of verkoop nie. Al weet sy Runa gaan horries kry.
Haar vriendskap met Runa is ’n onwaarskynlike een gebore uit die sameloop van omstandighede. As Runa se skoolhoofpa nie ook besluit het om haar Potch toe te stuur nie, en as wie ook al in beheer daarvan was nie besluit het om die twee meisies van Bredellsdorp in dieselfde koshuiskamer te plaas nie, sou hulle waarskynlik nooit vriende geword het nie. Dan sou die kloof wat op skool al tussen hulle gelê het, net nog groter geword het.
Al wat hulle gemeen gehad het, was dat nie een van hulle op skool gewild was nie. Vasti, omdat sy ’n De Leeuw is en van Leeuwendrift gekom het, maar ook omdat sy skaam en teruggetrokke was en danksy haar streng pa nooit ’n partytjie of sosiale geleentheid bygewoon het nie. Runa, omdat sy die skoolhoof se dogter was en voorgetrek is. Runa was hoofmeisie, hokkiekaptein en debatsvoorsitter en het meer pryse ingepalm as enigiemand anders. Maar al was Runa nie gewild nie, was sy tog deel van die kliek. Dit het sy voordele gehad om bevriend te wees met meneer Raubenheimer se dogter.
Vasti kon net van die periferie af dophou en waarneem. En haar bewondering vir Dawid Benade koester tot hy twee jaar voor haar uit matriek is. Hy het skaars geweet sy bestaan voor hulle mekaar by die Intervarsity raakgeloop het. Letterlik. Die hotdog het uit haar hande gespat en hy het aangedring om vir haar nog een te koop. Vir die eerste keer het hy haar raakgesien. En gehou van wat hy sien. Genoeg om haar te vra om vas uit te gaan en seker te maak dat hulle vakansies en by enige ander moontlike geleentheid soveel moontlik kon saamwees. Tot die stories hom bereik het.
Water onder die brug. Vasti stuur die neus van die oorlaaide bakkie in Leeuwendrift se rigting. Dis ontstellend om te dink alles wat sy besit, alles wat nog bruikbaar was ná Dolf se verwoestende besoek, pas agterop ’n halfton-bakkie. Dis nou benewens ’n paar goed wat sy verkoop het, soos die yskas en enkele meubelstukke wat nie ’n verhuisingswa regverdig het nie. Die meeste van haar klere het sy vir die hospice gegee. Alles was in elk geval te groot vir haar. Selfs die paar goed wat sy gehou het, klere wat sy verlede jaar aangeskaf het toe sy skielik twaalf kilogram verloor het en nie voorsien het dat daar nog ses sou volg nie.
Dit was asof sy die afgelope twee jaar, elke maand wat Dolf haar nie opgespoor het nie, ’n bietjie meer bagasie afgegooi het en dié bagasie op metafisiese wyse ook as kilogramme haar lyf verlaat het.
Geen wonder Dawid het haar skaars herken nie. Geen wonder hy wou haar ondersoek nie. Hy het haar leer ken as ’n effens mollige eerstejaar en sy was nog molliger toe sy hom gevra het om haar te help met ’n aborsie. Sewe jaar later, toe sy hom uit desperaatheid gevra het om haar by die stasie te kom haal en na haar pa toe te neem, was sy egter tien kilogram swaarder en twee jaar gelede by die begrafnis was daar nóg meer van haar. En nou is sy vir die eerste keer sedert haar ma se dood skraal.
Weerskante van die pad kom en gaan bakens uit die verlede, die plaasname nog bekend asof sy gister laas hierlangs gery het. Daarom vermy sy die plek waar sy weet ’n bordjie Zoete Weide se ingang aankondig, al kan sy die drie reusebloekoms by die hoekpaal nie miskyk nie.
Voor haar ma se dood was Zoete Weide een van die spogkoringplase in die omgewing. Dit het haar pa skaars sewe jaar geneem om alles wat deur die De Leeuw-geslagte heen opgebou is, deur te trek. Die prys wat die plaas op die vendusie gehaal het, het skaars sy skuld afbetaal. Die verkoop van roerende bates het haar pa van bankrotskap gered. En haar net-net op universiteit gehou. Dis toe dat hy in sy oorlede skoonma se huis ingetrek en nog verder agteruit gegaan het.
Leon de Leeuw het waarskynlik nie ’n snars omgegee om in relatiewe armoede te leef nie. Solank hy genoeg geld vir drank gehad het, kon hy ontsnap van die dag toe sy vrou vir hom sy koffie en middagete na die lande geneem het. Toe sy op die trekker geklim het sodat hy haar nader aan die huis kan aflaai. Die trekker het deur ’n gat gehik. Sy het haar greep verloor. Haar kop het die modderskerm getref. Sy het hopelik nie eens daarvan geweet toe die ploegskare haar ledemate oomblikke later opkerf nie.
’n Kilte ril deur Vasti en sy is verlig toe Leeuwendrift se kerktoring en die dorpie voor haar lê. Regs is ou tannie Nellie se opstal wat nou suksesvol as ’n padstal-restaurantjie bedryf word. ’n Entjie verder die restaurant wat in die Jacobse se Victoriaanse hoekhuis oopgemaak het. Aan die linkerkant van die straat probeer nuwe huise in Leeuwendrift-styl lyk asof hulle daar hoort.
Die hoofpad lê reguit en breed voor haar, omsoom met ’n hekelrand van ’n bont verskeidenheid winkels, galerye en nog ’n swetterjoel restaurante. As ouma Marien se huis aan dié kant van die rivier gelê het, sou sy die plek maklik verkoop of verhuur kon kry, al is dit verwaarloos. Maar nou lê dit aan die ander kant. Aan die donker kant van die rivier.
Sy skakel haar flikkerlig aan, wag vir twee motors van voor af en draai regs in die grondpaadjie af. Dit slinger dronkerig tussen wilde-olyfhoutbome, bloekoms en populiere deur. Die brug lyk gehawend, maar voel darem nog stewig toe sy oorry. Die rivier se vlak is laag, soos gewoonlik dié tyd van die jaar. Winterreëns is nog in aantog. Eintlik is dit onbehoorlik warm vir einde Maart. En windstil boonop. Dis nie hoe sy Leeuwendrift in die herfs ken nie.
’n Entjie anderkant die brug verdeel die paadjie in twee. Links is daar nog ’n hele paar plotte waar die rivier smaller raak – van hier af verskuil deur afstand en plantegroei. Regs, ’n halwe kilometer of wat verder, is daar haar ouma se huis versteek tussen bome, en verder aan twee ander. Al drie die huise staan in die vloedvlakte, maar gelukkig net in die honderdjaar-vloedvlak.
Nie dat die rivier goed kan tel nie. Ouma Marien se eerste liefde, Maanhaar de Leeuw, is in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog met ’n vloed meegesleur, ’n skamele sewe en twintig jaar na die vorige sogenaamde honderdjarige vloed – net mooitjies toe die Eerste Wêreldoorlog beëindig is. Ten tyde van die Eerste Wêreldoorlog was ouma Marien se huis nog nie gebou nie, maar in 1945 wel. Sommiges het gesê die tweede vloed het so gou gekom omdat die Unie aan die Engelse se kant geveg het. Ander het gesê dis omdat ’n De Leeuw ’n huis vir ’n Bredell gebou het dat die voortydige vloed aangewakker is.
Nou is dit nie meer haar ouma se huis nie. Ook nie haar pa s’n nie. Háár huis nou aangesien hy dit toe tog aan haar bemaak het net voor hy dood is. Onverkoopbaar, maar ten minste verbandvry. En ook maar net omdat niemand met ’n greintjie verstand vir Leon de Leeuw geld sou leen nie.
’n Verrinneweerde plaashek hang skuins aan ’n laaste skarnier. Die draadheining het lank terug al grotendeels tot roes verpulwer. Die paadjie van daar af na die huis toe is ’n nagmerrie van sinkplaat en slaggate. As daar nog iets van haar breekgoed heel aan die ander kant uitkom, sal dit ’n wonderwerk wees. Gelukkig is dit nie te ver nie.
Sy trek onder ’n bloekom langs die pomphuis in, skakel die enjin af en luister na die getik daarvan terwyl dit afkoel. Veel nader kan sy nie kom nie, danksy ’n spul klippe wat voorheen haar oupa se poging tot ’n rotstuin was. In die skadu van die bome lyk dit asof die bonkige kliphuis ’n boggel dra – die skoorsteen, weet sy, maar van hier af lyk dit aardig.
Sy ruk soos sy skrik toe iemand van agter die huis te voorskyn kom. ’n Man. Hy steek vas toe hy die bakkie sien. Dis te ver, en die skadu’s wat die bome gooi te skimmel, om meer uit te maak as dat hy lank en groot is, en besonder breë skouers en ’n donker poniestert het.